'n Wêreld sonder grense. Alexander Strachan
Alexander Strachan
’n Wêreld sonder grense
Tafelberg
Herinnering
Ma was jonk en mooi. Ek onthou ook die wind. Dit het dae lank om die hoeke van die huis gehuil, maar ek sou nie buitetoe gaan om dit teen my vel te voel nie. Ek het in my kamer op die bed gelê. Dit was skemer in die vertrek, want die gordyne was dig toegetrek. In die gang kon ek Ma se sagte voetstappe op die plankvloer hoor.
Ons bly ná aandete aan tafel sit. Ma se oë is groot en ek weet haar vingers slaan wit deur soos sy hulle onder die tafelblad vasklem. Pa sit aan die kop van die tafel en lees koerant. Soms voel ek jammer vir hom.
“Julle moet die sinkplaat môre laat vassit,” sê Ma. “Dit gaan vannag heelnag raas.”
Dit lyk of sy haar inmekaartrek op die stoel toe die teef begin tjank. Ek verbeel my hoe sy met haar naels in die toe deur van die buitekamer grawe, die reuns snuiwend en bakleierig aan die ander kant.
“Nog net ’n paar dae,” sê Pa. “Ons kan nie kanse vat nie. Hier’s genoeg honde op die werf.”
“Julle moet die takke ook afsaag,” sê Ma. “Hulle skuur teen die dak.”
Ons sit aan tafel en niemand sê iets nie. Ma vra my met haar oë om nie oor my wegganery te praat nie. Ek kyk spottend na haar, want dis of ek die sê het – net wanneer ek wil, kan ek daaroor begin praat. Aan die beweging van haar neusvleuels sien ek sy wil eerder opstaan om iets anders te gaan doen.
Die volgende dag pak die stof al hoe dikker op die meubels. In my kamer hoor ek hoe Ma van vertrek tot vertrek loop. Sy kan nie stilsit nie, want sy verwag hom. Selfs Pa moet dit agterkom.
Laat die middag staan sy voor die venster en kyk na waar die weerlig al hoe dringender uitslaan. Sy kyk altyd noord.
“Dit gaan reën,” sê sy. “Dit sal nat en koud wees, buite.”
Ná ’n rukkie draai sy om en gaan sit weer op haar stoel. “Ek hoor nog altyd die sinkplaat.”
“Onmoontlik,” en Pa laat sy koerant sak. Hy gaan staan agter haar stoelleuning, sit sy hand op haar skouer en speel met haar hare. Selfs van hier af sien ek hoe styf sy haar rug hou. Pa sug sonder dat iemand hoor. “Toe maar, ek sal môre weer ’n swarte op die dak laat klim.”
Ons bly die aand tot laat wakker en ek luister na die wind, en die teef wat nou sonder ophou tjank. Die bekommerde kyk in Ma se oë pla my. Ek wil nie vir haar kyk nie, maar dis of sy my oë aantrek. Dan word ek moedswillig en begin op my stoel rondskuif om haar nog meer onrustig te maak. Ons is al twee bly toe Pa sy stoel agteruit stoot.
Toe ek die Maandagoggend wakker skrik, is dit stil, afgesien van die geraas van die trekkers en die werksmense.
Ek trek die oorfone oor my kop en laat die tromslae my oprui en wegvoer, tot ek dit nie langer kan uithou nie en die musiek van my ore pluk. Buite fluit ek lank en skril vir die honde. Die teef raak gek toe sy hoor hoe hulle met skerp blafgeluide teen my opspring. Ek stamp die buitekamerdeur oop en ons klouter teen die steil kop agter die huis uit waar ek op die swart klippe rondstaan en oor die hardheid van my maag en bors vryf. ’n Duisend jaar gelede het mense in die son gesit en beelde op die klippe uitgekrap. Agter my hoor ek die honde. Die reuns het eers baklei en nou bespring hulle die teef al om die beurt. Ek kan hulle hoor tjank as sy omdraai en hulle deur die klippe sleep. Die son is warm en my stem dra ver oor die vlaktes terwyl ek die steilte in volle vaart afhardloop tot by die huis, waar ek moeg in die koelte op die sement gaan lê en rus.
Ma kom om die hoek van die huis. “Hier’s drinkwater,” en sy gee vir my die bottel aan. Sy het nie ’n glas saamgebring nie. Ek steek my tong in die nou opening in totdat dit aan die koelheid raak. Dan keer ek die bottel om en drink dat die water teen my nek afmors. Ma staan en kyk. Sy hou daarvan as ek honger of dors is.
“Dis snaaks,” sê Pa die aand, “die teef is vanaand stil. Ek dink ons kan haar maar van môre af oopmaak.”
Ma is in die kombuis doenig. Ek sal haar vanaand uitlos . . . sy het vir my water gebring. Maar dan hoor ek haar saggies sing, en meteens weet ek: sy is gelukkig – dit moet hy wees.
