Dis mooiweer en liefde. Wilmari Jooste

Dis mooiweer en liefde - Wilmari Jooste


Скачать книгу
niks van hom af nie, behalwe dat hy baie sleg voel oor wat sy broer gedoen het en dat hy letterlik uit sy pad gegaan het om te vergoed daarvoor, dat hy baie besorg is oor sy ma, en dat hy soos ’n droom soen.

      Sy lig haar hand en druk dit veersag teen haar lippe. Dis die eerste keer in ’n jaar dat iemand haar soen, en sy moet erken: dit was aangenaam genoeg om haar te laat dink dat Sarie Cloete tóg reg was. Sy hoef nie op haar herinneringe aan Kobus Kruger te teer nie.

      Sy staan op en trek die nat onderklere uit soos Nick beveel het. Met die sweetpakmateriaal grof teen haar vel, kruip sy tussen die lakens in. Slaap bly haar ontwyk omdat haar vel seer en sensitief is.

      Ná ’n ruk gee sy boedel oor. Sy staan op en eers toe sy die sweetpak uitgetrek het en net die linne knus om haar lyf vou, raak sy aan die slaap.

      ~ 2 ~

      Nick kry nie geswot nie. Menantheau le Clerque met haar sneeuwit hare en donker viooltjieblou oë spook só by hom dat hy moedeloos sug terwyl hy sy boeke wegpak en gaan slaap.

      Hy word die volgende oggend vroeg wakker waar hy op die ander bed in Steve se kamer geslaap het. Hy trek vinnig aan en gaan klop sag aan sy eie kamerdeur, waar Menantheau slaap. Toe daar geen antwoord kom nie, maak hy die deur versigtig oop.

      Hy loer in en sluk byna sy kleintongetjie in. Sy is vas aan die slaap met haar wit hare wat op die kussing uitgewaaier lê, ’n rosige blos op haar wange en een onbedekte bors soos ’n miniatuur roomwit spitskoppie teen die sagte mentgroen van die laken.

      Hy druk die deur agter hom toe en staan met sy rug daarteen en wonder wat hom te doen staan. As sy presies nou haar oë oopmaak, gaan hy lyk soos ’n skoolseun op die loer uit. Hy voel in elk geval so, want hy kan met die beste wil in die wêreld nie sy oë van haar losskeur nie.

      Voetjie vir voetjie stap hy nader en toe hy langs die bed kom, steek hy sy hand uit om dit teen haar voorkop te lê. Hy pers sy lippe opmekaar. Al sou hierdie meisie nou haar oë oopmaak, sou sy nie eens weet hy staan voor haar bed nie. Sy brand behoorlik van koors.

      Hy trek die laken oor haar bolyf op en stap dan na sy kas toe om ’n T-hemp uit te haal. Hy trek dit vinnig vir haar aan, ook die piepklein kantbroekie wat hy langs haar bra oor die stoel sien hang. Sy word nie wakker nie, maar kreun liggies terwyl hy besig is met sy taak.

      Tevrede staan hy terug toe sy weer plat teen die kussings lê. Haar bra en die sweetpak vou hy op en sit dit op die stoel neer.

      Dan stap hy uit en keer ’n rukkie later terug met hoofpynpille wat in water opgelos is. Hy gaan sit langs haar op die bed en lig haar kop effens om haar die medisyne te laat drink. Dis ’n tydsame proses, maar toe hy daarmee klaar is, is hy tevrede. Teen die tyd dat Steve opstaan en Numpie, hulle troue huishulp, hier is, sal niemand ooit vermoed dat Menantheau le Clerque hom in haar slapende toestand ’n onmenslike skommeling van hormone gegee het nie.

      Hy gaan maak Steve wakker en dié kyk dadelik sku na hom.

      “Kon jy toe iets uitvind van juffrou Le Clerque?” wil hy benoud weet, want iets aan Nick se gesig waarsku hom dat dit geen goeie nuus is nie.

      “Ja, Steve, ek kon iets uitvind oor juffrou Le Clerque. Sy lê op hierdie oomblik in my kamer en slaap, brandend van koors. Ek het haar halfdrie vanoggend voor die biblioteek gekry, sopnat en byna verkluim. Sy kon niemand bel nie, want sy het nie ’n selfoon nie. Sy kon nêrens heen ry nie, want haar motorsleutels was in haar handsak, so ook haar huis se sleutels. Daarby is haar voet verstuit sodat sy skaars kon loop. Ek hoop werklik jy voel trots op wat jy gedoen het.”

      Steve se gesig word rooi. “Ek het nie geweet nie, Nick. Ek het regtig gedink sy –”

      “Bly liewer doodstil, Steve. Staan op en maak klaar vir skool. Ons sal vanaand praat.”

      “Jy is nie hier vanaand nie, onthou?” roep Steve skielik opstandig uit. “Jy is mos nooit meer hier nie! Geld is mos deesdae vir jou die belangrikste ding op aarde!”

