My Kubaan. Etienne van Heerden
is op die tafel,” sê sy naderhand. Hy stap kombuis toe en sit aan. Hy rol sy swart hemp se moue op. Hy roep na die kind, wat die gaasdeur onnodig hard laat klap.
“Pa het gesê jy moet die deur sag toemaak.” Die kind antwoord nie. Dalk het hy geantwoord, maar ’n trein dreun verby.
Eers, toe hulle kort hier was, het die treine hulle snags wakker gemaak, want die spoorlyn loop dig teen die huis verby. Maar later word die treine se geraas ’n ánder soort stilte. Jy hoor dit, maar jy hoor dit ook nie.
Hy smeer botter op die brood, en sny brokke kafferwaatlemoen. Hy skink koffie vir hom en die kind, wat woordeloos oor die tafel na hom staar.
“Hoe gaan dit in die skool?” vra hy.
“Ek het ’n skinkbord gemaak,” sê die kind deur ’n mondvol kos.
Buite sak die skemer, en dis asof dit warmer word. Hy staan op en steek die olielamp aan. Nou kom die aand, die nag. En soms lê hy langs sy vrou en wens die oggend kom sodat hy na sy blink stasie kan gaan en die hefbome gooi wat die sinjale laat lig of val.
Sy verstaan nie.
Sy staan skielik in die deur. Hoe gekreukel is haar rok, en die lamp se skaduwees laat haar oud lyk.
“Ons moet trek,” sê sy.
Hy kou sonder om te antwoord.
Sy verstaan nie. Sy staan in die deur en kyk na hom.
“Die kind se rapport het gekom,” sê sy. “Hy’t gedop.”
Hy kyk na die kind. Die kind kyk na die gaasdeur en die nag buite.
“Ek het ’n skinkbord gemaak,” sê die kind. Skielik vlieg hy op, stamp die gaasdeur oop en hardloop na buite.
“Ons moet weggaan,” sê sy vrou.
“Nee,” sê hy. “Nee.”
“Die kind moet by ’n spesiale skool kom,” neul sy.
“Dan stuur ons hom.”
Sy kom sit skielik op die kind se stoel, kyk oor die tafel na hom. “Dan is ek alleen in dié . . . gehuggie.” Haar mond kry ’n bitter trek.
Hy haal sy skouers op. “Net ’n paar jare, Martha, dan word ek verplaas na ’n groter stasie, dan . . .” En sy begin huil, soos altyd. Hy wil haar vertel van sy sinjaalkamer; die sinjale wat regop langs die spoor wag dat hy die hefbome gooi. En as hy hulle gooi, op die minuut, op die sekonde, begin die groot diesels te brul, sidder die magtige lywe. Maar eers moet hulle wag, met hul trokke vol uraan of vakansiegangers, wag, wag, wag – tot hy die sinjaal gooi.
Dan dreun die trein voor die platform verby, dit ruik na diesel en olie, die stilte breek oop en ’n wind vlug deur die peperbome, en dan, skielik, is dit stil.
Die trein het in die water verdwyn.
Maar sy stap kamer toe en hy sit sonder woorde.
Sy verstaan nie. Dit is sý stasie, syne. En in ’n groot dorp is daar te veel stasiemeesters. Te veel treine en syspore, dis anders as hier.
Hy hoor haar huil agter die toe deur. En buite in die donker vroetel die kind.
Hy sny nog ’n sny brood, en nog ’n trein kom verby, met die geraas wat die hele huis vul en die vrou se gehuil smoor en die kind laat stilstaan in die donker om met groot oë te luister.
Toe hy werk toe stap, die volgende oggend, langs die blink spore af, boor die son reeds in sy nek. Dis pas agtuur, maar die sonbesies sing al in die bosse langs die spoor.
Langs die stasiegebou, omraam deur netjies gepakte kalkklippe, is ’n grasperkie. In die een hoek van die lappie, waar die stasiegebou se skaduwee nooit val nie, al skuif die son hóé, is daar ’n droë kol waar die kaal aarde al die oorhand gekry het.
Elke oggend as stasiemeester Ferreira die tweehonderd tree van sy huis stap na die stasiegebou, hou die blink spoorstawe sy oë. Dit is asof die stawe en die son wat daarop kaats, sy oë neem en neem, tot waar die twee ysterlyne mekaar vasvat, in die verte, in een blink blerts op die vlakte. En as die son fel is, soos vandag, bibber daardie blerts ’n paar duim bo die horison en is dit soos water.
