Die heelal op my tong. Anoeschka von Meck

Die heelal op my tong - Anoeschka von Meck


Скачать книгу
kom sit. “Ken jy nog jou kode?” vra ek haar.

      My fronsende suster skud haar kop en begin in die plattelandse weergawe van slaai krap.

      Ek wil nie weet Pa is weg nie. Hy’s lankal die kosmos in na ’n planeet waar die donkies wild loop en die nasionale drag seker ’n Afrikaner-cowboyhoed is.

      Koebaai, Pa. Dis oukei, Pa.

      Ons gaan Richtersveld toe. Pa wou dit mos nog altyd weer gesien het. My suster gee my haar servet aan om my oë af te vee.

      Net voor ons by Kardoesie afgetrek het, het ek ’n staaltjie oor pa se ouma Mienie onthou wat lank voor my suster se geboorte al oorlede is. Ons was agter ’n trok met voerbale oor Piekenierspas aan die kronkel. In die verbygaan merk ek dis ’n droogtehulpprojek. “Suid-Afrika beleef tans die ergste droogte in honderd jaar. Dié bale is heel moontlik op pad Knersvlakte of Gamoep toe. Jy sal nie glo hoe lyk dit daar nie. Die veld is káál.”

      My suster het oorgeleun en ons toeter gedruk. Ons waai albei vir die bestuurder, ’n jong man met bruingebrande arms wat sy ligte in antwoord flits.

      “Ouma Mienie het vir Pa as seuntjie gesê as hy op sy eie op ’n sekere plaas kon kom, sou sý vir hom ’n donkie koop wat hom oor die weg kon help. Al was Pa in ’n ysterraam tot by sy nek, was hy gedetermineerd om daardie donkie te kry!”

      “Jakob, nè?”

      Só ken die hele familie die storie van hoe die slimme Jakob Pa se voete en bene geword het. Hy het hom soggens getrou by die skool besorg en buite gewei tot hy sy basie weer pouses gesien het en hulle aan die einde van die dag huis toe kon gaan.

      Een keer by ’n familiegeselligheid hoor ek dat my pa se een suster met groot smaak vertel hoe hulle hom tot matriek moes help as hy by die skool wou “hokkies toe gaan”.

      Ek kon Pa se magtelose verleentheid aanvoel. Hene, ek dog ek spiesgooi die tannie se mond met ’n sosatie toe.

      Pa het nooit ophou praat van Jakob nie, hoewel ek nie kan onthou wat Jakob se einde was nie. As jong man het Pa wel later na ’n vosperd opgegradeer. Hy het glo ons ma se studiegeld, wat haar ouers gespaar het, vir dié transaksie gebruik.

      “Ken jy die storie van Pa en sy perd?” Ek vertel my suster van die insident toe ’n kar vol jong mense van die stad een keer ongeskik voor hom ingeswaai het.

      “Jy!” het hulle spottend in die dorpie se hoofstraat afgeskree. “Jý op die perd!” Die vroue agterin het gelag.

      “Wat is nou eintlik spesiaal aan ’n plek soos dié?” wou een van die ducktails weet.

      Pa het galant vorentoe gebuk sodat hy oogkontak met die giggelende vroumense agter kon maak. Sonder aarseling en met totale selfvertroue sou hy glo geantwoord het: “Wat hierdie dorpie spesiaal maak, is dat jy hiervandaan na enige plek in die wêreld kan gaan.”

      En hy het.

      Lewens later, toe hulle Pa terug na Suid-Afrika deporteer, het ’n onbekende vrou langs my by die aankomssaal vir internasionale vlugte kom staan en my die staaltjie vertel. Dié dag het ek ’n Jackie Onassis-pakkie in wit en swart met ’n skuins hoed aangehad. Those were the days, my friend. “Ek was een van die meisies agter in daardie kar,” het die vrou my vertel. “En ek het dit nooit vergeet nie. Dit het ’n diep indruk op my gemaak. Dit is hoekom ek vandag hier is. Om hom te ondersteun.”

      Die man se lewe lê op verskeie kontinente verstrooi. Sy identiteit in ’n mate ook. Verskillende weergawes van homself. Maar nie meer nie.

      Hy wil huis toe gaan waar hy net kan wees wie hy is.

