Kaapstad Karma-Polisie. Louis de Villiers

Kaapstad Karma-Polisie - Louis de Villiers


Скачать книгу
opgesteek, van voor oor die berge, noordwes.

      Hy maak uit “Seeredding … gebel …” en besef hulle sal hul litte moet roer as hulle nie die volgende paar jaar in die tronk wil kaboemielies eet nie, om van al die selfs onplesieriger moontlikhede nie eens te praat nie.

      En al kom hulle vandag hier weg, begin hul probleme waarskynlik dan eers.

      “Boy, begin gooi die toksakke in die see,” beveel Raymond, “dalk kan ons later iets daarvan red. Lewies …”

      “Hulle sal nou-nou hier wees!” kom die hengelaar met die selfoon se stem skielik hard en duidelik in ’n windstil oomblik oor die water aangedrywe.

      “Fok!” sê Raymond. Die dag begin sleg vir jou as jy op die Nasionale Seereddingsinstituut vloek, dink hy. Hy verbeel hom hy sien die wit boot al in die verte. “OK, Boy,” sê hy weer, “begin gooi die toksakke af. Ek kom help. Lewies …”

      “Ja, Baas?”

      “Voor jy my en Boy help afgooi, kap jy gou eers vir ons die drie vetste lyne wat jy al in jou lewe van gedroom het.”

      “Alte seker, Baas,” sê Lewies stralend, sy bui genoegsaam verander deur die vooruitsig van ’n lyn kokaïen so lank en dik soos ’n baba se arm dat hy vir eers vergeet in watter penarie hulle hul bevind.

      Boy gee die toksakke uit die kajuit aan, Raymond gooi oorboord. Darem seker waterdig genoeg, praat hy homself moed in, darem seker genoeg te redde dat ons nie voor die einde van die naweek met ons gatte sal hoef te betaal nie.

      Hy hoor ’n yslike gesnork van binne af.

      Lewies skree triomfantelik: “Yee-ha!”

      Raymond weet hy sal die volgende uur of vier waarskynlik kan baat by die selfvertroue en wakkerheid wat ’n dik lyn kokaïen hom nou sal bied, en gaan neem sy beurt.

      Lewies het Raymond letterlik opgeneem: daar lê twee lyne halfpad so dik soos die kalk langs ’n rugbyveld en wag op hom en Boy. Hy wil-wil iets sê, dink dan dit sou tydmors wees en druk die styfgerolde vyftigrandnoot in sy neusgat. Hy moet soos ’n werfhoender skrop om alles opgesnuif te kry.

      Terug op die dek sien hy weer die wit boot, naby genoeg dat hy dié keer die NSRI-vlaggie sien, en gooi met hernieude ywer sakke van die boot af.

      Daar’s nog sowat agt toksakke in die boeg wanneer die NSRI teenaan kom en toue begin oorgooi.

      Boy het ook nog nie sy lyn gesnuif nie, dink Raymond.

      ’n Paar honderd onplesierige gedagtes skiet soos ’n pynlike knal deur sy sinusse sodat hy wens hy’t sy Voltarens onthou.

      Gelukkig het hy sy selfoon. Hy begin vervaard skakel.

      2

      Klim op die regte tyd op die regte vloer op die regte pawiljoen uit een van Nuweland se onverkoelde hysbakke en jy sal maklik jou pad vind na Eugène Rademeyer se losie.

      Ou aand is dit die een waar die musiek nog pomp.

      Drie seisoene gelede het Eugène die WP Rugby-unie probeer omkoop nadat naburige losies gekla het wanneer hy laat saans ná die wedstryd so onbeskaamd gas gee.

      Maar Gas en Gee is Eugène se middelname en voordat die unie hom hieroor kon uitskop, het die magnaat liewer vinnig al die naburige losies met ’n jaarlikse bedrag stilgemaak, ’n paar yslike studiebeurse vir belowende bruin spelers gehoes en heelparty strandpartytjies by sy verruklike naweekhuis net suid van Simonstad gereël.

      Deesdae beduie die beste verkoopsmanne van die reisagent-skap se losie langsaan en die pakhuisbestuurder van die drukkery s’n aan die ander kant al met amperse trots:

      “Daai klipharde Afrikaanse gedoemsdoems van langsaan – dis Eugène Rááádemeyer se losie.”

