Hartstories. Amore Bekker

Hartstories - Amore Bekker


Скачать книгу

      

      Amore Bekker

      HART-

      STORIES

      Huis toe met ’n ligter tred

      Tafelberg

      Vorie woorde

      As ek die koerant oopmaak, of die radio of TV aansit, hoor ek meestal slegte nuus. Tog, as ek by die voordeur uitstap en die strate invaar, kom ek vriendelikheid, verdraagsaamheid en vrolikheid onder Suid-Afrikaners teë.

      Ek ry elke dag met Beyers Naudé-rylaan in Johannesburg werk toe. Eendag is daar ’n taxi wat gedurig om my kloek. Dan is hy links, dan regs, dan agter my; heeltyd om my, maar hy steek my nie verby nie. Op die hoek van Beyers en Judith stop hy langs my. Hy draai sy venster af, ek draai myne af en ek dog: Hier kommit nou ... Jy moet laat kyk na jou regter-agterband, sê hy toe. Asseblief, dis papper as die ander bande.

      Nou die dag stop ek by ’n verkeerslig. Vier vroue in die taxi langs my begin gillend beduie daar is iets groot fout by my motor. Toe ek my venster versigtig afdraai en die musiek sagter sit, beduie hulle dat ek my rok in my motordeur vasgeslaan het. Dit sleep op die grond.

      Die meeste mense ervaar maar ’n mislikheid op ons paaie en dit, gekombineer met die slegte nuus op die lamppale, skep die persepsie dat die lewe in Suid-Afrika onlekker is.

      So drie jaar gelede het ek luisteraars gevra om vir my hulle stories te vertel van hoe hulle smiddae huis toe tjaila. Dit is die roerendste verhale van hoop, humor en verlies.

      Lees van ’n man wat wik en weeg of hy Australië toe moet trek, en dan kyk hy skielik vas in Tafelberg – en kry sy antwoord.

      ’n Lugwaardin wat met die familielede van die Helderberg-slagoffers vlieg oor die gebied waar die vliegtuig neergestort het. ’n Vrou in Bloemfontein wat luister hoe Antoinette Pienaar sê: “Luister na jou sesde sintuig,” wat uit­eindelik dokter toe gaan met die knop in haar bors, en dan die uitslae ... ’n Suid-Afrikaner in Papoea-Nieu-Guinee wat ons herinner aan wat ’n wonderlike land Suid-Afrika is. Reisigers wat rylopers oplaai. Reisigers wat betekenis soek smiddae tussen die myn­hope aan die Oos-Rand. Bedelaars by verkeers­ligte wat mense hoop gee.

      Alle stereotipes word afgebreek in hierdie briewe. Om na stories te luister of dit te lees, is ’n oerbehoefte van ons almal. Met stories kan ons heel word – dit is stories wat ons herinner aan wie ons eintlik is. Al die stories in dié boek kom van luisteraars en is grootliks onveranderd geplaas.

      Rhoda Kadalie seg nou onlangs dat dit goed gaan tussen die meeste Suid-Afrikaners en dat dit net politici, die media en universiteite is wat mekaar kapittel. Almal moet weet van hierdie positiewe stories wat hoogty vier onder ons!

      Met hierdie stories wil ons hoop gee aan Suid-Afrikaners, en hopelik die gesprekke tussen ons verander en meer opbouend maak. Hartstories is amper ’n Suid-Afrikaanse Chicken Soup for the Soul. Dit is outentiek en eg Suid-Afrikaans. Kom ervaar die ware Suid-Afrika!

      Baie dankie aan al die storievertellers wat hulleself in hulle stories blootstel. Só het hulle uiting gegee aan hulle pyn en sin gegee aan hulle daaglikse bestaan.

      Maya Angelou het gesê:

      Mense gaan nie onthou wat jy gedoen het nie,

      mense gaan nie onthou wat jy gesê het nie,

      mense gaan onthou hoe jy hulle laat voel het.

      Dit is presies wat hierdie stories doen.

      Ek moet nou waai; die volgende storie roep ...

      Amore Bekker

      ’n Engel met ratte

      Baie van ons het maar min genade vir die groot vragmotors op ons land se paaie en hul bestuurders, maar ek sê vir jou, hierdie manne en hulle trokke is eintlik engele.

      Deesdae verkies ek om nie meer in die donker te bestuur nie. Maar soms het mens nie ’n keuse nie – en só gebeur dit toe dat ek baie laat uit die Tankwa-Karoo kom en huis toe ry. Dit is donker, dit reën, die wind waai, en die pad is besig. In Michellspas, net buitekant Ceres, beland ek agter ’n groot vragmotor. ’n Ou grote met ’n Windhoek-registrasie­nommer.

