Ondergang. Terri Blackstock
was waarskynlik aan die slaap toe sy geskiet is en het niks daarvan geweet nie.
Dit was ten minste vinnig verby en die moordenaar het niks aan die kinders gedoen nie.
Hy haal sy kamera uit en neem ’n paar foto’s. Die tegniese ondersoekspan sal die ware misdaadtoneelfoto’s neem, maar Kent hou daarvan om sy eie foto’s te neem, net om seker te maak dat niks tydens die ondersoek verskuif word nie.
Hy hoor Andy se stem waar hy met die polisiebeampte by die deur na die motorafdak praat. Kent kyk na die polisieman naby hom wat effens wegstaan en steeds ontsteld lyk. “Wat weet ons van haar man?”
“Die buurvrou sê hy het ’n dwelmprobleem. Hy het al rehabilitasie ondergaan. Daar is ’n geskiedenis van mishandeling, maar daar is nooit ’n klag by die polisie gelê nie. Hy is onlangs voorwaardelik vrygelaat ná ’n dwelmklag.”
Die man het dus die agtergrond en ingesteldheid om so iets te kon gedoen het.
Andy kom staan in die deur en kyk in. “Môre, ouens.”
Kent knik vir hom en praat dan weer met die polisieman. “Het die buurvrou die skoot gehoor?”
“Nee, sy sê sy het niks gehoor totdat die kind aan haar deur kom klop het nie.”
Hy stel hom voor hoe die vierjarige kind oor die werf gehardloop het om vir haar ma hulp te soek. Sy maag trek op ’n knop. ’n Pa sal tog seker nie die ma vermoor en los sodat sy kind op haar moet afkom nie? Maar wie kan sê waartoe hy in staat sal wees as hy onder die invloed van dwelms is?
“Andy, kom ons gaan praat met die buurvrou. Daarna kan ons hoor wat die man te sê het. Hy is veronderstel om by die werk te wees en is nog nie in kennis gestel nie.”
“Dink jy hy weet reeds?”
“Kan wees.” Hy haal sy foon in die loop uit en skakel die polisiekantoor se nommer. Hy vra ’n sersant om die man ‒ William Lawrence, ook bekend as Bo ‒ se misdaadagtergrond na te slaan en per e-pos aan te stuur. Hy sal probeer om die lêer op sy slimfoon oop te maak.
Hulle stap na die lendelam huis langsaan en klop aan die deur. ’n Klein vroutjie van omtrent sestig maak oop.
“Me. Prentiss?”
“Ja,” sê sy.
Haar oë is rooi en opgeswel en haar neus is ook bloedrooi. Sy het klaarblyklik ’n moeilike tydjie deurgemaak. “Ek is speurder Kent Harlan van Atlanta se moordafdeling. Dis my spanmaat, Andy Joiner. Kan ons inkom om met jou te praat?”
“Ja, maar moet asseblief nie die kinders ontstel nie,” sê sy met ’n gedempte stem. “Ek het hulle iets te ete gegee en hulle gekalmeer.”
Kent stap in. Die dogtertjie sit by die tafel en krabbel op ’n stuk papier. Die baba sit op die vloer en speel met plastiekblokkies.
Milly gaan tel die kleintjie op. “Die arme dingetjie het verskriklik gehuil,’ sê sy sag.
Die dogtertjie het nog steeds die kamerjas met bebloede moue aan en haar voete is kaal. “Ek moet met die kind praat,” fluister hy vir Milly.
Sy lyk ongelukkig, maar knik.
Hy gaan na die tafel en trek ’n stoel uit. “Hallo,” sê hy.
Die dogtertjie kyk met gevoelvolle oë na hom op toe hy gaan sit. Daar is ’n slymkors onder haar neus. “Hallo,” sê sy.
“Ek is Kent. Wat is jou naam?”
“Allie.”
“Allie, kan jy vir my vertel wat gebeur het toe jy vanoggend wakker geword het?”
Haar onderlip bewe en daar kom trane in haar oë. “Mamma is dood.”
“Het jy ’n geraas gehoor.”
“Nee.”
“Het jy haar met iemand hoor praat? Het jy enigiemand in die huis gesien?”
