Volmink. Hennie Aucamp
HENNIE AUCAMP
VOLMINK
Tafelberg
The famous religious leaders always
spoke well of whores. HENRY MILLER
As mense net meer genade het met
mekaar, sal die lewe langer duur. NIJINSKI
Susanna en die ouderlinge: ’n vervolg (nog altyd apokrief)
Terwyl ek nou die dag in die Openbare Biblioteek, Kaapstad, sit en wag op die boeke wat ek aangevra het, neem ek uit verveeldheid die boek op wat die naaste aan my hand staan: The Bible designed to be read as literature. Gou raak ek vervoer deur die bekende verhaal van Susanna en die Ouderlinge, maar ook deur die onderwaterse rustigheid van die leessaal. Tot dig teen die vensters is die blare van die Kompanjiestuin. Soos in ’n somerhuisie in ’n tuin sit ek met alles groen om my, selfs die lig wat op my boek val; vergete die Brechts wat reeds by die toonbank wag; en vergete Kaapstad met sy geruis wat net so wel ’n wind in die blare kon gewees het.
Volgens onbekende graveurs in die sewentiende eeu, en skilders soos Rembrandt en Rubens, had Susanna ’n vrouenslyf. (“Vrouslyf”, “manslyf”: begrippe uit my kinderjare. Met plaasoë het die oumense ’n lyf getakseer; verwonderd en selfs ergerlik geklink as ’n vrou na twee babas nog na ’n meisie lyk. En baie onlangs eers, toe ek uit ’n swembad klim, het Ma toegegee dat ek nie meer ’n seun is nie. “’n Manslyf,” het sy gesug; en daarmee saam haar eie jare erken. Wat my opnuut laat besef het hoe gedwarsboom ouers moet voel oor die eise van dekorum en tradisie. ’n Kort tydjie maar het hulle reg op hierdie liggaampies wat hulle geskep het; kan hulle dit onbelemmerd geniet: molligheid onder hulle hande voel buitel, spartel, of stil word in ’n diep, byna voorgeboortelike rus.
’n Vriendin vertel ’n ontroerende verhaal. Hul gesin het uit Pa, Ma en ’n span dogters bestaan; toe, na jare, ’n laatlammetjie. En natuurlik is die seuntjie deur almal verwen. Meer as een keer, vertel sy, het haar ma by ’n venster gesit, besig met masjienwerk. Maar sy was waaksaam; het kort-kort van ’n kledingstuk of wat ook al onder die naald was, opgekyk, en na die seuntjie in die tuin gesoek. Dalk het hy met ’n visblikkarretjie gespeel, of met modder en klei, langs die leivoor, sy eie koppie gemodelleer deur die son; gebruineer, soos die woordeboeke sê, maar tot iets ligters as bruin, want in dié stadium was hy glo blonderig. Soms het die moeder die venster opgeskuif en na hom geroep. Langs haar, teenaan die masjien, het die seuntjie kom staan, en gedwee toegelaat dat sy gulpie oopgeknoop word. Op haar handpalm het die moeder sy jong geslag laat rus; lank oor haar werkbril daarna gekyk voor sy dit woordeloos weggesit en toegeknoop het. Dán eers het sy gepraat, alledaags en rustig: “Loop speel maar weer.” (Die eerste keer dat dit gebeur het, sê my vriendin, was sy geskok; later het sy verstaan dat dit hier om dinge gaan wat doodnormaal behoort te wees: dankbaarheid, verwondering, geloof, ongeloof.) ’n Vrouslyf en ’n manslyf: liggame wat ’n vrug gedra of verwek het; volwasse lywe, nie meer so vas soos vroeër nie; somers, oorryp, met reeds die soet ruik van verval. So lyk Susanna se lyf op Rembrandt se skildery wat in die Staatsmuseum in Berlyn-Dahlem hang: ’n vol lyf wat die onskuldigheid van haar oogopslag loënstraf.
Susanna is die verbode vrug in hierdie eksotiese tuin; ’n vol vrug, haar torso ’n forelpeer. En dié peer gee lig af wat op die Oueres val, en op die ryk kleed wat so artistiek gedrapeer is oor die bank of trapleuning op regterhand. Rooi is verder afwesig, behalwe in Susanna se twee “muiltjies” wat aan die kant van die water staan en die kleur van die kleed opvang, en iets daarvan weggee aan die water. Die tuin smeul in omber en verskiete groene. Selfs ’n geskoolde plantkundige sal moeite hê om in hierdie vae boomvorme die mastiekboom en die steeneik te vind wat so ’n sleutelrol speel in Susanna se redding.
Die skildery bevredig my al hoe minder. Susanna lyk betrap deur die kamera, of wat destyds moes deurgaan as dokumenteerder: die skilder. Asof sy en die Oueres besig was met ’n onskuldige vryery – op stuk van sake is die regters tog eerbare ooms wat nie meer sal waag as wat welvoeglik is nie – en nou verras word deur ’n derde party wat nie vooraf ’n afspraak gemaak het nie. Kortom: my lady doth protest too little, soos daardie Sabynse vroue van Rubens wat hulself met ’n hupstootjie op die perde van hul ontvoerders probeer lig.
