Speurder Kwaaikofski: Omnibus 1. Jürgen Banscherus
nie.”
“Hou die geld!” roep ek terug. “Jy kan my betaal wanneer die saak opgelos is.”
Die bed is die enigste plek waar ek ordentlik kan dink. Mý bed. Vandag is dit ook so.
Ek sit die ou Rolling Stones-plaat op wat ek by my ma geërf het, stop twee stukke kougom saam in my mond en lê terug.
Eers slaan my gedagtes deurmekaar bollemakiesie. Maar hoe langer ek kou, hoe meer bedaar hulle. Ek trek my kep laer oor my oë. Dis nie lank nie of my kop is koel en kalm, soos dit hoort wanneer ’n speurder diep dink.
Hoekom laat die Slang die Carpenters steel? Hoekom net die Carpenters? Dis die belangrikste vraag. Dieter Schlang beplan beslis iets skelms daarmee. Maar wat?
En hoekom is daardie Colette betrokke?
Die Slang is geslepe, dit weet ek. Hy laat hom nie maklik vang nie.
Ek het ses maande gelede die eerste keer met hom te doen gekry. Dit was toe hy motbolle verkoop het en gemaak het of dit towerballe is.
Dit het my lank geneem om die skurk vas te trek.
Nadat ek hom aan die kaak gestel het, het Dieter Schlang my met ’n grynslag aangekyk en gesê: “Nie sleg nie, Kwaaikofski. Maar ons sien mekaar weer, dis seker.”
En hy was reg. Behalwe dat hy nie weet ek is weer op sy spoor nie … Ek hoef my nie oor Colette te bekommer nie. Sy het my vertel wat hy nou weer aanvang en hom verraai. So sy sal dit nie waag om hom van my te sê nie.
Op hierdie oomblik val dit my by dat ek vergeet het om Colette se adres te vra. Dis nou dom! Ek sal moet wag met my ondersoek tot sy by my uitslaan – of ek moet na die Slang begin soek en maar net hoop ek vind uit waar hy deesdae is.
Toe ek laas met Dieter Schlang slaags geraak het, het ek agtergekom hy en sy trawante hang by die slagpale rond. Daar is ’n paar opslaanhuise wat niemand meer gebruik nie. Een daarvan was die Slang se wegkruipplek. So dit kan nie skade doen om weer daar te gaan rondkyk nie.
My ma het intussen opgestaan. Ek sê vir haar hallo en tot siens, en ry met die bus na die slagpale toe. (Ek het genoeg agter Colette aan geloop en gehardloop. Ek is nie lus om soos die meeste speurders jonk al platvoet te kry nie.)
Toe ek by die slagpale aankom, wag daar ’n verrassing vir my: die opslaanhuise is leeg. Ek vra ’n bietjie rond by die mense wat daar werk, maar dis verniet – hulle het die Slang en sy ouens weke laas gesien.
Maar iets bly my pla.
Op pad terug na die bushalte kry ek die gevoel iemand agtervolg my. Maar elke keer as ek omdraai, is daar niemand verdag agter my nie.
Ek voel eers weer beter toe ek uiteindelik in die bus sit.
By die waterwerke kom sit ’n man met ’n hoed en aktetas langs my.
Hy haal dadelik ’n pakkie kougom uit sy baadjiesak. Een keer se loer is genoeg: dis Carpenters kougom.
Ek hou sommer dadelik van die man.
Ek haal my eie pakkie uit my broeksak. “Hulle is lekker, nè?” sê ek vir die man.
Hy knik vriendelik. “Ja-nee, baie lekker.”
“Dis die enigste soort waarvan ek hou,” sê ek.
“Sowaar?” sê die man.
“Dis vreemd, ek het hierdie eers twee dae gelede leer ken.”
“Het Olga dit vir Meneer aanbeveel?” wil ek weet.
Die man frons. “Wie is Olga?”
“Olga is Olga,” probeer ek verduidelik. “Ek dink sy is al een hier rond wat Carpenters verkoop.”
Die man skud sy kop.
“Sy is beslis nie. Ek het dié by ’n seun gekry.”
Amper sluk ek my kougom in! Ek trek aan die man se hempsmou. “By ’n seun? Waar was dit? Asseblief, ek moet weet!”
Op daardie oomblik hou die bus stil en die man moet uitklim.
“Waar?” roep ek agter hom aan.
Net voordat die bus se deure toegaan, antwoord die man oor sy skouer: “By die kindervlooimark.”
Ek dink blitsvinnig: Die kindervlooimark word elke eerste naweek van die maand by die kerk gehou. Daar kan ’n mens enigiets koop, van badeendjies tot elektriese karretjies. En nou is daar blykbaar ook Carpenters kougom …
So, Dieter Schlang laat die kougom steel om dit vir geld te verkoop. Dit weet ek nou. Maar is dit regtig die oplossing? Het Olga en die Slang dalk stry gekry, en toe laat steel hy die kougom om wraak te neem? Ek moet dadelik by die kiosk gaan uitvind.
Olga drink net mooi koffie toe ek daar opdaag. Sy maak die sydeur oop en laat my in.
“Sit op die bierkissies,” beduie sy. “Hier is nie plek vir ’n stoel nie.” Sy grinnik. “Of wil jy op my skoot sit?”
Natuurlik kies ek toe om op die ongemaklike bierkissies te sit.
“Ken jy dalk ’n ou met die naam Dieter Schlang?” vra ek.
“Dieter Schlang? Nee, nog nooit van hom gehoor nie,” antwoord sy.
“Mense noem hom ook die Slang,” probeer ek weer.
“Nee, Kwaaikofski. Ek ken nie so iemand nie,” sê Olga. “Hoekom vra jy?”
“Dieter Schlang stuur sy trawante om jou Carpenters te steel. Hy verkoop dit op die kindervlooimark,” vertel ek.
Olga sit haar koffiebeker só hard neer dat van die donkerbruin vloeistof op die toonbank uitstort.
“Deksels, Kwaaikofski! Dan gaan ek daai adder-vent se ouers nou dadelik voor stok kry!”
“Slang, nie adder nie,” help ek haar reg.
Maar daar is nie keer aan Olga nie.
“Slang of adder – hy is ’n vermetele skurk, skaamteloos vermetel!”
Ek sit my hand op haar arm. “Bedaar,” sê ek. “Ek kan nie bewys die Slang sit agter die diefstal nie. Nog nie,” voeg ek vinnig by.
Olga steek ’n sigaret aan. “So wat nou?”
“Ek gaan môre weer hier kom wagstaan,” sê ek. “Ingeval die Slang dalk weer iemand stuur om die Carpenters te kom steel. Dan sal ek die dief volg. Miskien lei hy my na die Slang se wegkruipplek toe.”
Olga streel oor my kop. “Jy is ’n speurder duisend, Kwaaikofski.”
“Moenie soveel rook nie,” sê ek en staan op. “Kou liewer kougom.”
“Dis vir my senuwees,” sug sy. “Ek is die slagoffer van ’n misdaad, jy weet.”