'n Gelukkige kind. Dr. Pieter van Jaarsveld

'n Gelukkige kind - Dr. Pieter van Jaarsveld


Скачать книгу
ection>

      

      ’n Gelukkige kind

      Bemagtig jou kind om positief te dink

      Pieter van Jaarsveld

      Lux Verbi

      Die uitleg van hierdie digitale uitgawe van ’n Gelukkige kind kan verskil van dié van die gedrukte weergawe, afhangende van die instellings op jou leser. Die uitleg vertoon optimaal as jy die standaardinstellings op jou leser gebruik. Lesers kan eksperimenteer met die instellings om die beeld te verbeter.

      Opgedra aan my twee kleinkinders, Thomas-Henry en Amelie, met die bede dat hulle nie net as gelukkige kinders sal grootword nie, maar ook as gelukkige en positiewe volwassenes sal floreer.

      Voorwoord

      Wat dink jy is een van die verantwoordelikste rolle wat jy in jou lewe speel?

      Daar sal beslis ’n hele paar rolle wees wat jy kan noem, maar een van die belangrikstes sal sekerlik jou rol as ouer wees. Voel jy dat jy goed genoeg toegerus is vir hierdie taak?

      Ek dink jy sal soos duisende ander ouers moet erken dat jy eintlik geen kwalifikasies vir hierdie rol het nie. Dalk weet jy net jy wil nie jou kinders grootmaak soos jou ouers jou grootgemaak het nie, maar jy is ook nie seker wat die beste manier sal wees nie.

      Hoe sou jy voel as jy op die operasietafel lê, net voordat jy narkose toegedien word, en die chirurg sê vir jou: “Ek het nie juis veel opleiding vir hierdie soort operasies nie, maar ek is baie lief vir my pasiënte en gebruik my common sense”? Jy sal ’n angsaanval kry en hardloop so al wat jy kan.

      En tog dink baie van ons ons kan goeie ouers wees as ons net genoeg liefde en common sense het. Net soos die chirurg opleiding nodig het om te weet hoe om ’n operasie uit te voer, moet ouers weet hoe om hulle kind groot te maak sodat hy of sy gelukkig en positief kan wees. Baie ouers weet nie eens dat hulle woorde net soos ’n mes kan sny nie. Al laat dit nie sigbare snye in die liggaam nie, kan dit pynlike emosionele wonde veroorsaak as ouers nie weet hoe om op ’n positiewe manier met hulle kinders te kommunikeer nie.

      Ek weet geen ouer staan in die oggend op om hulle kind se lewe onaangenaam te maak nie. Dit is tog net ouers wat van hulle sinne beroof is wat so iets sou doen. Ongelukkig is daar welmenende ouers wat nie besef dat hulle optrede hulle kinders skade aandoen nie.

      Dekades gelede was ek as ouer totaal onbewus van die impak wat my daaglikse interaksie met my kinders op die ontwikkeling van hulle brein gehad het. Wetenskaplike navorsing oor hierdie impak was in daardie jare nog nie tot ons beskikking nie. En ek is bevrees baie ouers is vandag steeds nie bewus daarvan hoe belangrik hulle woorde en gedrag op ’n kind se breinontwikkeling is nie. Hulle besef nie dat ons deesdae met ons kennis van die neurowetenskap, die brein en emosionele intelligensie ons kinders kan grootmaak om gelukkige en positiewe mense te wees nie.

      Daar is inderdaad unieke uitdagings vir ons as ouers!

      Hoeveel ouers wens dan nie dat hulle vir elke kind ’n eie handleiding ontvang het nie! Want wat met die een kind werk, werk net nie met ’n ander nie.

      Om kinders vandag groot te maak is regtig baie meer stresvol as jare gelede. Almal berei hulle goed voor vir die geboorte van die baba. Hulle leer hoe om die baba te laat slaap en te voed en hulle dra kennis van al die verskillende ontwikkelingstadiums, maar dit is gewoonlik waar die meeste ouers se kennis ophou. Wanneer die eerste 18 maande verby is, word die engeltjie skielik ’n duiweltjie wat tantrums gooi. Op 2½ sê sy vir alles nee, wil hy nie meer in sy eetstoeltjie sit en eet nie, is dit ’n oorlog om haar doek om te ruil en begin hy sy nuwe sussie slaan. Tussen 3 en 5 raak hy huilerig of sommer heeltemal dwars. Tussen 5 en 8 moet jy haar oor en oor dieselfde ding vra.

      Dink ook aan die volgende uitdagings wat vir ouers stres veroorsaak:

      •Jy het vir alles ’n sertifikaat nodig, maar vir ouerskap ontvang jy geen opleiding nie. Ouerskap is ’n nuwe beroep sonder enige salaris. Ouer word opvoeder sonder kwalifikasies.

