Zephany. Joanne Jowell
In ons gesin was ons altyd openhartig oor enige probleme wat ons gehad het. Soos finansiële goed. As hulle vir my gesê het ons kan dit nie bekostig om iets dié maand te koop nie, ons kan dit volgende maand koop, kon ek nooit vra hoekom nie, want ek het geweet hulle geld was aan die opraak. Hulle het altyd daai oopheid teenoor my en my broer gehad. Dis nog steeds hoe ek leer. Mense sê ek is cheeky of ongeskik omdat ek baie reguit is. Maar my ouers het my grootgemaak om te sê wat ek dink, en hulle het nooit doekies omgedraai met my nie, hulle was altyd eerlik wanneer ek dit nodig gehad het.
My ouers is almal se ouers. Hulle was nog altyd die mense wat my neefs en niggies gehelp het met kos, klere en skoolgoed – tot vandag toe nog. Toe ek 16 was en nie meer met my neefs en niggies wou uitgaan nie, het my ouers hulle nog steeds uitgeneem. Ander familielede noem hulle “Mamma” en “Pappa”. Hulle is almal se ma en almal se pa. Selfs in die tronk noem mense my ma “Mammie” as hulle haar kom groet. Dis goed om te weet sy het daai moederinstink, selfs daar binne …
Ek was by Steenberg-laerskool en daarna, toe ons Gladiola toe getrek het, is ek Zwaanswyk-hoërskool toe – ’n skool in Tokai met ’n baie goeie reputasie. My ma wou altyd hê ek moet na ’n topskool gaan, sy wou nooit hê dat ek in ons eie area skoolgaan nie.
Zwaanswyk was 25 minute se ry van my huis af, so dit was nie te ver nie. My tannie het my skool toe geneem en weer kom oplaai, maar toe ek met Sofia se pa begin uitgaan, het hy my ’n lift gegee omdat hy met ’n kar skool toe gekom het, wat baie lekker was.
Ek het van skool gehou en ek was gelukkig. Ek het altyd baie vriende gehad, totdat … jy weet … alles gebeur het. Daarna het ek nie geweet wie ek kan vertrou nie omdat my vriende met die joernaliste oor my gepraat het. Dit moes hulle gewees het, want die joernaliste het dinge uitgevind waarvan net my vriende geweet het. Maar tot op daardie tydstip was my vriende ’n groot deel van my lewe.
Ek was ’n uitstekende leerder in die laerskool, ek was onder die toptien. Op hoërskool was ek egter nie meer onder die uitblinkers nie; dis toe ek begin het om pret hê, saans tot laat uitgegaan het, ’n boyfriend gekry het en sulke goed. Ek het goed gevaar wat skoolwerk betref, maar nie uitstekend nie. Ek dink ek was ’n normale tiener – ek het daarvan gehou om nou en dan partytjie te hou! Maar ek het nooit saans weg van die huis geslaap nie, want dit was die reël.
Sofia se pa was my eerste boyfriend. Ons het begin uitgaan toe ek 15 was, in graad 9, en hy in matriek. Teen die tyd dat ek in graad 11 was, was hy reeds klaar met matriek en uit die skool, en ons verhouding was ernstig.
Jy weet hoe dit is – jy is 17, jy wil dinge ervaar en pret hê. Maar my ma het my altyd teen hom gewaarsku. Sy sou sê: “Hy’s te spraaksaam – dis nie ’n goeie ding nie. En ’n mooi man is almal se man.”
Ek het gelag en gesê: “So ek moet ’n lelike een kies?”
“Nee, maar hy’s te spraaksaam en jy weet wat spraaksaam doen – praat met ’n ieder en ’n elk.”
“Mammie is nou laf – ek gaan nie met hierdie ou trou nie.”
Ek dink ons het ’n normale huishouding gehad en ek was ’n normale tiener. Ek meen, ek was altyd uitgesproke, en ek kon onbeskof wees. My mammie het nooit oorreageer nie, maar sy het my altyd prontuit vertel as sy dink ek is cheeky.
Ek was beslis baie nukkerig in my tienerjare. Ek was dikwels nie lus vir gesels nie. Saans, as my daddy my vra hoe skool was, dan sou ek iets sê soos: “Daddy hou aan vra hoe skool was. Kan Daddy nie sien ek is nie lus vir praat nie?” Hy het egter gewoond geraak daaraan. Hy het selfs aan mense verduidelik: “Almal in die familie is gewoond daaraan dat Miché soms stil is; partykeer is sy net in haar eie wêreld.”
My mammie het nie daardie gedrag van my sommerso aanvaar nie. As ek vir haar sê ek voel nie lus vir praat nie en sy moet my asseblief net uitlos, sou sy vra: “Wat het gebeur? Is dit al weer daai ou? Daai ou wat so baie praat?”
“Nee, Mammie ken hom nie, hy’s nie so nie.” Ek het hom altyd verdedig.
