Jukstaposisie. T.T. Cloete
on>
T.T. Cloete
Jukstaposisie
Tafelberg
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Jukstaposisie mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
Allah is great, no doubt, and Juxtaposition his prophet
A.H. Clough
Olfaktorika
die jammerlike potvis
wat knieserig sieklik is
maak kosbare welriekende amber
met sy ingewande om die muskus
te verskerp word digby die anus
bitter geil gemaak deur die bewer
uit die rot en bergmuskusdier
uit geil bewerklier
en siek walvisderm
kom ons offers om ons gees
voor die neus van die Heer
te reinig om ons geurig te beskerm
teen booshede om ons te genees
van walglike siektes om die doodsreuk te besweer
kom die lewensprikkel vir die sperma
op die gesofistikeerde geparfumeerde Nefertitifees
Skouspel I
vanaf die glansende dun horings en die gesig
puntig verfynd uit oor die lig geboë rug
tot in die stertkwassie spigtig
gelig af in die glasbreekbaar
dun bene pronk waaierhaar
die springbok nael met die speer
se vaart wip met die haarveer
se spanning hoepel
soepel
onder die leeu majesteitlik veilig
en gevrees pragtig
onder sy gewig
vouknakval
die springbok met ’n klapknal
breek hy die bene en rug en maak prooi
van elegansie wat argeloos mooi
is lê en spartel
voor die gewelddadige mooi wat aanskoulik martel
Skouspel II
hy is ’n fier
geweldenaar hy jag
al met die lewensgeurige wind langs
in die nag
die triomfantlike tier
sy sierlikheid sweep hy slangslank
in ’n fraai kurwe van die kop af lank
uit tot in die stertkwas deur die soepel rug
sy bevrediging krul hy oor sy vangs
uit soveel venynige prag
is daar soveel angs
voor hom soveel magtelose vlug
Seer en siter
T.
my donker akweus geoogde dogter speel en sing bedarend vir my
sy neem van gedaante tot gedaante van haar eie lyding
met ’n bevrydende welluidende begeleiding
afskeid nimmereindigend elke keer jubelend bly
met haar striemende vingers haar sidderende tong en wrang keel
Dawid wat argepoëties vir ’n verbysterde Saul kalmerend speel
en vir my sy wat aan ’n ononderbroke teisterende metamorfose ly
Dubbelster
die helder dubbelster
roteer gepaar om dieselfde swaartepunt
hulle bly ewig ewe ver
en naby aan mekaar verbind
oral afhanklik die een van die ander geld dit
in die vonkende skepping
dat die sfere wat mekaar noodgedwonge besit
flikkerend om mekaar kring
ek moet dit gelate verdra
ter wille van die pulsering dat die lig
van die ander vuur die megera
brand in my gesig
Rotsode
D.J. Opperman
Onderdanig gereed sit
hy by sy tafel verplig
hoe weet hy deur wie om oor dit
wat hom voorgesê word te dig.
Hy is ’n tweehelftegesig
hy is ’n Janus ’n skisognatis
waarvan een profiel plooiig en ernstig
die ander een glad glimmend en profaan is.
Hy hoor van alkante
voorwoordsels, hy’t vanaf die inferno tot
in die hemele na die voorbeeld van Dante
afgeluister tot in die buurt van God.
Nader oor geslagte
het ’n gewone dorp gewis
en seker sy gevoel en gedagte
en sy wil gemaak wat dit is,
die plek se snob en sy stakker
het hom help vorm, wie weet sý of hý miskien,
die onderdorp so goed as die Heilige Akker
en al die mense tot by Mohadien
trots en brutaal, nederig en verag
of gelief, geniaal
en onnosel, sag
of hard, mooi en lelik, verhewe of banaal.
Die digter is ook ’n dief, hy steel
van elke liggaam en elke gesig
en siel iets, van wie hulle nie heel
en bymekaar hou nie roof hy iets vir ’n gedig.
Maar hy is ook ’n verleë
afhanklike – deurdat daar so baie was
rondom hom is aan hom veel gegee
vir ’n gratias en ’n gratias.
Mummies
Poets are short-lived and
Philosophers hard to kill
al die opwindende romans berug
eertyds die gedigte en dramas van weleer
staan teen die muur met hulle rug stug
en verneder na die vertrek gekeer
al die gebalsemde menslikheid en goddelikheid al die eer
en al die pyn