Ondergang. Terri Blackstock
neem haar na die plaaslike dagblad se webwerf. Die artikel is net ’n uur gelede aanlyn geplaas: “Atlanta-vrou vermoor aangetref.”
Devon Lawrence, 30, is vanoggend in haar huis dood aangetref ná ’n skynbare inbraak en diefstal. Haar vierjarige kind het op haar liggaam afgekom. Devon se man, William (Bo), is by sy werkplek, JR’s 24/7 in Broad Street, daarvan in kennis gestel. “Dit lyk asof iemand by die sydeur onder die motorafdak ingekom het,” het hy gesê. Verskeie items is uit die huis gesteel. Hulle groot platskermtelevisie was egter onaangeraak.
Emily sit haar hand voor haar mond en sukkel om asem te kry. Arme Bo. Sy vrou vermoor … en haar dogtertjie wat op haar afkom …
Hy moet verskriklik geskok wees.
Toe skiet iets haar te binne. Emily se mond raak droog en sy kyk om haar rond om seker te maak niemand lees oor haar skouer nie. Sy onthou van die namiddag toe sy by Haven House gewerk het en sy Bo oor sy vrou hoor praat het.
Maar hy het tog nie die dinge bedoel wat hy gesê het nie.
Hulle het in die gemeenskapsaal na die Hitchcock-fliek Strangers on a Train gekyk. Dit was ’n stil dag aangesien ’n klompie inwoners reëls oortree het en die hele groep hulle besoekvoorregte verloor het. Aangesien sy nie besoekers moes in- en uitteken nie, het sy van haar lessenaar af saam met hulle na die fliek gekyk. Daar is net ’n toonbank tussen die lessenaar en die gemeenskapsaal.
In die swart-en-wit spanningsprent ontmoet twee vreemdelinge mekaar op ’n trein en begin gesels oor mense in hulle lewens wat hulle veronreg het. Robert Walker se karakter, Bruno, sê hy sal graag sy pa wil doodmaak, maar sy ooglopende motief sal maak dat die polisie hom onmiddellik verdink.
Toe raak hy opgetoë en vertel die ander man van ’n plan wat hy eenkeer bedink het.
“Twee ouens ontmoet toevallig, soos ek en jy. Daar is geen verband tussen hulle nie, hulle het mekaar nog nooit tevore gesien nie. Elkeen het iemand van wie hy graag sou wou ontslae raak en dus ruil hulle moorde uit. Daar is niks om hulle met mekaar in verband te bring nie. Elkeen het ’n algehele vreemdeling vermoor. Dis ’n geval van ek pleeg jou moord en jy pleeg myne. Byvoorbeeld jou vrou, my pa, oorkruis.”
Teen die einde van die fliek het al die inwoners uitgegaan om te rook, behalwe Emily, Bo en Carter. Hulle het gelag oor die dolle rondomtalie tydens die hoogtepunt van die fliek en Hitchcock se kenmerkende kamee-verskyning.
Hulle gesprek het teruggegaan na die vermoorde vrou en hoe sy haar verdiende loon gekry het. Toe het Bo ’n opmerking gemaak waaraan Emily haar destyds nie veel gesteur het nie. “Dit is natuurlik ’n oplossing. As dit nie vir my vrou was nie, sou ek kon doen wat ek wil. Ek kan nie van haar skei nie, want sy sal die kinders vat.”
Nee, hy het dit nie bedoel nie. Hy het sommer net gal afgegaan. Of hoe?
Daarna het Bo en Carter begin om sleg te praat van die vroue vir wie hulle eens lief was.
Toe het Bo gesê: “Ons kan dit doen. Ek kan jou vrou doodmaak, Carter, en jy kan vir Devon doodmaak. Niemand sal sulke moorde kan oplos nie. Ons sal nie eens onder verdenking kom nie. Dink daaroor. Ons woon so ver van mekaar. Ek het jou vrou nog net op besoekdae gesien en ons het mekaar skaars gegroet. Niemand sal my verdink as sy vermoor word nie. En jy kan seker maak jy het ’n onaantasbare alibi sodat hulle jou nie sal verdink nie.”
Emily het nie gedink dis snaaks nie. “Toe nou, ouens, hou op hiermee.”
Carter het nie geglimlag nie. “Sy het my lewe vernietig. Sy het my by die polisie aangegee, my laat arresteer.”
“Myne ook,” het Bo gesê. “Ek sou nie hier gewees het as dit nie vir haar was nie.”
“Jy het self gesê jy het oop en bloot dwelms in die huis aangehou waar die kinders daarby kon uitkom,” het Emily opgemerk. “Sy het die regte ding gedoen.”
