Bid vir jou ongebore baba. Janlu Kuyler

Bid vir jou ongebore baba - Janlu Kuyler


Скачать книгу
kindsbeen af – van voor hulle geboorte reeds – aan God toegewy kan wees, aan God verbind kan wees, sensitief vir God kan wees. Wat ’n groot voorreg om só saam met God te werk, só deel te wees van waarmee Hy besig is, en só die toekoms deur ons onafgebroke en intense gebede te beïnvloed.

      Ons verwagting is daarom ook dat hierdie boek jou sal bemagtig om met gesag in te tree vir die ontwikkeling van jou kind terwyl God besig is om jou ongebore baba aanmekaar te weef. Ons wil jou bemagtig om nou al, voor die geboorte van jou kosbare kleintjie, in te tree vir en in te spreek in sy of haar lewe. Om die Bybelse waarhede en beloftes oor jou kind uit te spreek en dit as waarheid vir sy of haar lewe te erken. Só word jy bemagtig in jou rol as ouer soos God dit van jou verwag.

      As jy hierdie boek lees, is jy óf ’n swanger mamma óf ’n pappa wat so pas gehoor het jou vrou is swanger. Baie geluk! Jy sweef op wolke oor die wete dat jy oor ’n paar maande ’n ma of pa gaan wees.

      Mamma, dalk voel jy naar of omgekrap. Dalk is jy onseker oor watter toertjies jou lyf alles in die volgende nege maande gaan uithaal. Dit is natuurlik om aan die begin van jou swangerskap senuweeagtig te wees. Die wonder is dat God jou lyf juis só ontwerp het dat jy die lewe in jou met gemak kan dra. Stef Bos het hieroor so ’n mooi gedig geskryf:

      Sy is mooier as ooit, stiller, ronder.

      Alleen en twee tegelyk, sy het ’n bestemming gevind.

      Sy dra die lewe in haar, sy dra dit voor haar uit …

      (“Zwanger”, uit: Stef Bos, Gebroken zinne, 2004, Lannoo.)

      Inderdaad het jy ’n bestemming gevind. Jy ervaar iets van vrouwees waarvan jou man waarskynlik niks sal verstaan nie, maar wat vir jou in die volgende nege maande rigting en betekenis sal gee. Dit is ’n tyd waarin jy sal ervaar hoe jou ongebore baba elke dag saam met jou beweeg. Die band wat tussen baba en ma ontwikkel, is een wat geen ander mens ooit sal kan verbreek nie. Dit is ’n Godgegewe band wat niemand ooit van jou sal kan wegneem nie. Nege maande lank sal jy ’n intimiteit met jou baba ervaar voordat jy hom of haar ontmoet. Dit is die voorbereidingstyd van moederskap waartoe God jou geroep het, waarvoor Hy jou geskep het. Dit is jou bestemming.

      Pappa, jy is seker opgewonde, maar terselfdertyd bang. As jou vrou nog nie vreemd begin optree het asof sy skielik van ’n totaal ander planeet kom nie, moet jy jou maar staal. Dit kom beslis! Een van die dae gaan sy nukkerig wees, dalk onredelik teenoor jou optree en – hou maar die snesies byderhand – baie emosioneel reageer. Dit alles maak die wete dat jy oor nege maande ’n babatjie gaan vashou soveel meer werklik. As jy enigsins soos ek is, spring jy nou op en af van vreugde, en wil jy vir elke denkbare mens vertel jy gaan pa word. Jy wil sommer ’n blou én ’n pienk babygrow gaan koop. Well done! Dis al wat ek kan sê. Jy sal vinnig agterkom daar is ’n baie spesiale liefde tussen ’n man en sy swanger vrou. Julle sal gou besef julle is nou in ’n “ons”-situasie. Niemand anders het tot dié situasie bygedra nie, net jy en jou bruid. Die wete dat daar oor nege maande ’n nuwe lewe gebore gaan word, is oorweldigend, om die minste te sê.

      Miskien bekommer jy jou oor geld en hoe jy finansieel vir hierdie kind gaan voorsien. Jy kan altyd na ’n adviseur toe gaan en julle kan saam ’n plan maak. Miskien bekommer jy jou oor watter soort pa jy gaan wees en wat jy vir jou kind kan bied. Gaan kuier by ’n vriend wat reeds ’n pa is en kyk hoe natuurlik dinge gebeur. Ontspan! Dit is ’n wonderlike tyd in jou lewe. Die wete dat jy ’n pa gaan wees, behoort jou net opgewonde te maak.

      Ek moet jou waarsku dat jy dalk in die simptome van jou vrou se swangerskap kan deel. Hulle noem dit die Couvade-sindroom, of simpatie-swangerskap. Sommige mans vereenselwig hulle so intens met hulle swanger vrou dat hulle ook naar en slaperig raak, beenkrampe kry of selfs ’n boepie ontwikkel. Ek onthou hoe ek met albei ons swangerskappe elke middag twaalfuur geweldig moeg geraak en byna elke aand met erge sooibrand gaan slaap het. Dit is ongelooflik watter sterk band ’n man met sy swanger vrou kan hê.

