Die plesierboom. Audrey Blignault

Die plesierboom - Audrey Blignault


Скачать книгу
ek vooroor wil val, dink ek aan ou Koos Kerwats en ek skree hard: Gate toe! Gate toe! En ek skiet hulle uit mekaar met die wapen van my herwonne selfvertroue.

      In sulke oomblikke dink ek aan oorlede oom Attie Louw van Calvinia en ek onthou met plesier sy afwerende antwoord aan sy leraar: “Sien, dominee, dis nou só: dis nie dat ek en die vrou ons in die sonde wil verlustig met die ou bietjie dansery van ons nie. Dis net dít, dominee: ons is Dawidsmense – ons huppel graag.”

      SO IS ONS – OF HOE?

      Van Eva se tyd af gaan dit al so: die man stel die verslag op oor die vrou, en gewoonlik nie in haar guns nie. Dis wat nou weer gebeur het: ’n ondernemende man met ’n naam soos ’n klavier, ene Paul Steiner, het ’n kielielekker boek met ’n vasnael-titel geskryf: Useless Facts About Women, en die mans van die wêreld is gaande oor die boek.

      Nuttelose feite? Moenie glo nie, sê die mans. Die feite wat in dié boek staan, is belangrik, hoogs belangrik, en vir elke man van die grootste nut. Vir die man wat die vrou regtig wil verstaan, behoorlik wil deurgrond en die effektiefste wil behandel, bied dié feite ’n onontbeerlike leidraad. Ons kan die manliewende Paul Steiner nie dankbaar genoeg wees vir die inligting wat hy so moeisaam versamel het en nou vir sy medebroers beskikbaar stel nie, sê hulle.

      Nou weet die mans van die wêreld dat die gemiddelde Franse vrou ’n honderd-vier-en-twintig pond weeg, net een keer in vier jaar ’n stel onderklere koop en glad nie danig omgee as haar eggenoot so ’n bietjie oor die tou trap nie. Die mans beskik nou oor die feit dat die Engelse vrou graag honde teel, dat sy lief is vir spinasie, veral as sy in ’n stad woon, en dat haar ideale huweliksmaat ’n rugbyspelende predikant is. Hulle kan ’n aantekening maak van die troetelname wat die Italiaanse vrou die graagste hoor: stella mia – my ster – of passeroto mio – my mossie. Hulle kan onthou dat die Duitse vrou ’n voorliefde het vir pienk of blou baddens en dat die Russiese vrou ’n verkoue met knoflok afweer. Ja, hulle kan selfs uit dié boek leer wat hulle van die Wilde Vroue van die Wêreld kan verwag.

      Beslis ’n leersame boek. Maar daar is één leemte: die skrywer sê niks van die Suid-Afrikaanse vrou nie. Oor ons, die vroue van Suid-Afrika, gee hy nie ’n enkele nuttelose feit nie. En dít, meen ek, is darem ’n leemte wat aangevul moet word. Hoekom moet ons dan so onverskillig verbygekyk word? Het ons dan nie ook reg op ’n plek in so ’n beslissende bloemlesing oor die wêreld se vroue nie? Ons het mos ook ons eie unieke aard en karakter. Ons het tog ook ’n waardige geskiedenis agter ons. En ons het boweal ons eie mans wat in ons belang stel.

      Of hoe?

      Waarom sal ons nie aan onsself die vraag stel: hoe is ons? en eerlik probeer antwoord daarop nie? As Paul Steiner dan wil, kan hy ons feite gebruik vir ’n aanvullende hoofstuk in sy boek. En as hy nie wil nie, kan die inligting wat ons aanbied handig te pas kom vir ons eie tuisgebruik.

      Nou ja, in navolging van Paul Steiner se metodiek, dan ons eerste vraag:

      Hoe lyk ons?

      Nee, ons is glad nie bang om dié ou vragie te beantwoord nie. Ons sê reguit: ons is nie klein nie, ons was nog nooit klein nie en ons sal ook nooit klein wees nie. Dit lê net nie in ons aard om klein te wees nie.

      Kyk ons na die portrette van ons voorgeslagte, sien ons nie vroue met petieterige postuurtjies, hangskouertjies en laventelgesiggies nie. Nee, die vroue van ons land was van die begin af basies breed van opset, met sterk boarms, fris kuite en oopastergesigte. Só het ons gelyk en só lyk ons nog.

      Ons kan ons tande kners, ons hare uittrek en trane met tuite huil, maar ’n gemiddelde gewig van ’n honderd-vier-en-twintig pond haal ons nooit. Ons kan diëte volg tot ons wegkrimp tot winddroë harders, ons kan oefeninge doen tot ons omval, ons kan ons van alle kante af laat berittel, bevryf en bepommel, maar kannetjieklein en veertjiefyn soos die Franse vroue sal ons nooit wees nie.

      Ons gemiddelde rokgrootte – waarom sal ons dit wegsteek? – is nommer agt-en-dertig, en baie van ons sal dit, helaas, ook nooit weer sien nie. Ons gemiddelde skoengrootte is nommer vyf, en met elke geslag word dit ’n halfnommer groter. Ons gemiddelde kousnommer is tien, ons handskoennommer sewe-en-’n-half en die grootte van ons hoede twee-en-twintig duim om die kop.

