Ena Murray Keur 12. Ena Murray

Ena Murray Keur 12 - Ena Murray


Скачать книгу
oë versomber effens. Ongemerk het hierdie rooikop ook diep in sy hart ingekruip. Hy wil liewer nie dink aan die dag wanneer hy sal moet weggaan nie. En dis onvermydelik. Poens hét ’n ma. Hy sal moet teruggaan.

      Ook Katryntjie dink op hierdie oomblik aan Poens. Sy sien hoe die gesiggie straal toe Festus die rooi hare deurmekaarkrap en sy sien die heldeverering wat uit die blou ogies straal. Haar hart trek saam. Poens het nog nooit iemand gehad om te idealiseer nie. Hy ken nie ’n pa nie. Festus Dumas het vir hom die held geword waarna elke seunshart smag. Want elke seun moet ’n held hê. Wat gaan gebeur as sy en Poens ná die vakansie moet teruggaan? Poens gaan Festus geweldig mis. En nie net Poens nie . . .

      Die kommer in haar verdiep. Sy is besig met ’n verlore stryd. Sedert hulle hier in die stad aangekom het, het sy vir haarself oor en oor die rooi waarskuwingsligte laat flikker. Sy en haar voog leef in aparte wêrelde. Sy het anders grootgeword as hierdie man en sy het ’n ander agtergrond. Hy is ’n man wat sy lewe lank net aan die beste gewoond was. Van swaarkry weet hy niks nie. Hy kyk deur ’n ander bril na die lewe as sy. Maar dis nie net hul agtergronde wat verskil nie.

      Festus Dumas is ’n man van die wêreld – wêreldwys en ervare. Twee vroue verskyn voor haar geestesoog, en sy voel ’n vreemde pyn diep binne-in haar klop. Ervare vroue – soos hy ’n ervare man is. Die gedagte aan Zelda Duval kan nog gaan, al maak dit seer. Maar dis veral die gedagte aan Shirley Rossouw, ’n getroude vrou, wat die grootste waarskuwingslig laat flikker. ’n Man wat nie omgee om verhoudings met getroude vroue aan te knoop nie . . .

      Alles in haar kom in opstand daarteen. Sy het eenvoudig en arm grootgeword. Weelde het sy nooit geken nie. Swaarkry wel. Die meet en pas wat deel uitmaak van die arm man se daaglikse bestaan. Maar al kon haar ouers, veral Pappa, haar nie aardse goed gee nie, het hulle haar liefde en ’n goeie opvoeding gegee, en daarom het sy sterk Christelike beginsels. En die dinge wat sy reeds agtergekom het in verband met Festus Dumas, druis ten sterkste teen haar beginsels in.

      En tog . . . soos Poens, hou sy van Festus Dumas . . . besonder baie. Te baie, gevaarlik baie.

      Sy roer onrustig in die sirkel van sy arm. Sy is weliswaar maar net twintig, maar van kleins af is sy geleer om op haar eie voete te staan. Sy het ook al vriende gehad, maar daar was nooit iemand soos Festus Dumas nie . . .

      Sy onttrek haar vinnig en hy kyk haar verbaas aan.

      “Iets verkeerd, Katryntjie?”

      Haar oë ontwyk syne. Sy moet verskriklik versigtig wees. Hy het skerp oë.

      Hy trek haar weer nader. “Wat is dit, kleintjie? Hoekom skielik so ernstig? Wat hinder? Kom, vertel vir oom Festus.”

      Maar sy beur weg. Hy kan so dierbaar wees! Dit laat haar nog slegter voel. Sy was nog nooit iemand vir bedrog nie, en hy is goed vir haar en Poens. Sy wou hom al reghelp oor haar ouderdom, maar die moed het haar nog elke keer ontbreek. Nee, hy moet maar bly glo sy is net ’n dogter. Wanneer sy en Poens terug is op die plaas, sal sy vir hom skryf en oor alles bieg. Maar hier kan sy nie. Sy durf hom nie vertel dat sy ’n meisie van twintig is nie, want miskien kom hy dan agter dat sy, soos ’n regte verspotte bakvissie, op hom gaan staan en verlief raak het! En hoe sal hy dan nie daaroor lag nie . . . hy, die gesogte, gewilde Don Juan wat kan kus en keur! Hoe geamuseerd sal hy nie wees nie! Of miskien ergerlik, selfs kwaad! Hy sal haar uitskel vir ’n bedrieër en haar wegjaag!

      “Ek . . . ek wil vir ons iets gaan maak om te drink.”

      Festus kyk haar peinsend agterna. Daar is soms iets in Katryntjie wat hy nie kan peil nie. Soms, soos so pas, kry hy die gevoel sy is nie wat hy dink sy is nie. Maar dis natuurlik verspot. Sy is bloot ’n wesie wat onveilig en onseker voel. Maar omdat sy so ’n trotse, onafhanklike entjie mens is, is dit vir haar moeilik om van hom, wat vir haar ’n totale vreemdeling is, gebruik te maak.

