Satyn Omnibus 7. Ettie Bierman

Satyn Omnibus 7 - Ettie Bierman


Скачать книгу

      

      Satyn

      OMNIBUS 7

      Wanneer ’n droom waar word – Ettie Bierman • Dokter Dierbaar – Anita du Preez • Geërfde liefde – Lizet Engelbrecht

      Satyn

Wanneer ’n droom waar word

      1

      Dis die laaste keer, dink Carmia met ’n kil woede wat haar vingers bewend om haar lessenaarblad laat klem. Die héél laaste keer dat sy dit sal duld! Voordat die stoom wat sy opgebou het ’n ander uitlaatklep vind, gaan sit sy by haar rekenaar en tik haar bedankingsbrief. Kort en kragtig, sonder om die presiese rede vir haar besluit te noem. Sy wil nie later dalk met ’n lastereis sit nie.

      Gelukkig is SeeSter se nuusredakteur in sy kantoor – rustig, vaderlik en naby aftrede. Hy sit sy pen neer en loer oor sy bril toe Carmia instorm, ná ’n kort klop aan die deur.

      “Jy lyk soos ’n meisie met ’n missie,” sê hy paaiend.

      Sy steek vas en haal ’n paar keer diep asem om haar hartklop te laat bedaar. “U was verkeerd, meneer Jordaan!”

      “Wanneer?”

      “Drie maande gelede.”

      Hy maak ’n torinkie met sy hande en beskou haar fronsend. “In verband waarmee?”

      “Toe u gesê het dit was eenmalig – ’n geïsoleerde geval, en dit sal nie weer gebeur nie. Wel, dit het. Erger as laas keer!”

      “Wát het weer gebeur?” por hy haar aan.

      “Arno du Plessis,” antwoord sy heftig. “Dís wat weer gebeur het, netnou, in die hysbak. Ek gaan dit nie langer verduur nie!”

      ’n Behoedsame uitdrukking verskyn op die nuusredakteur se gesig. Dis asof hy ’n entjie terugsit in sy stoel, om afstand te plaas tussen hom en die jong verslaggewer.

      Carmia raai wat deur sy gedagtes gaan. Hy wil nie nou, in hierdie laat stadium van sy lang en suksesvolle koerantloopbaan, die boom skud nie, ingeval daar ’n vrot appel uitval. Arno was destyds sý aanstelling, en hy hou nie van kritiek teen sy sportredakteur nie. Verlede keer al wou hy die insident toesmeer en voorgee dat sy geoorreageer het. Hy het volgehou dit was eenmalig en daar sal nie ’n herhaling wees nie.

      Sy het hom geglo en haar laat ompraat om die saak nie verder te voer nie. Tot netnou in die hysbak, toe Arno du Plessis homself en sy dwalende hande nie kon beteuel nie en sy besluit het genoeg is te veel. ’n Oordosis. Om te swyg beteken stilswyende goedkeuring. Dit gee hom toestemming om voort te gaan met sy teistering. Nie net van haar nie, maar ook van haar ander vroulike kollegas – al die enkellopendes. Die vent is uitgeslape –

      hoe jonger, hoe meer junior en hoe weerloser, hoe beter. Wel, dit kry nou end! Net hier, het sy besluit.

      Meneer Jordaan peuter met sy bril, vryf met sy duim en wysvinger oor sy neusbrug om dinktyd te wen. Hy kyk bysiende op na Carmia en beduie sy moet kom sit.

      “Wil jy ’n saak maak, juffrou Basson? Seksuele teistering in die werkplek is ’n ernstige aanklag, wat verreikende gevolge kan hê vir albei partye. Het jy voldoende bewyse om ’n klag te lê en ’n interne ondersoek aan te vra?”

      Sy was altyd Carmia, of sommer Karretjies as hy in ’n goeie bui was, of as sy ’n goeie berig vir die voorblad geskryf het. Maar nou skielik is sy “juffrou Basson”, asof hulle opponente is. Sy byt op haar onderlip en gaan sit op die puntjie van die stoel oorkant sy lessenaar.

      “U weet ek het nie bewyse nie. Hy is slim genoeg om sy kanse te vat waar ons alleen is en daar nie getuies by is nie. Dis my woord teen syne. Ek is ’n juniortjie, ’n nonentiteit. En hy is ’n gesoute joernalis met ’n bekende naam.”

      “Kan jy en Arno nie die saak skik nie? Dit self tussen julle oplos nie?” stel hy simpatiek voor. “So ’n ondersoek sal vernederend wees – nie net vir hom nie, maar veral ook vir jou as vrou, juffrou Basson. Jou naam sal deur die modder gesleep word indien hy onskuldig bevind word. Het jy al so daaraan gedink? Is dit wat jy wil hê?”

