Brigadier en die raaiselponie. Marga Jonker

Brigadier en die raaiselponie - Marga Jonker


Скачать книгу
net, meisies, en jy ook, Mister Boyfriend: as dit uitkom, as iemand my vra,” – Ben kyk stip na Alexandra – “byvoorbeeld julle strenge moeder, dan gaan ek nie jok nie. Ek gaan net sê julle het saam besluit om ’n skoolpel van julle by ’n garage op te laai.”

      “Cool dit, Dad,” sê Alexandra. “Ma en Marius speel lekker ouetehuis-ouetehuis in Melkbos. Wat hulle nie van weet nie, kan hulle nie pla nie.”

      “Jinx, is jy nou uitgesorteer vir ’n lift?” roep Jinx se broer van die CitiGolf af.

      Jinx wys vir die motor vol studente met sy duim na bo. Sy broer en sy pelle hang by die Golfie se venster uit en gee lang wolffluite vir Jinx en Alexandra toe hulle verbyry.

      “Check julle later in Jeffreys!” skree Jinx agterna.

      Ben pak Jinx se rugsak by die bagasie agter in die Land Rover. Dan neem hy Jinx se kitaar en soek ’n plek daarvoor.

      “Oppas net vir Lola,” sê Jinx.

      “Lola?” vra Ben.

      “Ja, Oom, my kitaar. Haar naam is Lola.”

      5

      Valeria

      Die N2 is besig. Dit lyk of die helfte van Kaapstad se inwoners op reis is in die rigting van Knysna en Plettenbergbaai. Teen vyfuur die middag bliep die GPS en hulle draai af op ’n grondpad wat tussen groot bome deur ’n bos binnekronkel. Die perdesleepwa rem en ruk bietjie met die afdraai, maar die grondpad is in ’n goeie toestand en die Land Rover sleep vir Briggs in sy wa moeiteloos verder.

      Die ongelyk grondpad se geskud laat Alexandra regop sit. Vandat hulle buite George langs die pad middagete geëet het, lê sy met haar kop op Jinx se skoot en slaap op die agtersitplek.

      “Aaa! Ieeek!” skril sy. Zahn ruk orent voor in die Land Rover langs Ben waar sy rustig musiek op haar iPod ­luister.

      “Kyk! Ons is uit die beskawing uit!” Alexandra loer na die bome weerskante van die pad. “Waar is die teerpad, waar is die winkels?”

      Jinx grinnik. “Toemaar, Puffy, die teerpad met baie motors en baie surfboards is net hier agter ons.”

      “Plett is net om die draai en daar is dit nooit heeltemal stil nie,” verseker Ben haar.

      “Ja, Puffs, Plett, plek van die Matriek rave, is net hier naby,” beaam Jinx.

      “Wel, ek sien net bosse en bome en ’n plaaspad! Waarheen gaan ons nou eintlik?” Alexandra sit meerkatregop, haar oë soekend na nie-natuur-avontuurtekens. “Dit lyk nie vir my na mý soort omgewing nie. Hierdie bome is te hoog, en kyk net hierdie flippen grillerige plante met die gekrulde blare!”

      Zahn begin die padtekens en die GPS dophou en hoop net hulle is al byna by hulle gastehuis. Sy ken vir Alexandra. Haar geduld is na aan op as haar stem so be­­gin klim.

      “Ek weet ook nie presies waarheen ons gaan nie. Ek weet net dit is ’n gasteplaas naby Plett en mens moet hier van die grootpad afdraai. Val het vir ons die koördinate gegee. Kyk, volgens die GPS is ons nou amper daar.” Ben wys na die geruite swart-en-wit vlaggie in die middel van ’n groot groen gekleurde deel op die kaart wat die eindbestemming op die GPS se skerm aantoon.

      “Harkerville Forest. Harkerville-bos,” lees Jinx die naam­­bord.“Jonathan Harker was die agent wat vir Dracula doodgemaak het in die eerste Dracula movie van 1931,” sê hy opgewonde. Hy is ’n groot aanhanger van vampier­flieks en -boeke.

      “Ja, die fliek is in 1992 oorgedoen as Bram Stoker’s Dracula. Dit was klassiek,” sê Ben.

      “Marius sal nooit weet van só iets nie.” Alexandra is beïndruk met Ben en Jinx wat nou al ‘n paar keer vandag lekker oor flieks en musiek gesels het.

      Zahn is verlig dat Jinx en Ben oor iets praat wat Alex­andra interesseer. Sy is self moeg en jammer vir arme Briggs wat nou al heeldag in die sleepwa is. Sy is nie nou lus om haar oor Alexandra se moontlike woedebuie te bekommer nie, want as hulle by hulle bestemming aan­kom gaan sy dadelik vir Briggs moet versorg.