      •Daar is vandag nie altyd ’n ouma of ander familielid naby om te help nie.

      •Albei ouers werk om die pot aan die kook te hou of omdat albei voel hulle wil ’n professionele lewe geniet. Dit beteken lang ure elke dag en inkopies en maaltye wat al meer gejaagd raak.

      •Moderne tegnologie bring mee dat ouers altyd bereikbaar is per selfoon of e-pos.

      •Ma’s speel al meer die rol van die gesin se taxibestuurder. Omdat daar vandag soveel moontlikhede is om ’n kind se ontwikkeling te stimuleer, jaag ma’s soms voltyds van die een aktiwiteit na die ander.

      •Ouers is te bang om hulle kinders in die straat te laat speel. In die verlede het kinders tot laat speletjies in die buurt gespeel terwyl die ouers met ander dinge besig kon wees, maar vandag is die kinders meer huisgebonde.

      •Vroeër was respek vir die ouer baie belangrik, maar vandag gaan dit meer oor respek vir die kind. Moet daar dan nie wedersydse respek wees nie?

      •Vroeër is kinders gesien maar nie gehoor nie; vandag is baie kinders die middelpunt van die heelal.

      •Nie so lank gelede nie was kinders bang vir hulle ouers, maar vandag gebeur dit in sommige huisgesinne dat die kinders hulle ouers emosioneel boelie.

      Al wat jy begeer, is om ’n gelukkige en positiewe kind groot te maak. Jy wil hê jou kind moet goeie verhoudings geniet, gedissiplineerd en ordentlik wees, vir mense omgee, goed vaar op skool, hard werk, verantwoordelik wees en ’n goeie selfbeeld hê.

      Welkom by die klub van ouerskap! Hier weet ons die ouer wat op water loop, bestaan nie. En elke krisis is eintlik ’n geleentheid om jou kind op te voed om die wonderlike doelwitte wat jy het wel te bereik. Jy is uitverkies om een van die wonderlikste roepings in hierdie lewe te vervul – ouerskap. En dit hoef nie ’n tyd van moedeloosheid te wees nie. Daar is wonderlike nuwe navorsing beskikbaar oor hoe om ’n gelukkige en positiewe kind groot te maak … en jy staan op die drumpel om dit te begin doen.

      Hierdie boek wil jou help om jou doel te bereik. Maar voordat ons begin, eers net die volgende:

      Meer oor hierdie boek

      Voornaamwoorde: Ek gee meestal voorkeur aan die manlike vorm, bloot om plek te bespaar en sodat die leser met gemak kan lees.

      Gewone mense: Hou in gedagte dat hierdie boek nie vir akademici geskryf is nie, maar vir gewone mense soos ek en jy. As jy meer wetenskaplike bronne soek om te lees, is daar talle publikasies beskikbaar.1

      Herhaling: Ek weet baie lesers lees nie ’n hele boek deur nie. (Ek self doen dit ook nie.) Daarom herhaal ek sekere belangrike begrippe, navorsing, tegnieke en vaardighede vir dié lesers wat net sekere hoofstukke lees. Hopelik help dit hulle om die geheelbeeld te kry.

      Dink jouself gelukkig en Hart van ’n wenner: Om dit vir jou makliker te maak om hierdie boek te gebruik, het ek probeer om die essensie van gedeeltes uit my vorige twee boeke, Dink jouself gelukkig en Hart van ’n wenner, te herhaal waar dit van toepassing is. Dan hoef jy nie hierdie boek met Dink jouself gelukkig en Hart van ’n wenner oop langs jou te lees nie. Dit is egter nie genoegsame inligting as jy nog nie Dink jouself gelukkig gelees het nie. Ek beveel daarom aan dat jy daardie boek ook lees vir meer besonderhede.

      Uitnodiging: Ná my vorige boeke het ek soveel e-posse van lesers ontvang. Dit was ’n ongelooflike ervaring waaroor ek baie dankbaar is. As jy iets met my wil deel, meer oor iets wil uitvind of my wil nooi om by julle te kom optree, kontak my gerus by [email protected] of [email protected].

      Erkenning: Baie dankie, Irene, vir die raad met die manuskrip, die oefeninge asook die aanvanklike sketse.

      Geniet hierdie boek. Ek hoop dit help jou om ’n gelukkige en positiewe kind groot te maak.

      Pieter van Jaarsveld

      Inleiding

      Geluk is die betekenis en doel van die

      lewe, die hele strewe en die oogmerk

      van die mens se bestaan.

      Aristoteles


Скачать книгу