Horrelpoot. Eben Venter
p>
horrelpoot
Eben Venter
Tafelberg
1
Only the gloom to the west, brooding over the upper reaches, became more sombre every minute, as if angered by the approach of the sun.
Die oproep betrap my onkant: ek staan op my knieë voor die rusbank. Dis al laat. Buite het Melbourne koud en bitter geword van die onafgebroke reën.
“Marlouw, luister nou mooi, jy moet teruggaan Suid-Afrika toe en Koert vir my uit daai donnerse land gaan uitgrawe.” Dis my suster op die foon. “Daar’t fout gekom,” sê sy, “ek weet dit voor my siel. Jirretjie, Marlouw, hy’s al wat ek het en hy’s besig om al verder en verder weg te raak. In sy dinges in,” en sy trek haar asem hard teen haar verhemelte in.
Eers antwoord ek Heleen nie, ek kan hoor sy’s histeries. Dis ook geen versoek dié nie, dis ’n opdrag. Een wat my lewe van koers af gaan dwing.
Agterna sou die betekenis van die houding waarin ek op daardie oomblik gestol het, duidelik word. Maar daar is ek toe, op my knieë met my wang plat teen die vloer, my rug hol en my boude dakwaarts gerig, besig om ’n albaster onder die rusbank uit te vis.
“Wat vang jy aan? Is dit jy, Marlouw?” Dis asof sy my in die koddige posisie betrap het, en ek bloos.
“Waarom bel jy so laat, Heleen?” My stem klink wollerig. Ek is oorstuur, nie myself nie. Ék teruggaan en Koert probeer uitgrawe? En waar is hy miskien? Sal Koert hom nou aan my steur – dis buite die kwessie. Dit wil ek sê, maar met predestinasie lol jy nie. Ek weet klaar ek moet gaan, dit sal niks help om teë te stribbel nie.
“Weet jy wanneer laas het ek van Koert gehoor?” Heleen blaker alles uit, uitasem. Sy’t gedrink.
“Ek het Koert al hoeveel keer op daai nommer probeer bel: The number you have dialled, is not available. Wat het van hom geword? Wat maak jy, Marlouw?” vra sy weer, angstig dat ek dalk sal ophou om na haar te luister.
Stadig staan ek op sonder om verkeerd te trap. In dié weer het my voet gevoeliger en blouer geword, al het my woonstel ondervloerse verhitting. Die albaster onder die rusbank, een uit my kinderdae, bly net so lê. Ek is nie sentimenteel oor sulke dinge nie. Wel, miskien so ’n bietjie.
“Hoekom saal ek jou tog hiermee op,” vra Heleen nou. Sy kan haarself nie meer help nie, haar nood is te hoog.
Ek voel self die dringendheid aan, met elke woord van Heleen raak ek meer vroetelrig. Boonop is my roetine versteur. Dié tyd van die nag maak ek gewoonlik ’n bietjie melk warm. Wag tot net voor die melk begin kook en giet dit dan stadig op ’n teelepel bloekomblomheuning.
“Elke liewe oggend hol ek na my rekenaar toe om my email te lees,” sê sy. “Asseblief tog, Here, laat Koert dit tog oor sy hart kry om vir sy ma te skrywe. Ek gaan nie eers af kombuis toe om koffie te maak nie, my mail kom eerste. Jocelyn roep van onder af: Will I bring your coffee up, Heleen? Maar ek antwoord haar nie, wat. Is daar nuus van my enigste kind op aarde? Jirretjie, kan hy hom nie oor my verwerdig nie, wat is die woord tog? Niks, niks. Dis nou al hoeveel maande.
“Smiddae hier teen etenstyd se kant as ek altyd vir hom sy toebroodjie gemaak het, gerookte salm en slaaiblare, hy was tog so lief vir mayonnaise, dan begin ek skoon bewe en hardloop boontoe en check weer my email. Niks, Marlouw, niks, sê ek vir jou. En dan begin dit donker raak en die reën wil nie ophou nie. Is daar vanaand iets in my inbox? Weer niks. Weet jy hoe dit voel? Kyk, as hy hier was, het ek al lankal sy ore vir hom afgedraai. O, daai ore van hom, nes ou skulpies.”
“Heleen, asseblief.” Ek ís nie een vir te veel sentiment nie.
“Marlouw, luister …” sy is so bang sy verloor my oor. “Jy móét Koert gaan haal. Ek sal sorg dat jy genoeg geld op jou kredietkaart het. Hy is nog op Ouplaas, hy moet nog daar wees.”
Ek het haar, enigiemand, so lanklaas “Ouplaas” hoor sê. Alles ontstel my nou.
“Wat vra jy my tog, Heleen, jy weet mos ek het besluit ek sit nooit weer my voet in Suid-Afrika nie.”
“Wat ek nie alles vir daardie kind gedoen het nie,” hou sy vol. “En hy’t so goed met sy Duits gevaar. Skrander. Maar hy’t ook ’n wil van sy eie; hy’t goed aangevang waaraan g’n ander kind eers sou dink nie. Weet jy, ek het van die begin af gesien hy’s wild verby – en ek het hom nie kortgevat nie.”
