Horrelpoot. Eben Venter
en sy twee kinders: Pilot en Esmie Phumzile, en Nombulelo Mildred, die ou vrou wat ons boude vir ons afgevee het, en haar seun Lehlono, en ouma Zuka en Frans en Sindiswa Zuka en hul seuntjie Headman, en die res van hulle kroos. Laat hulle almal vir Ouplaas kry en iets daarvan maak.
Heleen het die dag van haar kop af geraak toe ek dit voorstel. Ná die begrafnis was daar ’n teedrinkery by tannie Driekie-hulle en Heleen het haar bordjie met die melktert net so neergegooi en my aan my arm buitentoe gepluk. Reken ’n bietjie, daar word haar eie plan deursigtig: sy wou my oorhaal om onmiddellik die familieplaas in die mark te sit sodat sy haar aandeel kon kry, na haar Australiese rekening kon laat oorplaas en die en suite in hulle Brighton-huis met marmer laat oordoen. Ek kon haar deur haar gesig klap.
“You’re so righteous, Marlouw. Little twit,” het sy dié dag vir my gesê. Sy’t daai tyd meestal Engels gepraat. Sy het my eers verag, daarna toegegee.
Kaart en transport van Ouplaas is aan die drie families oorgedra. Mildred, ons het haar mos nooit Nombulelo genoem nie, het daardie dag haar fisieke terughoudendheid teenoor wit mense laat vaar en arms seningrig soos osrieme om Heleen se nek gegooi. Mildred het gehuil, en Heleen naderhand ook.
My hartklop wankel. Die lug wat ek intrek, is te klam. Ek voel hoe ek hier, in die middel van die brug oor ’n helse weg, die angs van die skaapdiere op die vragmotor deel, angs wat nou in my opwel: die verskrikking van hierdie opdrag van Heleen. Tot nou toe het ek net skrams oor die uittog gedink, maar die realiteit daarvan is besig om groot en misvormd voor my oop te bars.
My veilige, beteuterde stadsbestaan moet ek verruil vir ’n land wat ek besluit het ek glad nie meer wil ken nie. Dié taak gaan my heeltemal wegvoer. Ek het myself aan iets toegesê waarvoor ek nou bang geword het. En as jy vooraf vir iets bang is én daarvan weet, kan jy dit tog oorwin. Ek sal. En ek sal dit glo. Maar my hart klop swak, my gemoed is geslote oor die moontlike uitkoms van die soektog. En dan is daar my gebrek. Ek sukkel ’n ent verder oor die brug aan.
Wat weet ek tog van die mens wat Koert geword het, of van die redes wat hom twee jaar al van sy ma af weghou? Nou moet ek hom daar gaan staan en uitgrawe. Sy kruppel oom met twee leesbrille in die tas: een vir lees en een vir die onwis. En wat bly dáár nog oor om te lees? Ek weet niks meer van daardie land nie. Koert sal my waarskynlik vanaf Ouplaas verskreeu en ek sal soos ’n hond moet terugkruip.
Gepoleer en al, kan my skoene uiteindelik nie die vloed weerstaan nie en nattigheid sypel by my kouse in. My hande voor my gesig drup stroompies teen my moue af. Ek ril vir die nag wat met die dooie kleur van lood oor my neersyg.
Daar het nou niks meer vir my oorgebly nie as om my hieraan oor te gee. Dit is my eer, ek het myself reeds belowe ek sal gaan, al het ek nog nie vir Heleen laat weet nie. Sy lê teen hierdie tyd uitgemergel op haar bed met net die toy pom om haar bors bietjie te verwarm.
Onder die voetbrug slaan ’n vragmotor sy lugremme aan, kom glyend tot stilstand en motors spat benoud weerskante van die kolossale voorwerp verby. Kortstondig sien ek hoe ’n kneukel wit om ’n stuurwiel klem.
Ek slaan weer die twee pante van my japara om my liggaam vas, ek is van sweet en sypelwater deurdrenk en bewe sonder ophou. Eens en vir altyd wil ek my rug op die brug en die stad draai, ook op die skrik wat die opdrag in my lewe laat opspring het, maar dis nou onmoontlik. Dit het ’n vasgelegde onmoontlikheid geword. Ek kan net nog daarvan probeer weghardloop en begin dan ook na links oor die brug hink terwyl ek my balans op die loopoppervlak behou deur my hand al langs die heuphoogtereling te laat gly.
2
Often far away there I thought of these two, guarding the door of Darkness, knitting black wool as for a warm pall, one introducing, introducing to the continuously unknown, the other scrutinizing the cheery and foolish faces with unconcerned old eyes.Dis nie Heleen nie, maar haar huishulp, Jocelyn, wat in die vroeë oggend die voordeur vir my oopmaak. Ek is yskoud van min slaap.
