Anderman se vrou. Chris Karsten
Anderman
se vrou
’n Wim Kellerman-roman
Chris
Karsten
Human & Rousseau
Vir Udo en Ilse en Mentz en Janette
by wie ek kon tuiskom
The world of sexuality it finds is not entirely mature and pure,
it is not human enough, only virile, rut, intoxication, restlessness, and
weighed down by the old prejudices and arrogance with which men have
disfigured and overburdened love. Because he loves only as a man, not
as a human being, there is in his sense of sexuality something
narrow, seemingly savage, hateful […]
– Rainer Maria Rilke
Know ye not that there is here in this world a secret confraternity,
which one might call the Company of Melancholiacs […] who by natural
constitution have been given a different nature and disposition than the
others; that have a larger heart and a swifter blood, that wish and demand
more, have stronger desires and a yearning which is wilder and
more ardent than that of the common herd […]
– Jens Peter Jacobsen
Omgewing van Moose Cove, Kanada
Sondagoggend 7 September 2008
Noord-Atlantiese Oseaan, kus van Nova Scotia, Kanada
Die visserskuit ry die golf uit ’n lang en diep deining. Op die kruin, sy keps en reënbaadjie van geel plastiek nat van seesproei, roep Charlie uit, arm uitgestrek na Black Rock: “Doer! Kyk!”
Jimmy lig sy verkyker. In die mistigheid lê ’n visserskuit, vet en mank oorgehel op die swart rotse, nes ’n gestrande walvis. Teen die romp breek branders, spoel skuimend oor die stuurboord se ghonnelplank. Immer asend vlieg die laaste drie haringmeeue van die kajuit se dak op, hulle sarrende gekrys aangedra deur die sterk bries, en bly swewend saam met ander oor die boot hang.
Jimmy, net vier en twintig, is op die Betty Bee gespeen, nou is dit syne, ná sy pa se aftrede; hy is die skipper, sy bemanning maats van kleintyd af, almal met vis in hulle gene, seewater in die are. Die hegte viermanskap staar met handskoenhande langs mekaar op die dolboordrand na elke seevisserman se donkerste nagmerrie.
Dan eggo Herb die erekode van alle seevaarders oor alle eeue: “Ons moet gaan help.”
Charlie sê: “Ons moet die Kuswag laat weet.”
Oor die astrante meeue spreek Rob al vier se gedagtes uit: “As daar lewe is … hulle sal nie gaan sit nie.”
In die kajuit gaan maak Jimmy die BHF-noodoproep en gee Black Rock se koördinate. Black Rock, op hulle roete na die Georges Bank se heilbotvelde, is nie ’n eiland nie, bloot ’n verraderlike stuk rotsmassa, ’n surreëele swart boggel wat bokant die golwe uitsteek, lank reeds ’n noodlottige pes vir skepe en hulle vaarders, so sewe seemyle suid van Lower LaHave se Moose Cove en minder as twee seemyle suidwes van Cape LaHave Island se Butter Cove.
Nader word die gedoemde skuit se vorm deur die kajuitvenster vir Jimmy duideliker: hy herken ’n Cape Islander. Elke Nova Scotia-visserman ken die Cape Islanders wat hierdie Noord-Atlantiese viswaters bevaar.
Hulle luier nader. So twintig meter van hierdie ongelukkige een af gooi Jimmy die Betty Bee se John Deere in trustoot, en al deinende maak hy en Charlie reg om te gaan help, oë op die boeg wat hom teen Black Rock te pletter geloop het, die bodem waarskynlik oopgeskeur deur die verskuilde onderwaterse rotstande.
Sophie.
Dit is die naam wat Jimmy daar voor op die romp lees. En groter as syne, maklik veertien meter, en dertien, veertien ton. Hy skat die enjin iets soos ’n agtsilinder-Caterpillar. Lyk nuut, ten minste nuut oorgedoen. Groot geld wat vir hierdie Sophie uitgehaal is, nou ’n wrak.
