Kalmte in die malle gejaag. Johannes Bertus de Villiers
word. Toe John agteruit probeer ry het, het sy wiele deur die ys gebreek. Hoe meer die wiele gedraai het, hoe dieper het hulle vasgeval.
Ek kan jou een ding oor John vertel: Hy was ’n ou wat altyd aan ’n praktiese oplossing probeer dink het voordat hy moed verloor het. Hy is die woud in om hout en klippe bymekaar te maak wat hy onder die motor se wiele gepak het om hulle traksie te gee. Maar met elke draai, het die wiele dieper gesink. Teen laatmiddag was hy papnat van die sweet. Sy hande was vol snye. En hy was heeltemal ontwater. (Hulle het geen water saamgeneem nie omdat hy gemeen het hulle sal binne ’n uur of twee terug wees – en om sneeu te drink is nie ’n opsie nie, dit ontwater jou net verder.) Die son het nog nie eens begin sak nie toe die temperatuur begin tuimel. Minus 26 grade Celsius.
Daar sit John en klein Julian toe die nag in hul voertuig in die donker sneeubedekte woud. Geen selfoonsein. Niemand wat weet waarheen hulle is nie. Geen ekstra klere buiten die kortbroeke, hemde en baadjies wat hulle vir die dagrit gepak het nie. John het elke uur die enjin so tien minute lank aangeskakel sodat hulle weer warm kon raak. Die batterylesing het al laer gedaal.
Toe die son die volgende oggend opkom, het Julian begin opgooi. John was so ontwater dat hy floutes gekry het. Hy het uit die motor gestrompel en die woorde SOS op die sneeu naby hul motor gepak. Maar die bome was dig en dit was onwaarskynlik dat iemand dit uit die lug sou sien.
Wat kon hulle doen? Hulle was seker so 30 of 40 kilometer van die naaste bewoonde gebied. Kon hy Julian optel en soontoe loop? Nee, hy sou waarskynlik ná 10 kilometer omkap en in die sneeu verkluim.
John het besef hy het geen beheer meer oor die situasie nie. Wat sou gebeur as hy bewussyn verloor? Sou Julian met sy kort beentjies gelyk die voertuig kon aanskakel en die petrolpedaal kon trap? Hoogs onwaarskynlik. Hy het briewe vir Sonya en sy ander seun, Haydn, geskryf, en kort daarna gevoel in sy hande verloor.
En toe was dit weer nag. John was so ontwater en so koud dat hy begin hallusineer het. Ligte in die woud. Geluide van ’n vliegtuig in die lug bokant hulle. Hy het gewonder of die vliegtuig se passassiers op daardie oomblik vis en bief bedien word, salig onbewus van die twee mense wat onder hulle sterf.
Toe die son weer opkom, het John besef hul laaste dag het aangebreek. Hy het gewag vir ’n oomblik toe hulle albei redelik helder was en na Julian gedraai. Ja, dit is moeilik, het hy vir sy seuntjie gesê, maar dit is ook ’n troos dat ons saam is en mekaar deur die moeilike einde van ons lewens kan bystaan. Julian het geknik, dit was onmoontlik om te sê of hy nog enigiets kon verstaan.
En toe het John sy oë gesluit om te sterf.
EK HET John Gruber eintlik eers ’n paar jaar ná dié voorval ontmoet.
Ek was op daardie stadium – en is steeds – ’n groot aanhanger van ’n Zen-meester genaamd Jules Shuzen Harris. Shuzen is ’n swart Amerikaner wat besluit het hy wil sy Afrika-wortels verken en het in 2008 Kaap toe gevlieg om hier ’n paar lesings en ’n retraîte (soos inwonende meditasiekursusse bekend staan) aan te bied. Ek het behoort aan die organisasie wat Shuzen in Suid-Afrika onthaal het, en so kry ek toe die voorreg om drie dae lank vir ’n Zen-meester chauffeur te speel. Wat ’n koddige karakter. Hy was ’n bejaarde omie met ’n grys baard wat in sy vrye tyd Japannese swaardkuns bestudeer het. Wanneer hy lesings aangebied het en mense hom tydens vraetyd oor die een en ander pols, het hy enigmatiese antwoorde gegee wat hulle meer verwar as ingelig het. Een persoon wou ná ’n praatjie weet wat is die sin van die lewe. “Jy is te slim om te verstaan,” was Shuzen se antwoord. ’n Ander ou het hom gevra hoe dit moontlik is dat hy gelyk die vreedsame kuns van meditasie én iets so gewelddadig soos swaardkuns kon beoefen. “Ek is ’n ou omie,” het Shuzen gesê. “Ek is te oud om mense te moer, nou moet ek hulle maar steek.” Elke keer ná so antwoord het hy geduldig vir die volgende vraag gesit en wag asof hy heeltemal tevrede was dat hy die mense na wense geantwoord het. Ek was mal oor hom.
