Die Meisies van Maasdorp. Stella Blakemore

Die Meisies van Maasdorp - Stella Blakemore


Скачать книгу

      ’n Kuiltjie wys in Kobie se rooi wangetjie, maar verdwyn weer gou. Sy kan haar voorstel hoe koddig dié figuurtjie tussen die moderne meisies van Maasdorp se hoërskool sal wees.

      “Weet jy in watter klas jy is?”

      “Die hoofonderwyseres het my tante te kenne gegee dat sy my geklassifiseer het om graad nege in te tree.”

      Daar is ’n oomblik stilte. Kuiltjies wys in albei Kobie se wange en dié keer verdwyn hulle nie.

      “O, aarde!” sê Terrie eindelik. “Hoofonderwyseres! Wessie!”

      “Klassifiseer!” sê Tokkie minagtend. “Dink die kind sy’s ’n gogga?”

      Elsabe word bloedrooi. Sy kan nie verstaan waarom die ander haar so vreemd beskou nie.

      Kobie se groot bruin oë kyk laggend na haar.

      “O!” sê sy kortaf.

      Elsabe kry ’n knop in die keel. Sy is heeltemal verbouereerd. Die spottende meisies het haar woedend gemaak. Sy sluk haar trane weg en kyk hulle boos aan.

      “Dit is vir my onverstaanbaar dat my gesegdes u soveel kan amuseer,” sê sy in ’n stemmetjie wat tog beef, al probeer sy hard om dit kalm te hou. “Miskien was dit wyser van my, had ek geantwoord dat my sake u heeltemal nie aangaan nie!”

      Wat sy met soveel moed gesê het, veroorsaak net ’n gelag.

      “Sy praat presies soos ’n outydse boek,” sê Tokkie, wat ’n skerp tongetjie het. “Ek wed sy het Noordwaarts gelees!”

      En toe kom dit van Hannie: “Kyk hier! Jy moenie jou verbeel dat jy daardie toon in Maasdorp kan aanslaan nie. Dit moet nog gebeur dat nuwe meisies met die oues parmantig durf wees!”

      “En nog voor hulle ’n voet in die skool gesit het!” sê Terrie.

      Kobie kom tussenin. Sy vind die nuwe meisie se ouwêreldse klere en houding heeltemal onsimpatiek, maar sy kan tweedrag nie verdra nie.

      “Ag, laat die kind staan,” is haar advies. “Sy het nie bedoel om parmantig te wees nie. As ’n mens tergery nie kan verdra nie is dit so min sy skuld as wanneer hy ’n skeeloog het. Maar,” sê sy terwyl sy na Elsabe kyk, “ek kan jou net sê dat jy g’n maats sal kry as jy so aangaan nie.”

      Op die oomblik is daar niks wat Elsabe meer plesier sou gegee het nie. Sy leun terug in die hoek, maar al kyk sy deur die venster sien haar oë niks nie. Die ander neem verder g’n notisie van haar nie, nie eens by Maasdorpstasie nie.

      Hulle spring uit en groet ’n ander komp meisies vrolik. Nou en dan kyk almal na Elsabe, waar sy soos ’n eensame gesie by haar bagasie staan, en lag onder mekaar.

      Elsabe weet nie wat om te doen nie. Al die meisies – vir haar lyk dit of dit honderde is – gaan vorentoe na die uitgang en laat die tasse en sakke sommer op die stasie lê.

      ’n Groot meisie kom haastig na haar toe.

      “Jy gaan mos na die hoërskool, nè? Waarom het jy dan nie die ander gevolg nie? Laat jou bagasie lê. Die kruiers sorg daarvoor as dit goed met jou naam gemerk is.”

      Daar is reeds ’n paar kruiers besig.

      Elsabe moet haar leier na die straat volg waar ’n groot aantal busse wag. Sy klim in die laaste een in, maar daar is g’n leë plek meer nie. So vol is dit dat party op die ander se skote moet sit. Elsabe moet staan en vashou waar sy kan en ’n paar maal laat die gestamp van die bus haar byna val, terwyl dosyne onvriendelike oë haar aankyk.

