Regardt. Regardt van den Bergh
hoe hy sy hand sal laat sak – moet sy loop en die bome sal dan begin val. Voordat hy nog verder kon praat, dog die ouens wat die bome moet laat val, dat hy vir hulle die teken gee. Hulle saag die laaste stukkie wat elke boom vashou en daar val die ry bome voor die kamera nog rol!
Marié du Toit en Barry Trengrove het ook in die rolprent gespeel en iewers is daar ’n toneel waar Marié geskiet word. Dit vereis ’n kenner om hierdie tipe spesiale effek te doen, maar ons het nie iemand gehad nie. Toe moes ons maar ’n plan maak. Ek het die buskruit die vorige dag gekry en Jans wou dit toets voordat ons die toneel skiet. Ek sou die proefkonyn wees. Hulle maak toe ’n “squib” – dit is wat ’n mens die toestelletjie noem wat met die bloed ontplof wanneer iemand in ’n toneel met ’n vuurwapen geskiet word. Die buskruit kom onder die sakkie met bloed sodat wanneer die buskruit ontplof, die bloed “spat”. Deesdae kry ’n mens ’n slagdoppie wat dit laat ontplof, maar Jans-hulle vat toe ’n JIK-bottel se prop en sit dit op ’n leergordel vas en bind die gordel om my lyf. Hulle sit die buskruit in die JIK-doppie, sit die sakkie met bloed bo-op dit en plak die spul met kleefband toe. Die leergordel sit nou teen my lyf en die selfgemaakte squib aan die buitekant van die gordel. Die draad wat die squib moet afsit, word agterom my lyf geneem en hulle trek vir my ’n wit hemp aan. Daar was ’n paar mense by, onder ander my ma, maar geen kamera nie.
Jans sê maak reg en ek staan met my hande in die lug, soos Marié gaan doen, en Jans sê, een, twee, drie. Boem! Jy kan nie glo nie. Daardie ontploffing ruk my byna van my voete af en blaas die hele voorste deel van my hemp weg. Dit wat van die hemp oorgebly het, hang in slierte langs my lyf en het met die ontploffing aan die brand geslaan. Daar waar die gordel gesit het, brand die squib my ’n helse blaas, tot onder my bors en onder my ken. Ek begin hardloop en skree en vloek terselfdertyd: “Ek brand, ek brand,” en ek hol in die rondte. My ma skree vir my: “My kind, moenie so vloek nie.” Jans skree vir haar: “Laat die kind vloek, jy kan mos sien hy brand.”
Hulle het byna my dood veroorsaak. My wind was uit van die ontploffing en ek het gehyg om ’n woord uit te kry. Hulle het natuurlik te veel buskruit ingesit. Jy kan buskruit om ’n boom vasbind en dan blaas jy die boom weg.
Streng gesproke moet daar ’n mediese offisier by oefeninge soos dié wees, maar daardie dag was daar nie. Gelukkig het ek net geringe brandwonde opgedoen. Die volgende dag was my lyf seer en die blase gevoelig. Jans het die oefening ’n paar keer herhaal, maar hulle het toe die squib om ’n boom vasgemaak. So het hulle geoefen totdat hulle die volgende dag die toneel met Marié kon skiet. Deesdae werk die squibs, wat om en by R800 kos, uitstekend. In daardie dae het ons baie dinge gedoen wat ’n mens nie mag gedoen het nie. Was daar maar ’n kamera wat gerol het, kon ons dit vir baie geld aan Funniest Home Videos verkoop het.
Vir Manie moes dit ’n wrang smaak in die mond gelaat het toe ek aangebly het om vir Jans te werk. Daarna het Jans my die hoofrol saam met Katinka Heyns in Eendag op ’n reëndag (1975) gegee. Dit het die spanning in my en Manie se verhouding vererger. Hy het my daarna nooit weer gevra om vir hom ’n groot rol te speel nie – ek was hartseer daaroor. Ons het steeds saam gekuier, gedrink en musiek gemaak – hy het trompet gespeel en ek saksofoon – maar ons verhouding was nooit weer soos voor Ongewenste vreemdeling nie. Ek glo Manie het ’n vergewensgesinde hart gehad en my steeds soos ’n vriend behandel, maar ek het net hier en daar vir hom ’n rolletjie in ’n reeks gespeel.