“JP was streng met hom.”
“Rubbish. Sy pa was nooit daar om te help nie. Sy pa! Ag asseblief, help my net voordat ek by die drein afspoel. Marlouw, luister, ek is oortuig Koert is nog daar op Ouplaas. Waar anders sou hy ’n heenkome gevind het? En daar hét iets met hom gebeur. Ek kan dit aanvoel. Hoekom hoor ek niks van hom nie? Hy’t altyd so gereeld gebel en toe hou dit op. Nee, hy kry nie meer ’n sein nie. Toe mail hy elke dag. Klokslag. En toe droog dit ook op. Ek het ’n gevoel Koert is siek en hy’s daar op Ouplaas en daar’s niemand om ordentlik na hom te kyk nie. Jy weet, daar’s siekte in daai land wat handuit geruk het. Die Here hoor my gebede nie meer nie, Marlouw. Hoe sal ek weet wat met my kind gebeur?”
“Wat van JP? Hoekom stuur jy hóm nie om te gaan kyk waar Koert is nie?”
“Ag, jirretjie tog. JP! Not available, soos in forever. Gister bel meneer my kamtig op sy selfoon. Hy’s op die boonste verdieping van die Petronas-torings. Jy weet mos, Koeala Loempoer. Nou bel hy eers om te brag. Nou wat doen jy miskien daar, JP? vra ek vir hom. Heleen, ek wens jy was hier – hy lieg dat hy bars – die hele stad, die hele wêreld strek hier voor my uit, sê hy. Siestog. Weet jy, ek voel die meeste van die tyd jammer vir hom.
“En wat doen JP miskien daar op die toppie van die Petronas-torings? O, hy’s die gas van hulle minister van opvoeding. Hy’s besig om studente te werf vir die ingenieursfakulteit hier in Melbourne. Grootmeneer met sy strikdassie, de lot. Altyd besig om sy eie nessie in te rig. Heleen, jy begryp eenvoudig nie. Dis ons botter en brood, man. Jy weet, as hy my eers man, wil ek die horries kry. Ek is sy donnerse vrou en ons kind is besig om tot niet te gaan.”
“Dalk is Koert orraait, wie weet,” probeer ek nog. Ek is self nie oortuig van wat ek sê nie. En wat JP betref – nou die dag nog sê hy vir my: Jy moenie dat jou voet jou lewe bedonder nie, Marlouw. Kom ek vat jou een aand saam met my na die Daily Planet – so ’n luukse hoerhuis met alles. Nee, ek het nie dieselfde opinie oor JP as Heleen nie.
“Tot niet!” gaan Heleen aan. “Niks gaan van Koert oorbly nie. Man. Verbeel jou, dis hoe JP met my onder die omstandighede praat. JP Spies is al een wat nie weet nie dat die hele Brighton by cocktail parties oor ons skinder: sy kombers en haar matras. Hoekom het ek tog ooit vir daai bene van hom geval? Nee wat, JP gee net mooi sweet blue all om vir sy seun. Hy praat van Koert se sojourn.” Sy aap die stem van haar man na: “Laat die mannetjie gaan as hy dan so graag wil gaan, Heleen. Van my kry hy niks verder nie. Ons sal sien wie kom eendag teruggekruip en tjank oor die vark se peule.”
Ek hoor hoe sy aan haar drankie slurp. Ná al die jare in Australië het sy nog nie die boeregewoonte afgeskud van brandy en Coke nes die son sak nie. Sy’s dronk, soos ys so hard en skerp, want o hel, Heleen kan ’n teefkat wees as sy wil. Ek stel voor dat ek gou oorkom, ’n taxi bestel. Die warm melk moet maar wag, ek is bereid om ’n uitsondering te maak.
“Marlouw, dis onnodig dat jy hierdie weer trotseer. Al wat ek wil hê, is dat jy my moet belowe jy sal gaan en gaan kyk waar Koert is en hom vir my terugbring. Dis al wat ek vra. Is dit te veel gevra? Is dit?”
“En wat van my lewe? Wat van my verpligtinge? Hoe lank gaan dit miskien neem om Koert op te spoor? Maande en maande dalk, wie weet. Ek het mos ook ’n lewe, Heleen. Jy bel my in die middel van die nag.” En toe weet ek dis ’n glips, dis presies wat sy wil hê sodat sy my siel kan uittrek.
“Jou lewe, Marlouw? Jirre, moenie dat ek lag nie. Jy met al jou boekgeleerdheid wat hier in Australië ’n pottesmous kom word het.”
“Jy’s vol stront, Heleen. “ ’n Rukwind gooi stortreën reg teen die volmuurvenster. My hele woonstel sidder. Laat sy maar te kere gaan. So maklik kry sy my nie kwaad nie. Dit gaan beter met my as met haar. Ek is ’n agent vir Paderno-vlekvryestaalpotte en ek was nog nooit skaam daaroor