Weerlose meganika. Anton Roodt

Weerlose meganika - Anton Roodt


Скачать книгу
die weskus van Frankryk gekweek. Hierdie sakkie sal jou so veertienduisend rand per kilo terugsit. Ons kweek hulle nou op Moerland, my plasie naby Aldam.”

      “Ai, jy moes nie, Ga-Ga-Gassie, maar ek gee vir Bettie.”

      Bettie is Piet se huishoudster. Sy is omtrent die enigste tasbare oorblyfsel uit sy vorige lewe en huwelik. Sy en die ses ou Black Label-bierglase.

      “Sy sal weet wat om met hulle t-te doen. Jy sit daar in ry Be-Bee, Gasman, saam met pa-pa-pastoor Bi-Bi-Bitzer-hulle.”

      “Right-oh, Piet. Kom, Heinz. Het jy die Moët?” Hulle begin wegloop, maar hulle stemme dra.

      “Check, Pa.” Heinz skud sy blonde krulle agteroor.

      “En die ys en die Riedel flutes? Jy weet nooit wat die kripvreter vir cocktails gaan bedien nie.”

      “Check, Pa.”

      “Jou m-m-moer, man,” mompel Rooipiet agter hulle aan. Hulle weet goed dat hy hulle kon hoor.

      Die gaste het bykans almal aangekom. Dit is nog net die agbare burgemeester wat kortkom.

      Uit die hoek van sy oog sien Rooipiet hoe Boytjie doelgerig met iets in sy arms na hom toe op pad is – ’n pakkie. Hy oorweeg dit om weg te glip, maar besluit dat dit seker nou weer ’n krisis is wat hy sal moet hanteer.

      “Kol’nel! Kol’nel! Kyk ’n bietjie hier.” Boytjie skeur die bruinpapier af en wys vir hom die pakkie se inhoud.

      Piet glimlag van oor tot oor.

      13

      Piet is verstom hoe vinnig Lympi haar rol nie net as die hoofengel nie, maar ook as die sleutelfiguur in die historiese gebeure by Bloedrivier ingestudeer het. Sy het met oorgawe deel geword van die produksie, asof sy instinktief verstaan wat sy moes doen.

      Vir die duur van die fees sal die foto van die swart-en-wit engel wat Boytjie en Lympi in ’n swaar, vergulde Barokraam agter glas laat vasskroef het, hang in die feesdorp, Arcadia – agter ’n pasgemaakte swart ferweelgordyn in ’n spesiale tent. Vier van Ndlovu se rekrute sal die kleinood dag en nag oppas. Hulle sal nie kan slaap nie, want Piet het gereël dat hulle op hul beurt deur die kameras in die opskamer dopgehou sal word. Later vanaand sal die foto eers aan die media en dan aan die publiek vir besigtiging oopgestel word.

      “Met hierdie tente spot julle met die tabernakel, Piet!” het pastoor Boet gewaarsku toe hy vroeër die week by die steunbotte kom kollekteer het.

      Die swart-en-wit engel is in ’n kleiner tent geplaas, waarom daar ’n groter een opgeslaan is. Die kleiner tent is rooi en word met ’n seilvoorhangsel van die groter ene geskei. Op die voorhangsel is ’n digitale afdruk van die ouer Pieter Brueghel se Val van die Rebelse Engele aangebring. Lympi het vir Piet en Dames verduidelik dat sy Brueghel se idee dat die engele ’n kombinasie van artificialia en naturalia is in hierdie omstandighede heel gepas vind. Piet en Dames kon nie anders as om saam te stem nie.

      Daar heers baie belangstelling by die media oor die foto. ’n Joel-iemand van Time en ’n meisie van Huisgenoot is hier, asook iemand van die New York Times. Piet is nogal verontwaardig omdat die Azanian Broadcasting Corporation gesê het hulle kan nie kom nie as gevolg van ’n sokkerwedstryd in Odendaalsrus. Tog kan hy nie kla nie. Almal is welkom, behalwe daardie maaifoedie Douglas Fortuin van die Goldfields Trumpet. Hy sal maar hiervan in Huisgenoot moet lees.

      Lympi straal voor die kameras. Sy lyk soos ’n ster. Die rok sit perfek aan haar, al is dit net ’n simpel swart rok. Selfs Piet kan sien dat dit meer van Lympi se menswees (as dit die regte woord is) impliseer as wat dit onthul. Haar borste word natuurlik beklemtoon, so ook ewe terloops die skulp van haar geslag wanneer sy haar lang dye versit. Maar dit is nie al nie. Daai Anslin Gysman is fokken briljant met sy ontwerpe, want sy is meer as die som van haar … skaamdele, of is dit … onderdele? Fokkit, waar is Boytjie tog, want Piet het nie woorde vir hierdie goed nie. Sy blik sak na haar voete en hy wil iets oorkom: Sy het vanaand chroomblink naellak op haar tone.

