Zip!. Nataniël
stadium vertrek Tannie Ita en nog bejaardes op ’n toer na die Bybellande, ek gril te veel om die muisval bo-op die yskas te stel, later is daar soveel van hulle, jy kan snags hoor hoe skuif hulle die meubels.
Ek besluit toe, ek nooi vir Dijkerman Höbel vir ’n drankie, dan kan hy op sy fluit speel, dalk volg die muise hom huis toe. Dijkerman daag toe een aand skemertyd op, dis die eerste keer dat ek sy kuif van naby sien, ek is so gespanne, ek drink ’n halwe bottel van Tannie Ita se sjerrie voor ek onthou om hom te vra om te speel. Hy speel toe fluit, maar so vrot dat daar nie ’n muis verskyn nie, in fact, só vrot dat die een muis twee dae later self ’n fluit by De Wets gaan steel en dit saans begin speel.
Dijkerman steur hom aan niks, hy lyk net mooi, drink net nog sjerrie en sak al hoe laer op sy stoel. Ek is só opgewerk, ek weet nie of ek moet skree vir hulp of lip-ice aansit nie. Toe skielik vra Dijkerman of ek lus is vir ’n pilletjie.
Ek sê, Vir ’n kopseer?
Nee, sê hy, dis soos ’n kalmeerpil, hy drink dit dat hy nie bewe met die fluit nie, dis nie drugs nie, maar saam met ’n drankie laat dit jou lekker voel.
Ek sê, Ek voel al baie lekker.
Dijkerman sê toe dan gaan hy maar eerder, maar kan ek die pilletjies vir hom hou, hy is bang hulle krap in sy goed by die koshuis.
Ek sê toe dis reg so, maar daai nag kry ek nie ’n oog toe nie, sê nou maar die goed is onwettig. Ek kan dit ook nie weggooi nie, wat sê ek vir Dijkerman. So sit ek die lig aan en maak Tannie Ita se gangkas oop. Binne teen die deur hang die lelikste rok in die geskiedenis van lap. Die onderste deel is oranje en skop uit na buite, die boonste deel is wit en gesmok met honderde plooitjies. Ek besluit toe smok is vir smokkel, ek gaan druk in elke plooi ’n pil, oumense gooi niks weg nie, ek haal dit net weer uit as Dijkerman kom kuier.
Tannie Ita keer die volgende week terug van al haar lande en ’n dag later vra Dijkerman sy pille, hy voel ’n bietjie op edge. Daai middag maak ek die kas oop. Die rok is weg. Ek soek vir Tannie Ita, sy’s ook weg. Ek hardloop op na Tannie Gwan. Sy sê Tannie Ita is uit met die koor, hulle het almal hulle lelike rokke aan.
Ek sê, Hoe lelik is die rokke?
Sy sê, So oranje en wit met smokwerk.
Die koor het toe gaan sing op ’n begrafnis. Die oorledene was ’n lid van die klub met die bus. Blykbaar het Tannie Ita op ’n stadium begin rondskuiwe, toe’t sy gesê sy kry warm, toe’t sy begin sweet, hulle sê sulke helder kolle, en toe gly sy net van die kerkbank af. Hulle dog sy’s dood en dra haar tot voor langs die ander lyk en sing toe nog ’n spooklied. Maar nog voor hulle klaar is, toe snork Tannie Ita kliphard.
Sy’t eers vier dae later wakker geword. Die dominee wou hê sy moet kom praat oor haar skyndood, maar sy sê sy’t net geslaap. Iewers op ’n wolk. Sy sê haar koorbloes is bont gevlek, geen mens weet van wat.
Ek is tot vandag toe ’n bietjie histeries. Ek het byna my landlady vermoor met beeldskone Dijkerman Höbel se fluitpille.
En dit breek my hart, ek sien elke dag die mooiste mense, blonde goed met lang kuiwe. Maar hulle sal vir jou enigiets laat doen. Hulle kom nie in my huis nie. Ook nie ’n ding met ’n fluit nie.
(uit die Seven Loud People-verhoogproduksie, 2012)
DANS
Dit gebeur dikwels dat mense deelneem aan aktiwiteite wat op die oog af vreemd lyk of nie by hulle pas nie, maar dat daar wel ’n doel agter is. Sportmanne sal balletklasse bywoon, want dit help om hulle spiere sterk te maak. Duisende mense gaan elke dag gym toe, want hulle mag dalk iemand ontmoet vir ’n moontlike verhouding of kortstondige sonde.
