In die buitenste ruimte. Danie Marais
Vierde verdieping, in die hoek
nie meer pizza in die vrieshokkie nie
die melk is op
nie meer skoon sokkies nie
al die rooi en blou wasgoed is vuil
orals krummels
hare op die badkamervloer
die skottelgoedmasjien uitpak is te veel vir my
die supermark is ver
die telefoon praat nie meer met my nie
die stories bly vandag in hulle boeke
selfs my angs kruip weg vir my
dit reën in die wind
dis 10 voor 3 al
eendag gaan ek huis toe
twyfel of ek dit vandag tot in die badkamer gaan maak
Skielik narerig
In my trem
staan ’n tienermeisie en haar ma –
staan en skommel saam huis toe
in die verstikkende hitte.
Die ma lyk moeg en afgerem,
maar die dogter is
blink en nuut en belangrik.
Hierdie stad en trem vol
skyndooies
is vir haar duidelik
niks anders as props en decór nie
want, man,
sy vat die kollig.
Haar T-shirt sê:
real pretty
cool independent
impulsive naughty
lovely
GIRL
Ek sit en kyk vir haar,
maar ek dink aan Lisa se tannie –
op Touwsrivier verwurg
met die bedlampie se kabel,
haar kop ingekap met ’n klip –
met die rooskwarts op die bedkassie,
die aandenking van die familieplaas
in Namibië.
Ek voel skielik duiselig en narerig,
maar die trem skud aan
– “warp speed, Mr Sulu” –
skud verder, gaan voort.
Sondag laat – Barcelona
Rambla de Catalunya aan ’n feestige tafeltjie
met ’n rooi tafeldoek;
alles laat en vol, orals die klank van Spaans –
Spaans met mense in,
vol van ver en weg, koue bier en tapas
wat so mooi ruik
dat alles na ’n ander lewe moet proe,
maar jy sê ek moet asseblief “bitte keine Witze machen”
want jy gaan huil,
jou oë swem al klaar.
Jy weet nie wat nou skielik so vreeslik fout is nie,
seker hormone, maar jy’t jou die hele dag lank
sien dikker lyk in hierdie blink winkelvensters
as elke vrou so oud soos jy in hierdie mooi stad
en jou hare val uit en jou vel pak op
en ek moenie vir jou sê dat jy vir my mooi is nie
want hoe sal ek weet want sien
ek kyk nooit eers meer rêrig vir jou nie.
Dis die probleem met my, sien?
Ek’s altyd êrens anders, maak mos altyd
of alle ydelheid nonsens is.
Ek dink mos alles is buitendien uit rot en verval
aanmekaargesit,
maar ek moenie glo dat ek jou so help nie
want die ander mans is in elk geval “überhaupt nicht”
glad nie soos ek nie
en jy wil vir ander mans ook mooi wees, sodat
hulle na jou moet kyk, sodat
jy kan goed voel saam met my
en ek sê maar hulle kyk, hulle kyk
ek sweer,
maar dis nie oortuigend nie want jy sluk
so absoluut redeloos bedroef, jy kyk so
godverlate deur my
dat ek onredelik woedend wil raak van onmag, maar
ek drink maar ernstig bier,
probeer simpatiek toemaar kyk, probeer
jou hand vat,
maar jy trek weg en ons sit maar so
tot jy nie meer kan nie en sê ons moet
asseblief “bitte” hotel toe en bed toe
jy voel naar van misrabel jy’t ’n klip in jou maag,
“einen Stein im Bauch”,
jy’s jammer jy weet nie, seker niks,
“es geht schon wieder”
maar nou huil jy rêrig en ek
ek sit en kyk
na jou
sit net
en kyk na jou.
Die nag vol woorde
Die nag hier vol
vol beloftes van lente soos
’n geskeide pa op besoek
aan sy enigste kind soos
vergewe my soos
Johnny Cash in “Delia’s Gone”.
Die nag, ja die nag, man,
kan jy rol
soos ’n hardgekookte eier op ’n tafelblad soos
Lou Cyfer in Angel Heart
voor jy die siel eet,
maar jy sal nooit durf waag
om iets te kraak of breek nie –
“move most gently if move you must
in this lonely place”.
En as ek dan mail kry soos dié,
liewe Jean,
so 4-uur in die oggend
van alleen en dronk,
dan hoor ek Rickie Lee Jones se
”flapping sound of longing”
oral om my,
dan wil ek
agter jou woorde aan terugloop
soos Hansie en Grietjie
agter daai klippies
in die maanskyn aan –
huis toe.