      Ek ry stadig agter die vragmotor en sug diep sugte, want daar is nie naastenby ’n kans dat ek kan verbykom nie. Ek word gedwing om, baie stadig en baie vies, agter hom te ry.

      By die afdraai na Worcester het ek wél ’n keuse: ek kan afdraai en oor Bainskloof huis toe te ry, óf die effe langer pad verby Tulbagh.

      Bainskloofpas in die nag? Terwyl dit reën? Nee, dít doen ek nie.

      Nou is dit ek agter die groot vragmotor, rigting Tulbagh.

      Die groot geneuk is net dat ’n groot gedeelte van die pad tussen Michellspas en Tulbagh op die oomblik opgeknap word. Daar is soveel verleggings dat mens selfs in die dag moet kophou en rigting hou, en daar is géén kans om ’n stadige voertuig verby te steek nie. En hier sit ek nou – agter ’n groot vragmotor wat regtig baie stadig ry.

      Ek ry kilometers ver agter die vragmotor, en toe besef ek skielik: in hierdie verskriklike stormnag is ek op die veiligste plek waar ek kan wees! Soos ’n Ouboet ry die groot vragmotor voor my en beskerm my met sy groot lyf. Nie een van die stroom karre wat van voor af kom, skyn hul skerp ligte in my oë nie, die ou grote keer dit alles af. Niemand gaan van voor af oor ’n baan ry en in my vasry nie, want hy is ’n buffer tussen my en die aankomende verkeer, ’n “vaste burg”, soos die Hallelujalied sê. Boonop keer hy met sy lyf die ergste reënvlae van voor, ek is in sy rustige vaarwater. Soos in die Follow the Leader-speletjie ry hy netjies deur al die baie draaie en kronkels, en ek volg sonder enige spanning of angstigheid. Sy agterligte verlig my pad helder; ek volg waar hy gaan.

      Toe ons deur die Nuwekloofpas anderkant Tulbagh kom, is ek nog steeds agter hom. Teen dié tyd ry ek al seker amper dertig kilometer ver agter die vragmotor. Hy wys met sy flikkerligte dit is veilig om hom verby te steek, maar ek besluit: Nee wat, dit is lekker hier onder jou blad, ek bly net hier waar ek is.

      Toe die vragmotor by Gouda regs afdraai, Namibië toe, voel dit of ek ’n vriend verloor. Oor twintig minute is ek tuis, maar hy gaan dalk deur die nag ry, in reën en wind en koue. Hardop sê ek: “Dankie, Ouboet. Ry veilig! Ek stuur een van my engele saam met jou op die lang, donker pad.”

      My raad aan almal wat angstig voel op die pad: Kry vir jou ’n vragmotor en ry agter hom. Dit is ’n engel – een met tyres en baie ratte.

      Riana Scheepers – Wildernis

      Veldpiepie

      Daar’s nie Ultra-Shitty’s of 1-stops in die Moordenaars­karoo nie. Dis grond- en stofpaaie en ompaaie; hartspaaie. Lekkerry-paaie met uitsigte wat jou asem wegslaan.

      Padkos eet onder eensame bome langs vleitjies en riviertjies wat nie eens op die kaart wys nie – nee, die Karoo is nie vaal nie, dis naas Namakwaland in die lente een van die kleurvolste dele van ons land.

      My “kruiskarretjie” (crossover vehicle) was gepak vir die road trip van ’n leeftyd: GPS op die windskerm, padkaart op die sitplek, op die vloer langs my die padkos en genoeg water vir die warm dae agter die passasiersitplek, CD’s, en in die bagasiebak die ander bagasie en die sanitary stop-sakkie. Ek het geweet ek sou langs die pad moet stop as die natuur letterlik begin roep, so ek was voorbereid. Dié spesiale sakkie het toiletpapier, waterlose handreiniger en Wet Wipes ingehad, asook plastieksakkies vir die toiletpapier, want mens gooi mos nie langs die pad weg nie. Wel, dis hoe ek geleer het. Een of ander sotlike stadsjapie het ’n vuil babadoek langs ’n uitkykpunt in die middel van ’n bergpas gelos. Wie het sy nou gedink gaan dit optel en in die asblik – net ’n paar meter verder – gooi?

      Dis laatmiddag op die tweede reisdag en my kar is lankal nie meer rooi nie; dis toe onder die wit stof. Dit lyk of ek die voorloper in die Dakar Rally is. Dis warm en ek het liters water gedrink sedert ek by die laaste dorp petrol ingegooi het. Anderkant Fraserburg op ’n tweespoorpad op pad Merwe­ville toe moet ek toe stop vir ’n veldpiepie.

      As mens ’n bakkie ry, maak jy die deur oop en maak jou teen die kant sit – maak net seker dat jy nie te diep


Скачать книгу