      Hy staan op en gaan sit in die diep leunstoel en Poens kom druk hier teen sy bene aan. Gemoedelik krap hy deur die rooi hare. So tref Katryntjie hulle aan, en haar hart klop vinniger. Sy is bewus van Festus se ondersoekende blik, maar sy hou haar gesig uitdrukkingloos.

      “Wat ís verkeerd, Katryntjie?”

      “Niks nie. Ek sê mos niks nie.”

      Hy vererg hom sommer. Sal sy nou regtig dink hy is onder ’n kalkoen uitgebroei? Hy kan mos sien daar is iets wat haar kwel. “Ek hou nie van dikmond kinders nie.”

      “Ek is nie dikmond nie!” verweer sy heftig. As hy haar net wil uitlos . . .

      “Ek hou nie van die manier waarop jy met my praat nie, Katryn! Moenie vergeet nie – jy is ’n kind en ek is ’n grootmens!”

      Sy slaan haar oë vinnig neer, hou haar doenig met haar kakao. Ja, dis presies wat dit is. Sy is ’n blote kind in ervaring.

      Festus voel sommer boos. Die lekker atmosfeer is meteens bederf. Hy byt op sy lip. Wel, hy sal dit seker ook moet aanvaar. Tieners kry glo soms sulke onverklaarbare nukke. Hy sug. Hy is klaar lief vir haar, maar dit gaan nie maklik wees om haar groot te maak nie.

      Daar is skielik die geluid van ’n motor wat stilhou en dan lui die voordeurklokkie. Festus sug. Hy is nie nou lus vir mense nie.

      “Gaan kyk wie is daar, Poens,” beveel hy kortaf. Hy kyk vererg en openlik ontevrede na die deur.

      “Hallo, daar!”

      “Naand, Shirley.” Die beeld van die pragtige vrou in die deur wek geen vreugde in hom op nie. Hy staan beleef op, wys na ’n stoel. “Wil jy sit?” Maar sy stemtoon gee duidelik te kenne wat hý sou verkies het.

      Shirley Rossouw het blykbaar niks agtergekom nie. Sy stap stadig na die stoel en sak daarin neer, nes ’n kat wat hom gereed maak om te spin, dink Katryn stilswyend.

      Vlugtig gaan haar blik oor die beeld in die stoel. Shirley Rossouw is beslis nie op ’n gewone besoek nie, sê die donker oë wat aan Festus kleef, en Katryn voel weersin in haar opwel. ’n Nousluitende swart langbroek klou aan elke kurwe van die goedgeboude liggaam vas, en die hals van die nousluitende trui is laag uitgesny. Poens sit soos ’n waghond by Festus se voete en kyk met knorrige oë na die besoeker. Toe dié dame koketterig beweeg, lyk dit amper of Poens wil keer.

      Katryn glimlag en kyk vlugtig na Festus. Hy lyk allesbehalwe ingenome. Sy oë is yskoud.

      “Evert is uitstedig tot môre. Het jy nie my boodskap gekry nie?” vra Shirley.

      “Ek het.”

      Sy trek haar wenkbroue op. “Dan verstaan ek nie. Ek het tot nou toe gewag vir jou.”

      “Ek was nie van plan om te kom nie.”

      “O? Hoekom nie? So ’n ideale geleentheid doen hom selde voor, skat.”

      “Ek is besig.”

      “Jy lýk nie juis besig nie.” Haar oë flits na die ander twee uitdrukkinglose gesigte. “Bedoel jy jy moes kinders oppas?” Sy lag, maar dit klink nie juis of sy dit geniet nie. “Dis in elk geval lankal slapenstyd vir kinders. Toe, julle tweetjies – bed toe. Julle behoort lankal al in droomland te gewees het.”

      “Maar . . .” Poens kyk pleitend op na Festus toe Katryn ’n beweging maak asof sy die bevel onmiddellik gaan gehoorsaam.

      Festus se hand sak dadelik gerusstellend af op Poens se kop. “Hulle het my toestemming om tot laat op te bly.”

      “Maar nou het jy ’n gas, my skat. En as daar gaste opdaag, moet kinders bed toe gaan.”

      Weer maak Katryn ’n beweging, maar dan verstil sy as Festus se oë ’n uitdruklike bevel na haar uitsein.

      “Dis nou húlle huis hierdie, Shirley. Hulle het die volste reg om hier te wees.”

      Haar glimlag verdwyn en haar lippe pers opmekaar. “Werklik, Festus, jy oordryf dit darem nou. Nou maar goed. Laat hulle dan maar jou huis oorneem. Kom ons gaan na my plek toe.”

      “Ek laat hulle nie saans alleen hier nie. Hulle is nog kinders!”

      Sy


Скачать книгу