“Nee. Sy wou nie praat nie, want sy wou nie wakker word nie.”
“Jy het nie ’n harde geluid gehoor nie?”
Sy frons terwyl sy dink. “Ek het gedroom van ’n harde geluid.”
“Het jy dit gedroom?” vra Kent. “Het dit jou wakker gemaak?”
“Ek weet nie.”
Dis nie maklik nie. Die kind het waarskynlik die skoot in haar slaap gehoor, maar nie heeltemal wakker geword nie.
“Wat het jou laat opstaan?”
“Carrie wat huil.”
“Niks anders nie?”
Sy skud weer haar kop en gaan voort met haar tekening.
Kent probeer weer. “Allie, het jy Carrie kort ná die harde geluid hoor huil?”
“Nee,” sê sy. “Die harde geluid was ’n droom, maar die huil was regtig. Dit was later.”
Hy sal meer weet nadat die mediese ondersoek die sterftyd bepaal het. Hy kyk op na me. Prentiss. “Het u ’n skoot hoor afgaan?”
“Nee, maar ek ly aan slaap-apnee. Ek slaap met ’n toestel wat ’n geluid maak. Ek slaap taamlik vas. Ek het pas opgestaan toe Allie kom klop het.”
“Wat kan jy ons van mnr. Lawrence vertel?”
“Ek hou nie juis van hom nie,” sê sy gedemp. “Hy het ’n probleem met kokaïen gehad. Hy is ’n paar maande gelede in hegtenis geneem en was ’n rukkie in die tronk. Toe het hulle hom laat uitkom vir rehabilitasie. Dit was net ’n paar maande gelede.”
“Het hy al weer begin om kokaïen te gebruik?”
“Nie sover ek weet nie. Devon het vir my gesê dit gaan goed. Dat hy nugter bly en elke aand gaan werk. Sy het gesê hy was die afgelope tyd nog nie weer gemeen teenoor haar nie.”
Die ander polisiebeampte het van gesinsgeweld gepraat. Hy het die inligting seker by haar gekry. “Gemeen op watter manier?”
“Ek kon hom partykeer hoor skree. ’n Paar keer het ek kneusplekke gesien. Hy het eenkeer haar neus gebreek, maar selfs toe wou sy nie polisie toe gaan nie. Sy het hulle uiteindelik gebel toe sy op ’n groot klomp kokaïen in haar huis afgekom het en die baba dit byna in die hande gekry het. Dit het haar kwaad genoeg gemaak om hom aan te gee. Dis toe hy gearresteer is.”
Kent en Andy kyk na mekaar. As die vrou verantwoordelik was vir sy tyd in die tronk en voorwaardelike vrylating, het hy dalk laas nag wraak geneem. “Waar werk hy?”
“By daardie deurnagwinkel by die Exxon-vulstasie. Die naam is JR’s 24/7.”
Kent hoop hulle sal meer uitvind deur met die man te praat en sy reaksie op sy vrou se dood te sien.
“Dink julle hierdie moordenaar kan dalk terugkom?” vra sy. “Ek bly alleen en ek is op my senuwees.”
“Ons kan nie sê nie. Maar ons gaan ons bes doen om hom te vang.”
“Maar hoe het die man ingekom? Dink julle dit was Bo?” fluister sy terwyl sy na Allie kyk om seker te maak sy hoor nie.
Kent antwoord haar nie. “Ons volg alle leidrade op, maar het nog geen antwoorde nie.”
“Wat moet ek nou met die kinders maak? Ek moet Allie skoon aantrek, maar ek kan nie daar ingaan om haar klere te kry nie.”
“Ons sal iets kry wat sy kan aantrek en iemand laat kom wat na hulle kan omsien totdat ons ’n familielid kan kry wat hulle sal kom oplaai.”
“Toemaar, dis nie nodig nie. Hulle ken my. Ek pas hulle dikwels op. Ek sal hulle hier hou totdat hulle pa of ouma kan kom.” Sy bars in trane uit en druk haar gesig in haar hande. “Dis so verskriklik. Arme Devon.”
Hy weerstaan die drang om haar te troos, maar hoop iemand sal dit doen. Toe hy en Andy uitgaan, hoor hy hoe sy haar deur toesluit.