Laduma vir die liefde. Maretha Maartens

Laduma vir die liefde - Maretha Maartens


Скачать книгу
het Pa tam gesê. “Jy wil nie saamstap nie, jy wil nie by die huis met ’n stroom boemelaars opgeskeep wees nie … Ignoreer dan maar die hekklokkie. Of sê net nee.”

      “Gee ’n boemelaar of ’n straatkind die pinkie, dan vat hy jou hele hand en driekwart van jou kruideniersware.” Ma het die vadoeklaai driftig toegestamp. “Wat het vanoggend gebeur? Ons het nie brood vir onsself gehad nie.”

      “Ons moet meer brood koop,” het Pa ernstig gesê. “Vyf is te min; ons moet vir sewe of agt begroot.”

      “Ek wil nie meer gee en uitdeel nie!” het Ma geskree. “Ek wil ’n lewe hê! My eie lewe!”

      Pa het wonderbaarlik kalm gebly. “Ek voel dikwels so, Jo. Maar die Here het tog gesê: ‘Gee julle vir hulle iets om te eet.’ ”

      As Ma maar stilgebly het. Maar sy het nie. Sy het skielik gelag, ’n dwars lag waarvoor sy hom nooit om verskoning sou kon vra nie.

      Paula keer haar gedagtes met moeite weg van dié pynlike herinnering.

      “Ek hét gisteraand lig in die tweelingkamer sien brand,” sê Hans. “Maar moenie vir my vra hoekom ek nie die kloutjie by die oor kon bring nie. Dalk is dit oor ek en my ma gestry het. Sy het gesê Paula gaan ’n motorfiets koop, ek het gesê dis onmoontlik, Paula het in haar lewe nog nooit motorfiets gery nie. Toe praat ons oor Lalla wat in Shenzhen sit en …”

      Lalla het in die tyd van die groot breuk geglo dat Hans se skuif na die slaapkamer anderkant hulle muur vooraf beplan was. Dat Paula daaragter gesit het. Hoe dan anders?

      Eers verneuk Hans haar met haar tweelingsuster. Hulle kom agter dat sy iets vermoed, daarom stuur hy vir haar die simpelste afsê-teksboodskap in menseheugenis: Lalla RN voel ek dis beter om net BFFL te wees. IMS, Hans.

      “Best friends for life se verdomde voet!” het Lalla geskree. “I am sorry se gat!” En sy kon bygevoeg het: Mag die bed in jou nuwe slaapkamer, drie meter van die pastorie se tuinmuur af, vol bedluise wees, Hans de Lange.

      Paula het toe ’n ewigheid van twee en dertig dae in die sonnige gastekamer gebly. Lalla het op ’n eetstaking gegaan wat Ma se hande laat bewe en haar traankliere geaktiveer het. Appels het Lalla se stapelkos geword, met wortels vir nagereg. Haar skoolrok het ná ’n maand soos ’n sak aan haar gehang, haar polse het knopperig geword.

      Die etenstafel was ’n oorlogsone. Elke soort oorlog is aan daardie ronde tafel gevoer: koue oorlog, stilstuipe-oorlog, guerrilla-oorlog, bosoorlog met mortiere wat onverwags afgeskiet word.

      “Ek is nie honger nie. Kan julle nie julle dowe ore oopmaak nie? Ek is net nie honger nie!”

      “Ek sit nie langs Paula nie.”

      “Kyk, Lalla, genoeg is genoeg. Maak vrede met Paula. Paula, vra vir Lalla om verskoning.”

      “Hoe kan Pa dit van my verwag? Het Ma die ander meisies met wie Pa uitgegaan het om verskoning gaan vra? Dis gek!”

      “Ek stem met Paula saam, Herbert. Lalla het tog –”

      “Kyk, Johanna …” (Ma was altyd Johanna wanneer Pa die duiwel in was vir haar), “as ons oor sekere aspekte verskil, is daar ’n tyd en ’n plek om die verskille te bespreek. Daardie tyd en plek is nie aan die etenstafel nie.”

      “Sy hoef nie om verskoning te vra nie, dit sal in elk geval vals wees. Ek wil net nie in haar bakkies vaskyk nie.”

      “Hou óp om so kinderagtig te wees!” het Pa ontplof. “Magtig! Hoe moet ’n mens die werk van die Here doen as dit só in jou eie huis gaan?”

      “Moenie aanmekaar ‘magtig’ sê nie, Herbert!”

      “Dan sê ek bliksem!”

      Lalla het soos ’n vegbulterriër vasgebyt. “Pa moes die storie van Judas Iskariot meer dikwels vir Paula gelees het.”