      Is dit nou so danig groot? Ek dink glad nie so nie. Die Hollandse vroue is beslis groter as ons en ek dink baie die Duitse vroue ook. Maar die man wat vir hom ’n tinktinkie wil vang, moet maar wegbly van ons en hom liewer in Parys gaan vestig.

      Één ding is seker: ons trek net so mooi en net so goed aan soos die vroue van enige ander land. Ons het meer oorspronklikheid as die Franse vroue, meer durf as die Engelse, mooier hoede as die Hollanders, minder tierlantyne as die Spanjaarde en baie meer heel kouse as die Portugese.

      Ons volg die mode na – natuurlik – maar ons laat ons nie hiet en gebied deur elke Jacques Fath en sy maat nie. Ons kies uit die mode wat vir ons mooi of interessant of sommer lekker is, maar ons gee lank nie op elke punt toe nie.

      Dit kan so deftig wees soos dit wil, maar ons dra nie swart as die son skyn nie, ons hou nie van flerrie-flantoiings in die kerk nie en ons loop nie met ’n rok wat soos ’n krismiskous span om al ons knolle en knikkers nie. Ons dra nie graag rokke wat ons bobene en bolywe heeltemal ooplaat nie. Ons trek nie graag papierklere aan nie. Ons hou nie van broeksknope en bobbejaanspinnekoppe op ons hoede nie en die meeste van ons dra darem nog die noodsaaklikste onderklere.

      Wat ons bekwaamhede aanbetref, hoef ons nie beskeie te wees nie. Wat sal dit nou help om dit weg te steek: ons kan naastenby alles doen, ons sien vir naastenby alles kans en ons laat ons deur naastenby niks onderkry nie.

      Ons geskiedenis het ons só gemaak. Die lewe van die pioniersvrou op ’n dobberende seilskip, op ’n trekwa in die wildernis, op ’n afgeleë plaas, het groot aanpasbaarheid van liggaam en gees geverg. Die vroue van ons voorgeslagte het vroeg al geleer om selfgenoegsaam, vindingryk, onverskrokke en doelgerig te wees. En in baie groot mate is ons vandag nog so. Ons is rateltaai. Ons is uitgeslaap. Ons gee nie in nie. Ons skik ons maklik na omstandighede.

      Dis vir ons niks om op ’n koffer te slaap, ons kos in ’n kruiwa gaar te maak, uit ’n geborduurde goiingsak ’n deftige rok te skep en ons wasgoed in die Kaapse reënweer droog te kry nie.

      Neem nou maar my eie skoonmoeder. Niks of niemand in die lewe het haar nog ooit drooggesit nie. Altyd en in alle omstandighede kom sy met ’n uitoorlê-plan.

      Een verskriklike somerdag ry ons saam met ons skoonouers in ’n ouerige motor van Graaff-Reinet af Kaap toe. Die motor was maar mankoliek en daar op die haaivlakte van die Karoo kry ons ’n ernstige teëspoed. Johan spoor die moeilikheid op – dis die vergasser wat nie reg werk nie. Hy en sy pa haal die vergasser af en maak dit skoon. Ons sit en vergaan in die moordende somerson. Hulle maak die ding reg en sit hom weer aan. Maar nou ontstaan daar ’n moeilikheid: hoe om nou weer brandstof in die vergasser te kry? Hulle krap kop. Hulle dink – hiernatoe, daarnatoe. Toe – natuurlik – kry Moeder ’n plan: neem net Pappa se sakdoek, druk een punt daarvan in die petroltenk sodat dit die petrol kan optrek, en droog dit weer in die vergasser uit. Maklik! Die plan werk uitstekend. En daar trek ons weer.

      Moenie dink boer se vrou sê ooit: ek kan nie of ek weet nie of moenie vir my vra nie. O nee, sy het vir alles raad, of dit nou masels is wat nie wil uitslaan nie, beskuit wat nie wil rys nie, ’n hen wat nie wil lê nie of ’n man wat nie wil hoor nie, sy weet presies wat om te doen, en sy doen dit ook.

      Die Suid-Afrikaanse vrou kan ook vreeslik goed organiseer. Stel haar net aan om ’n dorpskermis, ’n basaartafel, ’n tussenverkiesing of ’n veldtog teen die geel pers te organiseer en kyk wat gebeur.

      Die geskiedenis het dit al immers keer op keer bewys: as ons vroue iets aanpak, doen ons dit so deeglik dat die nageslag dit nooit weer kan vergeet nie. Kyk daardie keer toe Brittanje Natal wou annekseer in 1842 en die Voortrekkervroue onder Susanna Smit so ru gewerk het met die regeringsverteenwoordiger, die arme, verskrikte advokaat Henry Cloete. Hulle het hom mos opgesluit, hom drie uur gevange gehou en toe die klinkende ultimatum aan hom gerig dat “voordat hulle sig aan die Engelse oorheersing onderwerp, hulle liewer barrevoets oor die Drakensberge sou terugwandel”.


Скачать книгу