      Ingedagte vryf hy oor die rug van sy hand waar die slang hom ingeënt het. Eers was hy spyt oor die letsel wat die haastige veloorplanting gelos het, maar mettertyd het hy aanvaar dit spreek van oorlewing. En genade.

      Koorsig en deurmekaar het hy destyds op daardie rubberplantasie in Suid-Amerika gelê, terwyl die muskiete soos reën teen die tent geklink het.

      Een van die nonne het sy ylende woorde so foneties moontlik neergeskryf. As dit nie vir hulle was nie, sou hy nie daardie slangbyt op sy hand oorleef het nie.

      “Ek kan nie sterf nie. Sy wag vir my.”

      Elke keer as hy daaraan dink, begin sy hart stamp.

      Dollarboer

      My suster sit met my bruin skooltassie vol ou foto’s op haar skoot. Dit móés saamkom. Miskien gaan hierdie uitreis dalk nie net oor my en Pa nie. Dalk het sy self kwessies wat ingevul en besweer moet word.

      Daar is ’n plakker van oom Dik Daan en Bollie binne-in, langs my naam wat in groot, netjiese letters in die tassie geskryf staan.

      “Ma se handskrif?”

      Ek trek my skouers op. “Of Ouma s’n?”

      “Het die skoolhoof nie in jou eerste week van sub A vir Ma-hulle gebel nie? Om te vra of hulle bewus is daarvan dat hul dogter gewapen skool toe kom.” Sy lag met haar oë toe wat my aan Ma laat dink.

      “Dit kan dalk daai einste tas gewees het, hoor. Ek onthou dit nie, maar hulle sê ek het ’n broodmes skool toe gevat. Ek moes glo die mes skuins draai om te pas.”

      “Waarom? Wat het jou so bedreig laat voel?”

      “Meisies wat my boelie. Flippit, my hele skoolloopbaan was dit so. Ek weet nie of ek ’n irriterende kind of wat was nie, maar daar was net altyd ’n paar wat my wou dônner.”

      “Jy was seker net te weird. Jy’s steeds weird.” Sy blaas vir my ’n soen.

      My suster krap rond en wys af en toe ’n foto sodat ek die storie daaragter moet vertel. Party neem sy met haar slimfoon af om haar eie afdruk te laat maak.

      Partykeer wil ek nie oor ’n sekere foto praat nie. Dan skud ek net my kop.

      “En dié?” Sy wys na ’n foto waar ek onder Pa se arm ingedruk sit, terwyl een of ander flerrie op sy ander knie balanseer.

      “Jy weet party goed kan mens net in Afrikaans verduidelik,” sê ek aspris stadig sodat sy verstaan.

      “Dis ’n dolk in my hart dat jy nie—”

      “Ja-ja. Jou hart bloei. Ek wéét! You have made it very clear.”

      Die feit dat sy haar moedertaal verleer het, is pynlik. Sy woon al te lank oorsee om sin te maak van ons vreemde sêgoed. Hoeveel jaar het ek oorsee gewoon en nie eens ’n aksent opgetel nie? Ek’s trots daarop dat my “is” en “are” soms nog deurmekaar raak.

      Pa se laaste wens aan haar was juis dat sy nooit sou ophou Afrikaans praat nie, maar dis ’n gesprek vir ’n ander dag.

      Ek kyk reguit voor my. Padvat is my kuur vir baie dinge. Daar’s iets vreedsaams daaraan om jou hande op ’n stuurwiel te hê. Soos wat ons hier langs mekaar sit, is ons enigste gemene deler ons pa.

      En dalk die soeke na waarheid.

      In Palm Springs het ek eens gevra: “As Pa ’n regte boer was, waarmee sou Pa geboer het?”

      Hy het in die skadu by sy drywende kroeg in die swembad gesit en stapels geld netjies in rye op die toonbank voor hom uitgepak: “Met dollars! Enige Afrikaner se gunstelingoes.”

      “Sjoe, Oom.” Adriaanus het net sy kop geskud en oopbek gelag soos ’n bulhond wat kos gaan kry.

      “Gaan koop julle twee ’n boks doughnuts en iets te drinke vir die FBI-manne,” sê Pa soos gewoonlik en maak ’n paar note uit ’n pakkie los.

      Hy is bruingebrand met sproete oor sy rug en skouers. Onder die water, weet ek, is sy bene pynlik dun


Скачать книгу