In die prentekabinet van dieselfde museum is ’n voorstudie van Susanna wat my meer oortuig. Om buitekunstige redes in die eerste plek: sy is aansienlik skraler as op die skildery, meer in pas met eietydse maatstawwe vir vroulike skoonheid. En sy is alleen. Of byna. Want die Oueres is by implikasie tóg aanwesig, maar in ’n ander dimensie. Hulle staan buite die tekening, presies waar die kyker hom bevind. Haar blik is half verskrik, maar ook nie heeltemal nie, want die ooms is haar tog bekend, en sal haar geen skade berokken nie; maar vir die wis en die onwis – of is haar gebaar spontaan? – bedek een hand ’n bors, terwyl ’n ander na die laken of kleed soek wat om haar onderlyf gevou is, om dit vaster saam te vat om haar lendene. Die waarheid van die skets, het ek besef, gaan so dikwels verlore in ’n groots opgesette skildery. Dis waar ekshibisionisme meesal lê: in die eindproduk wat op ’n massapubliek gerig is, en nie in die intieme skets- of notaboekie wat die skildery voorafgaan nie. Die skets is privaat: ’n fluistergesprek tussen die kunstenaar en sy inval.
Die senuagtigheid van Rembrandt se kryttekening (swart) roep ook ’n ander moontlikheid op: dat Rembrandt self die voyeur is; een van die Oueres, of albei, die onverstandige en die minder onverstandige. Die uiteindelike skildery steun hierdie hipotese. Want die Oueres word nie sonder meer as twee geil ou bokke gesien nie. Die een wat haar aanraak, is verskrik oor haar skoonheid; sou dit liewers wou bekyk as besit. Die ander Ouere het al sy les geleer, miskien omdat hy ouer is (silwer baard en plooie, teenoor die gladde gesig van sy kollega). Hy hou nie alleen sy afstand nie, maar ook sy hoogte. Hy kyk neer op die toneel. Koud is hy darem nie: een hand klamp om ’n leuning; hy leun vooroor, sy mond effens oop. (’n Ligte hyging onder sy swaar kleed?)
Rembrandt is die indringer in hierdie skildery; en ook ons, die kykers. Maar omdat Rembrandt die lewe afloer, sien hy die lewe sonder tooisel of verdediging; begryp hy soveel meer, en kan hy by voorbaat vergewe. Hy het die ou mans verstaan, want as kunstenaar was ook hý ’n slagoffer van die skoonheid. Een reël in die verhaal moes hom aan die hart gegryp het: “En alhoewel albei smoorverlief op haar was, het hulle nie hul smart aan mekaar durf openbaar nie.” In die weergawe wat ek in die Openbare Biblioteek gelees het, kom die waardigheid van die Oueres meer tot sy reg: “And albeit they both were wounded with her love, yet durst not one show another his grief.” En in ’n Bybel van sy eie tyd sou Rembrandt kon gelees het: “Ende sy waren alle beyde te ghelijke tegen haar ontsteken. Ende de eene schaemde hem sulx den anderen te openbaren …” En as daar later in die verhaal gesê word dat die ou mans teenoor mekaar “hul hartstog erken” het, weet jy waarom Rembrandt hulle nie belaglik voorgestel het nie: hulle is menslik, en geregtig op genade.
Ek wens Paul Wunderlich wil hierdie tema opneem, want ook Wunderlich is ’n literêre skilder. Hy is ’n meester-eksegeet, soos selfs teoloë sal moet toegee, as hulle die moed het om sy illustrasies by Hooglied van naderby te bekyk. Hy bly getrou aan die konkrete wêreld van die Bybel; laat metafoor beeld word. Die geliefde wórd ’n jong takbok, met gewei en pienkrooi tong; maar sy lyf, tot brekens toe gereed, is dié van ’n man; en agter haar muur, wat die lyn van ’n vroueliggaam suggereer, wag die geliefde, klein en presies, ’n duifie. (Hooglied 2:9)
Wunderlich sal, vanuit die perspektief van nou, twyfel aan die onskuld van Susanna. Daardie jong man, versin deur die Oueres, is maar net ’n beeld van hul eie verlange na jeug; maar wie sê daar wás nie so ’n jong man nie? ’n Vrou wat soveel sorg aan haar liggaam bestee het as Susanna, kon, al was dit net in haar gedagtes, met iemand jonger, baie jonger as háár liggaam, die “soete minne” bedryf het.
Nie die Apokriewe het my aan Susanna laat twyfel nie, maar Rembrandt; en my twyfel het ingeloop in die wit na die slotreëls: “En Hilkia en sy vrou het God geloof vir hul dogter Susanna, saam met haar eggenoot Jojakim en haar hele familie; omdat sy niks verkeerds gedoen het nie. En van daardie dag af en verder het Daniël groot aansien in die oë van die volk geniet.”
’n Slotreël is net oënskynlik ’n stilstand. Die energie vir ’n volgende episode is reeds hierin aanwesig. En dié energie stuur seine uit.
Goed, die spanning van die