Ontdek God in die stories van mense. Benescke Janse van Rensburg

Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg


Скачать книгу
>

      

      Ontdek God

      in die stories van mense

      Benescke Janse van Rensburg

      Lux Verbi

      Aan my wonderlike man, my anker en beste vriend, Johannes. Dit is ’n voorreg om my lewe met jou te deel.

      week 1 . dag 1

      Almagtig

      ’n Gemeente in Amerika het ’n tyd gelede ’n kerkdiens gehad waarin hulle “boksgetuienisse” gebruik het om God se almag te demonstreer. Gemeentelede wat aan die projek wil deelneem, kry elk ’n bruin stuk boks. Gemeentelede deel dan hul getuienisse deur aan die een kant van die boks die hindernis of uitdaging waarmee hulle sukkel neer te skryf en aan die ander kant van die boks die antwoord op hul gebede.

      Hier is ’n paar voorbeelde van die “boksgetuienisse” wat daardie aand op die verhoog verskyn het:

      •Seksueel gemolesteer deur my oom – Vrygemaak en genees deur God se liefde.

      •Was verslaaf aan pornografie – Vrygemaak deur God se genade.

      •Was ’n kantlyn-Christen – Ek gaan ’n sendeling word.

      •Veg teen kanker – Deur Jesus se wonde glo ek dat ek genees is.

      •My seun het selfmoord gepleeg – Deur my hartseer het ek God se genade gevind.

      •Ons het gesukkel om kinders te hê – Drie maande gelede het ons ’n seuntjie aangeneem en ons is nou swanger!

      Deuteronomium 10:17: “Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige, wat wonderdade doen …”

      God is ALMAGTIG. Hy spesialiseer daarin om die onmoontlike moontlik te maak. Dit is ook Hý wat enige situasie ten goede laat meewerk. Vertrou jy Hom met jou lewe?

      Kyk na die videogreep van die boksgetuienisse by http://awesomepower.net

      week 1 . dag 2

      God is almagtig

      Dit was 18 Augustus 2000. Die hospitaalgang na “daardie saal” was lank, haar treë stadig. ’n Ongekende vrees het gedreig om Almarie Sauerman te oorweldig. Vir haar het die gang na die saal amper so lank gevoel soos die hartseer pad van kinderloosheid wat sy en haar man, Lourens, reeds 13 jaar lank moes stap. “Here, wat as …” Sy het met ’n fluisterstem begin bid, maar telkens het die vrees haar woorde opgedroog.

      Ná ’n verlowing van amper vier jaar wou die Sauermans ná hul troudag dadelik met ’n gesin begin. Toe kom die skok: Lourens het ’n nul-spermtelling en Almarie ovuleer glad nie. Die dokters het gemeen dat ’n swangerskap vir die paartjie onmoontlik is.

      ’n Hartseer pad vol duur, onsuksesvolle vrugbaarheidbehandelings het gevolg. Hulle het dikwels gehuil en magteloos gevoel wanneer mense hulle geoordeel het of vrae gevra het. Die Sauermans moes ook twee keer in die verlede aangenome babas aan die biologiese moeders teruggee. Die moeders het binne die eerste 60 dae ná die aannemings besluit om hul babas self groot te maak.

      In die lang hospitaalgang was Almarie die derde keer na die babasaal op pad. “Here, sal hierdie aanneming uitwerk?” ’n Oomblik het haar gedagtes teruggeflits na die gesprekke wat sy oor die jare heen met God gehad het. Daar was tye waarin Almarie na Hom uitgeroep het, uitgeskree het. Daar was tye toe sy in trane vir ’n kindjie gesmeek het. Tye waarin sy ooreenkomste met God probeer aangaan het. Selfs tye waarin sy beloftes gemaak het van wat sy alles sou doen as God maar net vir haar ’n baba sou gee. Almarie het begeer om God se stem te hoor. Telkens het haar baarmoeder egter leeg gebly. Haar gees het vermink gevoel.

      Buite die babasaal se deur het Almarie se hart in haar keel geklop. “Here, ek kan nie nóg ’n baba teruggee nie.” Met ’n diep asemteug het sy haar krag bymekaargeskraap om die deur oop te stoot.

      Langs die bedjie van die klein, slapende babadogtertjie, Janke, het vars trane oor Almarie se wange gestroom. “Here, sy is so mooi … so, so mooi!” Toe, terwyl Almarie langs die bedjie staan, het sy vir die eerste keer in 13 jaar God se stem duidelik gehoor: “Almarie, 13 jaar lank het jy sonder sukses probeer om lewe te skep. Ek is die Here God wat lewe gee. Jy moes só lank op hierdie kindjie wag, omdat dit is hoe lank dit My geneem het om haar vir jou te skep. Sy pas volmaak in jou hart. Geen mens sal haar ooit weer van jou af kan wegneem nie. Dit is my genadegawe aan jou.”

