Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede). André le Roux
ANDRÉ LE ROUX
Waarom
mans altyd
reg is
en ander onnoselhede
[no image in epub file]
Human & Rousseau
Vir Marté, natuurlik
Watter dag is dit?
Vra sy.
Dit klink soos ’n onskuldige vraag en jy antwoord op dieselfde trant: Dis Donderdag. Dalk voel dit vir haar soos Woensdag, nou vra sy net om seker te maak.
“Die sestiende?” vra sy.
Ja, die sestiende, hoekom?
“Sê die sestiende vir jou iets?”
Hoekom sal die sestiende nou vir jou iets wil sê? Maar jy bedink jouself (instinktief) voor jy dit hardop sê. Die sestiende…? Die sestiende…?
Dan onthou jy skielik: “Dis ons troudag! Natuurlik!”
O, Donderdag! Hoe kón jy dit vergeet? Dis tog Julie en jy onthou die reën kon die vuur van jul liefde nie blus nie. Die onthaal was uithaler en die wittebrood witwarm, die son het julle nooit gesien nie. Hoeveel jaar is dit nou al? Dit voel soos gister.
“Wag,” sê jy. “Vanaand maak jy nie kos nie, ek neem jou uit vir ete. En net môre – nét môre – koop ek vir jou ’n present, ’n grote!”
Jy wonder hoekom sy nie getroos lyk nie, net broos. Sy gaan maak vir haarself roereier op toast en jy vind later oorskiet-hoender in ’n Tupperware-bakkie in die yskas vir jouself. Daar’s julle uiteet ook daarmee heen… en jy’s seker die res van die aand gaan ook nie ’n herdenking van enige aard of geleentheid wees nie.
Die lewe is nie regverdig nie, dink jy. Dis mos nie asof jy doelbewus, aspris vergeet het nie, jy’t maar net nie onthou nie, dis al. Want toe jy weer sien, toe vra sy watter dag is dit en toe’s dit te laat.
En dit was juis so ’n wonderlike troue, onthou jy, al het die weer nie saamgespeel nie. Jy wou al in Februarie trou, dis gouer as Julie, maar sy en haar ma het tyd nodig gehad vir al die voorbereidings. (Haar ma het natuurlik gehoop die hele ding reën op die nippertjie uit, en toe frizz haar hare, sy wou amper nie stilstaan vir ’n foto nie.)
Jy’t al selfs eenkeer aangebied om wéér met haar te trou sodat julle ’n datum kon kies wat ’n mens makliker kan onthou, sê nou maar naby Valentynsdag of so, want winkels en advertensies en bloemiste maak seker jy sal nooit Valentynsdag vergeet nie. (Jy wou in elk geval reeds in Februarie trou, onthou?)
“Ek kan verduidelik,” probeer jy. Jy kan verduidelik? herhaal sy met hoë, woordelose wenkbroue.
“Hy kan verduidelik,” sê sy vir die kat, wat die vertrek terstond verlaat.
Ja-ja. Jy sien, toe ek vanoggend wakker word, toe onthou ek met groot nostalgie en ’n glimlag dis die sestiende, Donderdag die sestiende Julie, nè? En toe wil ek op jou omrol om jou geluk te wens, maar toe slaap jy nog so lekker, toe dink ek nee, wag, ek sal jou later verras, toe raak die dag baie besig en toe… Ek het nog vir myself probeer uitwerk hoe lank ons getroud is, toe kom ek uit by honderd jaar, toe dink ek, nee, dit vóél nes honderd jaar. Of… e… soos gister? voeg jy by.
“So, as ’n mens mooi daarna kyk,” som jy op, “hét ek ons troudag onthou.”
Die kat loer versigtig om die kosyn om die uiteinde te hoor. (“Moenie jy nou tussenin kom nie,” brom jy vir die kat.)
“Dis net dat…” verduidelik jy verder.
Sy loop ’n draai deur die huis en terug, dit lyk of daar vuurvliegies by haar ore uitkom: “Dis net dat dit nie ons troudag is nie,” voltooi sy die sin.
Nie? Nou hoe dan?
“Dis my verjaardag!”
Waarom mans belangrike datums vergeet
Aanvaar dit asseblief: Mans vergeet belangrike datums – en hy dink nie altyd aan jou nie. Maar as jy weet hoekom, sou jy dit nie anders wou hê nie.
Sy’s nie so seker daarvan nie.