Dan is dit asof die groot, pruttende diesels hul trokke die water insleep, weg van die grasperkie, die peperbome en die ry rooi brandemmers by die sinjaalkamer.
Die rooi emmers is met sand gevul.
En elke oggend, trommeltjie in die hand, en korrels sweet alreeds op sy voorkop, betrag hy die kolletjie kaal grond in die hoek van die grasperk. As die kolletjie groter lyk, vat hy die gieter en verwaarloos daardie dag die peperbome. En hy haal al die sigaretstompies uit die vuuremmers wat die nagmeester en kondukteurs in die nagure daar gegooi het, terwyl hulle op die platform staan en rook het.
Dit is in die tyd tussen die treine dat hy sit en dink. Hy sit op die bankie voor die stasie sodat hy die spoor na weerskante toe kan sien. Dan dink hy wat hy vir Martha kan doen.
In die middag, teen halfvier, stap stasiemeester Ferreira na die kleinhuisie agter die stasiegebou. Hy het die sinjaal gesak vir die drie-veertig, want dié moet eers wag vir die passasierstrein van De Aar, wat sonder stop moet deur PE toe.
Hy het dus ’n goeie twintig minute om in die kleinhuisie te sit en te dink oor Martha en die kind, en hoe dit op ’n groot stasie sal wees.
Die stafie son speel oor sy kop, hy sit kop onderstebo en moet kort-kort met sy hande die vlieë verjaag.
Hy kan al die drie-veertig hoor nader kom. Die trillings van die trein laat die sinkmure bewe. Skielik besef hy: die trein dreun verby!
Hy spring vervaard op, knoop sy broek in die hardloop toe en vergeet sy pet wat aan die haak van die kleinhuisiedeur hang en liggies swaai. Binne die sinjaalkamer sien hy onmiddellik: iemand het met die hefbome gelol. Hy kyk uit: die sinjaal wys dat die drie-veertig kan ry. Hy hardloop uit na die platform; die agterkant van die kondukteurswa raak al kleiner. Die kondukteur leun uit en waai na hom. Hy wil sy pet vat om te waai, tas mis en swaai sy arms en skree. Maar die son en hitte en dreuning van die dieselenjins vreet sy stem op.
Hy moet bel en storm na binne met die volgende halte se nommer alreeds in sy kop.
By die sinjale, op die blink gepoleerde vloer, sien hy ’n sakdoek lê. Hy steek in sy spore vas. Hy onthou die kind wat aan sy ma se arm trek by die sandlopie en neul: “Aag kom nou, Ma, aag kom nou, Ma.”
Hy tel die sakdoek op. Dis klein, ’n vrou s’n. Die reuk is Martha s’n. Soet en swoel.
En hy gaan staan met sy hande op die hefbome, voel die lamheid in hom lê.
Stadig gaan hy na die foon en draai die slinger. Die volgende halte sal die passasier laat stop; gelukkig is hy nog nie daar nie.
“Is daar fout op Kreerivier?” vra die stasiemeester aan Ferreira.
“Nee,” sê hy, “nee. Keer net die passasier.”
Hy onthou wat sy gesê het toe hulle ’n maand gelede gehoor het van die kalf wat deur die trein getrap is.
Ferreira gaan sit op die bankie voor die stasie. Eers wou hy huis toe bel, maar hy weet dat die kind nooit die foon antwoord nie. Weerskante strek die spore tot waar die water hulle insluk.
Later hoor hy iets en ver, uit die rigting van die huis, kom ’n figuur aangestap. Die kind. Stadig stap die kind, ingedagte, asof hy ver dink.
Ferreira staan op om die kind in te wag. Kop onderstebo kom die kind tot voor hom en staan dan, lig sy kop en sê: “Ek het ’n skinkbord gemaak, Pa.”
Die wit aap
Fielies se draadkar vat skaars grond soos hy om die melkkamer se hoek kom. Met ’n windmaker es kom briek hy reg voor ons, en terwyl die nagemaakte Cadillac slaplyf wieg op sy binnebandveerstelsel, kondig hy uitasem aan: “Daa’ sit ’n yslike blouaap in die vanghok.”
Opgewonde dink ek aan die trop blouape,