Die versoeking van Thomas Maas. Chris Karsten
Rolf en Patricia het afgeskaal tot net twee slaapkamers ná sy aftrede. Veertig jaar ’n onderwyser in dieselfde skool, veertig jaar in dieselfde groot huis in Randburg, Donna en Neels se grootwordplek. Rolf is ’n gewoontedier, haat dit as sy roetines versteur word. In die stilligheid vermoed Thomas dat Rolf sy vrou erg verkwalik het dat sy hom alleen agtergelaat het toe sy ten laaste nie meer die krag kon opvorder teen haar siekte nie.
Hy stap in. Eetkamer, sitkamer, kombuis alles oop. In die hoek van die sitkamer staan sy teleskoop. Rolf sê hy soek ’n bewoonbare planeet, verkieslik in ’n ander galaksie, want aardbewoners het hierdie een nou so opgeneuk dat dit nie meer lank gaan hou nie. En hy vat vir Antonie en Patty en Florie saam, hulle verdien ’n beter, ongeskonde plek. Dol oor die drie kleinkinders. Hy leer Antonie van sonnestelsels, supernovas en swartgate, speel vir Patty cd’s van duette vir klarinet en tjello uit Bach se Engelse en Franse suites, gesels met Florie oor boerperde, arabierperde, volbloedperde, en oor Pegasus en Bucephalus.
Thomas dwaal deur die huis. Niks vreemds of uit plek wat hom opval nie. Vir ’n man wat sy hele lewe ’n vrou gehad het, leef Rolf nie slordig nie. Dalk te wyte aan die orde van sy wiskundige brein: wiskundeboeke apart van musiekboeke, musiekboeke apart van sterrekundeboeke. Asof hy sy liefde vir wiskunde en vir musiek en vir die astronomie in drie afsonderlike kompartemente uitleef.
Thomas besef opnuut hoe sleg hy sy skoonpa eintlik ken. Oppervlakkig, ja, langer as twee dekades al. Maar wat in Rolf Geyer se private kop en hart aangaan, daarvan het hy geen benul nie. Hy het hom verheug gesien by die geboorte van die tweeling, en weer later met Florie. En hy het hom somber en aangedaan gesien op skoonma Pat se begrafnis. Dit is al emosies wat hy van Rolf ken. Hy en sy skoonpa leef by mekaar verby, hulle geselsery is sonder innigheid, algemeen, oor banaliteite soos sport en politiek. Oor sy kleinkinders gesels hy met Donna, sy lieflingdogter. Vir Donna sal hy sekerlik ook wil saamvat na sy suiwer, onbesoedelde eksoplaneet, bestem vir net goeie mense.
In Rolf se ruimteskip sal daar vir hóm, Thomas, nie plek wees nie. Hy wonder soms oor Rolf se wrewelrigheid teenoor hom. Nee, wrewelrigheid is dalk te erg, eerder mishae. Sy skoonseun het Rolf Geyer nog altyd mishaag.
Thomas ontken dit nie. In sy en Donna se huwelik was, en is, soms onvrede, selfs stille oproer. In watter huwelik is daar nie verskille nie? Maar hulle beperk dit tot die slaapkamer se vier mure, daardie vertrek wat bedoel is vir min en onmin.
Of het Donna iets aan haar pa uitgelap, hetsy onbewaak of aspris, wat so aan Rolf se siel bly knaag? Oor daardie slag toe hy, Thomas, die smal weg effe misgetrap het?
Dit het Donna seergemaak, en daaroor was hy bitter jammer. En hy het dit so vir haar gesê. Wat meer kon hy doen?
In Rolf se slaapkamer trek hy laaie en deure oop, in die badkamer tel hy bottels op, lees etikette. Baie vitamiene en aanvullings. Cayenne. Flaxseed Oil. B12+Folic Acid. Ca+Mg. Super B. Ook voorskrifmedisynes. Dopaquel, Coxleon, Aricept. Dié name knoop hy aan sy oor. En Gen-Payne, Rennies en Cinnarizine vir naarheid. Op sy bedkas lê The Moment of Proof: Mathematical Epiphanies, die Bulletin of the American Mathematical Society en Journal of Clinical and Experimental Neuropsychology. Rolf se leesstof vir saans se ontspanning. Langsaan ’n boek: Iris. A Memoir of Iris Murdoch.
Niks wat enige lig laat val op sy verdwyning nie. Hy sit ligte af en stap terug sitkamer toe. En kry Rolf se selfoon langs die TV se afstandbeheerder.
In die kombuis is ’n paar stukkies skottelgoed in die opwasbak, eenkant ’n leë KFC-boks. Eet sy skoonpa gemorskos? Ja, natuurlik, hy is lief vir pizza. Maar KFC?