      Eindelik ry hulle by ’n groot ysterhek in en toe die bus stilhou, spring almal uit. Elsabe word meegesleep, die trappe op en deur die grootste deur wat sy nog ooit gesien het.

      2

      _____________

      By die skool

      ’n Gewoel en geraas van jong stemme weerklink in die ruim voorsaal.

      “Dag, Sarie. Jy’t mooi bruin gebrand …”

      “Grieta! Het jy onthou om die speletjie saam te bring?”

      “Haai, waar is Joey? Wie het vir Joey de Beer gesien?”

      “Hedetjie! Ek het my reënjas in die bus laat staan!”

      “Weet jy wat? Daar’s ’n nuwe onderwyseres in juffrou De Wet se plek en Vera sê …”

      Elsabe is verstom. Kan dit regtig ’n hoërskool vir meisies wees?

      Iemand praat met haar – iemand wat hard moet skree om haar stem bo die geraas te laat hoor.

      “Vertel my, suster, wie is jy?”

      ’n Parmantige meisietjie met haar hoed agter op haar kop en haar voete wyd van mekaar, kyk Elsabe aan asof sy ’n vreemde soort dier is.

      “My naam is Elsabe van den Heever,” kom die antwoord ietwat huiwerig.

      “Wat?” vra die klein parmant, meer uit nuuskierigheid as belangstelling.

      Voor Elsabe iets kan sê, kom agt ouer meisies by die voordeur in. Een van hulle, haar redder van die stasie, het met ’n fluitjie min of meer stilte verkry.

      “Watter lawaai is dit?” sê sy goedaardig. “Bly nou stil. Matrone sal nou-nou hier wees.”

      Elsabe bewonder die spreker.

      Vera de Korte, nou die hoofmeisie in die skool, is ’n mooi meisie en begaaf in alles wat sy onderneem. Dit lyk of sy later ’n goeie onderwyseres sal wees, want die meisies gehoorsaam haar.

      “Nuwe meisies staan in gelid naby die deur. So, goed. Juffrou Van der Westhuizen wil julle sien.”

      Van die oorkant van die saal verskyn ’n ander persoon en daar is luide gejuig.

      “Matrone! Dag, Matrone!”

      Almal praat gelyk.

      “Ek het die warm kouse gebring wat Matrone gesê het …”

      “Matrone, my ma sê …”

      “Matrone, ek het in die vakansie griep gehad en …”

      “Matrone! Matrone!”

      Die matrone lag en hou die hande oor die ore. Vera blaas weer die fluitjie.

      “Dis genoeg!” sê sy streng. “Wanneer Matrone die lyste name klaar gelees het, kan julle haar jul lewensgeskiedenis vertel.”

      In die stilte wat hierop volg, hoor mens ’n hewige rusie.

      “Kobie, jou kat! Gee dit vir my! Jy weet Mamma het gesê ek mag dit dié kwartaal self oppas!”

      “Wie praat?”

      Die klein meisie wat Elsabe vantevore aangespreek het, kom vorentoe, nou ’n bietjie verleë.

      “Dis ek, Vera. Kobie wil nie my sakgeld gee nie en my ma het gesê …”

      “Dis genoeg, Heloise!”

      “Sy’s so ’n babatjie,” antwoord ’n vrymoedige stem. Elsabe herken Kobie as die spreker. “Sy verloor haar geld, of mors dit en dan kom sy myne bedel, en as ek haar nie daarvan gee nie, word ek beskuldig …”

      “Stilte!” sê Vera kortaf.

      “… van tirannie op my klein sussie!”

      Die stem hou met ’n laggie enduit aan.

      Daar is ’n gegiggel van die jonger meisies; Vera kyk Kobie streng aan.

      “Jy kry ’n strafkruisie!” sê sy.

      Die groot meisie langs haar wat ’n familietrek van Kobie en Heloise het, kyk haar twee susters kwaai aan.

      “Nou,” sê die matrone, “die slaapkamerlyste. Die meeste van julle weet waarheen


Скачать книгу