Bid vir jou ongebore baba. Janlu Kuyler

Bid vir jou ongebore baba - Janlu Kuyler


Скачать книгу

      

      Bid vir jou ongebore baba

      JANLU KUYLER

       MARLENA DU TOIT

      Lux Verbi

      Die uitleg van tabelle in hierdie digitale uitgawe van Bid vir jou ongebore baba mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die tabelle.

      Opgedra aan my twee pragtige dogters,

      Zanné en Ammike. Ek en Mamma is oneindig lief vir julle en ons bid steeds elke dag dat Jesus Homself aan julle sal openbaar!

      – Janlu

      Opgedra aan Pierre en Martie du Toit –

      my ouers soos deur God bepaal, vir al die kanse in die lewe wat julle my gegee het.

      – Marlena

      Voorwoord

      Dié van julle wat al my en Retief Burger se liedjie “In verwondering” gehoor het, sal weet ek is oorstelp deur die wete dat God stééds aan die skep is. Ek kon ademloos deur ’n teleskoop by Sutherland sien hoe die Here elke dag nuwe sterre en sterrestelsels skep. Maar jy hoef nie deur ’n teleskoop te kyk om dit te beleef nie. As jy ’n verwagtende ma of pa is, skep die Here voor jou oë ’n nuwe lewe. Jy sal kan beleef hoe God sy asem met ons DNS verweef. Dit is geheimsinnig, wonderlik en Goddelik. Wat ’n voorreg om dit in jou eie huis te kan beleef … én om ’n boek te hê wat jou sal help om die regte perspektief hierop te behou.

      Janlu en Marlena se boek is ’n viering van die waarheid dat God vanaf die vorming van die heel eerste sel in beheer van hierdie proses is en dat Hy ons by die skepping van ons kinders wil betrek. Wat ’n groot openbaring met verreikende implikasies: Ons betrokkenheid hou nie by bevrugting op nie, maar begin eers daar! Wanneer jy hierdie boek se uitnodiging aanvaar, word jy deur jou gebede God se vennoot in die skepping van jou baba. Jy gebruik eintlik God se Woord as ’n stuk gereedskap in die vorming van jou kind se liggaam, siel en gees. Dit is jou eerste groot taak as ouer, en waarskynlik jou heel belangrikste taak.

      Ek is versot op die besonderhede in hierdie boek. Marlena en Janlu hou vir ons ’n teleskoop op voor die konstruksie van ’n nuwe lewe. Die besonderhede wat ons kan sien, laat ons besef hoe groot die wonderwerk is wat elke dag tydens ’n swangerskap gebeur. Dit is so waardevol om te kan weet wat God hiérdie week in die baarmoeder skep en hoe ons deur ons gebede daarby betrokke kan wees. Hierdie boek is ’n bundel vol wetenskap, wysheid, Woord en gebedsvoorstelle wat in my oë belangriker is as enige voorgeboorteklasse. (Hoe om reg asem te haal, te “puuuush” en die videokamera reg vas te hou, het vir meeste nuwe ouers die kern van hulle opleiding geword. Hoe hartseer!) Hierdie boek is ’n skerp wapen in die hande van Geesvervulde, parate nuwe ouers!

      Ek wens ek het so ’n boek tydens my en Hettie se vier swangerskappe gehad. Ek was ’n tipiese oningeligte jong pa wat maar net gebid het dat ons baba “normaal” sou wees, dat die kraamproses goed sou afloop, dat ons huwelik al 15 trimesters sou oorleef (ja, dit voel later of daar 15 is en nie net 3 nie) en dat ons die regte naam vir die nuweling sou kies. As dit is hoe jy bid, bid jy nie veel nie! Waarvoor moet jy dan bid? En hoe? Janlu en Marlena se boek beantwoord hierdie vrae. Jy sal presies weet waarvoor om te bid – en hoe! As ’n man en pa besef ek hoe waardevol dit vir Hettie sou gewees het as ek op hierdie manier elke week deel van haar swangerskappe kon wees. Hoe wonderlik sou dit gewees het as die baba wat in haar baarmoeder gegroei het, geestelik deur ons albei – saam! – in die wêreld gebring sou word.

      Geniet daarom hierdie openbaringskennis en die persoonlike getuienisse wat wetenskap en wysheid aanmekaarweef. Gebruik die Bybelgedeeltes en gebede wat die skrywers voorstel. Dit maak jou taak maklik en lekker … en vul dit met verwondering. Dit is nie genoeg om maar net te weet God is besig om in julle huis ’n unieke lewe na sy beeld te vorm nie. Wees deel daarvan, gebruik die woordeskat wat hierdie boek vir jou bied en bid vir jou ongebore baba.