      Dan voel die gaste so hittete geëerd dat hulle ook al persoonlik deur die skatryk en omstrede sakeman ontwrig is, doop ’n hoendervlerkie in ’n piering braaisous en probeer mooi broodjies te bak vir sover hulle hoorbaar is.

      Maar dis nog relatief stil in die vroegmiddag, ’n goeie driekwartier voordat die Stormers afskop teen die Bulls, en Eugène se desibels is draaglik.

      Flip Geldenhuys, skootrekenaar oor die skouer, mik middel toe, na die swierigste deur.

      Hy’t die sonnige vroegoggend geniet, maar die weer het opgesteek terwyl hy in die verkeer vasgesit het en op pad van sy parkeerplek af het ’n onplesierige Nuwelandse wolkbreuk oor hom uitgesak.

      Flip het ’n gratis dubbel-branna nodig.

      Van binne wroeg ’n onbekende stem oor vermeend stemmige sintetiseerder weens die girl wat hom gelos het. Dis nog ballade-tyd hierso.

      Daar’s altyd ’n moeilike kêrel in ’n wit kortmouhemp, strikdas en yslike harige voorarms buite Eugène se deur, maar Flip trek maar altyd net sy skouers op en verneem na die grootbaas.

      Effe vernederend, maar wie stry met gratis drank?

      Flip bedink homself hittete dié keer: Die eerste twee kleurbaadjies wat hy oor die uitsmyter se linkerskouer na ’n silwerskinkbord met kerrie-eiers sien staar, behoort aan Oom Knuckles Waterboer, president van die Wynland Rugby-unie, en Alex Ndlovu, beroepsvuurvreter en ondervoorsitter van die ANC-jeugliga.

      Oom Knuckles sê nooit iets nie en Alex bly nooit stil nie, dink Flip.

      Dan sien hy doer agter, jolige rooi gloed op die wange, vir Boychie van Heerden, die Springbokafrigter.

      As Boychie só blink, dié weet Flip, praat hy gereeld gans te veel.

      Kan dalk nét ’n storie afgee. Flip grinnik vir die deurwag, wat hom dié keer herken en met ’n glimlag binnetoe wuif.

      Flip groet in die ronde, skud met ’n paar mense blad voor hy ’n samoesa oppik en ’n dubbel brandewyn en Coke bestel.

      Hy skuur ongemerk behendig tussen Alex en die yslike muurbehangsel van Joel Stransky se skepskop verby, voor hy hom in nog ’n debat oor die wenslikheid van Springbokkleure vir die nasionale rugbyspan bevind.

      Alex vind die Springbokembleem aanstootlik en haal gereeld koerantopskrifte deur dit te sê ook.

      Flip dink self springbokke is maar kakkerige ou diertjies en verkies buffels of renosters, maar hy dink Alex is maar ’n kakkerige ou politikussie ook en hy sou Nelson Mandela se geselskap verkies het.

      Nelson Mandela is egter nie beskikbaar nie, buffels en renosters ook nie in die nasionale kleuredebat nie, dink Flip, kyk die sitkamer vinnig deur en reken Boychie en Eugène, driftig in gesprek in die hoek, is verreweg die interessantste opsie.

      “Eugène … Boychie … Hoe gaan dit, menere?”

      “Hey … Flip. Welkom! Jy OK?”

      “Hoe gaan dit met die pers? Die press … Jy weet mos wat noem ek julle koerantmanne voor my gesin. Die press. De-press, vang jy dit? Depressie,” sê-vra Boychie.

      “Ja-a-a wat, alles wel. Buiten vir die armoede, die dors en die jagsgeit,” sê Flip en grinnik skouerophalend vir die Springbok-afrigter. “En natuurlik die depressie. Wat dink julle gaan hier gebeur?”

      “Bulls, beslis as dit reën en waarskynlik ook as dit nié reën nie.”

      “Ek stem saam met Boychie.”

      “Nou vir wat stry julle dan so?” vra Flip.

      Boychie glimlag rooi: “Eugène wil nie hê ek moet die Drie Musketiers teen die All Blacks kies later vanjaar nie.”

      “Huh? Hoesê?” lag Flip by voorbaat beleef vir die grappie.

      Maar Eugène maak g’n grap nie.

      Flip sien die sakeman byt ’n oomblik op sy tande sodat sy wangbene amper deur sy vel steek. Eugène is skoon de moer in vir Boychie, besef Flip en hou liefs sy rekenaar oor die skouer ingeval hy homself nou-nou gou-gou uit die voete moet maak.

      “Ek


Скачать книгу