Die ander twee help Jimmy en Charlie oorboord met reddingsboeie aan nylontoue vas. Hulle roei na die Sophie, klouter nat en koud oor die glibberige swart rotse, op en oor die ghonnelplank waaroor die skuimende water spoel. Voetjie vir voetjie teen die helling van die nat dek kajuit toe, die skuins kant kniediep onder water.
Die romp knars en die deur klap oop en toe met die spoeling van elke brander. Jimmy loer in.
Ruk terug, onwillekeurig.
Langs hom is Charlie se uitroep gesmoord: “Jeez … fok …”
Jimmy tree binne, kyk rond, laat sy oë momenteel hier rus, en daar, en probeer ’n beeld vorm van wat hier kon gebeur het. Hy haal sy keps af, vryf oor sy hare, sit sy keps terug en teug diep.
Hy hurk, steek sy hand uit om te voel vir ’n pols, maar weet reeds: al die bloed … hulp is helaas te laat. Hy kom orent, kyk weer rond, herstel van die aanvanklike skok.
Langs hom sê Charlie: “Bagasie vir ’n lang reis.”
“Toe’s daar ’n moerigheid,” sê Jimmy lakonies en stap uit. Buite op die dek adem hy weer diep aan die vars seelug, blaas dit hard uit, voel ’n rilling.
Dit moet van die wind wees, dink hy, uit die noordooste bring dit altyd koue, en kyk op na die swewende, krassende meeue in die grou lug.
Terug op die Betty Bee wag die vier vir die Kuswag se helikopter.
DIE ONDERHOUD
Datum: Saterdag 6 September 2008.
Plek: RCMP-kantore, Cook’s Lane, Bridgewater, Nova Scotia, Kanada.
Ondervraers: Sersant Frank Doucette en korporaal Sarah Young, verbonde aan die Royal Canadian Mounted Police (RCMP) se detasjement vir ernstige misdaad in Halifax.
Ondervraagde: Wim Kellerman, toeris en amateur-lepidopteris van die Goeroegabvallei by Wildernis, Wes-Kaap, Suid-Afrika.
Ek parkeer die Chevy-bakkie voor die Mounties se gebou, en kyk na die tyd: 08:51. Een van my baie hebbelikhede: altoos te vroeg vir afsprake; min dinge krap erger aan my jis as agterosse met lam ekskuse van Sorry … Afrikatyd …
En baie tyd het ek juis nie vanoggend nie.
Die vrou wat my vraend van agter haar toonbank aankyk, dra nie uniform nie. “Kellerman,” sê ek.
Sy raadpleeg die groot register en knik: “A … Kellerman. Ja, hulle is op pad. Volg my.” En lei my in ’n room broekpak en met kort, besige treetjies die somber groen gang af, stoot ’n deur oop. “Wag hier.” Sonder verskoning oor hulle nog nie opgedaag het nie, sonder aanbod van koffie, sonder uitnodiging om my tuis te maak. Sy trek net die deur toe en is weg, los my alleen met ’n vae sweem van jasmyn en twee pare regop stoele weerskante van ’n staatsdienstafel.
Ek sit my waterbottel neer, pluk die briewesak onder ’n oksel uit. Die vlekke en groewe op die tafelblad bring beelde van vuil palms en desperate naels, van sweet, trane, bloed, en die bieg oor baie sondes ingebed in die grein van hierdie hout. Die Mounties het mos ’n reputasie dat hulle áltyd hulle man kry, en wanneer hulle hom kry, die gode behoede hom.
Is dit hulle plan, om ook so met mý onskuldige gal te werk?
Ek bly staan, my oë dwaal oor die gestroopte vertrek. Twee plakkate teen ’n muur, al bruin en bros van ouderdom, waarsku onderskeidelik teen die gevare van rook en dwelms, met nommers wat anoniem gebel kan word oor sulke smouse. Op die tafel is ’n paneel met knoppies, seker vir die twee mikrofone, en vir daai lens, kan net ’n videokamera s’n wees. Nie ’n kantoor wat jou tuis laat voel nie.
Tien oor nege. Kanadatyd. Afrikatyd. Tog nie eintlik ’n verskil nie. Moet aspris wees,