      Carmia weet dit sal die regte ding wees om die arrogante skepsel aan te kla en ’n les te leer. Maar die kans is skraal dat sy die saak sal wen. So ’n ongure affêre. Arno het volop vriende in die sportwêreld en in die koerantwese. Sy kan haar die praatjies indink, die gefluister in die gange.

      Hulle sal dit laat lyk of hy die onskuldige slagoffer is en sy die vark in die verhaal. Het natuurlik by hom aangelê, en toe hy nie daarvoor te vinde was nie, wou sy wraak neem. A woman scorned … Afgesien van die knou aan haar geloofwaardigheid, sal die negatiewe publisiteit vir haar deure laat toeklap in die joernalistieke bedryf. Sy sal as ’n moeilikheidmaker gebrandmerk word, sodat sy nie maklik by ’n ander koerant ’n pos sal kry nie.

      Sy stoot die getikte vel papier oor die lessenaar tot voor haar baas. “Ek weet ek is nie in ’n posisie om ’n formele klag te lê nie,” sê sy wrang. “Daarom bedank ek eerder, sodat ek nie elke dag in die drommel se bakkies hoef vas te kyk nie.”

      Lukas Jordaan is nie ’n goeie toneelspeler nie. Hy is duidelik verlig, hoewel hy tog darem ’n poging aanwend om Carmia tegemoet te kom. “Wil jy hê ek moet Arno inroep en die voorval met hom bespreek?”

      “Wat sal dit baat? Hy sal dit tog net ontken,” antwoord Carmia reguit. “Hy sal my ’n histeriese oujongnooi of ’n drama queen noem. En almal sal hom glo … Nee dankie, ek soek liewer ander werk.”

      “Sal dit help as jy berading ondergaan? Ek kan dit reël, op die koerant se koste.”

      Carmia dwing haarself om kalm te bly. “Ek is nie getraumatiseer nie, meneer Jordaan, net woedend. Briesend kwaad en gegrief dat ’n skurk soos Arno du Plessis hom soos ’n vark kan gedra en skotvry daarvan afkom, omdat ek en ander vroue in dieselfde bootjie nie die moed het om hom tot verantwoording te roep nie. Wat het geword van die individu se grondwetlike reg op ’n veilige werksmilieu?”

      Hy kyk met vaderlike deernis na haar. “Jy’s nog jonk, meisie. Wat …? Drie-, vier-en-twintig?”

      “Ses-en-twintig,” antwoord sy styf.

      “Jy sal nog leer die lewe loop sy eie draaie, dis nie altyd regverdig nie en die samelewing skuld jou niks. Skryf dit wat gebeur het af as skoolgeld: ’n praktiese diploma in die praktyk. Moenie oorhaastig bedank nie. Gaan vanmiddag huis toe, raak koelkop en besin oor jou toekoms. Ons sal môre weer gesels as jy kalmer is.”

      Hy smeer my heuning om die mond, besef Carmia. Maar dis al wat hy gaan doen. Die baas skerm vir homself en vir sy senior personeel. Sy is op haar eie en vervangbaar, makliker as die sportredakteur.

      “Ek ís kalm, meneer, en ek het klaar gedink. Dis beter dat ek aanskuif. Ek het meer as dertig dae opgehoopte verlof, dit kan dien as my kennismaand.”

      “Ek sal spyt wees om jou te verloor. Jy is ’n veelsydige verslaggewer met ’n goeie aanslag. Jy het vir ons ’n klompie goeie stories geskryf.” Hy aarsel ’n oomblik voor hy vra: “Sal dit nie baat as ons drie om ’n tafel gaan sit en hierdie misverstand opklaar nie?”

      Carmia voel hoe haar bloeddruk styg. Mísverstand? Wat daaromtrent kan ’n misverstand wees as ’n man jou in ’n hysbak gryp, sy hand onder jou bloes indruk en jou bevoel en bevat? Sy wil stik van verontwaardiging. Selfs al vra die vermetele vent verskoning, wil sy hom nooit weer in haar lewe sien nie.

      Die eerste keer toe hy hom aan haar opgedring het, was laat een aand by die faksmasjien, pas ná saktyd, toe die meeste van hul kollegas reeds weg was. Hy het langs haar kom staan en sy het aanvaar hy wag vir ’n boodskap in verband met rugby of krieket vir die volgende dag se sportblad. Haar aandag was elders en sy was nie dadelik op haar hoede toe hy naderbeweeg en oor haar leun nie. Sy het niksvermoedend aanvaar hy strek om ’n faksbladsy by te kom.

      Maar skielik het hy sy arms om haar gesit en haar in ’n versmorende greep teen hom vasgedruk. Sy was te verskrik om te reageer en haar teë te sit. Die volgende oomblik het sy nat mond oor hare gesluit en het sy gevoel hoe sy tong haar lippe met geweld oopdwing. Sy kon sy asem ruik en die suur vissmaak proe van tuna of iets wat hy vroeër geëet het.

      Sy weet nie waar sy die


Скачать книгу