Jenna en die leesperd. Marga Jonker

Jenna en die leesperd - Marga Jonker


Скачать книгу
kry mos altyd in die saalperiode linte en bekers vir jou dressage. Ek is eintlik slimmer en meer oplettend as wat ek lyk, hoor.” Jenna kan hoor Sydney het haar nou vir Posh vervies.

      Jenna kyk in Posh se groot oë. Posh maak goeie oogkontak, maar Jenna wonder of sy ’n ysblok vir ’n hart het. Is sy aspris kil en hooghartig, of het sy net geen idee dat sy soos ’n bedorwe ekstrabevoorregte persoon klink nie? Of hou sy maar net nie van haar en Sydney nie?

      “Sydney ry perd vir ontspanning, sy was al deel van Meg Kingsley se uitrygroep,” kom Jenna tussenbeide. “Sy weet nogal ’n paar dinge van perde af.”

      “Ja, en Jenna weet mos ook baie van perde, so ek leer by haar ook,” sê Sydney.

      “Ek ry al van vier jaar oud af perd,” sê Posh. “Meg het my al vantevore genooi om deel te wees van haar span, maar ek wil nie iemand van die ontwikkelingspan se plek neem terwyl ek my pa se eie perde kan ry nie. Hy kan bekostig om my aan enige kompetisie te laat deelneem en hy wil nie hê ek moet arm kinders se kanse bederf nie. Maar nou dat Meg se span so dringend iemand nodig het, is ek bereid om te help.”

      Jenna voel of sy ’n boek uit die boekrak kan gryp en Posh oor die kop kan slaan. Sy het baie hard gewerk om in Meg se span te kom. Sy het ekstra ure by die stalle deurgebring en as stalhulp-assistent gewerk om ’n goeie verhouding met Ruby Storm op te bou. Ruby is die merrie wat Jenna in die kompetisie sou ry.

      “My pa teel mos Friesperde – ons is die vyfde Roux-geslag wat met Friesperde teel in die Slanghoekvallei. Ongelukkig kan ek nie met hulle skouspring nie. Friesperde is vroeër gebruik as trekperde, maar ons rig ons Friesperde af as skou- en ryperde. Ons volg Neder­land en België se se moderne voorbeeld om hulle as ruiterkuns­perde te gebruik.”

      Jenna en Sydney sê niks nie.

      Posh praat voort asof sy ’n aktualiteitsprogram oor die radio aanbied. “Julle weet, omdat ek al soveel jare perdry, kan ek enige perdesportdissipline gou-gou ­baasraak.”

      Jenna wil vir haar sê sy verstaan nou baie mooi, Posh hoef nie so oor en oor te verduidelik nie.

      “Dit klink of jy ama-a-a-zing is met perde, en daardie gevriesde perde klink yskoud cool,” sê Sydney en rol haar groot bruin oë vir Jenna agter Posh se rug.

      “So jy kom reg met Ruby Storm?” vra Jenna. Sy wens Posh gaan sê dat sy sukkel, maar sy weet Ruby is ’n briljante sportperd wat haar alles gee op die skouspringbaan. As die ruiter goed kan ry, sal Ruby haar beste gee.

      “Meg is baie tevrede. Sy sê ek en Ruby Storm maak ’n wenspan.”

      Jenna voel hoe die pyn in haar rug erger raak. Die prentjie van Posh op Ruby Storm laat al die spiere in haar lyf saamtrek. Ruby behoort nie aan haar nie, maar Jenna se liefde vir die merrie hang haar hele hart vol. Skouspring saam met Ruby het soveel opwinding in haar lewe gebring, maar nou is dit asof alles wat wonderlik was, soos water deur haar vingers geglip het.

      Jenna raap die ryklere bymekaar en wil dit in Posh se arms stop, maar die meisie bekyk elke kledingstuk eers krities voor sy dit oor haar arm hang. Sy vryf ondersoekend met haar duim en voorvinger aan die materiaal, haar neus effens in die lug en haar lip op ’n stywerige strepie getrek.

      “Dankie tog, die materiaal se kwaliteit is goed, en ek sal met hierdie kleure kan saamleef.”

      “Gaan jy nou nie meer aan jou ander dressage-skoue deelneem nie?” vra Sydney.

      “Nee, ek gaan steeds aan al my kompetisies deelneem soos altyd, want dit is nie op dieselfde tye as die Kingsley-span se skouspring nie.”

      “Ek dink jou ma toet vir jou,” val Jenna haar in die rede.

      Posh hang haastig die laaste van die ryklere oor haar arm en drafstap voordeur toe.