      Die pad kronkel vir nog kilometers die woud binne. Die bome is hoog en die boomvarings groei dig onder die bome. Hulle ry by verskeie handgemaakte padtekens en kunstige pleknaamborde verby wat wys na afdraaipaadjies wat in die bos wegkronkel.

      “Toorboshuisie is hier af.” Ben wys na die houtbordjie wat ’n afdraai na regs aandui.

      “Blouskoenlapperboshuisie,” lees Zahn die volgende bordjie wat ’n weggesteekte paadjie aandui. Pragtige blou houtskoenlappers hang aan toutjies van ’n boom af. Twee fietsryers kom stadig uit die bospaadjie aangery en waai vriendelik.

      “Nee, dit is nog nie die regte plek nie. Die naam is Nag­uilbos of Nagbos.” Ben tik op die GPS se skerm.

      “Soetwater Gasteplaas,” lees Jinx die naam op die volgende bordjie.

      “Welkom in Harkerville Village. Hier moet ons seker nou uitkyk vir Dracula,” sug Alexandra. “Nou waar is die dorpie? Sien julle ’n village?”

      Die pad word breër en hulle ry verby ’n koffiewinkel en padstal. By ’n kantooragtige gebou, die Harkerville Bosboustasie, staan daar 4x4-bakkies geparkeer, en ’n hele paar bergfietse.

      “Lyk my fietsry is die inding hier,” sê Jinx.

      “’n Bosboustasie, ’n winkeltjie en fietsryers. Dad, ek raak al hoe meer benoud oor die gastehuis wat jou girlfriend vir ons gekry het,” merk Alexandra op toe hulle oomblikke later deur die dorpie is.

      “Wel, jou ma het gesê julle mag nie buite die Wes-Kaap gaan kuier nie, en jy wou so ver as moontlik van Melkbos af wegkom. Dit was die beste wat Val kon doen om jou én jou ma gelukkig te hou,” sê Ben.

      “Die GPS wys ons is nou baie naby,” sê Zahn. Sy raak haastig om Briggs te laat spiere rek.

      Die pad raak weer smaller en Ben moet baie stadig ry. Die grondpaadjie kronkel steeds dieper die bosgebied bin­ne. Dit voel nimmereindigend. Die bome staan nou tot op die soom van die pad; varingtakke skuur teen die sleepwa se kante. Dit is sterk skemer toe twee wit hekpilare sonder waarskuwing reg voor hulle in die pad verskyn.

      Ben trap rem en bring die voertuig tot stilstand voor die swart gietysterhekke. Groot draaduile met gloeiende geel glasoë versier die hek.

      “Is ons hier?” vra Alexandra.

      “Kunstige uile,” merk Ben op.

      “Ieeek! Kyk, hulle oë gloei, hulle het fluorescent pie­ring-oë.” Alexandra vou haar arms koulik om haar lyf.

      “Naglopersbos,” lees Zahn die sierskrifletters teen die wit muur.

      “Vreemd, julle – spokerig,” ril Alexandra.

      Jinx knik. “Weird.”

      Agter die hekke strek ’n landgoed met verskillende hui­se en geboue voor hulle uit. Die bos se bome lyk vir Zahn soos ’n groen tsoenami wat teen die landgoed aan­spoel. Die hekke gly stadig voor hulle oop. Waar die pad vurk, dui ’n bordjie na links aan: Gastehuis/Stalle; die paadjie wat na regs draai, is Kruiedokter gemerk. Hulle volg die paadjie in die rigting van die perdekamp en stalle.Voor ’n houthuis met groot glasvensters staan ’n rooi sportmotor geparkeer.

      ’n Meisie met los swart krulhare hardloop hulle tegemoet. Sy dra ’n swart laehalstoppie, ’n styfpassende swart spanbroek en ’n vloeiende rooi jas waarvan die lang gepunte voorpante om haar wapper. Die jas pas by haar bloedrooi hoë platformskoene.

      “Joehoe! Bee, my luvvie, jy is hier!” Sy lag uitbundig. Twee handsakgrootte Yorkie-hondjies bons kort op haar hakke saam. Die Land Rover se wiele het skaars tot stilstand gekom, toe ruk sy Ben se deur oop. Sy gooi haar arms om sy nek en sleep hom omtrent by die Land Rover se deur uit. ’n Geweldig passievolle soen volg, met die hondjies al springend en blaffend tussenin. So dit is dan Val, dink Zahn.

      “Sjoe, julle bio-pappie het nie oordryf toe hy gesê het sy is heelwat jonger


Скачать книгу