Soekmekaar. Dana Snyman

Soekmekaar - Dana Snyman


Скачать книгу
ction>

      

      Dana Snyman

      Soekmekaar

      Tafelberg

      My heart’s dark, but it’s rising.

      I’m pulling all the faith I can see.

      – Bruce Springsteen

      Who has the words to close the distance

      Between you and me?

      – Johnny Clegg

      1. The Big Chill

      Party dinge is nog dieselfde. Die skoolwapen teen die muur by die hek, met die leuse daarby: Voorwaarts na die kruin. Die saal met die hoë vensters. Die ossewa, groen geverf, onder die afdakkie. Alles nog min of meer nes dit dertig jaar gelede was.

      Maar waar Totius se borsbeeld op ’n voetstuk was, staan net die voetstuk.

      Jy ry na die agterkant van die terrein, verby die sementvierkant met die vlagpaal waar julle soggens voor skool aangetree het. Dit is ’n Saterdagmiddag. Nie ’n kind in sig nie.

      Die stuk hoenderstellasie langs die rugbyveld en atletiekbaan is vervang met ’n behoorlike pawiljoen van sement en staal. Skuins agter die pale waar die skietbaan was, is nou ’n gebou wat lyk na iets tussen ’n braailapa en ’n restaurant, met ’n balkon wat oor die rugbyveld uitkyk. Dit moet die nuwe klubhuis wees.

      In die oopte is motors geparkeer. Jy hou naby ’n Porsche Macan stil. Wie s’n sou dit wees? En daardie Mazda Rustler-bakkie met die Mighty Men-plakker agterop? En daardie verweerde rooi Uno wat agter Spyker se houtwerkklas staan? Hoekom het jy jou laat ompraat om te kom?

      Op die klubhuis se stoep wag ’n klomp bekende vreemdelinge. Party kyk in jou rigting toe jy aangestap kom. “Kyk wie het ons hier!” roep ’n man en kom na jou toe.

      Kan dit regtig Fred wees? Kyk die boepmagie. Kyk die neus vol gebarste aartjies. “Fred, is dit jy?”

      “Jy’s laat, jou bliksem.” Sy hand is koud en trouringloos. “Jy lyk goed, mater.”

      Dit gee jou ’n vreemde plesier om Fred te hoor vloek. Dertig jaar gelede was Fred ’n KJA-leier en naaswenner van die Rapportryers-debatkompetisie.

      “Jy ook, Fred. Dankie. Jy lyk ook goed.”

      “Kom ons gaan kry ’n dop.”

      Fred druk jou in die kroegtoonbank in die klubhuis se saalgedeelte se rigting. Jy soek na name vir die gesigte rondom jou, Basie, Breggie, Stoney, Ronél, en bestel ’n dubbele whiskey terwyl Fred vertel van die tamaai huis wat hy in Steyn City laat bou het.

      Cilliers is ook hier. Grys staan hy daar by ’n jong blonde vrou. Onderhoofseun, eerstespankaptein, wat ingenieurswese met ’n Krygkorbeurs gaan swot het. Hy sien jou en stap nader, ’n glas wyn in die hand. Meerlust Rubicon, wat hy self gebring het.

      “Lekker bles geword, nè?” Hy kyk ná al die jare steeds na jou met dieselfde meewarige grynslaggie. “Ek sien soms jou storietjies in die koerant.” Hy wys na die jong vrou by hom. “Ons twee is mal oor Deon Meyer se werke.”

      ’n Swaar hand kom rus op jou skouer. Bone Boonzaaier. Wit syhemp, laag oopgeknoop. Breë goue ketting om die nek.

      “Hallo, tjomma. Jy lyk goed.”

      “Jy ook, Bone. Jy lyk ook goed. Dankie.”

      Bone wat standerd 9 gedruip en matriek deurgeskraap het, het nou sy eie slagpale en poloniefabriek in Polokwane. Die Porsche Macan hier buite is syne.

      Iewers weerklink ’n hoë, histeriese laggie, en jy weet Bennie is ook hier. Bennie, die interhoër-dirigent wat tik as vak tot in matriek geneem het.

      Gys. Martie. En wie is daai? Is dit wragtig Patrys wat so vet geword het?

      “Hallo, almal! Kan ek jul aandag kry?” Gerda, die hoofmeisie, is steeds die hoofmeisie. Sy het die reünie gereël.

