Kobie en die wonderkind. Stella Blakemore

Kobie en die wonderkind - Stella Blakemore


Скачать книгу
julle wat graad tien geslaag het, is natuurlik oud!” spot Terrie. “Julle dink natuurlik julle is watwonders omdat julle twee grade in een jaar geslaag het!”

      “Hoe ons deurgekom het, weet nugter alleen,” sê Tokkie. “En Elsabe en Kobie nogal eerste klas! Ek het ’n tweede klas gekry en die ander derde klas. Dis darem lekker om slim te wees!”

      “Ag nee!” spot Terrie. “Jy ly aan ’n minderwaardigheidskompleks!”

      “Wat is dit?” vra Tokkie verdag.

      “Ek weet nie, maar my ousus se grootste vriendin was die vakansie by ons en sy praat vreeslik baie van sulke dinge. En weet julle wat? Sy kom hierheen as onderwyseres. Het julle al ooit van so iets gehoor? Sy was soos een van ons kinders. Dit sal my nie verbaas as sy my by my ma-hulle gaan verklik nie. My ouers dink nogal ek is vreeslik soet.”

      “Maggies! Waar sou hulle dié idee kry?” terg Elsabe.

      “Maar miskien sal sy tog nie,” gaan Terrie voort, “want sy glo aan baie snaakse dinge. Haar hoofvak op universiteit was glo sielkunde, of so iets, en sy glo nie aan straf nie.”

      “Wat? Soos Yskis?” vra Tokkie. “Dan bedank ek. Jy kan maar jou suster se vriendin hou. Yskis glo mos ook nie aan straf nie. ‘Wat! Straf!’” maak sy juffrou Muller na. “‘My goeie meisiekind, dink jy miskien dis die moeite werd om aan jou aandag te skenk? Gaan, asseblief. Jy mag miskien belang stel om te hoor dat ek ’n paar sake het wat my aandag vereis – sake wat belangriker is as die swak pogings van ’n bakvissie om haar op die voorgrond te stel deur onhebbelik te wees, omdat dit nie vir haar moontlik is om dit op ’n waardiger wyse te doen nie.’”

      Die ander twee skater van die lag.

      “Tokkie, jou esel, sy praat glad nie so nie!” sê Terrie. “Sy praat vreeslik min; ek weet goed.”

      “Miskien, maar die idee is darem reg,” sê Tokkie beslis. “Ek wil maar net een ding sê: as ons nog so ’n juffrou kry, bly ek sowaar in die siekekamer!”

      “Nee, sy is natuurlik baie jonk,” vertel Terrie. “Sy en my suster was saam op universiteit en hulle is omtrent dieselfde ouderdom, so twee-en-twintig. Nou ja, sy glo glad nie aan straf of slegsê nie. Ek het nie goed geluister wat hulle praat nie, maar sy sê ’n kind wat stout is, is siek of so iets.”

      “En hulle moet medisyne kry!” spot Tokkie. “Ek ken die ou storie! My ma gee ons altyd ’n lepel vol kasterolie in as ons iets verkeerds gedoen het, maar sy noem dit wel straf.”

      “Nou, dis nie presies so nie,” sê Terrie. “Ek sê jou ek het nie te goed geluister nie, maar ek weet dat my boetie eendag gedurende die vakansie parmantig was en my ma het hom op die hande getik en Leonie – haar naam is Leonie Hartmann – was verskriklik ontsteld daaroor. Sy het dit nie gewaag om iets teen my ma te sê nie, maar sy’t vir my suster gesê dis die slegste ding wat mens ’n kind kan aandoen, want hy wil jou natuurlik terugslaan en hy mag nie, en dan kook en kook dit in sy binneste, of sy siel, of iewers, en eendag sal hy dalk net daardeur ’n moordenaar word.”

      “Dit mag so wees,” sê Tokkie ’n bietjie onseker. “Ek weet ons het taamlik slae gekry toe ons klein was, maar tot dusver het ek nog nie lus gehad om iemand te vermoor nie – behalwe dat ek partykeer lus het om Yskis se nek om te draai,” voeg sy met een oog op Elsabe by.

      Elsabe gryp haar.

      “O, so! Ek sal jou nou ’n klap gee en kyk of jy my dan wil vermoor!”

      “Jy, en wie nog?” vra Tokkie spottend.

      Sy en Elsabe stoei met mekaar tot albei lam van die lag teen die ander meisies val.

