Koms van die motman. Chris Karsten
on>
Koms van die motman
Chris Karsten
Human & Rousseau
The scene of the crime is still the human heart.
– Ross Macdonald
The soul breathes through the body, and suffering, whether it starts in the skin or in a mental image, happens in the flesh.
– Antonio Damasio: Descartes’ Error
ARTHUR
Januarie 2017
Kan die motte ook hierdie musiek hoor, dit miskien selfs aanvoel? Hierdie hemelse note wat daar bo vrygelaat word en afgefladder kom en hier onder saam met die motte om hom en sy plante kom dans en sweef en dartel en hulle teen hom nestel om sy gemoed te vertroos.
Dis wat Bach aan my doen, fluister hy vertroulik aan sy versamelde gehoor van plante en motte. Hy paai my en versag my pyn, hy bedwelm my en sus my en sleur my mee na ’n rustiger en veiliger plek.
Vooroor op die lae bankie hervat hy sy werk, met die geel rubber-opwashandskoene en spuitbottels en borsels (Pearwood Soft Boar Bristles, soos hy ook vir sy eie yl hare gebruik). Tien jaar se onversorging het die sysagte haartjies in grysvuil rastalokke laat mat. Hy bespuit die wit oumenshare eers met ’n swak seepoplossing, spoel dit dan met skoon water af en begin die klam koeke met langsame, delikate hale uitborsel tot dit weer lank en los en donsig oor die ribbe en areolas hang, en silwerig soos die kristalle van vars sneeu die son deur die groot vensters vang.
Hy sit terug en betrag sy handewerk, luisterend na die preludes en fugas. Ja, dit lyk mos beter, sommer báie beter. Hoe voel dit om weer so gekoester te word … lekker, nè?
En verskuif sy bankie en sy houer met bottels en borsels effe sodat hy die volgende harige ronde stam kan bykom sonder te veel stremming op sy rug. In hierdie bedding is daar twaalf van hulle, van twintig sentimeter hoog tot byna ’n meter; stadige groeiers en veral stadige blommers. Cephalocereus senilis. Die oumankaktus. Gepas, asof dit spesiaal vir hom bedoel is, want hy voel oud en bekwaald, soms selfs bietjie seniel ook, beslis ouer as sy twee-en-sestig lewensjare. Dís wat 3 606 dae in die tronk aan jou doen, nie aan te bevole nie.
“Arthur … met wie praat jy?”
Hy kyk gesteurd om, maar dan versag sy blik.
Haman sit ’n skinkbord op die potystertafeltjie in die middel van die konservatorium neer. “Jy’s so besig, kom rus eers bietjie, ek het vir ons tee gebring.”
Sy gedagtes moet by sy mond uitgelek het. Haman moet dink hy’t rêrig kens geword oor hy so met die plante en die motte praat.
Arthur sit sy spuitbottel en borsel neer, trek die handskoene uit, plaas dit ook in die plastiekhouer en stoot homself met ’n hand op ’n knie orent. Sy litte kraak en hy gee ’n steun. Ja, hy ís ’n ou man. Ander sestigjariges is nog fiks, baie steeds in ’n beroep. Nie hy nie. Die tronk het tien jaar van sy lewe gesteel, hom oud en sieklik uitgespoeg.
Hy sleepvoet na die teetafel. “Is dit nie mooi nie?” sê hy met die sit op die bankie.
“Ja, dit is, maar jy moes my gesê het, ek sou hulle uitgeborsel het.”
Die musiek. Dis eintlik wat Arthur bedoel, sy oë op ’n mot by die skarlaken blom van die hangende diso. “Jy’t hulle goed versorg, meer kon ek nie vra nie.”
Cactaceae. In sy konservatorium is net kaktusse, omtrent honderd-en-vyftig spesies van twee subfamilies: Opuntioideae en Cactoideae. Sy nagblomme – meestal van die genus Cereus – is moontlik die grootste private versameling in die land, indien nie die grootste buite Sentraal-Amerika nie, oor dekades met spesiale permitte ingevoer uit eksotiese wêrelddele waarheen hy self gereis het om hulle te gaan uitsoek. Die meeste vat tien jaar voor hulle begin blom, en dan net gedurende ’n enkele somernag per jaar.
“Daar’s een!” roep Haman uit. “’n Sfinksmot, is dit nie?”
Arthur hoor die triomf in sy broer se stem en sê: “Jy’s reg, jy’t die motte mooi leer ken, nè?” Die sfinksmotte is veral lief vir die cereuse. Maar hulle is eintlik nagvlieërs en hy wil weer snags hier kom sit, met JSB se kantates, om in die sagte skynsel af te loer hoe hulle met die nagblomme omgaan, hulle slurpies diep in die kelke in om die nektar te soek.
