Ena Murray Keur 12. Ena Murray
Festus frons. Party mense se opvoeding laat veel te wense oor. Maar hy antwoord kalm. “Ek kom van haar pa af . . .”
“Pa! My pa? Hoe gaan dit met hom?” Haar oë is nou angstig op hom gerig.
“Dan ís jy Katryntjie?”
“Ja, natuurlik is ek. My pa . . . Wat van my pa?”
“Dit gaan goed . . . onder omstandighede.”
“Wat beteken dit? Gaan hy doodgaan of gaan hy nie?”
Dis weer Poens wat aan die woord is en Festus kyk vererg na hom. Maar dan keer sy blik terug na die angstige meisie voor hom.
“Jou pa is ernstig siek, maar solank daar lewe is, is daar hoop.” Hy weet dit klink onbeholpe, maar hy weet nie wat om te sê nie. Al het sy netnou soos ’n klein grootmensie geklink, is sy nogtans ’n kind. “Ek is Festus Dumas. Jou pa het jare gelede by my pa gewerk. Ek het jou pa in die hospitaal gaan besoek en het toe belowe ek sal hier ’n draai maak en kom kyk hoe dit met jou gaan.”
Haar kop sak vooroor, en gedemp sê sy: “Dankie. Dit gaan goed met my. Sê vir hom ek kom heeltemal goed reg. Hy moet hom nie bekommer nie.”
“Ek sal hom sê.” Hy kyk om hom rond. “Ek . . . e . . . het gedink om die naweek maar hier oor te bly . . .” Die blou oë ruk omhoog. “As jy vir my plek het . . .”
Festus vererg hom vir homself. Vir wat voel hy so ongemaklik voor die kind? Hý moet die leiding neem. Hierdie kind het versorging nodig, is nou afhanklik van hom. “Wie is nog hier op die plaas?”
“Net ons twee.”
Hy kyk hulle kwaai aan. “Het julle nie hulp hier op die plaas nie?”
“Freek het bier gemaak en sit in die tronk en Sarie het maagwerkings gekry en lê in die hospitaal . . .”
“Poens!” Die stem is streng, maar die blou oë het hul hartseer verloor en vonkel geamuseerd in syne op.
’n Ligte gloed verskyn by sy boordjie. “Wil jy my sê dis net julle twee kinders hier op die plaas? Wie doen die werk?”
“Ons, natuurlik!”
Hy wend hom direk tot die seuntjie. “Sal jy asseblief stilbly? Ek stel die vrae aan Katryntjie. Wie is jy in elk geval?”
Dis die dogtertjie wat nou antwoord, en daar is ’n verdedigende klank in haar stem: “Poens bly hier naby. Hy help my.”
“Waarmee?”
“Die koei melk en voer sny en varke kos gee en alles. En hy slaap ook snags hier.”
“Jy bedoel julle twee kinders slaap snags alleen hier?”
“Natuurlik, ja. Hoe dan anders?” wil Poens weet, ten spyte van die waarskuwing wat hy ontvang het.
“Maar dis . . . ongehoord! Julle is twee klein kindertjies. Julle kan in die nag iets oorkom, of iemand kan julle kom molesteer . . .”
“Ek het my kettie en Katryn het haar pa se haelgeweer. Ons donder die uitvaagsel vol donshael . . .”
“Poens!” Dan klink haar klokhelder lag op en sy sit haar arm liefdevol om die seuntjie se skouers. Haar oë dartel, maar haar stem is verdedigend. “U moet hom maar verskoon, meneer. Hy . . . e . . . bedoel daar niks mee nie.”
Maar die seuntjie kyk haar verontwaardig aan. “Wat het ek verkeerd gesê? Hy het ook netnou daardie woord gebruik. Ek het hom gehoor!”
Die rooi teen Festus se boordjie klim hoër en verdonker nog verder toe die dogtertjie se sedige stemmetjie opklink: “Ja, ek het hom ook gehoor, maar dit bly ’n lelike woord. Ordentlike mense gebruik nie sulke woorde nie.” Sedig kyk sy op in die rooi gesig voor haar. “U hoef regtig nie oor ons bekommerd te wees nie, meneer Dumas. Ons kan heeltemal goed vir onsself sorg.”
Juis omdat hy so ’n gek voel – hy is laas deur sy ma tereggewys oor sy taalgebruik – laat hy kwaai hoor: “Dit lyk allesbehalwe so. Kyk hoe lyk julle! ’n Mens kan nie met ’n speld op julle druk waar dit nie vuil is nie! En julle stink!”