Ek het met Shuzen en van sy studente in kontak gebly, en toe ek so vyf jaar later New York besoek het, het ek vir hom geskryf en gevra of ek hom in sy tuisstad, Philadelphia, kon besoek. En wil jy nou meer, dit blyk toe Shuzen hou oor daardie selfde tydperk ’n meditasie-retraîte in ’n tehuis vir Katolieke nonne en ek kan my by hulle kom aansluit. En so is ek Philadelphia toe. By die retraîte aangekom, het ek gehoor ek deel ’n kamer met ’n maer blonde man genaamd John. Shuzen het gedink ons sou goed oor die weg kom omdat ek van Suid-Afrika was en John ’n paar jaar in Zimbabwe gewoon het.
Amerikaners is vreeslike ekstroverte. Jy het hulle pas ontmoet of hulle noem jou “vriend” en nooi jou om by hulle aan huis te kom kuier. Hulle gesels dat die spoeg spat. Elke keer as jy jou mond oopmaak om vir hulle iets te vertel, rek hulle hul oë en sê “wow!” asof jy die interessantste ou is wat hulle ooit ontmoet het. John was selfs meer so as ander Amerikaners. Hy het gedurig geborrel, kon nie ophou om te vertel hoe bly hy is om my te ontmoet nie en het aan my lippe gehang as ek sy vrae oor my huis en werk beantwoord. Ons Suid-Afrikaners is effens meer sinies. En tog kon ek nie anders nie – John se sjarme en lewenslus het my omgeboul.
Ná net twee dae was ek spyt om hom te groet.
Toe ek terug was in Suid-Afrika het ons gekorrespondeer. Hy het my vertel van ’n gesin in Zimbabwe wat hy finansieel bystaan en my hulp gevra om ’n skootrekenaar by hulle uit te kry. Hy het my ook genooi om by hom en sy gesin te kom oorbly as ek ooit weer Amerika besoek.
EN SO, ’n jaar later, toe ek weer oorvlieg om onder meer by Shuzen oor meditasie te gaan leer, beland ek tas in die hand voor John en Sonya se deur in Lansdowne, ’n boomryke voorstad van Philadelphia. John het sy werk ’n dag lank net so laat staan en met my in die stad rondgery – eers na sy skool om my ’n klomp historiese brandglasvensters te wys, toe na ’n botaniese tuin. Om met John tussen ’n klomp inheemse plante van die Amerikaanse noordooste rond te loop, is ’n ervaring wat jou kop laat draai; hy pluk elke nou en dan ’n blaar of blom nader en verduidelik presies waar dié plant in die ekosisteem inpas. Of hy hoor ’n geluid van iewers, so sag dat niemand anders se oor dit kan optel nie, en laat jou ’n paar oomblikke stilstaan en – wraggies – daar kom een of ander Noord-Amerikaanse knaagdier uit die bosse voor julle geskarrel.
Dis toe ons die aand op John se voorstoep sit, dat hy my vertel het van die dag toe hy en Julian in die sneeu in Nieu-Mexiko vasgesit het. Hy het reeds van die lewe en alles wat hy ken afskeid geneem, het hy my vertel, toe hy wakker word van ’n soekgeselskap se klop aan die voertuigruit. Dit het hom ’n paar oomblikke geneem om te besef hy is nie dood nie.
Hulle was altesame 40 uur vasgekeer.
“Ek het lank aan post-traumatiese stres gely,” vertel hy. “As ek my oë toegemaak het, was ek agter die stuurwiel, in die sneeu. Ek het ’n onbeheerste vrees gehad dat ek van ’n droom gaan ontwaak en besef ons sit nog in daai berg vas, ons sterf steeds in die wildernis. Ek kon nêrens meer ry sonder om die kattebak vol water en proviand te prop nie.
“Ek het ook besef ek skuld die lewe iets groots. Elke uur van elke dag wat ek sedertdien leef, was ’n geskenk wat ek nie verdien het nie. Ons is almal net tydelik hier op aarde, ons almal weet ons gaan doodgaan, maar daar is min dinge wat jou so wakker skud soos om van aangesig tot aangesig te kom met die wete dat jy álles gaan verloor wat vir jou waardevol is.”
Om ons het dit skemer geraak. “Hierdie oomblik – wat ’n geskenk!” het John gesê in ’n stem wat vonkel. “Wat het ek gedoen om dit te verdien?”
Hy wou nooit weer soos ’n slaapwandelaar deur sy lewe beweeg nie. Hy het ’n meditasie-instrukteur gesoek en op Shuzen afgekom. Shuzen se raad aan hom: “Leer om elke dag stil te sit, gee aandag aan die wêreld rondom jou en jy sal stadig leer om weer van die wonderwerk van die lewe bewus te wees. En gaandeweg het dié instruksies my gehelp om my oë oop te hou. Om volkome lewendig te wees.
“Dis regtig goed vir my gesin. Dit was nie vir hulle goed om te lewe saam met iemand wat heeltyd krities was nie. Hoe kon ek hulle ooit gevra het om dinge anders te doen? Hulle ís hul manier van dinge doen. En ek is vir hulle lief. Wat maak dit saak as hulle dinge anders as ek doen?”
Party van sy leerlinge kom soms na hom vir lewensraad, het hy vertel. “Meneer Gruber,” sê hulle dan, “jy is die gelukkigste mens wat ons