In my drome. Malene Breytenbach
In my drome
Malene Breytenbach
Hartklop
1
Vloer, sluk my in, dink Stella paniekerig, maar daar is geen wegkomkans nie. In dié gang is sy beslis nie onsigbaar nie.
Dit is leeg afgesien van haar en die twee mans wat aangestap kom. Arend Barnard, wat nou in sy finale jaar MBChB is, en die professor in anestesiologie wat altyd so streng is. Moet sy nou van alle mense op aarde in Arend vasloop? Op ’n dag wat die griep in haar lyf sit? Sy is so voos, skryf sy nou ’n toets, dop sy sowaar.
Hulle kom al nader, en sy skraap haar moed bymekaar, maar haar lyf bewe: “Môre, professor. Môre … e … Arend.”
Die grys man met die skerp ligblou oë kyk haar ondersoekend aan. “Môre, juffrou Swift. Hoe lyk jy dan so bleek en beteuterd vanoggend?”
“Ek dink ek het griep, professor. Ek het gedink ek moet …”
“Ja, gaan tog huis toe voordat jy almal aansteek.”
Hy klink nie eens simpatiek nie!
Arend het slegs vir haar geknik en is besig om haar met sy donker oë te bekyk op daardie fronsende, afkeurende manier waarmee hy altyd in die verlede na haar gekyk het. As hy maar net lelik was, of net onaansienlik, selfs net vaal, maar nee, hy is lank, lenig, breedgeskouer, bruingebrand, sy donker hare en oë blink, sy reëlmatige gelaatstrekke so aantreklik soos altyd, al lyk hy bot en onvriendelik.
Hy presteer natuurlik steeds, soos altyd van skooldae af. Die prof se witbroodjie, soos hy omtrent al wat ’n onnie se witbroodjie was, veral die vroulikes. Die slimste seun in Stellenbosch Hoër, uitstekende sportman, agt onderskeidings, hoofprefek. Sy graad sal hy ongetwyfeld ook met onderskeiding slaag. Kyk seker steeds neer op almal wat dommer as hy is.
’n Arroganter man as Arend Barnard sal jy nie maklik kry nie. Een wat boonop oorloop van ambisie. Asof hy iets het om aan die wêreld te bewys.
“Die ou met die groot chip op sy skouer,” het haar broer altyd gespot.
Sy lig haar ken en gee hom een verwoestende kyk. Draai na die professor: “Goed, prof. Ek sal huis toe gaan.”
“Drink tog medikasie, juffrou Swift, en moenie terugkom voordat jy gesond is nie.”
Nou klink professor Strydom meer simpatiek. Hy glimlag selfs. Hy sou nogal aantreklik kon gewees het as hy nie altyd so suur en onverbiddelik voorgekom het nie. Al die studente is bang vir hom.
Almal behalwe die vervlakste Arend wat ongetwyfeld in sy goeie boekies is.
Sy groet, draai om en loop vinnig in die lang gang weg. Die mans kyk haar seker agterna. Toe sy die draai vat, kyk sy vlugtig oor haar skouer. Watwou haar verbeel hulle kyk na haar! Hulle is druk in gesprek asof sy hulle nooit eens onderbreek het nie.
Leonie en ander vriende sal haar help werk inhaal. Dis erg om klas, selfs net vir ’n dag, mis te loop wanneer jy medies swot. Hulle is so besig, en die kursus is veel moeiliker en uitdagender as wat sy voorsien het toe sy nog op skool besluit het sy wil dokter word omdat sy haar medemens tot diens kan wees en dit ’n beroep is wat ’n goeie inkomste waarborg.
Maar ook omdat sy nie BCom wou gaan swot soos haar broer, Janus, en dan in die hoofkantoor van Swift Meubileerders gaan werk nie.
Haar broer het altyd geweet hy gaan dit doen. Hy is mos die kroonprins, al het hy nie sy graad voltooi nie.
Sy wou nog altyd aan haar gesin en almal wat haar ken, wys dat sy op haar eie bene kan staan en presteer. Dat sy nie van haar pa se baie geld afhanklik gaan bly of juis daaroor slap gaan lê nie.
Eintlik het Arend haar beïnvloed.
Dit was onmoontlik om sy bestaan te ignoreer. Hy het net altyd uitgestaan soos ’n hoë boom tussen lae fynbos. Die Groot Presteerder.
