My Kubaan. Etienne van Heerden

My Kubaan - Etienne van Heerden


Скачать книгу

      

      Etienne van Heerden

      My Kubaan

      Tafelberg

      Slap grensdrade

      ’n Ritueel wat hom afspeel met elke besoek wat ek aan Zuurpoort bring, begin. Plegtig neem oom Isaac die koperbeslaande Familiebybel op en slaan dit oop by die familieregister voorin.

      Hy begin voorlees, in ’n prekerige toon: “Pieter Willem, agt geslagte van jou verwyder. Hy boer op die plaas Weltevreden in Tulbagh. Sy vader het in Nederland gesterf. Pieter Willem is die stamvader.”

      Sy wysvinger, verweer deur boer, skuif oor die name.

      “Sy seun Willem, sewe geslagte van jou verwyder, boer De Rietfontein naby Ceres. Ses geslagte van jou verwyder, jou grootvader Jacobus Stephanus, getroud met Sophia Emerentia van der Merwe. Sy’s uit die harde Van der Merwes van die Kamdeboo. Grootvader Jacobus was die eerste om Zuurpoort te boer.” Oom Isaac se vinger bewe effe oor die krullerige ink. “Kyk net die weglê-handskrif.” Hy versit die swaar Bybel op sy skoot.

      “Grootvader Jacobus het ’n klipstapel gepak daar bo in die Vlei, en ’n uur te perd noord gery, nog ’n klipstapel gepak. ’n Uur te perd oos gery, ’n stapel gepak, ’n uur suid en ’n uur wes. So’t hy Zuurpoort uitgemeet.”

      Sedert ek kan onthou, vertel oom Isaac dié storie. En elke keer kry dit weer betekenis: ’n bevestiging van my bloed, die versekering wat ’n stam bring.

      “Sy oudste seun, Isaac Petrus, het Zuurpoort oorgeneem, vyf geslagte verwyder. Hy trou met ’n nooi Auret, en koop twee buurplase by, Voetpad en Toorberg. Só kry Zuurpoort die lyf wat hy nou het, tweehonderd morg landerye, agtduisend morg bergveld. Dan neem jou oupagrootjie, Johann Christoffel Roché, oor, getroud met nog ’n nooi Van der Merwe van die Kamdeboo. Ná hom neem jou oupa, ook Johann Christoffel Roché, Zuurpoort oor. Hy trou met Sophia Emerentia Olivier. My moeder.”

      Die vinger skuif af na die volgende reël: sy eie naam. Isaac Petrus. Maar soos al die kere vantevore lees hy nie sy eie naam nie. Die vinger gly af na Boet se naam, aangebring in oom Isaac se eie skrif.

      Hy sug. Ek wil weer eens vra: Waarom het Boet by die Staande Mag aangesluit? Waarom dit waarvoor hy grootgemaak is, geteel is, opsê?

      Oom Isaac maak die Bybel toe, klamp die koperklampe vas.

      Só stil kan ’n opstal wees in die nag. Hy gaan staan voor sy vader se portret. Sug weer. “Nag, Jac.” Die skemer huis sluk sy voetstappe in, ek hoor hom vroetel in die studeerkamer. Ek sit onder die ry familieportrette. Die voorgeslagte staar vanuit die rame; dit is asof hulle meeding in stugheid, en voortsetting eis van die verdere geslagte.

      Beklemmend, dink ek, en dalk juis die rede waarom Boet uitgebreek het uit die program wat sy bloed op hom afgedwing het.

      Ek het die vorige dag op Zuurpoort aangekom vir my jaarlikse besoek aan my wewenaar-oom Isaac en sy enigste seun, Boet. Boet die kroonprins. My geslag se uitverkorene, om die leisels van Zuurpoort oor te neem.

      ’n Plaas is soos ’n mens: hy’t ’n gemoedstoestand. En Zuurpoort is bedruk; dit kon ek onmiddellik by my aankoms aanvoel. Die hek tussen die wit pilare het effens aan sy skarniere gehel, en gesleep. ’n Hek wat sleep, is die eerste teken van slordig boer. En oom Isaac, geskool in die ondervinding en dissipline van sy voorgeslagte, was nooit ’n slordige boer nie. Hy het die familieplaas met ’n streng en netjiese hand geboer.

      Die tweede teken van agteruitboer is slap grensdrade. Op pad na Zuurpoort se opstal, met die kronkelende middelman-paadjie, het ek plek-plek slap grensdrade opgemerk.

      Oom Isaac het self die voordeur oopgemaak, agter hom die skemer uitspansel van die opstal.

      “Dag, Jac,” het hy gesê, en sy growwe palm was in my hand.

      Ek het binnegegaan: die bekende vloere, die hoë plafon.