So is ek gebore sonder die geringste teken van koördinasie. Ek en my gedagtes en my mond is besig met een ding terwyl die res van my lyf ’n heel ander lewe lei. Ek was nooit daarvan bewus totdat ek die eerste keer ’n troue bygewoon het nie. Almal het aan tafels gesit en gesels, daar was hoenderpastei en vriendelike kelners en ek het geen onheil vermoed nie. Die volgende oomblik bars ’n stuk musiek los en almal gaan aan die dans, twee-twee al in die rondte asof hulle almal saam iewers geoefen het. My mond het oopgehang, dié een draai in die rondte, die ander een gaan onderdeur nog een se arm, dan trap hulle vorentoe, dan trap hulle agtertoe, hoe weet hulle wanneer gebeur wat?
Jare later word ek weer na ’n troue genooi, dieselfde storie. Ek’s net aan die gesels, woerts! spring almal op en begin weer dans. Diékant toe en daaikant toe, is dit ’n kode? Is daar boodskappies in die musiek wat ek nie kan hoor nie?
So suffer ek ’n leeftyd lank met my ongehoorsame lyf en ledemate wat glad nie wil deelneem aan hierdie aardse aktiwiteite nie. Selfs tydens repetisies vir my eie vertonings leer die ander die bewegings aan binne ’n paar uur, ek vat weke voor ek die eenvoudigste roetine kan onthou. Dis nie rêrig iets waaroor ek praat nie, maar vir jare probeer ek verstaan hoe dit werk, wat weet die ander wat ek nie weet nie.
Ek kon nog nooit ’n televisiereeks klaarkyk nie, op ’n stadium verloor ek belangstelling, maar vir jare sit ek vasgenael voor elke episode van Strictly Come Dancing, bekende persoonlikhede wat nog nooit kon dans nie, leer binne weke om te dans. Hulle draai en swaai en wals en foxtrot en quickstep, ek sit verstom.
So lees ek eendag ’n artikel waarin daar beweer word dat niks op aarde beter is vir koördinasie as ballroom-danse nie, en dat dit een van dié gewildste aktiwiteite in die wêreld is, selfs in Suid-Afrika, in sekere lande is dit al ’n amptelike sportsoort. Ek besluit dis tyd, só onnosel is ek ook nie, ek gaan klas neem, al gee ek nie twee treë in die regte rigting nie, gaan ek ten minste omring wees van hemelse wesens, niemand op aarde het mooier boude as ballroom-dansers of ysskaatsers nie.
Ek wil nie hê iemand moet weet van my planne nie, so ek kan nie rondvra nie, ek soek na ’n dansplek in die Geelbladsye. Jy sal my nie glo nie, maar daar is honderde. Ek kies op die ou end ’n ballroom-skool in Centurion, daar sal niemand my herken nie. Ek bel en vra watter aande is vir beginners, hulle sê Dinsdae, maar ek moet die regte skoene hê, jy kry dit by so en so. Ek gaan koop vir my ’n paar ballroom-skoene. Dit is ’n sagte skoen met ’n lae hak en word spesiaal gemaak vir dansers. Vir presies vyf minute is dit die gemaklikste skoene op aarde. En dan breek alle hel los. Niks, niks maak seerder nie, dis ’n pyn wat jy moet beleef om te glo. Ek weet nie hoekom daar tronke op aarde is nie, jy kan vir ’n moordenaar net ’n paar ballroom-skoene aantrek, hy gaan nêrens.
Die volgende Dinsdag parkeer ek voor die dansskool. Ek wéét dit gaan ’n romantiese ou saaltjie wees, met instrukteurs in stywe pikswart broeke, witwarm gode met name soos Manuel of Alejandro, ek vergeet heeltemal die plek se naam is Herman’s Dance Academy.
Ek klim die trap op en stoot die deur oop. Huis Nerina op Porterville se siekeboeg is meer romanties. Dis ’n vierkantige vertrek met dowwe geel mure, in die een hoek is ’n waaier met papier-streamers, in die ander hoek is ’n tafel met ’n hi-fi, ’n ketel en kitskoffie. Op die dansvloer staan die vyf lelikste mense in die heelal. In die middel staan die instrukteur, Herman. Hy is amper sestig, hy het ’n baie groot broek aan, dieselfde kleur as pannekoekdeeg, hare wat lyk asof hy al baie elektrisiteit ontvang het en los lippe soos ’n hond agterop ’n bakkie. Ek trek my skoene aan en stap nader.
Vanaand doen ons die samba, sê Herman, Dis ’n smeulende dans.
Ek het nie geweet samba is ’n dans nie, my ouma het sulke salf gehad vir haar voete en ek weet ek gaan binne minute bid vir so ’n potjie.
Om dit makliker te maak, sê Herman, Kry elkeen ’n dansmaat met dieselfde liggaamsbou.
Toe stoot hy ’n stokou dame in my rigting.
Die Japannese waai hulleself koel met waaiers met prentjies op. Wanneer ’n waaier toegevou is, sien jy net die begin en einde van die prentjie, soos twee blare, maar eintlik is dit ’n boom, jy moet dit net oopvou. Só lyk die dame. Sy’t ’n breë kop, dan begin haar romp en dan is daar twee