“Oh, good morning, Marlouw, up so early?” Haar bolip lig ’n fraksie van haar gebit af weg en krul teen haar neus op.
“Môre, Jocelyn. Lyk of jy self vroeg begin het.” Dit traak haar min of ek haar bolip opgemerk het. En ek sit ons ou speletjie voort en weier om met haar Engels te praat. Jocelyn reken eers as ek Engels met haar praat, ag ek haar as my gelyke. Maar sy moenie vir my kom vertel dis wat sy by haar eie huis praat nie.
“Your sister is out, I don’t think she was expecting you so early. Oh, this rain,” sê sy dan, tog meer toegeeflik. “I discovered mould on my leather pumps the other day.” Sy’t die toy pom teen haar bors, en dié spartel en grawe om by my uit te kom.
“Stop it, Henrie, stop it immediately,” beveel Jocelyn, benoud die hond trap nat pote op Heleen se bokhaarloper.
“You know where to hang that dripping coat of yours, or I can take it for you,” maar sy maak slegs ’n halfhartige gebaar, kyk af na my, draai om sonder om hand te gee en loop eerste aan na die kombuis.
“Is JP hier?” vra ek teen haar ronde moedersrug.
Sy gaan staan net links van Heleen-hulle se Alexis Preller en pers haar lippe saam: “Mister Spies has been away for more than two weeks. And we’re not expecting him back for some time.”
In die kombuis het Jocelyn op een van die stoele by die ontbyttoonbank plaas geneem toe ek inkom. Daar is breiwerk op haar skoot en sy gaan aan waarmee sy skynbaar besig was toe ek die klokkie gelui het. Henrie spring teen my broekspype op en hang ’n pienk tong uit.
Sedert Jocelyn vir Heleen-hulle begin werk het, het haar velkleur al hoe bleker geraak. Dis die werk van salwe en rome, ek weet nie watter moderne wondermiddele is alles deesdae beskikbaar nie. Sy’s oorspronklik ’n bruin vrou van die Oos-Kaap, van Aliwal-Noord, nie ver van waar ons grootgeword het nie. Maar sy laat val nooit ’n woord oor haar herkoms teenoor my nie. Ons het albei iets waaroor ons verkies om te swyg.
Ek loop na die kas waar Heleen hulle koffie- en teegoed hou. Daar is ’n fles duur poeierkoffie met ’n merk wat ek herken. Ek haal egter ’n teesakkie uit.
“Wanneer gaan julle regte koffie in die huis begin drink?”
“The coffee here is good enough for us, thank you very much. Can I tell you one thing, Marlouw? You’re a terrible snob and you couldn’t give a damn.” Haar wimpers wat welig na bo krul, flikker oor haar gitswart oë.
“Jocelyn, ek gee nie om wat jy van my dink nie.”
“That’s what I mean, see.” Sy maak dat ek omkyk na haar, waarop sy dadelik weer haar oë afwend en voortbrei. Die wol is swart en sy het reeds ’n allamintige stuk van die breiwerk klaar, dit tuimel tussen haar knieë deur en val in sleepsels tot op die steriele kombuisvloer. Sy gebruik ’n dik en ’n dun naald, die dikke pienk, die dunne ligblou. Sy loer na my totdat ek dit agterkom, kyk dan weer vinnig op haar breiwerk af. Sodra ek van haar af wegkyk, loer sy weer terug, ek kan dit aanvoel.
Terwyl ek wag vir die water om te kook, raak ek bewus van die stadig stygende uitwerking van Heleen-hulle se ondervloerse verhitting.
“There’s Hertzog cookies in the cupboard above you.”
My linkerkuit begin ontspan. Omdat my linkervoet na binne en afwaarts gedraai is en ek altyd op die buitenste rand van die punt van die voet moet loop, is die kuit onderontwikkel, al moet hy hard werk. Dis die algemeenste voorkoms van die mankvoet, van talipes equinovarus. Woorde wat die meeste mense nie ken nie, en as hulle dit dalk nog te hore kom, dink hulle jy’t nog ’n krakie ook by.
“What’s the matter, Jocelyn? Vertrou jy my nie, of wat?” Ek het omgedraai na haar, sy kyk my so dwingend aan.
Jocelyn het haar plomp voete in twee merinowol-pantoffels ingeprop en sy swaai hulle nou heen en weer, nes ’n dogtertjie. Haar enkels het tog nog ’n sanderige bruin gebly.
“Cookie?” vra sy en beduie met haar oë na die kas.
“Dankie, Jocelyn.” En so kom daar tog ’n meelewing tussen ons los.
“Wanneer verwag jy vir Heleen terug?”
“She