Susanna M Lingua Gunstelinge 6. Susanna M Lingua
Susanna M Lingua
GUNSTELINGE 6
Waar die frangipani bloei
Lied van die Isar
Jy is my droommeisie
Melodie
1
Liggies wieg die Portugese kusboot, die Dona Francesca, op die stil, wye Indiese Oseaan. Die passasiers is ’n vreemde mengsel van Portugese, Amerikaners en Britte. Ronelle Dekker is die enigste Suid-Afrikaner tussen die klomp. En hier waar sy rustig teen die silwerblink reling van die boot aanleun, starend oor die blou, eindelose golwe waarop die môreson flikkerende liggies laat dans, dink sy met genoegdoening aan die twee jaar wat sy in Rome studeer het en haar finale musiekeksamen suksesvol geslaag het.
’n Maand voor haar vertrek na haar tuiste in Johannesburg het sy van haar vader – haar enigste oorblywende ouer – ’n brief ontvang waarin hy haar kortliks meedeel dat hy hom tans in Noord-Mosambiek bevind en druk besig is met navorsingswerk. In sy brief versoek hy haar om sonder verwyl by hom aan te sluit sodra die eksamen agter die rug is, sodat die gesin ten minste vir Kersfees voltallig kan wees omdat haar broer – wat tans in die Laeveld boer – ook teenwoordig sal wees.
Volgens haar vader se brief het die een of ander onbekende tropiese siekte sy verskyning in dié deel van Afrika gemaak en hy, professor Frans Dekker, hoof van die bekende Daeraad Mediese Navorsingsinstituut, is genader om die vreemde siekte te gaan ondersoek. En nou het die twee-en-twintigjarige, lewenslustige Ronelle byna haar bestemming – die klein kusdorpie Braca, noord van Kilimane, wat in werklikheid privaat eiendom is – bereik.
Ronelle is ’n sprankelende, innemende en lieftallige jongmeisie van ongeveer een komma ses meter lank, met ’n volmaakte figuurtjie en ’n beeldskone gesiggie wat Mejuffrou Heelal inderdaad na ’n uitgewaste lap sal laat lyk. Benewens ’n bos glinsterende kastaiingbruin hare, het sy ook groot, grysgroen oë – meer groen as grys – en ’n sagte, rosige vel wat enige jong dame haar sal beny. Maar ofskoon haar besonderse voorkoms al menige hart gebreek het, is sy op twee-en-twintigjarige leeftyd nog steeds alleenlopend, sonder enige bande wat haar bind, en kan sy die lewe nog sorgeloos geniet. Selfs aan boord van die Dona Francesca het sy twee vurige bewonderaars wat haar soos haar eie skaduwee volg – die Vinton-neefs, Austin en Dick, twee Amerikaners wat van voorneme is om deur Mosambiek te toer.
Dis byna tienuur toe die kusboot Ronelle se bestemming nader, waar ’n lang motorboot ’n ent van die kus af wag om haar aan wal te neem.
“Ons sal jou sprankelende geselskap baie mis, Ronelle,” verklaar Austin toe sy gereed is om na die wagtende motorboot oor te stap.
“Mooi loop, Ronelle,” kom dit weer van Dick. “Ons sal jou vir seker opsoek sodra ons deur hierdie geweste reis.”
Sy groet die twee jongmans en met die hulp van ’n Portugese beampte sit sy ’n paar minute later veilig in die motorboot.
Die hoofbeampte buig galant voor haar en sê op Engels, dog met ’n swaar, half onverstaanbare aksent: “U paspoort, asseblief, señorita.”
Ronelle toon die gevraagde dokumente aan hom en dan vervolg hy nadat hierdie formaliteit afgehandel is: “Die señor professor wag al by die kaai op u.”
Sy bedank hom vriendelik vir die inligting en dan is dit meteens stil in die boot. Die hoofbeampte wil nie ongemanierd voorkom nie, maar so in die stilte verkyk hy hom aan die jong señorita se pragtige voorkoms. Sy lyk vir hom soos ’n eteriese wese daar waar sy rustig sit, in ’n wit, geblomde tabberd en wit sandale geklee, met die wind wat liggies deur haar vlammende, kastaiingbruin hare speel. In haar grysgroen oë is ’n glimlag en om haar sagte mond huiwer ’n geamuseerde trekkie.
Sy is pragtig, absoluut volmaak, dink die hoofbeampte. ’n Meesterstuk uit die hand van die Skepper.
By die houtkaai word die motorboot vasgemeer. Daarna word Ronelle versigtig aan wal gehelp. ’n Oomblik tuur sy verras om haar heen. Voor haar lê die dorp, ’n ware lushof van bloeiende frangipani, bougainvilleas en talle kleurryke, tropiese struike – inderdaad ’n lus vir die oog.