Herinneringe aan een spesifieke aand kom in ’n koue vlaag terug. Sy was in graad agt en haar broer en Arend was matrieks. Na die matriekafskeid het hulle hele klas na haar ouerhuis gekom vir die afterparty. Janus het dit so gereël, want hulle ouers het die grootste herehuis in Jonkershoek waar dit maklik is om baie mense te onthaal.
Janus se maat was sexy blonde Chanelle Redelinghuys, met wie hy later getroud is. Arend se maat was vaal, slim Riekie de Wet, wat ’n prefek was en soos ’n muisie teen ’n leeu afgesteek het.
Arend en Riekie het by Swift House aangekom in ’n ou Volkswagen, maar Janus en Chanelle het in sy pa se Porsche Cayenne na die matriekafskeid gery, Janus in ’n pak wat spesiaal vir hom gemaak is. Arend se pak het van die rak af gekom, maar hy het beter gelyk as Janus.
Stella het almal gefassineerd dopgehou. Dit was duidelik dat omtrent al die meisies dol was oor Arend, maar dit het nie juis gelyk asof hy die aand geniet nie, en hy en Riekie is die vroegste van almal huis toe. Die ander het nog gekuier en in die groot swembad geswem, baie lawaai en twee-twee in die groot tuin weggesluip. Haar ouers het nie hulle gesigte gewys nie, en die partytjie het naderhand rof geraak.
Stella het goed geweet dat Arend en Janus mekaar nie kon verdra nie, maar om Arend uit te laat, sou ondenkbaar wees.
“Die grease monkeys,” het Janus altyd gespot met die Barnards, omdat Arend se pa die eienaar van Barnard en Seun Paneelkloppers is. Arend se broer, Thys, het reeds saam met sy pa gewerk, maar Arend was besonder skrander en het gemik om medies te studeer. Hy het die wiskunde-olimpiade ook gewen.
Die Barnards het in ’n gemiddelde huis in Uniepark gewoon en was seker nie regtig arm nie, maar in vergelyking met die ryk Swifts was hulle.
Janus was nog altyd ’n spotter en grootprater, maar ongelukkig is hy nie so intelligent of so aantreklik soos Arend nie.
Stella besef ook hy was nog altyd jaloers.
Sy het, soos die meeste ander meisies, op Arend verlief geraak, maar hy het haar openlik die rug toegekeer. Omdat sy Janus se suster was? Omdat hy gedink het sy is ryk en bedorwe soos Janus?
Hemel tog, waarom is sy nou weer vandag so gepla deur Arend Barnard? Sy is al buite op die parkeerterrein en het hier gekom sonder dat sy enigeen raaksien, so ingedagte is sy.
Stella sluit haar Mini Cooper oop. Al wat sy nou wil doen, is om by die woonstel in Durbanville te kom wat sy met Leonie deel, en in die bed te klim.
Arend Barnard het haar net koorsiger laat voel.
Terwyl sy ry, spoel al die herinneringe terug, soos golwe na die strand. Haar kinderlike verliefdheid op ’n ouer seun wat nie in haar belang gestel het nie, het baie pyn ingehou. Tieners is hipersensitief. Sy het wel nog gereeld met ander jong mans uitgegaan, maar ernstig raak, wou sy beslis nie.
Waarom kon sy Arend nog nooit vergeet nie?
By die mediese skool was hy in die koshuis. Sy het hom byna nooit meer gesien nie.
Toe sy ook kom medies swot, het sy hom ’n paar keer op die Tygerbergkampus raakgeloop en het hulle mekaar styf en formeel gegroet. Hy het seker ’n vaste meisie, of vry hy ook maar in die bondel? Hy het seker steeds ’n klomp gefrustreerde bewonderaars. Een ding wat hy goed kon doen, is om afsydig te wees.
Dankie tog, sy is amper by die huis.
Koue sweet prik in haar hare.
“Ek het lankal besluit ek wil ’n anestesioloog word, prof,” sê Arend. “Dit is vir my uitdagend en ek hou van die idee dat die anestesioloog in die operasiesaal met ander spesialiste kan saamwerk en altyd ’n verskeidenheid gevalle en dissiplines kan ervaar.”
Die professor glimlag. “Ek kon nogal agterkom aan jou belangstelling en vrae in die klas dat jy in dié rigting neig. Jy sal nooit spyt wees nie.”
“Dankie dat ek vanoggend met prof kon praat.”
“My plesier. Nou moet jy seker draf?”
“Ja, ek het weggeglip om met prof te kom praat. Dankie. Totsiens, prof.”
“Weg is jy, meneer