“Maar sy het hierdie hele besigheid aan die gang gesit. Die regter het my vir rehabilitasie verwys en nou sit ek hier vir drie maande. Ek het nou ’n misdaadrekord, en dis alles haar skuld. Egskeiding sal nie help nie,” het Bo weer gesê. “Sy sal my dwelmgebruik en arrestasies oprakel en ek sal nie ’n kans staan nie. Sy sal die kinders vat en ek sal hulle nooit te sien kry nie. Sy sal my slegmaak voor hulle.”
“Nou ja,” het Emily met ’n ongeërgde laggie gesê, “dan sal jy haar natuurlik moet doodmaak.” Sy het kopskuddend om die toonbank geloop en die DVD uitgehaal. “Hulle sou julle nie na hierdie fliek laat kyk het as hulle geweet het dit gee julle sulke gedagtes nie. Julle twee is mal.”
“Dit kan werk,” het Carter vir Bo gesê. “Dit kan sowaar werk.”
“Ja,” het Bo met ’n grinnik gesê. “Maar dan sal ons vir Emily ook moet doodmaak. Sy weet te veel.”
Emily het laggend teruggegaan na haar lessenaar. Sy was gewoond aan rehabilitasiepraatjies. Mense met te veel tyd en te min om te doen, fantaseer dikwels oor lawwe goed.
Bo het opgestaan en oor die toonbank na haar gekyk. “Ons kan iemand namens jou ook regsien. Het jy ’n eertydse mansvriend vir wie jy moeg is? Dalk jou ma?”
“Nee, dankie, ek sit en fantaseer nie oor moorde nie. En die feit dat julle dit doen, wys vir my julle het baie meer as twaalf weke nodig om sulke gedagtes uit julle koppe te kry.”
Toe sy daardie aand huis toe is, het sy gedink dit was bloot ’n siek grap.
Maar dalk was dit nie. Devon is regtig dood. En Emily weet te veel.
Emily klap haar rekenaar toe, asof dit ’n einde aan die situasie kan maak.
Sê nou Bo en Carter het van lawwe grappe oorgegaan na werklike planne om hulle vroue te vermoor? En sê nou hulle was verantwoordelik vir vanoggend se bom? Sy is waarskynlik die enigste mens wat hulle met die misdade kan verbind. Dit klink redelik dat, as hulle werklik hierdie misdade gaan pleeg, hulle sal wil seker maak dat sy niks kan sê nie.
Ja, dit klink alles redelik. Dit kan nie toeval wees dat ’n vreemdeling Bo se vrou vermoor het op presies dieselfde dag dat ’n bom onder Emily se motor geplant is nie. Sy draai haar hare om haar vinger.
Wat van Carter se vrou? Waar woon hulle? Sy probeer dink. Sy het sy vrou een of twee keer gesien. Sy het van Birmingham gekom om vir hom te kom kuier. Emily maak haar rekenaar oop en google Birmingham se koerant. Sy roep die doodsberigte op. Sy tik Carter se van, Price, in die soekblokkie. Daar is geen resultaat nie.
Dit kan te gou wees. Sy gaan na die tuisblad en lees deur die lys artikels wat vandag geplaas is. Daar is niks omtrent ’n vrou wat in Birmingham vermoor is nie. Dalk leef sy nog.
Vrees pak haar beet. Carter se vrou is in gevaar.
Sy gryp haar foon en skakel 911. Toe druk sy dit dood. Wat sal die polisie doen as sy hulle daarvan vertel? Dis buite Atlanta se jurisdiksie. Een van die misdade het nog nie plaasgevind nie. Hoe kan sy dit bewys?
Kent! Sy sal hom daarvan vertel.
“Emily?” Die stem van die meisie agter haar laat haar skrik en toe sy opkyk, sien sy ’n vriendin wat in haar algebraklas is. “Is jy oukei?”
“Ja, ek het net sit en werk.”
“Ek wou jou nie laat skrik nie. Jy lyk nie goed nie.”
Sy besef skielik dat haar gesig sopnat gesweet is. “Ek makeer niks. Dit is net ’n bietjie warm hier binne.”
“Vir my voel dit koud. Hulle moet ’n fortuin aan lugversorging bestee.”
Emily kyk die meisie agterna toe sy wegstap. Toe kyk sy op haar horlosie. Die toets begin oor ’n uur. Wat kan sy doen? Sy moet iemand van die moordsameswering vertel. Sy kan dit nie net los nie.
Sy haal haar foon uit en skakel Kent se nommer. Sy kry net sy stempos. Sy oorweeg dit om ’n boodskap te laat, maar alles klink te bisar. Sy sal wag tot sy hom in die hande kry en kan verduidelik.
Sy gaan gou terug na Facebook en soek Carter se bladsy. Sy kry sy vrou se naam, Cassandra, maar daar is geen telefoonnommer of adres