      Terrie, wat hulle aangehits het, word skielik stil. “Oppas!” sê sy uit die hoek van haar mond.

      Matrone staan daar en kyk hulle met ’n kwaai gesig aan. Die saal het meteens stil geword.

      “Elsabe van den Heever en Tokkie Nel, skaam julle!” sê sy verwytend. “Sulke groot meisies, om julle só te gedra en dit voor die hele skool! Wat moet die kleintjies en die nuwe meisies van julle dink?”

      Die kleintjies dink nie veel nie. Hulle is hierdie meisies se gedrag lankal gewoond.

      Die stuk of twintig nuwe leerders wat hier en daar in die saal staan en oorbluf is van al die geraas, kyk hulle verskrik aan. ’n Mens sal jou seker doodskaam om so voor die hele skool uitgeskel te word!

      Carla Willemse, wat in die skaduwee langs die groot deur wegraak, beskou die toneel sonder die minste belangstelling. Sy kan nog nie glo dat alles wat die laaste paar ure met haar gebeur het, werklikheid is nie. Hier staan sy tussen meisies wat alles behalwe normaal optree. Sy is Carla Willemse, ’n vreemde persoon.

      Wat het die beroemde Olga Willovitch met hierdie kind te doen wat vandag nog nie ’n viool in haar hande gehad het nie – Olga Willovitch wat feitlik met haar viool in die hand gaan slaap het? Haar gesig is so wit soos papier en haar blik rus op die twee meisies wat nou opgestaan het en hul kouse en klere afstof.

      Hulle lyk albei skaam, veral Elsabe, want net op daardie oomblik kom juffrou Muller die trap af en staan hulle en aankyk.

      “Wat skort, Matrone?” vra sy. “Is hulle al klaar weer stout?”

      “Nogal!” brom Matrone. “Stoei en gaan te kere soos seuns! Ek het lus en sit hulle by die graadvyfs. Dit is altyd dieselfde meisies wat moeilikheid veroorsaak. Ek verwonder my net dat Kobie Malan nie daarby is nie.”

      “Sy sou gewees het,” sê Heloise ewe ernstig. Sy moet taamlik hard praat om haar stem van anderkant die saal te laat hoor. “Maar sy is nie hier nie.”

      “Wat?”

      Matrone kyk haar stip aan.

      “Kom hier, Heloise!”

      Met ’n bietjie gestoot en gestamp kom Heloise vorentoe en gaan staan voor Matrone.

      “Wat bedoel jy Kobie is nie hier nie? Waar is sy dan?”

      “By die huis, Matrone.”

      Heloise lyk hartseer. Al baklei sy en Kobie so baie, kan sy nie sonder haar suster klaarkom nie. Kobie was nog altyd daar om haar op te pas.

      Matrone lyk onvergenoeg.

      “Watter stoutigheid het sy nou weer aangevang? Het sy nie skool toe gekom nie?”

      “Nee, sy kon nie. Sy is siek.”

      “Wat makeer?”

      Matrone voel dadelik onrustig, want Kobie is na alles tog haar oogappel.

      “Sy was gisteraand na ’n konsert, alhoewel my ma haar belet het om te gaan. Sy het my broer se klere gedra en programme verkoop. My ma het haar gevang en sy wou haar straf, maar sy kon nie, want Kobie het naar geword – baie naar – bo-op alles in die motor. My pa was baie jammer vir haar, maar my ma was nie, want sy sê Kobie word altyd net op die regte oomblik naar – die regte oomblik vir háár, nie vir my ma nie –”

      “Dis genoeg, Heloise!” vermaan Matrone. “Wêreld, jy en Breggie kan baie praat as julle eers begin.”

      “Matrone het my gevra,” sê Heloise beledig. “Ek sou nie vertel het nie, maar Matrone het gevra. Matrone wou weet waar –”

      “Stil jy!”

      Matrone kan nie meer haar lag hou nie.

      “Ek weet nie of jy daardie manier van praat by Breggie geleer het of sy by jou nie, maar mens word eintlik bang om julle iets te vra. Julle hou aan sonder end.”

      Juffrou Muller kom nou vorentoe.

      “En is Kobie nog siek, Heloise?”

      “Ja, Juffrou. Pappie bring haar môre vroeg. Hy het juffrou Van der Westhuizen gebel.”

      “O, nou goed. Elsabe van den Heever en Tokkie Nel, kom na die graadelf-klaskamer sodra Matrone julle nie meer nodig het nie.”

      Sy


Скачать книгу