      “Dis genoeg, Steve! Moenie jóú swak gedrag en oortredings voor my deur kom lê nie. Jy het ’n dwaasheid begaan, maar miskien kan jy sien waarheen jou verkeerde vriende jou lei as jy na my kamer toe stap en sien hoe siek juffrou Le Clerque werklik is. En wat my werk betref, sal ek reël vir ’n aand se verlof by die restaurant. Dis tyd dat ek en jy ’n lang gesprek voer, my liewe boet.”

      Met dié woorde draai Nick skerp op sy hakke om en storm met ’n donker frons tussen sy oë kombuis toe, waar Numpie grootoog staan.

      “En watse dreigende storms hang nou weer oor hierdie huis waar jou mamma nog ’n uur van rus en vrede behoort te kry?” wil sy kwaai weet.

      “Jy raas met die verkeerde persoon, Numpie. Steve is die sondebok. Jy het ’n ekstra pasiënt vandag. In my kamer lê ’n meisie en slaap. Haar naam is Menantheau le Clerque. Sy het verlede nag natgereën en sy is baie koorsig. Ek het vir haar pille gegee, maar ek sal die apteek bel vir medisyne en reël dat hulle dit vroeg kom aflewer. Ek het geld op die kombuistafel gelos. Maak net seker sy drink dit.”

      Numpie slaan haar hand met ’n teatrale beweging oor haar oë. “Watse sondes gaan vandag in hierdie huis aan, Nick Bender? Jou oorle pappa draai in sy graf om as hy weet dat sy oudste ’n vroumens in sy kamer aanhou!”

      “Dan gaan hy maar net weer moet terugdraai, Numpie. Ek het verlede nag in Steve se kamer geslaap. Dit was ’n noodgeval. As ek nie die meisie hierheen gebring het nie, was sy vandag dood. Dáároor sou my pa in sy graf omgedraai het. Gaan jy nou na haar kyk vandag?”

      “Ja, Nickie-kind, natuurlik sal ek na haar kyk,” vermurwe Numpie soos gewoonlik.

      Sy en Anna is soos susters, en die twee seuns voel partymaal soos haar eie kinders. Sy stap nuuskierig na Nick se kamer toe en kyk lank af na die slapende meisie in Nick se hemp.

      Toe Anna wakker word, gaan doen Numpie verslag oor die vreemde gebeure onder hulle dak.

      “En daar sê Nick vanoggend vir my van die vreemde meisie wat siek daar in sy kamer lê. Ek het gaan inloer, en die arme dingetjie is skoon gloedig van die koors.”

      Anna frons verward. “ ’n Meisie in Nick se kamer?”

      “Ja, een met sulke spierwitte hare wat seker maar uit ’n bottel kom, want so iets het ek nog nooit in my lewe geaanskou nie. En sy lê nogal daar met onse Nick se klere aan haar lyf. Siek soos ’n hond. Brand omtrent van koors. Hy sê sy het verlede nag natgereën en koue gevat.”

      Anna se voorkop is in ’n diep frons geplooi soos wat sy dink oor alles wat Numpie te vertel het. “O. Het hy gesê wie sy is? Ken ons haar?”

      “Gmf! En van wanneer af sal ons ’n meisie van Nick ken? Hy het mos nie so iets nie. Maar hierdie dingetjie het in elk geval ’n naam wat g’n siel kan uitspreek nie. Haar van is De Klerk.”

      “De Klerk?” Anna se oë helder op. “Ek wonder of dit die meisie van die biblioteek is wat gister vir my die boeke en lekkergoed gestuur het? Haar van is Le Clerque.”

      Sy frons. “Ek wonder net waar het Nick aan haar gekom, en wat het met haar gebeur? Miskien het haar motor gebreek. Maar gelukkig ken Nick sy storie wanneer dit kom by enjins.”

      “Ek weet darem nie. Nick het nog nooit voorheen iemand huis toe gebring nie. En hierdie dingetjie ... oor haar het ek ’n snaakse gevoelentheid in my binneste. Sy laat my dink aan ’n verpiepte optelhondjie ... Een van daai wat kinders aandra huis toe en wat dan nooit weer koers kry nie.”

      “Nou maar gaan kyk eers of sy oukei is, dan kan jy my kom help was, Numpie.”

      Dis al laat die middag toe Menantheau wakker skrik. Sy kyk om haar rond in die vreemde kamer en probeer dink hoe sy hier gekom het. Word dan bewus van die feit dat iemand in die stoel sit.

      Dis ’n jong seun, sien sy, en die gesig lyk vir haar vaagweg bekend.

      “Juffrou Le Clerque? Nick het gesê u is baie siek. Voel u nou beter?”

      Nick. Herinneringe aan die vorige nag se gebeure sny deur haar en sy


Скачать книгу