Asbesmiddag. Etienne van Heerden
besluit die skrywer om sy volgende weeklikse besoek te laat vaar.
Maar hy kan nie nalaat om ’n week later plek in te neem by ’n kafeetafeltjie digby die sentrum nie. Dis die dag waarop die swart Mercedes normaalweg met die straat afgegly kom, verby die blommestalletjie en die munisipale parkeerarea, sy weg versigtig aan die baan om nie ’n haastige student of ’n winkelganger om te ry nie.
Die skrywer dra sy donkerbril, omdat hy bang is dat die Doktor hom dalk kan eien waar hy hom sit en dophou. As skrywer had hy sy ervaringe, en hy is oortuig daarvan dat die ou heer in sy lang loopbaan, van plattelandse seun tot wêreldburger, veel meer ervaringe gehad het. Daar is baie mense wat afgunstig is op hul plekkie in die skaduwee, en daar is nog meer wat opsuiker na mense soos hy, die skrywer, en die Doktor, die magnaat – niksnutte met planne van hul eie.
Vir iemand wat in die sleurstroom van soveel publisiteit werk aan sy skaarsheidswaarde, is hierdie uitgestalde posisie by ’n sypaadjietafel natuurlik geen goeie idee nie. Maar die skrywer kan goed sien van waar hy sit: die sentrum; die parkeerplek waar die Benz altyd ingly; die donker gleuf onder die gebou na Giuseppe se salon.
Oor die Doktor en sy verhoudinge met mense sleur die gety eweneens die bamboeskoppe heen en weer. Eenkeer het ’n man veel ouer as die skrywer, ’n kêrel wat sy beroepslewe in diens van die Doktor geslyt het (in sy eie woorde: “nie as werker nie, maar as volgeling, want so is die Doktor maar”), hom vertel dat die magnaat se indiensnemingspraktyke lojaliste lewenslank aan hom gebind het. Hy’t naamlik vroeg in sy loopbaan ’n gewoonte daarvan gemaak om erg talentvolle mense te huur wat dit nie op universiteit kon maak nie. Ingebind by dié man wat hulle ná mislukking in die vormingsjare ’n kans gegee het, het hulle hulself lewenslank probeer bewys.
Die skrywer het dadelik die werkswyse van die romansier herken. Hy het besef dat die Doktor ’n oog had vir die dinge wat die mens knel en beweeg, vir die masjinerie van skatpligtigheid en mag. Neem ’n skrander man wat in sy jeug misluk, gee hom verantwoordelikheid, ’n goeie pos, ’n titel, en die verhaal begin ontvou: hy is tot aan die einde van sy dae jou slaaf.
Jy is die werkwoord in sy lewe.
Dáár lê storie, het hy gedink, terwyl die ouer man bitter gekonstateer het dat niks onder groot bome groei nie. Had die voormalige lojalis die Doktor lief, of haat hy hom? Die skrywer kon sien dat die man self nie weet nie.
Hy sit hier by die tafeltjie op die Donderdagmiddag, en hy dink aan die Doktor wat beroemd is daarvoor dat hy steeds daagliks sy weg vind na sy kantoor, al is hy diep in die tagtig en al ly hy aan allerlei mankemente. Hy het nog dieselfde kantoor wat hy al die jare gehad het, al het sy empire oor die hele aardbol uitgewaaier. Hy is ’n diskrete, omsigtige man.
Onder die skrywer se blik kom die swart sedan met sy gerookte vensters statig die straat af en stop voor die sentrum. Nadat hy geparkeer het, help die chauffeur die Doktor om uit te klim. Die ou man is krom van die rumatiek en kom met moeite uit die sitplek regop. Stadig word hy oor die straat na die ingang gelei. Die man wat eens lang treë in die gange van mag gegee het, die lieflingseun van die Karoo wat later prinse en sjeiks bevriend het, skuifel geboë aan die arm van ’n chauffeur na ’n armoedige salonnetjie waarvan min mense in hierdie statusbewuste dorp weet.
Onbewus daarvan dat ook hy dopgehou word, sit die skrywer diep ingedagte. Nes ek, dink hy, is die Doktor ook die knoper van verhaaltoue; ’n intrigant. Hy vleg storielyne. Ook hy het karakters sy gemoed sien instap en hulle gegryp om sy groot verhaal op die doek van die wêreld te skrywe. Nes hy weet geen romansier wat die slot van sy verhaal gaan wees nie. Jy weet net dat die magte wat jou karakters dryf, seker is van hul rigting. Hulle sal jou lei na ’n konklusie, ’n knal, na Joyce se epifanie – die oomblik van klaarheid en begrip waarin alles sal terugkaats en jy, soos Nadine Gordimer gesê het, in die flits van die lig sien.
En mag ek byvoeg: en jy nog blinder word, dink die skrywer.
Hoe sal die Doktor se verhaal eindig? En myne?