Katryn kyk hom verontwaardig aan. “Ons het gewerk. Die kolekamer skoongemaak én die varkhokke.”
“En weet jy nie dat ’n bleddie varkhok stink nie?” wil Poens weet.
Festus trek sy asem in. As hy sy sonde nie ontsien nie . . .
Baie streng kyk hy hulle aan. “En hoekom is julle nie in die skool nie?”
“Maar is jy dan kêns?” wil Poens weet.
“Dis vakansie, meneer,” word Poens vinnig in die rede geval, en weer voel Festus soos ’n gek. Ja. Ja, natuurlik is dit skoolvakansie.
“Nou – gaan maak julle skoon – op die daad!” waarsku hy toe dit lyk of Poens weer iets te sê het. “Ek sal solank my koffer inbring. Is hier ’n kamer vir my, of miskien ’n bank waarop ek kan slaap?”
“U kan in my pa se kamer slaap . . .” Sy aarsel. “As u nie omgee nie.”
“Nee. Nou toe, loop maak julle skoon. Dis tyd dat iemand jou onder hande neem, Katryntjie. ’n Meisiekind behoort nie só vuil rond te loop nie. En was jou hare ook, hoor? En skrop jul toonnaels. Dit lyk of julle rou oor iets . . .”
“Ons rou ook, ja. Ons een kat is gister dood . . .”
“Kom, Poens!”
Die meisie gryp hom aan die hand en sleep hom weg terwyl hy hulle kwaai agterna staar. Liewe land! Waarin het hy hom begeef? Miskien sal hy die meisietjie nog op ’n manier regkry, maar daardie Poens . . . Sowat van ’n klein vuilbek het hy nog nooit raakgeloop nie. Hy sal beslis ’n slegte invloed op die meisiekind hê. Hierdie vriendskap moet liewer onmiddellik stopgesit word. Hy kan nie dink dat oom Herklaas kon toelaat dat Poens met sy kind omgaan nie.
Hy is diep bekommerd toe hy na sy motor toe stap en sy koffer uithaal. Poens is die minste van sy nuwe probleme, besef hy. Poens kan weggejaag word, terug na sy eie huis, maar wat gaan hy met Katryntjie aanvang? Dis buite die kwessie dat die kind alleen hier kan bly en dan nog self na die boerderytjie omsien. Hy sal aan iets moet dink – maar wat? Wat gaan hy met hierdie onverwagse nuwe verpligting van hom aanvang? Hy het nie die vaagste benul gehad waarvoor hy hom inlaat toe hy oom Herklaas beloof het om na sy kind om te sien nie.
Hy stap die huis binne, maar kom ná twee tree tot stilstand, sit die koffer neer en kyk om hom rond. Dis ’n klein voorhuisie met ou meubels, maar tog op ’n vreemde manier gesellig. Dit is baie duidelik dat daar in hierdie vertrekkie geléwe word. Hy stap na die eerste verslete ou gemakstoel, maar gaan staan toe Beauty sy stert heel verwelkomend kwispel, maar baie duidelik nie van plan is om sy stoel aan die gas af te staan nie.
Met lippe opmekaar gepers, draai Festus om. Oom Herklaas het beslis die leisels te slap laat lê.
Voor die tweede stoel moet hy weer bly staan. ’n Groot, bont kat met grasgroen oë lê en staar hom dromerig aan terwyl ses kleintjies hard besig is om hul aandete te nuttig onderwyl hulle van lekkerte en voldoening met die klein pootjies teen hul ma se maag knie.
Festus is nie juis dol op katte nie, en ’n babakatjie vind hy ’n grieselige ding – veral as sy ogies nog nie behoorlik oop is nie, soos hierdie spulletjie s’n. Hy gril te veel om aan hulle te vat. Dan maar die ander stoel . . .
Hier kyk ’n kapokhaantjie hom heel goedig aan. Festus voel weer ’n warmte oor sy gesig spoel. Wat te erg is, is te erg! Elke sitplek in hierdie huis is beset deur ’n gedierte! Hy klap na die haantjie en met ’n ontstelde gesketter vlieg dit van die stoel af en storm raas-raas by die voordeur uit.
Hy neem plaas, maar sit nog nie behoorlik nie, of hy hoor ’n geskree wat al klink asof dit van onder hom kom. Hy kom vinnig orent en ’n vaal gedoentetjie vlieg onder hom uit, kom staan dan op sy agterpote op sy skoot en bekyk hom met swart ogies op en af, besluit dan blykbaar hy hou van hom en skiet vorentoe om in sy boonste baadjiesak te snuffel.