      Ma het soms net opgestaan, die kos wat op almal se borde behalwe Pa s’n oorgebly het na één bord oorgekrap, die vuil borde opmekaargesmyt en kombuis toe gegaan. Waar sy sonder taal en sonder woorde teen die kombuistoonbank gaan staan en wanhoop het.

      “Jo?” sou Pa dan uit die eetkamer roep. “Ons moet nog dank.”

      “My hart is nie vol dankbaarheid nie,” het Ma teruggeskree. “Dank jý as jy so dankbaar voel.”

      Slegs die lui van die voordeurklokkie of die onaangekondigde instap en vraende kyke van ’n gemeentetannie kon ’n onmiddellike maar kortstondige wapenstilstand bewerkstellig.

      Ma het jare later nog steeds na Lalla se dieet as die migraine-en-slukdermspasmatyd van haar lewe verwys.

      Eers was dit tien dae van appels en rusies en kos wat teruggaan kombuis toe. Vier, vyf dae ná die aanvang het Lalla Pa aan tafel gekonfronteer: “Pa maak altyd asof dit so major is om veertig dae en veertig nagte lank te vas. Dit is nie. ’n Mens is net drie dae lank honger, dan begin jy fantasties voel. Ek sal my hele lewe lank net appels kan eet.”

      Die fase het aangebreek waarin Ma so gereeld soos die rusies kookwater uit die kombuis-urn in ’n koffiebeker gaan tap en gedrink het. Sy het tóé al die pynlike slukdermspasmas gekry – volgens die jong dokter wat haar behandel het ’n simptoom van erge spanning.

      Twintig, een en twintig dae. Pa en Ma staan op skei. Om die huwelik te red kondig Pa drastiese maatreëls aan: “Julle twee maak vrede of ek hok julle.”

      “I like, I like,” het Lalla kop in die lug gegryns. “Ek wil in elk geval nêrens heen gaan nie. Ek wil niemand sien nie. Dis Paula en die adder wat dit gaan vóél.”

      “Hulle is soos Esau en Jakob nadat Jakob die eersgeboorteseën van Isak gekry het,” het Pa teen die einde van die affêre vir Ma gesê. Sy, Paula, was binne hoorafstand, besig om die budjies in hulle hokkie te diens.

      “Asof Hansard en Faith de Lange ’n kind kan grootmaak om tot ’n seën te wees,” het Ma suur gesê. “Die een wat laaste lag, mag dalk uiteindelik die lekkerste lag.”

      “As ons dit net kon bekostig om die tweeling Stellenbosch toe te stuur …”

      “Om nuwe vriende te maak? Jy mors jou asem en jy weet dit.”

      “As ons hulle saam by die diep kant kon ingooi, sal hulle gou weer ontdek dat bloed dikker as water is.”

      “As ek ’n loopbaan gehad het, sou ons dit kon doen.”

      Die óú verwyt. As Ma lank gelede die roeping gehad het om ’n pastorievrou te wees, het sy die roeping verloor.

      Kort voor hulle matriekeksamen is daar ’n dokumentêre reeks oor die Tweede Wêreldoorlog uitgesaai. Pa het huisbesoekskuiwe gemaak om dit te kon kyk; nege-uur Woensdagaande was hy voor die TV in die gesinskamer waar die gesin dalk een keer per jaar saamgekuier het.

      Pa was gaande oor dié dokkie. Ou mans het voor wanordelike boekrakke of in rolstoele van oorwinnings en nederlae sit en vertel. Een van hulle het net ’n halwe gesig gehad; die ander helfte was ’n saamgetrekte knoets. Skrapnel het die bloedvate en senuwees, weefsel en stukkies been wat daaronder was, uitgeruk. Waar die neus was, het kraakbeen en weefsel gesmelt en soos plastiek in vuur verskrompel. ’n Grys vlies het soos ’n swam op die irislose oog gesit. As daar nog ’n venster na binne, ’n kornea, was, het die oorlogswam dit volledig toegegroei.

      Een aand toe Paula deur die gesinskamer geloop het om vir haar ’n kaasbroodjie in die kombuis te gaan maak, was die man met die swam op die oog aan die woord. Hy het vertel hoe hy en sy makkers onder aanvoering van generaal Neil Ritchie landmyne in Noord-Afrika geplant het. Uiteindelik is hulle in die Slag van Gazala verslaan.

      “We lost the harbour of Tobruk,” het die ou man met die eenkanttoekyk van ’n blinde wat homself nooit in die spieël sien nie, gesê. “We shouldn’t have. Ritchie just didn’t make the grade: he failed to exercise strong command over the troops.”

      “You lost the harbour of Tobruk. You also lost your eyesight,” het die onderhoudvoerder gesê. “When you


Скачать книгу