Die rugkant van die bruid. Rachelle Greeff
se pa is haar eerste affair, sê hy.
“Anyway, dit – sy ongemak en ysigheid – het begin toe ek voor begin wys, toe die molletjies begin stoot. Hy’t my daarna nooit weer reguit in die oë gekyk nie.
“Ek het gedink dis oor my privaatheid nou so ooglopend uitstoot, en ek was skaam daaroor. Ek’t trui gedra op somermiddae. Tennis gespeel met ’n top aan, kan jy dit glo, en verder my arms gevou gehou. Dieselfde met die menstruasie later. My ma het die goed so half agteraf uit die grocery-sakke gehaal. En ek moes dit altyd eers in koerantpapier toedraai. Dan sê sy: Liesbet, moet dit tog nie in ’n sakkie sit waardeur mens kan sien nie. Jy weet, ek het van die begin aangevoel dat dit hier oor hóm gaan – hy moet dit nie sien, nie weet nie – al sê sý dit vir my. Ek het dit gaan weggooi in die drom langs die garage as hy uit was of in die tuin voor of iewers.
“Nee,” sy glimlag half, “ek sien wat jy dink. Nee, hy’t my nie begeer nie.
“Hy’t wrokkig geraak, beangs dat ek sou geniet wat hý nooit kon nie. En omdat hy so bang was vir die lewe, het hy begin lol met die dood. Maar selfs hiervoor het hy nooit die guts gehad nie.
“En toe die verpleegsuster by die skool. Sy’t elke jaar met die meisies kom praat. Oor puisies en skoon hare. En die huweliksdaad, vreeslike woord. Ek het die idee gekry dat dit seer, uitgerek en bloederig sou wees. Jy hoor iets skeur, en wat doen mens dan met die lakens? Daar sit jy nou met hierdie bemorste beddegoed.” Sy kyk na my en sy lag. “En sê nou jy’s in ’n hotel en die kamerbediende sien dit of, nog erger, jy kuier by mense.
“Maar ’n kind in my klas, so ’n vette, het gesê dit is wonderlik. Fabulous, was haar woord.
“Dit was nie. Altans, nie vir my nie.
“Nes my eerste trip oorsee. Ander mense praat praat praat daaroor en show af met foto’s . . .
“Het jy geweet ek was oorsee voor ek oorsee is?
“Iemand het my stad toe gebring en ek is van die stasie af met die bussie lughawe toe. Dit was aan die einde van my eerste jaar – ek was negentien. My hare was weggebind in ’n kopdoek. Groot sonbril. En ’n swaar jas, Miek s’n – sy bydrae was die jas. Dit het gevoel ek smokkel iets. Ek was heeltyd bang hulle gaan dit uitruik, dit sien. My maag het aanmekaar padgegee en ek moes twee keer – dit onthou ek – hardloop daar in die gebou.
“Op Jan Smuts sit ek in ’n trek. Twee uur lank. En jy sien nou self, die lughawe is nie ver van my ma-hulle nie. Ek het daar in die vertreksaal gesit en die deur dopgehou, want teen dié tyd het ek geglo my ma en pa weet en hulle gaan daar inkom en my sien. Dit het my banger gehad as die hele ding wat voorgelê het.
“Ja, Ma sou seker ’n bietjie gehuil het en my teen haar bors aangetrek het. Maar dié naelstring, die band tussen my en my ma, het hy ook opgebokker. So, ek weet nie.
“Maar wat sou hy, hoofouderling, doen as hy sy enigste dogter daar aantref op só ’n sending? My seker skiet. Vir my of homself. Of eers vir my en dan vir hom, of so iets.
“Hy’t altyd net gedreig, die lafaard. Net vloekend rondgestorm en die hond geskop.”
En ek sien hom, kreupel, met die dom been. Eenkeer, onthou ek nou, het sy my vertel hy het die voordeur toegesmyt dat die glas gebreek het, en ek het dié prentjie moeilik versoen met die stillerige man, half eenkant, wat ek as haar pa geken het.
“Op pad Londen toe het ek langs ’n tannie gesit wat vertel het dat haar seun in Londen by die Sagtevrugteraad – of die Sitrusraad? – werk en dat sy na haar eerste kleinkind gaan kyk. Sy’t my aan my ma laat dink. Snaaks, ek onthou die kind se naam: Gawie. Gawie soos sy pa, het sy gesê. Sy’t ’n foto uit haar handsak gehaal van die rooierige kind in die babygro. Lelike kind. Wange soos tennisballe en ’n omkrul-onderlip. Is hy nie dierbaar nie, het sy gesê. Later aangebied dat ek met plesier bietjie in haar Sarie mag blaai. Ek het gemaak of ek aan die slaap raak, dat sy tog net nie verder moet praat nie.”