Die volgende oomblik merk sy haar vader se geliefde gestalte op wat haastig in haar rigting beweeg. Met uitgestrekte arms hardloop sy hom tegemoet en val hom spontaan om die hals. “My dierbare ou paps!” lag sy vrolik nadat sy hom met uitbundige, dogterlike liefde omhels het, en vervolg dan tergend: “Ek was so in die nood dat een van hierdie skone Portugese señoras jou dalk van my af weggerokkel het.”
“Maar, Ronelle, jy moet vir jou hier staan en laf hou, hoor!” betig hy haar laggend. “Vir jou inligting: As ek wil vrou soek, sal ek dit in my eie land doen en nie hier in die vreemde nie. Maar ek vrees met so ’n uitgesproke en ontembare dogter soos jy sal g’n vrou ooit na my kyk nie. Ek sal jou dus eers van die hand moet sit voordat ek ooit eendag sal kan dink aan vrou soek!” Hulle glimlag begrypend in mekaar se oë en dan vervolg die vader besorg: “In elk geval, laat ons gaan. Ek wil nie hê die son moet my enigste ou ooilammetjie doodskroei nie. Jy sal in die vervolg ’n sonhoed moet dra of wegbly uit die son, meisiekind. Jy bevind jou nou in ’n ontsettend warm klimaat.”
“In daardie geval sal ek sonder versuim vir my ’n sonhoed moet aanskaf, my ou paps,” lag sy en haak liefderyk by hom in.
Frans Dekker bedank die hoofbeampte vriendelik omdat hy Ronelle veilig aan land besorg het. Toe groet hulle die kêrel en stap geselsend aan na waar ’n swart, vaartbelynde motor staan, met ’n portier wat Ronelle se bagasie dra kort op hulle hakke. “Maar dit is mos nie Pappie se motor hierdie nie,” sê sy toe hulle die luukse voertuig bereik, waar ’n bestuurder, in ’n donkerblou uniform geklee, gedienstig die deur vir hulle oophou.
“Dis waar,” lag die professor saggies. “Dit ís nie my motor nie. Ek is nie juis ’n liefhebber van adellike familiewapens nie.” Hy wys met sy vinger na die versierde motordeur. “Dit is die familiewapen van die adellike De Velira Cervantes. Die Duque, Diago de Velira Cervantes, sal jou stellig al die inligting in verband met sy familiewapen verskaf indien jy hom beleef vra. Maar klim in, Ronelle, die son brand ’n mens gaar. En as jy dit miskien nie weet nie, meisiekind, ek het nog baie werk om te doen.”
“Maar waar is jou motor dan, Pappie?” wil Ronelle weer weet toe hulle eindelik van die kaai af wegtrek. Sy kan dit net nie begryp nie. Haar vader is ’n skatryk man en sal hom tog seker nie hier in die middel van nêrens kom vestig sonder ’n eie ryding nie – al is sy verblyf hier slegs tydelik!
“My motor se vonkproppe het vanoggend moeilikheid gegee, toe bied Diago my een van sy motors aan om jou by die kaai te kom haal,” verduidelik die oubaas en vra haar dan belangstellend uit na haar reis.
Ronelle antwoord sy vrae sonder veel geesdrif, want haar nuuskierigheid is nou werklik gaande. Hierdie goudkleurige wapens op die motor se deure het ’n groot indruk op haar gemaak en sy wil sonder versuim meer weet van die adellike hertog wat sy familiewapen so openlik vertoon.
Daarom vra sy dan ook sonder doekies omdraai: “Hierdie Duque … hertog … of wat hy ook al is, waar woon die vent nogal, Paps?”
Die gevierde, alombekende professor Frans Dekker bars hartlik uit van die lag, en Ronelle wonder wat haar vader nou so geweldig amuseer.
“My liewe kind,” maan hy goedig toe sy lagbui eindelik bedaar, “moet tog nooit weer na Diago verwys as ’n vent nie. Dis ’n gruwelike skending van die man se karakter, om van sy status nie eens te praat nie!”
“Maar watter soort mens, ek bedoel persoon, is hy –” begin sy, nou ietwat verward.
Dog die oubaas val haar goedig in die rede onderwyl hy stilweg glimlag: “Persoon is eintlik nie die regte woord vir hom nie, Ronelle. Ek sou eerder sê persoonlikheid. Hy is ’n koning in sy eie koninkryk wat kilometers en kilometers ver strek. Met ander woorde, hy is ’n skatryk eienaar van grond wat baie eeue al van geslag tot geslag aan die adellike De Velira Cervantes-familie behoort – hier in Mosambiek, in Portugal en in Brasilië. Hy besit ook ’n fabelagtige kasteel êrens in Portugal en hy is ’n sentrale figuur hier op Braca.”
Ronelle is nou die ene ore. Hierdie