      God se belofte het vas gestaan. Die Sauermans is egter nog verder geseën. Hoewel Almarie steeds nie geovuleer het nie en Lourens steeds ’n nul-spermtelling gehad het, het Almarie 68 dae ná Janke se geboorte uitgevind dat sy swanger is. In een jaar het God aan hulle twee dogtertjies gegee. Hoekom? Want Hy is ALMAGTIG en niks is vir Hom onmoontlik nie.

      Psalm 77:14-15: “Alles wat U doen, is heilig, o God. Waar is ’n god so groot soos God? U is die God wat wonderdade doen; U het u mag onder die volke geopenbaar.”

      Ervaar jy vandag soos Almarie frustrasie terwyl jy op God se antwoord wag? Onthou, God is ALMAGTIG. Vertrou Hom, want sy tydsberekening is altyd perfek!

      Vader God, baie dankie vir u almag en u heerlikheid. Dankie dat niks vir U onmoontlik is nie. U is werklik ’n ALMAGTIGE God. Gee my vandag die krag om my vertroue net in U te plaas, met die wete dat u tydsberekening perfek is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

      Kyk na ’n foto van Almarie en die kinders by www.benescke.co.za

      week 1 . dag 3

      God is almagtig

      Interskole, 23 Mei 1998. Grey Kollege speel teen Hoër Jongenskool Paarl. Twintig minute voor die einde van die hoofwedstryd blaas die skeidsregter die fluitjie. Hy dui aan dat die twee spanne moet skrum. Willem Meyer, Grey se haker, sak net te laat in die skrum en toe dit opbreek, gly sy arms van die twee voorrye langs hom se rûe af.

      Met verwilderde oë het Willem op die gras gelê terwyl hy besef dat hy geen van sy ledemate kan beweeg nie. Die jolige skare op die paviljoen was meteens stil terwyl hulle geskok toekyk hoe die noodhulpspan Willem versigtig in die ambulans intel. Toe die deure agter hom toegemaak word, het vier jaar se rugby voor hom verbygeflits.

      Willem het sy hoërskoolloopbaan aan Grey Kollege in Bloemfontein begin. Vir hom en sy vriende was dit ’n droom om eendag vir Grey se eerste rugbyspan uit te draf. In sy matriekjaar is hierdie droom bewaarheid toe Willem vir die span gekies is. Sy droom het egter nie lank gehou nie. Ná ’n lastige skouerbesering wat hy tydens die proewe opgedoen het, het die fisioterapeut hom meegedeel dat hy die span se toer na Dubai sou misloop.

      Teleurgesteld het Willem daardie aand op sy knieë gegaan terwyl hy met God gesels oor sy besering en sy begeerte om die Dubai-toer mee te maak. In sy stiltetyd het hy ervaar hoe God hom na die belofte in Psalm 112:7 lei: “Vir slegte tyding is hy nie bevrees nie, hy is gerus, hy vertrou op die Here.”

      Willem het aan die belofte vasgehou en danksy intensiewe fisioterapie het sy skouerbesering só vinnig genees dat hy wel saam met die span aan die wêreld-skoletoernooi in Dubai kon gaan deelneem. Die res van daardie jaar het Willem homself elke keer voor ’n wedstryd aan Psalm 112 herinner en deur God se genade het hy nie een wedstryd weens ’n besering misgeloop nie.

      Terwyl die noodpersoneel hom by die hospitaal se noodeenheid instoot, kon Willem die spanning op sy pa se gesig lees. Dit was duidelik dat hy ernstig beseer was. Weer het Willem sy oë gesluit om homself aan die woorde van Psalm 112:7 te herinner.

      Die dokters het Willem dadelik in traksie geplaas. Terwyl hy na die dak gestaar het, het die ortopeed in die kamer langsaan die nuus aan Willem se pa en Grey se skoolhoof meegedeel: “Willem se rugmurg is baie ernstig beseer. Ek is jammer, maar hy sal voortaan ’n kwadrupleeg wees.”

      Die dokters het egter nie rekening gehou met die ALMAGTIGE God wat ons aanbid nie! Terwyl niemand die moed gehad het om die nuus aan Willem oor te dra nie, het hy ook geen negatiwiteit rondom hom toegelaat nie. By hom was daar geen twyfel dat God hom sou genees nie. God het Willem se geloof en vertroue in Hom raakgesien. Hy het hom aangeraak en ses maande later het Willem wonderbaarlik begin herstel. Hoewel


Скачать книгу