      LOUIS BRITTZ

      Inleiding

      Met my vrou se eerste swangerskap het ek diep daarvan bewus geword dat God op ’n besonderse manier by die vorming van ons ongebore baba betrokke is. Terwyl ek die wetenskaplike feite gelees het oor hoe bevrugting plaasvind en hoe ons engeltjie elke dag groei, was ek volkome in verwondering oor God se grootsheid! Toe reeds is die saad vir hierdie boek gesaai.

      Ek wou so graag elke dag inkyk op ons babatjie se ontwikkeling, saam met haar groei en gereed wees vir die nuwe lewe waarvoor God haar sou vorm. Die beste manier om dit te doen, het die Heilige Gees my geleer, was om eenvoudig saam met Hom op reis te gaan deur hierdie fantastiese avontuur wat swangerskap is. Ek en my pragtige vrou, Suzanne, het elke dag die ontwikkeling van ons ongebore baba gevolg en saam met inspirasie uit die Bybel die Here se seën op ons ongebore baba afgebid. Vandag is Zanné ’n gesonde en energieke dogtertjie wat ons oneindig baie plesier gee. Dié proses het hom herhaal toe ons met Ammike swanger was. Ook toe het die Heilige Gees ons gelei en geïnspireer om saam te bid vir dié wonderwerkie.

      Toe ek later vir Marlena ontmoet, en haar passie vir haar werk as ginekoloog en verloskundige en haar sensitiwiteit vir God ervaar, het die Here vir my die bevestiging gegee vir ’n bundel soos dié. ’n Gids vir die biologiese naelstring van jou ongebore baba, maar ook ’n gids vir die geestelike naelstring wat reeds gevorm is.

      Wat wil ons met hierdie produk bereik? het ons uitgewer gevra. Die antwoord was eenvoudig: Ons wil ouers in hierdie nege maande van swangerskap help om in te kyk op die wonderwerk van bevrugting en die wonderlike Godswerk wat elke dag met die ongebore baba gebeur. Om elke dag die wonder van God te sien en elke dag wanneer hulle in die baarmoeder “inkyk” God se grootsheid in hulle lyf en in hulle hart te voel. Hoe kan dit anders as dat so ’n proses jou sal voorberei vir jou taak as ouer? Wanneer jy elke dag volg hoe jou kind groei en terselfdertyd die Woord in sy of haar lewe inspreek, kan jy mos nie anders as om gereed te word vir jou taak as ouer nie.

      Ons verwagting is daarom dat jy hierdie gids sal gebruik om elke dag vir jou ongebore baba te bid, maar jou terselfdertyd voor te berei vir ’n leeftyd se gesprekke oor God, vir vrae oor God se aanvaarding en liefde en vir ’n lewensuitkyk wat Jesus aan jou kind voorleef. Robert Ingersoll het reeds in die 1800’s geskryf: “The child is not likely to find a father in God unless he finds something of God in his father.”

      Ons wil jou help om jou geestelike verantwoordelikheid tydens jou ouerskap te ontdek en te aanvaar. Ons wil jou help om ’n ouer te wees wat op ’n geestelike vlak inspreek in jou kind se lewe. Hierdie inspraak, het ek gevind, begin reeds vóór ’n kind se geboorte. Ons wêreld het baie ouers, maar min werklike ma’s en pa’s. Ons bede is dat hierdie boek jou sal help om jou posisie in te neem as ’n ouer wat werklik geestelike inspraak in jou kind se lewe sal hê. Om ook ’n geestelike pa en ma vir jou kind te wees. Dit is so ’n wonderlike voorreg om so vroeg moontlik reeds ’n geestelike pa of ma vir jou kind te wees.

      Reed Markham het geskryf: “The thrill of being a great father is not seeing your children go on to become successful adults. The thrill of a great father, is the journey, experiencing your child’s successes along the pathway to their greatness.” Deur in te kyk op die ontwikkeling van jou ongebore baba is jy reeds deel van hierdie “journey” saam met jou kind. Mencius, die Chinese filosoof, het in die 4de eeu voor Christus geskryf: “The great man is he who does not lose his child’s heart.” Ons verwagting is dat hierdie bundel jou sal help om tydens die swangerskap reeds jou kind se hart vas te hou en jou daartoe te verbind om ’n geestelike ma of pa vir jou kind te wees, met die implikasie dat jy nooit jou kind se hart sal verloor nie. Bud Kelland, ’n Amerikaanse kortverhaalskrywer, het oor sy pa geskryf: “He didn’t tell me how to live … He lived, and let me watch him do it.” Dit is ons begeerte dat jy só aan jou kind verbind sal wees dat jou lewe ’n getuienis teenoor hom of haar sal wees en jy jou kind sal aanmoedig om te leef soos jy leef.

      Verder is ons verwagting dat hierdie boek jou sal help om met God in ’n vennootskap te gaan oor die vorming van ’n nuwe generasie. God doen die werk, ons sien dit raak en verwonder ons daaroor, tree in vir ons kinders, spreek


Скачать книгу