      Die indeling van hierdie bundel volg die wetenskaplike ontwikkeling van jou kind. Daar is drie trimesters, en ons sal elke week die biologiese ontwikkeling van jou kind volg. Hiermee saam begelei ons jou met Bybelgedeeltes wat jy oor jou kind kan afsmeek en oor sy of haar lewe kan spreek. Die doel hiermee is dat jy, namate jy sien waarmee God besig is, kan bid vir hierdie grootse skeppingswerk en God se beloftes oor jou kind kan uitspreek. Ek het in my lewe gesien hoe baie dit vir my beteken het om só in die lewe van my ongebore kind in te spreek.

      My raad aan jou is om ’n joernaal te koop en die Bybelgedeeltes daarin neer te skryf. Jy kan ook aantekeninge maak van die gedagtes wat die Here vanuit hierdie gedeeltes vir jou oopbreek. Skryf in jou joernaal oor jou ervarings vanuit die Bybel. Kry ook vir jou ’n spesiale Bybel, onderstreep die gedeeltes wat jy op jou kind afbid en skryf die datum langsaan neer. Hierdie twee kosbare dokumente lê en wag vir die dag wat ek dit vir Zanné en Ammike kan gee as ’n teken dat hulle pa lank voor hulle geboorte reeds God se goedheid en beloftes oor hulle lewe afgebid het.

      Geniet hierdie avontuur. Laat toe dat God jou elke dag in verwondering laat staan. Groei in jou geloof. Leer ken God as die getroue Vader wat nou reeds jou kind met goedheid en genade omvou. Leer ken die Skrif as God se Woord vir jou én jou kind. Groei saam met jou baba. Laat die Heilige Gees jou geloof vorm sodat jy die pa kan wees wat God in jou sien.

      Een persoonlike opmerking voordat ons begin. Omdat ek vir my twee dogtertjies gebid het terwyl hulle in hulle ma se liggaam gevorm is, is ek baie gemaklik daarmee om in die vroulike vorm te skryf. Ek probeer egter die manlike en vroulike vorm in hierdie boek afwissel. Pas asseblief die geslag by jou kind se geslag aan wanneer jy vir hom of haar bid.

      Die inspirasie vir hierdie bundel het gespruit uit my vrou se swangerskappe met ons twee pragtige dogters. Die Bybelgedeeltes wat in hierdie boek opgeneem is, is gedeeltes wat ek self op my dogters afgebid het. Daar is natuurlik ’n magdom ander Bybelgedeeltes wat jy ook kan bid. Ons moedig jou daarom aan om in jou joernaal nog gedeeltes neer te skryf wat jy op jou ongebore kind wil afbid. Vra die Gees van God om jou te lei in die keuse van tekste wat jy wil bid.

      Ons wil spesiaal dankie sê vir die lesers van Baba & Kleuter wat hulle ware verhale van praktiese gebed op Baba & Kleuter se Facebook-blad met ons gedeel het. Alle eer aan die Here vir julle kosbare kinders!

      Nou begin jou journey. Geniet dit!

      JANLU EN MARLENA

      Hoe om hierdie boek gebruik

      Gebruik hierdie boek as ’n gids om in die eerste paar weke van die swangerskap baie spesifiek vir jou ongebore baba se vorming te bid. Terwyl jy die Bybelgedeeltes bid, sien die onsigbare naelstring wat reeds sterk tussen God en baba gevorm is. Deur hierdie gedeeltes kan jy deel word van die proses om te sien hoe God jou kind laat ontwikkel. Daarom is ’n swangerskap nie net ’n biologiese reis nie, maar ook ’n geestelike reis. Ons beleef die biologiese ontwikkeling (dankie vir jou kennis hieroor, Marlena), maar is ook bewus van die emosionele en geestelike ontwikkeling van ons ongebore kind. Mag jy in die eerste trimester (en ook daarna!) werklik ervaar hoe God jou laat inkyk op die vorming van jou ongebore baba en jou toelaat om ’n vennoot daarin te word deur saam te bid vir sy of haar vorming.

      Gebruik die gebede slegs as ’n riglyn en skryf dan ook jou eie gebede in jou gebedsjoernaal. Onthou om die Bybelgedeeltes in ’n spesiale Bybel te onderstreep sodat jy dit eendag vir jou kind kan gee. Vra die Here om ook ander Bybelgedeeltes wat jy op jou kind kan afbid vir jou uit te lig.

      Die idee met hierdie gids is dat jy werklik in verwondering sal staan voor hoe groot God is, hoe goed God jou kindjie stukkie vir stukkie vorm en hoe lief Hy jou kind reeds het. Jy sal sien ons fokus op die biologiese én geestelike ontwikkeling van jou kind. Met die beskrywing van die biologiese ontwikkeling verduidelik Marlena hoe God jou kind stukkie vir stukkie aanmekaarweef en vorm. Met die beskrywing van die geestelike ontwikkeling gee Janlu Bybelverse en soms gebede wat jy kan gebruik om oor en vir jou kind te bid.

      Jy kan self kies hoe jy jou geestelike reis in die volgende paar maande wil inkleur. Jy hoef nie hierdie boek van voor tot agter deur te lees nie. Loer na dié gedeeltes waaroor jy wonder, of vra die Heilige Gees om jou te lei na spesifieke fasette van ontwikkeling.

Скачать книгу