Ek en Jana was vriende met Grethe Fox en ons het Manie aan haar voorgestel toe hy alleen in Johannesburg gebly het. Sy was ook van die Kaap en ons het haar in Dokter, dokter leer ken. Daarmee het ons ons vriendskap hervat en effens nader aan mekaar gekom.
Manie het aanvanklik teologie studeer en sy eerste kamera met geld gekoop wat hy as kerkorrelis verdien het. Hy was destyds die kameraman van onder andere die gewilde Hoor my lied (1967) waarin Gé Korsten gesing het.
Saam met Jans was Manie definitief dié regisseur in die land, ’n kineas. Hy was ’n filosoof, maar hy kon nooit daardie filosofie uitleef nie. Sy werk was sterk histories en met die geskiedenis wou hy die nou belig en die toekoms verken. Hy kon ons Jean-Luc Godard geword het; iemand wat liefdesverhaaltjies vertel, maar eintlik besig is met die groot politiek van die lewe, soos met Die kandidaat. Laasgenoemde dateer uit 1968 en Manie sou twintig jaar later vir ons ’n nuwe perspektief op die Suid-Afrikaanse samelewing kon gegee het, maar hy het nooit die geleentheid gehad nie.
Ons was vriende met Frederik van Zyl Slabbert en hy en Manie het groot pêlle geword. Hulle was deel van die groep Afrikaners wat in 1987 ’n vergadering met die ANC in Dakar bygewoon het. Dit het veroorsaak dat hy nooit weer by die SAUK werk gekry het nie. Hy het met homself begin worstel asook met die frustrasie van die Suid-Afrikaanse filmbedryf. Ons het dikwels daaroor gepraat dat ons nie die voorreg van ’n Ingmar Bergman het wat deur die Sweedse regering gesubsidieer is om met stories te gaan eksperimenteer en met ’n rolprent terug te kom nie. As Suid-Afrikaanse regisseurs moes ons by verskeie deure vir finansiering aanklop om ons passie en kreatiwiteit uit te leef.
Toe ek tot bekering gekom het, het ek vir hom en Grethe vir ete by ’n deftige restaurant in Rosebank genooi. Die doel was dat ek sou vertel wat met my gebeur het en my getuienis lewer, maar liewe genade, dit is glad nie goed ontvang nie, veral nie deur Grethe nie en definitief ook nie deur Manie nie. Tog het Manie meer begrip gehad omdat my ervaring onbetwisbaar was en hy kon sien dat dit werklik iets aan my gedoen het. Ek weet nie of hulle gedink het my bekering was ’n soort ontvlugting om my verbrokkelende huwelik met Jana te verwerk nie.
Ek was baie lief vir Grethe, maar ná daardie aand wat ons saam geëet het, het ons vriendskap koud geword. Later het sy ’n baie mooi ding gedoen. Sy het vir Lika, ons oudste dogter van wie sy die peetma is, ’n boekie saamgestel met foto’s, gedagtes en die oorsprong van haar naam en dit vir haar gegee. Grethe het in Arme Marat (’n TV-drama van die gelyknamige toneelstuk deur Aleksei Arbuzov) die rol van Lika teenoor my gespeel. Dit was iets wat ek werklik waardeer het.
Manie en Grethe is later geskei – hulle het nie kinders gehad nie. Hy was 48 toe hy homself in 1993 geskiet het. Dit was ’n geweldige skok vir my en ook vir baie mense in die rolprentbedryf. Vir lank het ek teruggedink aan die waarde van hegte vriendskappe waarin ’n mens net jouself kan wees en ontspanne kan kuier. Ek het dit verloor toe Manie dood is.
Ek het altyd met bittersoet herinnerings aan die episode op Knysna teruggedink. Sonder dat ek enigiets gedoen het, het ek in die middel beland van ’n konfrontasie tussen twee mense vir wie ek baie respek gehad het en met wie ek vriende was. Ek wens dit kon anders gewees het; tog het ek gekies om nie kant te kies nie, maar op die werk te fokus. Manie het in die proses seergekry en ek was altyd jammer daaroor.
Elke mens is skuldig aan die goed wat hy nie gedoen het nie.
– Voltaire
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.