      3

      Dash Roux

      Dit is die eerste week van die tweede kwartaal. Anders as voorheen stap Jenna nie meer ná skool huis toe nie. Haar pa kom haar nou elke middag oplaai, want sy mag nie meer huis toe stap met ’n swaar tas nie, al is die skool naby hulle huis.

      Haar pa laai haar vanmiddag voor die fisioterapeut se praktyk af vir haar gereelde Woensdagmiddag-terapiesessie.

      Sy lui die klokkie.

      “Hallo, Jenna-kind,” sê die ontvangsdame.

      “Hallo, tannie Ragie.”

      “Jou ma is nog nie hier nie, maar sy sal hier wees voor jy klaar is.”

      Breedekloof Gesinsorg is gevestig in ’n huis oor­kant die hospitaal waar haar ma werk. Die Breedekloof Ge­sinsorg bied arbeids-, fisio- en spraakterapie. Jenna hou van haar fisio, Juliana, maar die oefeninge maak haar rug moeg.

      Sy is dankbaar dat die wagkamer so gesellig ingerig is. Dit is veral goed ingerig vir kleiner kinders wat vir die arbeidsterapeut wag. Jenna hou graag die kindertjies dop wat op die mat in die speelhoekie speel. Dit beur haar ’n bietjie op en laat haar minder bedruk en moeg voel.

      Vandag lê daar kinderboeke, boublokkies en ’n deurmekaar speelgoedmandjie met plastiekdiertjies uitgepak. ’n Dogtertjie wat lyk of sy uit ’n wasgoedmandjie geklim het, sit daarmee en speel. Haar poniestert sit skeef op haar kop en stringe hare hang los om haar ore. Daar is ’n sjokoladestreep om haar bolip. Sy is kaalvoet en haar voete is vuil.

      Jenna kyk hoe sy al die plaasdiere in ’n ry uitpak. Sy bou vir hulle ’n kraal en voer hulle kamstig kos. Langs haar onder ’n kombers is ’n hokkie wat lyk soos ’n troe­teldier se vervoerkissie, dalk vir ’n kat of ’n klein hondjie. Nou en dan loer die dogtertjie onder die kombersie in en praat met wat ook al daar in die kissie is.

      Die spreekkamer se deurklokkie lui en tannie Ragie laat iemand met skoolklere binne. Die meisietjie kyk nie op nie. Sy gaan met groot konsentrasie aan om die plastiekperd kos te gee.

      “Nienke! Haai, Nienke!” roep ’n seunstem deur die spreekkamer.

      Jenna se hart bons toe sy sien wie in die deur staan en roep: Daniel Dash Roux. Sy aandag is by die kind in haar skoolsweetpak op die mat, maar sy antwoord hom nie.

      Dash buk by haar. Sy gaan net aan om die plaasdiere in die blokkieskraal te pak. Dash kyk op.

      “Haai, jy is mos Jenna, die een met die rug?”

      “Hmm, ja wel, shame, is jy iemand sónder ’n rug?” vra Jenna. Haar woorde kom kil uit haar keel en klink hard in die stil spreekkamer. Sy voel ’n woede in haar opstoot. Haar wange gloei en haar hare wip soos ’n vlag om haar kop. Onbeskofte vent! En dan het sy nogal by geleentheid gedroom hoe sy met hom gesels oor hulle perde.

      “Sorry, ek meen maar …” sê Dash.

      “Ja, en ’n sterretjie vir jou slim waarneming,” val ­Jenna hom in die rede. “Ek hét ’n rug, maar ek het ­darem ook ander dele, soos ’n kop, oë en ’n mond.”

      Sy is nie in dieselfde graad as Dash nie, maar hulle het al baie by mekaar verbygestap by die skool. Hy moet tog goed weet dat sy suster haar plek in Meg se skouspringspan gekry het. Sy is nie sommer net Jenna-met-’n-rug nie. Hoe verwaand en ongevoelig!

      “Jammer, jammer, ek bedoel dit nie so nie,” sê Dash.

      “Hmm … whatever.”

      “Wag, gee my ’n kans. Kom ek groet jou weer,” sê Dash. “Ek het bedoel om te sê … Hallo, Jenna, dit is mos jy wat jou rug beseer het? Elzé, my suster, het jou plek in Meg Kingsley se span gekry,” sê Dash. Hy ­glimlag mooi en sy groenbruin oë lyk soos ’n babahondjie s’n.

      Jenna weet nie wat om te sê nie. Sy het nie verwag dat hy so verskonend en vriendelik sal reageer nie.

      “Ek is Daniel, Elzé se broer. Almal noem my ‘Dash’.”

      “Hallo, ek weet darem wie jy is. Wat maak jy hier? Het jy ook ’n sportbesering?” vra Jenna.

      “Nee, ek het net hierdie poplap-sussie


Скачать книгу