Sy sel lui. “Thomas …”
“Ek’s in sy blyplek, Donna, ek kry niks nie.”
“Hulle het hom gekry.” Die toon hoog en tranerig.
Hy ys. “Waar? Waar’s hy?”
“Helen Joseph se ongevalle.”
“Is hy …”
“Gaan haal hom, Thomas. Hy’s oukei, ek het met hom gepraat.”
“Wat het gebeur?”
“Hy sê hy’t verdwaal.”
“Is hy beseer?”
“Hy sê in die donker kon hy nie sien nie, toe struikel en val hy. En hy’s moeg, ’n veiligheidswag het hom later eers gekry.”
“Maar wáár?”
“Gaan haal hom. Die vrae is vir later, bring eers my pa huis toe.”
Dit is nie ’n plek waar hý wil siek lê nie. Nie in enige hospitaal nie, maar veral nie hier nie. Oor hoe hierdie trauma-afdeling naweke lyk, kan hy net ril. Hy laat sweef sy blik oor die siekes en beseerdes en gewondes en draai na die vrou by die toonbank: “My skoonpa …”
“Meneer Geyer?” Sy beduie. “Hy was erg deurmekaar en moeg. Maar geen ernstige beserings nie. ’n Paar skrape en kneusings.”
Hy volg die vinger na die hoek van die wagkamer. Merk Rolf skuins agter ’n groot man met ’n verband om die kop en een oog, ou bloed aan sy hemp. Rolf sit met ’n slap nek, ken op die bors, ingedoke asof hy slaap.
“Is hy aangerand?”
“Nee, hy sê hy’t geval. Security het hom gebring. Hier’s ’n naam en nommer as jy hulle wil bel vir meer info.”
“Waar’t hulle hom gekry?”
“Cresta se parkeerterrein.”
Cresta-winkelkompleks? Hy het ten minste agt, tien kilo’s ver geloop. Hoe kon hy so verdwaal het?
“Was hy, jy weet …” Maar hy weet Rolf drink nie. Dalk ’n sjerrie af en toe in die winter, miskien twee. En ’n whisky, of twee, wanneer hy by Wollie gaan skaak speel.
Sy skud haar kop. “Ons het hom getoets, nugter soos moederowerste. Jy kan hom maar huis toe vat. Teken hier vir sy ontslag, en dis die traumadokter se voorskrif, net as hy pyn het.”
“Het hy iets gesê oor wat gebeur het?”
“Erg onsamehangend, sê die dokter.”
“Maar hy’t tog sy dogter se nommer gegee, sodat julle kon bel?”
“Dis op sy medical bracelet, haar naam en nommer.”
Hy staar na haar, draai om.
“Ek stuur ’n portier,” sê sy toe hy na Rolf wegstap.
’n Patetiese bondel. Hande op sy skoot oormekaar gevou. Bruin velvlekke, bultende blou are. Kneukels rooi en velaf geskuur. Wilde slaaphare. Waar’s sy ewige slappet? Vars pleisters teen ’n wangbeen en oogbank. Snytjie aan sy onderlip. Sy broek se knie vuil geskuur. En die bloed? Moet van die val wees. En hy sal ook ander kneusings en skrape en bloukolle hê. Maar hulle sou hom ondersoek en elke plek behandel het.
Hy vat Rolf aan die skouer. “Pa, kom. Kom ons gaan huis toe.”
Sy gesig skrik op. Sy bleek oë waterig, een asof soetskeel deur die splinterglas van ’n lens. Hy druk die bril op sy neus terug, moet sukkel om te fokus, tussen sy wenkbroue ’n diep frons. Arme man, hy is inderdaad verwar en steeds geskok.
Thomas help hom op. “Kan Pa staan?” Hy kan die ketting om die dik, harige pols onthou, maar het nie daarop ag geslaan nie. Nou merk hy die plaatjie, soos dié wat sommige chroniese siektelyers dra, met noodnommers en bloedgroep.
Die portier verskyn met ’n rolstoel en help Rolf om, steeds woordeloos, sy sit te kry. Hy stoot hom uit en help hom in die Opel in. Eers toe hy wegtrek, besef Thomas dat Rolf nog nie ’n enkele woord met hom gepraat het nie.
“Hoe voel Pa? Seer van die vallery, pootuit van die loop?”
Geen reaksie nie. Hy loer. Sy skoonpa se gesig is weggedraai, starend deur die syvenster die nag in.
“Pa?”
Die grom is skaars hoorbaar.
“Wat het gebeur?”
“Ek