“Wat dink jy moet ek vir haar gee?” vra Arthur. “Sy sal van ’n blommende soort hou. Dalk ’n diso? Of wat van ’n echinopsis? Nee. Moet ’n nagblom wees, daai ervaring mag sy nie mis nie.”
Haman onderbreek sy teeskinkery. “Jy wil een van jou precious nagblomme weggee? En vir wie nogal, wie’s sy, wie’s so spesiaal?”
“Juffrou Neser, Haman, dis vir háár. Een van die cereuse – ’n hylocereus of ’n selenicereus.”
Hy strek vir die teekoppie en kreun weer van ’n pyn. Dis moeilik om te bepaal wat die oorsaak van elke pyn is. Met soveel potensiële bronne. Van die destydse polisiekoeël in die skouer tot die meer onlangse wonde wat hy in sy lang, martelende inkerkering op die lyf geloop het.
Hy sit terug en vroetel na ’n pil. Vir al sy kwale drink hy ’n vrag pille op ’n dag, en hulle is steeds nie met hom klaar nie. Vir die komende week het dokter Pentz ’n spul spesialiste aangetree om hom deeglik te ondersoek. Van sy voete tot tande tot oë. Ook elke orgaan, van prostaat tot hart, elke weefsel en sel. En monsters van sy bloed is reeds in ’n spul vacutainers na patologie-, mikrobiologie- en biochemie-laboratoriums op pad. Tussenin het Elizabeth nóg afsprake vir hom gemaak, dié genadiglik darem hier by die huis. Dieetkundige, fisioterapeut, kosmetikus vir sy hare, hande en naels, masseuse vir sy seer spiere en voete.
“Wat’s fout?” wil Haman besorg weet toe hy die pil afhelp met ’n sluk tee.
“Niks, sommer net ’n skeet.”
Die steek in sy sy kan hy ten minste lokaliseer – dis waar die tronkmes onder sy arm in is toe hy ’n slag geshank is.
Maar die groot skade was meer onlangs, skaars vier maande terug, toe hy vodde geskop en geslaan is, twee ribbes gekraak, veertig steke, milt verwyder … laaste ding wat hy nodig gehad het, ’n getorring aan enigiets wat sy immuunstelsel raak. Nerfskeel moer toe.
Nes die polisiekoeël wat destyds in sy skouer die aarwand van die bragiale arterie geskeur en hom byna soos ’n keelaf skaap laat uitbloei het. En daai konkelende, skietlustige polisieman, verbeel jou, dié maak agterna daarop aanspraak, sonder die knip van ’n skaamtelose oog, dat hy met sy teenwoordige gees en flinke toerniket eintlik Arthur Wilky se lewe gered het.
En dis nie eens helfte van sy wondkronieke nie – hý, die pasifis besiel met ’n gees van vrede, maar altoos, ironies, die slagoffer van geweld.
Hy blaas, slurp, sit dan met die koppie en piering op sy knie en beduie met sy ander hand: “Wat van daai greggii?”
“Vir ’n vrou?”
“Wanneer hy eendag blom, is dit ’n skouspel en ruik so lekker.”
Haman kom sit langs hom. “Gaan omtrent nog vyf jaar vat om te blom.”
“Dis oukei, vir iets moois en waardevols is daar niks soos intense afwagting nie.”
“Hoekom vir haar – ná al jou swaarkry?”
“Dis mos nie haar skuld nie, sy was net ’n kind. Die sonde van die vaders … lees jy nie meer jou Bybel nie?”
“Jy steek goed vir ons weg, Arthur.”
Hy lig sy koppie.
Dis Sondag, die derde dag sedert hy uit is, maar alles is steeds vreemd en onseker. George Pagel het hom Vrydagoggend by die tronk gaan haal. Sy ou klere, wat hy tien jaar vantevore uitgetrek en geruil het vir daai oranje tronkdrag, het sakkerig aan sy maer liggaam gehang, in sy hand ’n plastiek-inkopiesak met ’n paar patetiese besittings – twee notaboeke, pen, oorfone, mp3, tien Bach-CD’s; die ghetto blaster het hy vir Malatjie gelos. Só het hy in George se groot SUV ingeklim, reguit hospitaal toe waar sy bed en die dokters gewag het. Gister, nadat hy ontslaan is, het Haman hom huis toe gebring en hy het ’n slaappil gedrink