      Daar was fout met oom Isaac se skouers – effens vooroor geboë. Ons het in die sitkamer gaan sit. Voor die huis, in oorlede Tante se roostuin, het ’n troppie Leghorns en ’n roesrooi haan geskrop. Dit was ongehoord, hoenders in die roostuin.

      Die gesprek het die gewone loop geneem: uitvra na die familie se welstand. “Waar’s Boet?” het ek gevra. Die heilige taak van voortsetting; Boet was maar pas ’n jaar of twee klaar met Grootfontein-landboukollege.

      Agter oom Isaac se blou oë het iets geroer.

      “Boet . . . is Grens toe.” Hy het die sin afgekap, verdere vrae verbied met sy stemtoon.

      “Maar het hy nie sy jaar klaar gedoen nie?” het ek nogtans gevra.

      Oom Isaac het sy voete geroer, ’n ornamentjie het in die glaskas gerinkel. “Boet het permanent aangesluit.” Hy het opgestaan en uitgestap; sy voeteval in die gang het beduie hy wil nie verder oor die saak praat nie.

      Ek het gedink aan die sleep van die hek, die slap drade, die hoenders in die spoggerige roostuin, aangeplant, aangevul en onderhou deur geslagte se boervroue. Die roostuin wat in stand moes bly en wag vir die vrou wat Boet Zuurpoort toe sou bring.

      Met die blaker in my hand stap ek na die gastekamer. Die nag is op Zuurpoort. My skaduwee, terwyl ek uittrek, flikker swart teen die mure. Ek lê ’n rukkie, dommel dan in, met die gesigte van my voorgeslagte wat flikker in my drome.

      Zuurpoort is siek, en iets van die siekte voel ek in oom Isaac se stemtoon toe hy vroeg die volgende oggend die ramme vir my gaan wys. Naas die deurlees van die familieregister is dit die tweede ritueel van my besoeke.

      Stadig ry ons met die bakkie in die akker af. Kol-kol wei die ramme, sommige met seiljasse aan om die wol te beskerm. Oom Isaac hou stil en klim uit, haal ’n handvol mieliepitte uit die goiingsak agterop die bakkie.

      Een vir een kom die ramme nader; digby my ruik ek die swaar reuk van wololie. Swaar teelballe wieg tussen agterbene, hang soos die erfklok in die voorkamer van Zuurpoort.

      Hulle eet die pitte uit oom Isaac se hand. Geesdriftig beduie hy: “Kyk die kop, die horingvorm. Die reguit rug, die ingeteelde skene, die lê van die horings.” Ek moet een vashou, maar dis skaars nodig, want die dier is selfversekerd mak. Oom vou die wol weg, sy hande beweeg geoefend oor die ram se lyf. Ek sien die grys bowol breek en onder die wit. Die ram kopspeel in my hande.

      Ons klim in die bakkie en ry huis toe.

      “Die ou grote,” sê oom Isaac, “was drie keer agter mekaar Suid-Afrikaanse Grootkampioen. Ek het hom altyd net op Bloemfontein en Ermelo geskou. Nou’s hy uitgedien, sy saad te flou. Maar ek hou hom, want hy’s trots. Hy gee iets aan die ander ramme. Het jy gesien hoe hy kopspeel?”

      Ek staan in die pit van Zuurpoort. Die hemelbed waarin oom Isaac steeds slaap, ná Tante se dood agt jaar gelede, het saam met die oervader uit die Boland gekom. “’n Gladde mannetjie uit die Kaap,” het oom Isaac eens vertel, “het hier aangekom en my ’n duisend aangebied vir die bed. Ek het die honde op hom gesit.”

      Hoeveel van my oumas, ouma Geertruida, ouma Sophia, ouma Magdelena, ouma Martha, ouma Magtilt, het nie hygend op daardie slap vere gewieg ter voortsetting van die bloed nie?

      Dáár is die nuwe geslagte ontvang en gebore; ’n dokter moes vinnig uit die dorp die veertig myl afjaag. Hoeveel het die maagdskap hier verloor en moederskap gevind, en daardie moederskap bevestig en weer bevestig . . .

      Skielik raak die kamer muf, suur. Geslagte roer: my oupa gryp my ouma en ruk haar hoepelrok af. Sy runnik van plesier.

      My terugkeer na Zuurpoort, elke jaar, was altyd ’n soort bedevaart; selfs toe ek nog te jonk was om dit só te bewoord. ’n Mens besoek jou ou woonplekke, jou speelplekke as kind, jou skool, soms selfs die kamer waarin jy gebore is.

      My besoeke aan Zuurpoort was besoeke aan my bloed.

      Maar dié keer is daar fout. Ek dwaal op die werf rond; orals is daar tekens van verwaarlosing: die Jerseys wei in die koeikamp met hul ore wat gedurig flikker – bosluise. In die gereedskapkamer hang die gereedskap nie soos gewoonlik netjies geolie in rye nie. En nog méér onverstaanbaar – daar is geen bediendes in die


Скачать книгу