Versamelde werk: Sheila Cussons. Sheila Cussons
doer en weier in ’n soutwit steen.
Bouzouki
In die kern sluimer vuur,
in die aardkors, in die skuur,
in erts, in are, bruin, asuur:
in lyf en gerf en steen, die Vuur.
jackson pollock
vinnig
van humeur
met vrouens
met verf
met motors
vinnig met sterf
op veertig
elke trek van daardie gesig
’n geveg met elke trek
elke gevoelige grimas
’n aandagtige wrewel
vinnig met die werwels op
uit ’n senuwee-plexus van kleure
skiet skielike kneukels en foeter
’n skewebek skewer
gemartelde mens van dis more is
klankspanning plektrum snaar
seer
is seerder dunner die nerf
en oë infrasien
wit het veertig skakerings swart het
en wit het meer
elke trek van daardie gesig
mismoedig gee elke gesig ’n klap
en die lap van ’n lewe vrewe
sy twee hande aan verf
af haastig
en frommel op
veertig jaar
Héloïse
Ek het vergeet wat ons gesê het, lief,
die tyd het oud geword –
en ek lê eenkant niemand praat
daar’s niemand nie – het stil geword.
Kind wat my nooit sal ken nie
nooit en nooit nie – stief grootgeword . . .
Nooit weer in die krom van jou lyf
my lyf as ek slaap nie, o Abélard –
maar koud en vrugloos en alleen
in ’n huis in die wind
vroetel en nie vind nie . . .
ou hande in papiere papiere papiere
het kinds geword.
Gebed
Hoe sal ek U ooit ken?
U is te naby, U is te ver,
U klewe aan my kyker vas,
wykende, wyderende ster –
en om U stersyn kring U ruim,
en om U ruimtes – Wie?
Die gees verleng tot laser, leng . . .
en brand deur Wie; deur wat; deur Nié . . .
dan snap ek die genade –
suiwerder as weet, duideliker as pyn –
van wyk dat ek moet nader,
altyd verder nader . . .
O, verborge Wonder,
Magneet, wat ek sal ken!
DIE
SWART
KOMBUIS
Boerderye
I
Ronde borde skottels kringe
kringe skottels kringe binne
potte kringe skottels kringe
breek vyf eiers rondom roerom
klitse bitse in ’n kitsom
ou vrou en haar gans bak koek.
II
Vyf boermeisies wit op die werf
vyf kwaai ganse hees in die keel
vyf boermeisies vyf kwaai ganse
hees in die keel wit op die werf
vyf op die werf kwaai in die keel
ganse wywe gans te veel.
Paartie
sit. loop. sit. sigaret:
nood:
gaan ek nou stom bly net wag
tot ek dood?
Dag wat ek verduur het jy goddank gaan
en die spook wat in die hout wég skuil
teen jou hard luid lig
sal kráák kráák en ek blink o
vier ons nag.
Lyf
Jy is ’n warm modder
waarin ek wemel
duisende ogies van angs
o my sidderende sterre in my
verwondbare hemel.
Bergpaadjie
Jy sê: lees jou gedig vir my
maar hoe kan ek wat skrywende
in klippe opgebreek het
en ’n antieke geheue en ’n gebreekte pot
hoe kan ek wat skrywende
die wilde tiemie geword het
wat geur in die wind
en ongeletterd soos God.
Reëls vir ’n laatwintermiddag
Huis, geliefde huis wat stewig staan,
wind wat die roosranke van die mure afslaan,
lewende wind met die skuins-son skyn –
wind, glans, huis, as ek ver is hiervandaan
waai só, blink só, bly stewig staan.
Lentelied
Sal jy vir my ’n brief skryf, see,
noudat my visarend-vlerk gebreek is?
fiets, fietsie, jy ry alleen in die wind
en jou pedale flits in die lig, leeg
die speke sê blink sê blink sê blink
die onverwerkbare woordjie: pyn.
Belofte
Die lente kom en reeds droom ek
’n feller son en brandende sand
en blindende bloutes van ’n see
en teen die aand se kant
wit kuddes stof en skaap
wat swel en stroom
tussen bepoeierde sipres,