      “Don’t you think, as an angel, your sensuality projects the wrong message?” wil die bebaarde kêrel van die New York Times by Lympi weet. “The industry is littered with famous and less famous stars who have tried to use sex to further their careers. Many of those who did were either hounded or faded away. What is your opinion on that?”

      “Sir, you may not understand what I am going to tell you, but listen carefully.” Lympi vee haar haar mondhoek met haar ringvinger af. “You are more likely to fade away than I am. If you don’t mind, I would rather talk about angels tonight.”

      Die kêrel wil-wil nog iets vra, maar Lympi draai weg en gaan sit by Huisgenoot se verslaggewer.

      Piet stap nader en hoor hoe Lympi vir die meisie verduidelik wat sy vroeër met die engele bedoel het.

      Lympi se swart aandrok het Piet meer gekos as gisteraand se personeelfunksie. Eintlik tien maal soveel. Dra sy vanaand onderklere? Hy mag tog seker wonder. Hy probeer fokus op die onderhoud, maar die aand se opwinding maak hom jags en hy oorweeg dit vir ’n oomblik om gou te gaan draadtrek. Hy bedink hom egter, want Vlindra sal beslis ná die vertoning nabetragting wil doen.

      “Marisca … Dit is Marisca, nè?” maak Lympi seker. “Wat ek bedoel het, is dat ons as engele mos vir ewig leef, dan nie?”

      “Dink jy jy’s ’n engel, juffrou?” wil Marisca belangstellend weet.

      Piet kan sien hierdie girl ken haar lesers.

      “Wel, dalk nie heeltemal nie. Dit is meer asof engele ons aanraak tydens die vertoning, en dan weer verdwyn. Ons drie voel dit aan. Ek voel ’n diep konneksie met engele wat terugstrek na my oerverlede. Help dit?”

      “Jammer, juffrou Lympi, maar my lesers, al glo hulle seker aan engele in die godsdienstige sin, gaan iets meer tasbaars wil hê as jy hulle rêrig wil beïndruk.”

      “As jy tien minute wag, dan wys ons vir jou iets wat jou lesers nie sal kan glo nie. Wat meer is, as jy ’n eksklusiewe reg op eerste publikasie wil hê, kan ek dit reël. Kolonel Moolman staan reg agter jou. Julle kan oor ’n prys onderhandel.”

      Die meisie kyk om na Piet en gee vir hom ’n glimlaggie.

      “Wat sê jy, Ma-Ma-Marisca?”

      Die area tussen haar bolip en neus is klam, maar haar lippe self is droog. Sy lek vinnig daaroor, maak keel skoon en sê dan plegtig: “Jammer, kolonel, ons betaal nie vir stories nie.”

      “Nou ja, goed d-dan, juffrou. Hier is solank vir jou ’n p-p-program. Dis g-g-gratis.” Piet draai weg en blaai die soveelste keer deur ’n program terwyl hy aanstaltes maak na die verhoog toe.

      Die groot, vierkantige feesprogram bevat uittreksels uit die libretto asook foto’s van die akteurs geneem tydens repetisies van vanjaar se Bloedrivier: die Ware Versoening. Op die middelblad verskyn Lympi in al haar lieflikheid. Sy is in haar wit-en-silwer engelegewaad, van onder teen ’n lug vol helder wolke afgeneem. Die fotograaf – Piet onthou sy was skraal en lank, dalk net so lank soos Vlindra – het Lympi op die perfekte oomblik vasgevang. Ja-nee, dit is, as hy moet sê, nes dit nagenoeg tweehonderd jaar gelede op daardie dag moes gelyk het. Met haar vlerke oopgesprei, is Lympi tegelyk die engel wat God se vergelding besoek het en verlossing verkondig het aan die swetende, gewonde en sterwende mensemenigte op die modderige aarde onder haar.

      Terwyl hy verder blaai, wil dit nogmaals vir Piet voorkom asof nie een van die twee kante verstaan het of selfs omgegee het wat die ander se situasie is nie. Hy lees weer met genoegdoening die erkennings aan sleutelfigure in die produksie. Sy naam is boaan in alle kategorieë, en hoekom nogal nie? Sy bydrae is onteenseglik deurslaggewend. Hy druk sy neus teen die glansbladsy. Die reuk van drukkersink wat nog daaraan kleef, is vir hom ’n bevestiging van iets nuuts wat hy, Piet Moolman, laat begin het.

      Hoe graag sou hy nie ook die geskiedenis wou ruik, dáár wou wees nie.

      14

      Dit is donker en aansienlik koeler toe Piet en Lympi uit die tent


Скачать книгу