      Sy heet julle welkom en vra ’n paar oomblikke se stilte vir Doepie wat ses weke gelede op sy plaas vermoor is. Daarna bedank sy vir Bone wat vir die spitbraai en die mobiele disko betaal het. Dan lig Gerda haar iPad. “Ek het vir julle ’n surprise, ouens.” Braam, die hoofseun wat al jare in Kanada woon, se gesig is op die iPad se skerm. Nie een van julle is juis bly om vir Braam te sien nie. Nou sit hy nog veilig daar oorkant ook. “Hallo, maats,” groet Braam via Skype asof dit ’n Maandagoggend in 1980 is en hy staan op die saal se verhoog.

      Breggie neem ’n foto met haar selfoon van Gerda met die iPad in haar hand en whatsapp die foto vir Boesman, wat in Irak werk.

      Die middag hink verby. Jy stap tussen almal rond, vra uit, vertel, takseer. Jy word deel van ’n raaisel wat julle gesamentlik probeer oplos. Die jong vrou saam met Cilliers is die sekretaresse vir wie hy sy vrou verlaat het, vind jy uit. Sy is drie jaar ouer as sy oudste dogter. ’n Ander een kom fluister: Fred lieg oor sy huis in Steyn City. Hy is by Transnet afgedank oor korrupsie. En Stoney, wat in standerd 9 by die snoepwinkel ingebreek het, is nou ’n deeltydse pastoor op Orkney. Die Rustler-bakkie met die Mighty Men-plakker daarop behoort aan hom. En, ja, Bennie is toe gay. Hy besit ’n coffee shop in Roodepoort en ’n mens vra maar eerder nie hoekom hy so verskriklik maer is nie.

      Fred bring vir jou nog ’n whiskey en vertel van sy laaste vakansie in Spanje. Dan staan sy voor jou. “Hi.” Dieselfde heserige stem. Annie. Die lippe voller as wat jy kan onthou. Botoks? “Ek sien jy is ook hier.”

      “Ek’s hier, ja,” sê jy en dink aan die botteltjie Charlie-parfuum wat jy met jou sakgeld vir haar gekoop het. “Ek sien jy ook.”

      “Ja. Ek is. Ek is hier.”

      “Jy lyk goed.”

      “Dankie. ’n Mens probeer maar.”

      “Dis lekker om almal weer te sien.”

      “Dit is. Dis lekker.”

      “Is jy orraait?”

      “Ek is orraait, dankie. En jy?”

      “Ook orraait. Dankie.”

      “Jissie, die tyd het darem gevlieg.”

      “Dit kan jy weer sê.”

      “Jy is geskei, nè?”

      “Ja.”

      “Ek is jammer.”

      “Dit gebeur maar.”

      Jy wil haar vra of sy die aand onthou toe jy haar die Suiderkruis agter hul huis in Bokmakieriestraat gewys het. Hoe jy haar die eerste keer gesoen het, haar hare in jou mond, haar tong, haar een hand op jou wang.

      ’n Swaar man in ’n leerbaadjie kom staan by haar. Sy beduie na hom. “Dis Neels.” Hy sit sy hand om haar skouer en trek haar nader aan hom.

      Die donker kom. Die son sak agter die skool se nuwe pawiljoen in. Op die klubhuis se stoep draai ’n skaap om en om op ’n spit. Musiek begin speel. ABBA. Smokie. Suzi Quatro. Daardie bloedlose ou treffers wat steeds iets in jou roer, al het jy intussen Tom Waits, Bruce Springsteen en Lucinda Williams ontdek. Jy kan steeds nie wals of two-step nie. Jy kry maar nog ’n whiskey en staan en luister na vertellings van hoe niks meer dieselfde is nie, as ons net van die ANC ontslae kan raak. Dalk moet Steve Hofmeyr maar sy eie politieke party begin. Jy sien selfoonfoto’s van ’n kleinkind wat Cravenweek-rugby speel, ’n strandhuis op Boknes, ’n gerestoureerde 1975-Valiant Regal, en ’n geswelde knie waarop ’n knievervanging gedoen is. Gerda het borskanker oorwin. Totius se borsbeeld word glo deesdae in die kluis gehou, anders word dit gesteel en vir skrootyster verkoop. Stevie het ’n jaar gelede sy eie lewe geneem, maar niemand praat oor hom nie.

      Laataand sing die Bee Gees: “When I was small and Christmas trees were tall …” Annie gly verby in die arms van haar Neels. Is glo haar tweede man. Sy kyk vlugtig na jou, en kyk weer weg. Haar eerste man het haar glo aangerand.

      Fred begin haastig raak. Hy wil terug stad toe. Hy moet glo môre vroeg saam met sy pelle op Pecanwood afslaan. Jy stap saam met hom buitetoe, maar jy kan voel hy wil jou nie by hom hê nie. “Dit was lekker, pel. Mooi loop.” Hy gee jou skouer


Скачать книгу