Miskien was dit as gevolg van die boyfriend, maar ek het wel fokus begin verloor in graad 11. My onderwysers het my gevra of ek ’n boyfriend het en ek was soos: “Nee, hoekom?”
“Want dit lyk of jou aandag afgelei word – asof jy net wil deurkom.”
Ek het gehou van die sagter vakke, soos lewensoriëntering en Engels, nie wiskunde en wetenskap nie. Ek was baie gefassineer deur lewens-issues, kulture en godsdiens. Ek was mal oor teken en kuns … Ek is nog steeds; soms lê ek in Sofia se kamer en teken prentjies en dekorgoed.
My lewensplan was om maatskaplike werk of sielkunde te gaan studeer. Dis nog steeds wat ek wil doen. Ek wou nog altyd weet hoe die menslike brein werk, wat die snellers vir sekere reaksies is, hoekom mense sekere dinge doen. Soos Lavona: Daar is goed wat veroorsaak het dat sy gedoen het wat sy het – was dit ’n geestesding? Was daar ’n draad in die brein wat losgekom het? Dié dinge fassineer my, nou meer as ooit.
Wat myself betref, weet ek meestal waar my issues vandaan kom. Natuurlik is my grootste probleem dat ek sukkel om mense te vertrou, maar dis meer onlangs en dis natuurlik weens alles wat gebeur het. Maar ek het ’n paar ouer vrese ook. Soos honde, en om te bestuur.
Ek het ’n rybewys, maar ek is te bang om baie ver te ry. Ek was al in ’n paar angswekkende situasies op die pad, en daar is al hierdie skietery en dinge. Ek sal dalk Pick n Pay toe ry vir inkopies, maar ek bestuur nie self Worcester toe vir die tronkbesoeke nie, of selfs na Muizenberg om strand toe te gaan nie. Ek kry altyd ’n lift saam met my pa of my broer, of ’n neef of niggie.
En honde. Wel, ek is bang omdat ek gebyt is. Ons het vyf honde gehad toe ek grootgeword het. Deesdae het ons net een, ’n boerboel, maar sy word nou oud en ons moet ’n nuwe hond kry. Maar toe ek jonk was en ons in Seawinds gewoon het, het my drie ander niggies en ek eendag hierdie swart-en-wit hond geterg; dit was ’n man wat ons Pa Martin genoem het se hond. My niggies was bang, maar nie Miché nie. Nee, Miché was baie bok en dapper … totdat die hond my aan die been gebyt het. Ek onthou nog ek het gehuil en Pa Martin het my opgetel en huis toe geneem. My ma het my dokter toe geneem en alles. Van toe af het ek ’n vrees vir honde. Ek vrees nie my eie hond nie, maar as ek ander honde sien, sal ek jou letterlik vasdruk of agter jou wegkruip. Ek is doodbang vir honde.
My dogter, Sofia, is vir niks bang nie. Ek weet my tannie-hulle waarsku hul kleinkinders oor allerhande soort bangmaakdinge, maar ek laat hulle nie toe om dit aan haar te doen nie, want hulle sal haar dapperheid met vrees ruïneer, en ek wil nie hê sy moet bang grootword nie. Sofia sal alleen in die donker huis rondloop sonder vrees; ek ook. My niggies is bang vir die donker – hulle sal nie eers in die gang afloop om ’n foonlaaier te gaan haal tensy die lig aan is nie. Nie ek nie. Dis nie iets wat my bang maak nie. Ek is eenvoudig nie bang vir die donker nie.
Hoofstuk 2
Daar is geen tekort aan geheimsinnigheid rondom die naam Zephany Nurse nie, en dit prikkel my nuuskierigheid dat ’n soortgelyke waas Miché Solomon omhul – nie omdat ons nie weet wat met haar gebeur het nie, maar juis omdat ons weet.
Miché het ’n besadigde kalmte aan haar wat haar ouderdom sowel as haar omstandighede weerspreek. Ek het nie verwag dat iemand so jonk, wat al soveel deurgemaak het, met Miché se sagte gemak sou praat nie, dat sy haar situasie in oënskou sou neem met die nugter objektiwiteit van ’n veel ouer, veel wyser mens met veel groter afstand van die storie nie. Dis nie dat Miché met afsydigheid oor haar lewenservarings praat nie, maar eerder dat dit lyk asof sy hulle geweeg, gemeet en in netjies verteerbare vorm ingeneem het. Elke keer as ons ontmoet, betrap ek my dat daardie ou gesegde by my opkom; jy ken dit mos, die een wat lui “when life gives you lemons, make lemonade”? Wel, dit wil voorkom of Miché hier besig is om die een of ander fynproewerdrankie te berei – sy pers net die regte hoeveelheid sap uit die vrug, versigtig, sodat die bitterheid van die skil nie die smaak bederf nie, en verwerk die oorblywende skil tot kompos in ’n poging om goeie gebruik van die oorskot te maak.
Om die waarheid te sê, ek is verbaas dat sy so in een stuk is. Ek dink ek het verwag om ’n gebroke jong vrou aan te