“Hoekom onthou jy kriekettellings van lank gelede en wie die bal oorgeskop het in daardie laaste minute?” vra sy. Die Dag van die Groot Wedstryd, ja, maar nie die Dag van die Troue of Haar Verjaardag nie.
Die verskil is, verduidelik jy: Daar kom mos nog verjaardae en nog troudae (hopelik). Maar daardie spesifieke wedstryd kom nóóit weer nie. As jy dit gemis het, het jy dit onherroeplik gemis. Jy wonder of dit sal help as mense trou op Die Dag van ’n Groot Wedstryd, dan sal die man mos die datum onthou. (Nee, dink jy, ’n flat screen bokant die preekstoel sal nie werk nie.)
Jy’t al dikwels ’n paar papiertjies in die middel van die gang neergesit om ’n Groot Dag te onthou, maar voor jy kon onthou, het sy die papiertjies opgetel. (“Moet ek alewig loop en goed optel in hierdie huis?”) Of jy vergeet waarvoor die papiertjies daar is…
Die verjaardagkalendertjie agter die deur help ook nie, want jy vergeet om daarna te kyk, en as jy die slag kyk, staan die kalendertjie op Maart terwyl dit al Augustus is (en wie se skuld is dit?). Daar’s buitendien ’n hoop name op van mense wat jy nie eens ken nie.
Knoop dit dan in jou oor, sê hulle maklik, maar daarvoor is jy te kleinserig. By die een oor in, by die ander oor uit.
“Dis omdat jy nie aan my gedínk het nie,” beskuldig sy.
Natuurlik het jy aan haar gedink! Maar toe begin dink jy aan ander dinge ook (jy weet?) en toe vergeet jy weer. Dit moet iets met mans se testosteroonvlakke te doen hê, jy weet net nie wat nie. Dit kortwiek seker die geheuesentrum in hul brein as hul testosteroonvlakke soos kwik begin styg. Dan onthou hulle die wittebrood en vergeet die troue.
Dis omdat mans ver vooruit dink om voorsiening te maak vir die toekoms. Hy onthou dus jou verjaardag maande voor die tyd, maar op die Groot Dag vergeet hy dit, want teen daardie tyd onthou hy dis al weer oor vier maande Krismis, hy moet voorsiening maak.
Hy het dus bó-oor jou verjaardag onthou – en dus vergeet. Verstaan?
“Jy’t ook die kinders se verjaardae vergeet, en toe hulle kleiner was, het jy gereeld vergeet om hulle by die kleuterskool te gaan haal as dit jou beurt was. Hulle het gedink jy doen dit omdat jy hulle nie meer wou hê nie. Foei tog, dit moes hulle erg geknou het. Dis hoekom hulle sulke moeilike tieners was,” sê sy en voeg ongevraagd by: “En seker omdat hulle na jou aard.”
Dit het nie gelyk of hulle my gemis het nie, dink jy – Pappa kan maar huis toe gaan, ons speel nog – en hoe moes ék toe voel?
“Die ergste was toe jy tante Gwendoline met al haar tasse op die stasie vergeet het. Dit was eers toe ek by die huis kom en vra waar’s tante Gwendoline dan…? En toe was dit al donker.”
Wel, sê jy, ek hét onthou om haar weer stasie toe te neem… en jy’t dit vir jouself uitgewerk waarom mans belangrike datums vergeet.
Die ding werk só: Vroue onthou dag en datum, mans onthou net die dag. Daardie heuglike troudag, hoe mooi als gelyk het en die bruid die mooiste. Of die geboorte van ’n kind, die gekreukelde wonder van lewe en hoe trots jy was, die pragtigste baba in die hele wêreld en jy kon klaar sien dis ’n slim klein mannetjie daai, jy’t dit vir almal loop en vertel.
Want vir ’n man gaan dit oor die dag self, oor die Groot Gebeurtenis. Dís wat hy onthou, nie die datum nie, want datums kom en gaan. En as jy nou mooi daaroor dink, sou jy dit nie anders wou hê nie, of hoe?
Dít het jy ook vir jouself uitgewerk: As jy iets wil onthou, vra ’n vrou.
Soos heuning vir bye
Wat is dit wat mense na mekaar toe aantrek? wonder sy uit die bloute, en jy sien wat kom nog voordat jy die vraag kan beantwoord: “Wat het jou na mý toe aangetrek?”
Dis ’n variasie op daardie ander vraag: Het jy my nog lief?