Ek staan by die slagplek toe die stofwolkie op die plaaspad uitslaan. My hande trek die steenbok se vel af terwyl ek die motor dophou. ’n Ent weg hou dit onder die jakaranda stil. Die vleis is warm en bewerig onder my hande. Pa gesels eers ’n rukkie met hom en maak dan verskoning om na iets te gaan omsien, sodat hy alleen oor die skoongeveegde werf voordeur toe moet stap.
Die grou reun het eerste weggebreek, maar die steenbok het geswenk en ’n ent onder die honde uitgehardloop. Hulle het hom gou weer ingehaal en die ander reun het probeer. Weer het die steenbok geswenk. Die teef was half eenkant in die lang gras. Sy het soos ’n skaduwee ingegly en toe hulle klaar in die stof gerol het, was haar tande nog steeds om die keel.
Hy is by die voordeur en dit lyk of hy huiwer. Die windhonde draai al om my, steeds onrustig ná die jag. Hulle maak fyn tjankgeluidjies en hap in die warm lug. By die slagplek sien ek hoe die skrik in Ma se mooi gesig spring.
Sy soen hom vinnig. “Jy was lank weg! Jy’s maer!” Sy vat aan sy arm en hulle loop die tuin in en gaan sit op die draadstoele. Daar is ’n gloed op Ma se gesig.
Ek onthou toe hy laas jaar hier was. Dit was reeds donker en ons het in die voorkamer gesit. Skielik was die vlermuis daar. Dit het heen en weer geswiep en elke keer het Ma gegil. Pa was min gepla. Maar hý het opgestaan en Pa se sambok van die muur afgehaal. Hy het vir hom gewag . . . en toe het hy geslaan: hard, vinnig en raak. Net een hou was genoeg, want die vlermuis se vlerk was van sy lyf afgeskeur. Hy het die swart bondeltjie aan die punt van die ander vlerk opgetel en by die deur uitgegooi. Dit was die eerste keer dat ek gesien het hoe Ma se gesig gloei.
Ek kan Pa tussen die struike by die sementdam sien. Hy is net te ver om te hoor wat hulle praat. Hy staan ’n rukkie rond en loop dan met lang, vinnige treë in die rigting van hul stemme.
“Nog nie trouplanne nie?” vra Pa toe hy sit. “Jy weet die tyd stap aan en ons word nie jonger nie.” Pa lag.
Hy staan op en kyk oor die vallei. Sy hare is verbleik van te veel son. Half weggesteek onder sy hemp se kraag sien ek ’n litteken. Hy lag en sy tande is wit in die son.
Ma en Pa staan ook op. Dit lyk of hulle nie weet wat om te doen nie. Hy groet hulle vinnig en stap na sy motor toe.
Ek vat kortpad en staan hom voor agter die rantjie, wydsbeen in die pad, hande op die heupe. Hy hou stil en ons kyk mekaar vas in die oë. Dan laat ek hom verbykom en hardloop die hele ent huis toe sonder om een keer te rus.
Toe die kuiermense opdaag, lyk Ma mooier as ooit. Sy stap met lang bene rond en drink ’n helderkleurige drankie deur ’n strooitjie. Sy staan op die punte van haar tone om ’n bal te vang en ’n spier beweeg in haar bobeen. Iemand hoes saggies. Sy druk haar teen Pa aan en steur haar nie aan die mans se kyke nie. Tog kan ek sien hoe sy daarvan hou toe hulle haar in die swembad gooi.
Teen die middag begin die tenniswedstryde. Ma is bekommerd. ’n Glasskerf het in my vinger ingesteek dat die vet weerskante uitpeul toe ek laas jaar as wenner ’n glas in my hand stukkend gedruk het. Sy het lank gesukkel om die bloed te stop. Die snaakse, kielierige gevoel laat my af en toe oor die dik rif aan my vinger vryf.
Vanjaar is daar ’n meisie tussen die gaste. Sy is skraal en tingerig en bly die meeste van die tyd eenkant. Ek hou haar dop en toe hulle die vure aansteek, staan ons agter die rondawel, met my hand wat al oor haar wang vryf. Sy is bewerig soos die windhondteef. Maar dan is daar ’n geritsel van blare en ek herken die vorm van Ma se liggaam. “Ek haat jou,” sis ek deur my tande.
’n Week later is die mense weg en het die wind begin waai. Laat Augustusmaandwinde. Dag en nag. Ek dwaal op die werf rond en kom op die leë bierbottels af – al wat oor is van die stemme, die lag en plesier wat ’n week gelede oor die werf geklink het. Ek lê in my kamer op die bed. Ek weet ek moet opstaan om ander mense te soek. Maar ek kon my nog nooit sover kry nie, hoekom sal ek dit nou doen?
Ek moet wegkom van hierdie plek met sy hoë bome en stiltes; maar