“Ek het die kliniek van Heathrow af gebel en hulle het vir my beduie en ek is deur strome mense, af en op met die eindelose roltrappe tussen die lughawe en die tube.”
Iets moet haar hier aan haar ouma Baai herinner het. “Ouma Baai was ’n ateïs. Sy’t altyd gesê die dood is maar nes slaap, net lekkerder.”
Die gras om die stoep is skurf en lelik geel. Sy kyk daarna asof sy dit vir die eerste keer sien.
“Ek was benoud in die moltrein omdat dit so jaag en ruk om die draaie, was al een wat nie my balans kon hou nie. Die ander mense het regop gesit en lees.”
Het sy, voortsnellend, gedink aan die paddavissie? Voel jy ’n verraaier, of verdoof alle gedagte en gevoel?
“Maar, uiteindelik, Chelsea Home for Women. Buite ’n bordjie waarop staan Pass quietly, women resting.”
Die Engelse ginekoloog, vertel sy, was oud – min of meer so oud soos haar pa toe hy dood is – met dik silwergrys hare. Mens het hom mister genoem. Hy’t haar hand vasgehou toe die naald prik en gesê: Sleep tight, my girl, we’ll look after you.
“Bo my was ’n skewe sprinkaanoog. Ek het die segmente probeer tel. En agter die swaaideure, het ek my verbeel, hoor ek my pa se woede.”
En haar ma wat paai?
“Ek was vier dae uit en tuis. Niks geld nie, ek’t net geloop. Dink jy ’n mens kan ’n paar maal deur Londen stap?
“Alles was agter glas, ek kon aan niks raak nie.
“Ek onthou min detail, behalwe die baie rooi busse. Sê nou, dit was my paniek, een ry my raak. Niemand behalwe Miek en die ginekoloog in die Kaap weet ek is hier nie. Dalk sou dit ’n einde maak aan my pa se geweifel. Eers Ma, dan homself.”
Sy praat sonder ophou en kyk nog altyd na die stekelrige grasperk. Soms versit sy haar bene en dan loop die mesplooie soos water.
Sy’t vergeet van my langs haar. “Ons draai bo Heathrow,” praat sy, asof met iemand anders wat ek nie kan sien nie, “bo die rook en die skoorstene. Die lug is grys, gestip met sperm en eier. Watter rook is myne en waar val die roet? Die fetus se oë sif oor die dakke en onder vee ’n straatveër sonder om te weet hy vee die as van stompies arms en bene weg.”
Sy sug effe. “Dit was die verligting, die verlossing en die afskeid. Op hierdie besige, selfgenoegsame stuk Engelse land los ek my kind. In rook of riool.”
Haar stem is dun en haar nek, toe sy dit uiteindelik na my toe draai, moeg.
“Maar die uitstappie was die tweede poging, dit het gebeur weke na die universiteitsdokter gesê het: Dis positief, juffrou. Laat maar weet as daar iets is waarmee ek kan help. Met jou ouers praat dalk. Of die kêrel.
“Toe ek, ek onthou, by die spreekkamer uitloop, kom ’n manstudent op krukke in. Hop-hop.
“Buite het die bloureën geblom.
“Teen die agtste week, het ek in die biblioteek gelees, is die fetus 32 mm lank en weeg dit net een gram.
“Ek vertel vir Miek en hy word wit in die gesig. Jesus Christ, you must be joking. Dit was sy woorde toe ek hom sê ek verwag sy kind.”
Binne, agter die stoepvenster, lag vroue en klink teelepels en koekvurkies teen porselein.
“Hy het alles gereël. Dit was ’n ou huis in Observatory en die man was besig om die ding te restoureer. Sementsakke teen die mure, vaal houtvloere en ’n hoop afgeloopte sand buite langs die paadjie. Broekieslace en ’n geroeste kruiwa op die stoep – snaaks watter simpel goed mens onthou.
“Ons is kombuis toe. Hy’t gesê ek moet alles onder uittrek en op die tafel klim, asseblief.”
Terwyl hy hande was, stel ek my voor, lê en wag sy met haar bene opgetrek en haar knieë teen mekaar. Daar’s niks in die kamer nie behalwe ’n kombuistafel met ’n kaal gloeilamp reg bo die blad.
“Ek het my jeans en panty op die opwasbak gesit. Bo dit, op die vensterbank, het ’n groot bottel Dettol gestaan. Buite