Diep sit hy en tob. Waarna is hy op soek?
Vir ’n gereelde kliënt om ’n week van Giuseppe se salon weg te bly, is ’n daad van hoogverraad. Dit het in al die jare net een keer gebeur dat die skrywer, afgesien van wanneer hy op reis was, ’n week in onthouding was. Om egter nou weg te bly sonder vooraf waarskuwing, sal groot ontsteltenis in die salon veroorsaak.
Hy is natuurlik ’n hand aan die speel, omdat hy ál meer oortuig is daarvan dat die Sisiliaan se opmerking ’n dolksteek was. Dit was volkome onverwags. Die enigste wraak waaraan die skrywer kan dink, is om bloot weg te bly.
Hy sien homself nie as afgehaal en nors nie. Eerder afstandelik.
Hy slaan die laaste teug koffie weg en haas hom van sy toneel van skaamte. Iemand wat hy nie ken nie maar wat die uitdrukking van ’n leser op die gesig het, staar hom agterna. Hy gee langer treë.
Niemand hoef hom te vertel dat dit wat hy doen, verkeerd is nie. Maar soos so dikwels in die verlede swig hy voor voyeurisme, die kanker van die skrywer se siel. Hierdie keer voel hy egter werklik skuldig, want hy is gewikkel in – so vermoed hy – ’n daad van wraakuitoefening.
U sien, sy vader, wat lank gelede in treurige omstandighede die lewe gelaat het, het die Doktor geken, én had ’n lewenslange hekel aan hom. Hy het die Doktor geblameer vir iets wat baie jare gelede gebeur het, in die tyd toe die Doktor sy eerste asbesmyn laat grawe het.
Dit wat die skrywer nou doen, het ’n Italiaanse geur en is veels te Mafia-agtig. Dit gaan oor familievernedering. En as oudste seun van die vernederde ervaar hy – en dis wat hom onkant betrap – die kompulsie om bloed te sien.
2 Die vuurspuwer
Uiteindelik is hy weer aan die skryf. Die ontmoeting met die magnaat het hom aangevuur.
Die beeld waarmee sy vorige roman geëindig het, is die een waarmee hy nou vinnig en laag oor die landskap beweeg: hy is die eensame man wat hoed op die kop in ’n warmlugballon oor Afrika skuif.
Dis ’n massiewe ballon, en troppe wild galop voor die blaasvlam uit. As die man met die swart hoed en die stofbril die tou trek, blaas die gasbrander soos ’n draak en styg die ballon groots bo die landskap uit. Net om weer rustig te dryf en dan stadig, met uitlate van wind, te daal. Die wild weet nie of hulle weghardloop vir die verskynsel in die lug of vir die skaduwee wat oor die vlakte jaag nie.
Die kameelperde galop pragtig, effens lomp so vanuit die hoogte gesien. Hul lang nekke beur en kneukels been werk in hul massiewe skouers. Vlekke glip oor die velle; onder die kolle kan jy die spiere sien span soos hulle uithaal. Met trompetterende slurpe en ore en sterte alarmisties gelig, draf olifante komieklik, stormend dwarsdeur doringbome en deur driwwe, sodat stof opslaan en ’n kalfie uitasem probeer byhou.
Maar die mooiste is die springbokke, wat uitgelate en rats, asof hulle die petalje meer geniet as wat hulle dit vrees, oor die vlakte uitsprei en uitskiet bo bossies. Met lang hale waaier hulle oor die bult, pronkend en witstert in die skuins lig van die son wat die grasvelde versilwer.
Só het sy vorige roman geëindig: die sirkuseienaar wat, nadat voorhakers en suwwe ou trekkers jare lank trokke van die een dorpie na die ander gesleep het, besluit om boedel oor te gee. Op die breë vlakte van die plaas uit die skrywer se kinderjare parkeer die sirkuseienaar en die ringmeester die trokke in ’n lang ry. Soos die huid van ’n groot dier wat vervel en toe verdwyn het, druip die lugballon oor die gras. Een ná die ander gooi die ringmeester die luike oop terwyl die sirkuseienaar, ’n sigaar aan ’t rook in ’n opvoustoel, toekyk.
Terwyl die ballon stadig uitswel, toets die wilde diere hul nuwe vryheid. Sommige wil uit vrees nie die hok verlaat nie. Maar toe die ape kwetterend uitbaljaar en die takke inswaai en die eerste rooikat wegglip asof hy geroep word, reeds onsigbaar in die rooigras, struikel-val die eerste kameelperd na buite. Sy bene is te lank, die oopte om hom te groot. Sy koppie sit vraend op sy nek. Dan volg die olifante, slurpe ondersoekend voor hulle. Suutjies volg die twee kwaggas op wie se rûe die narre toertjies uitgevoer het. Die mak meerkatjies, nou sonder hul gek kadotjies en strikdassies, volg die rooikat skelm en stil.
Toe al die diere uit