Soete verleiding. Helena Hugo

Soete verleiding - Helena Hugo


Скачать книгу
mense te wen, veral mense wat niks van haar weet buiten dit wat sy bereid is om te openbaar nie. Sy pa kan nie Suzette se skoonheid miskyk nie, sy ma ook nie. Daarbenewens het Suzette ’n stewige stamboek wat met gemak herlei kan word tot by vader Adam van die lank verlore paradys. ’n Gesiene en skatryk Joodse familie, dis haar mense. Bankiers almal, in New York gestasioneer, met huise en woonstelle in Londen, Amsterdam, Seoel, Sjanghai, Doebai en Llandudno.

      Sy praat ses tale, en is benewens haar skoonheid hoogs intelligent, welsprekend en opgevoed in die beste skole. Dat sy steeds Afrikaans kan praat, is ’n pluspunt, want sy was nog in die laerskool toe haar ouers na Amerika geëmigreer en in New York gaan woon het.

      “Sy sê julle ken mekaar al drie jaar?”

      “Aan en af. Soms gaan daar maande verby dat ons mekaar nie sien nie.”

      “Hm ...” sê sy pa.

      “Suzette is baie selfstandig.”

      “Die meisies van vandag ... Dis omdat hulle hul eie tjeks teken.”

      “Sy werk hard.”

      “Ek glo so, en sy het welgestelde ouers.”

      “Teen hulle is ons kerkmuise.”

      “Wel, jy het iets wat haar na jou toe aantrek.”

      Sy pa klink filosofies, maar Jacques weet wat hy bedoel. Suzette het goeie smaak, maar barbaarse behoeftes – nes hy. Daarvoor kan sy hom enige tyd van die dag of nag opklop. Iets wat sy wel doen, soms diep in die nag, reguit van die lughawe af, haar oë klam en blink van afwagting.

      “Suzette en jou ma kom ook baie goed klaar.”

      Suzette is sy minnares, sy maîtresse, maar in sy ma se oë is sy ’n moontlike huweliksmaat.

      “Dis gaaf.”

      Hy gaan niks meer sê nie. Wat seks betref, het Suzette hom presies waar sy hom wil hê. En wraggies, hy kan nie anders nie. Hy maak elke keer vir haar die deur oop, gaan telkens na haar toe terug vir meer. Kastyding of ekstase – wat dit presies is, weet hy nie. Maar daaroor praat hy nie, en dis niemand se besigheid nie.

      “Wragtig, ’n vroumens,” sug Zack, en sy woorde impliseer veel meer.

      Jacques kyk vlugtig na sy pa, wat verlangend voor hom uitstaar. Sou Suzette haar flikkers by die oukêrel gegooi het? Nee, sy is daarvoor te uitgeslape, en sy pa te rotsvas ... of is hy?

      Maar hy sal dit nie waag om sy pa te pols nie. Wat ’n man nie weet nie, kan hom nie skeel nie. Dis een van sy lewensmotto’s en hy bly daarby, dis sy behoud.

      “Ja, sy is ’n vroumens.”

      “Eet net te min.”

      Suzette ly soos die meeste modelle aan verskeie eetsteurnisse. Daaroor sê hy nog minder. Hy het al met haar rusie gemaak; hy was saam met haar by haar sielkundige in Parys en by die dieetkundige in Stockholm. Hy is aangesê om nie onnodige stres op haar te laai nie, met ander woorde, sy mond te hou.

      Nou prop hy sy ore toe as hy haar in die badkamer hoor opgooi nadat hulle godekos teen astronomiese pryse by die beste vyfsterrestaurant geëet het. Hy kyk weg wanneer hy haar voor die yskas betrap waar sy net so uit die roomysbak eet. Hy kla nie as sy sy yskas en kruidenierskaste leegmaak en die inhoud vir die skoonmaker gee sodat sy nie in die versoeking kom nie.

      Die meeste van die tyd peusel sy aan slaaiblare en drink water, en dan moet hy vir hom ’n bleek hoenderborsie en waterige groente bestel om haar nie te na te kom nie. Sou sy dit vandag waag om ’n skerfie van die gemeste kalf in haar mond te steek? Soms kry hy haar jammer, maar die meeste van die tyd wil hy haar skud. Haar slegte eetgewoontes is nie haar enigste sonde nie.

      “Sy is so fyn gebou, so lank en skraal, jou ma is bang sy breek ’n been as sy te vinnig loop.”

      Jacques grinnik. Ja, hy is ook bang hy breek van haar beentjies of druk een van haar borsinplantings stukkend wanneer hulle liefde maak. Maar sy is ongelooflik taai, en dit bewonder hy van haar.

      “Sy’s taai, Pa,” sê hy net.

      “Wel, sy kan perdry, en sy en jou ma gim saam.”

      Suzette kuier al langer as ’n week op Rosedal. Sy het vooruit gekom om werksredes, en sy ma het haar met ope arms ontvang. Dat sy saam met hom hier is, is nie omdat hy dit so beplan het nie. Hy sou verkies het om haar nie na Rosedal te bring nie.

      Maar toe kom die bekendstelling van die winterreeks van een of ander obskure Franse couturier juis nou. Die eienares van ’n Kaapse boetiek het die man ontdek en sy pakkaas Suid-Afrika toe gesleep, Suzette inkluis. Afskuwelike klere, maar as dit is wat Kaapse modevlinders verkies, wie is Jacques om beswaar te maak? Suzette dra dit gelukkig net op die loopplank. Sy het beter smaak, dankie daarvoor.

      “Dis ’n probleem ...” sê sy pa.

      Jacques weet nie of hy na die swaarvoertuie op die pad verwys of na Suzette en sy ma wat so geheg aan mekaar is nie. Sy ma soek die afgelope tien jaar ernstig vrou vir hom, maar die vrou wat hy wil hê en wat sy hart gebreek het, oor háár praat niemand nie.

      Onthou sy pa dat hy ná daardie vreeslik vernederende voorval so uitgekryt is en voor soveel ultimatums gestel is dat hy eenvoudig weggehardloop het? Hierdie kuier is die eerste een in jare. Dis al agt jaar wat hy in Frankryk woon. Aan die begin het hy elke ses maande huis toe gekom, later al hoe minder. Dié keer was hy drie jaar weg.

      Vreemd genoeg, niks het eintlik drasties verander nie – nie hier in die omgewing nie. Daarvoor staan die berge te stewig en is die streek te tradisievas. Wynlandvalleie onder wingerd, appel- en lemoenboorde. Sy grootwordwêreld. Hy kry ’n knop in sy keel.

      “Mooi is die land,” sê hy onwillekeurig.

      “Jy dit gemis?”

      “Ja.”

      Sy pa antwoord nie met woorde nie. Hy knik ’n paar keer, ernstig.

      Hulle kom met die N1 van die Kaapse lughawe af, al die pad deur die Hugenotetonnel oor die Dutoitskloofberge – berge wat Jacques as seun geklim het, soms saam met sy maats, soms saam met sy pa, nooit alleen nie. Bekende berge wat hy in sy drome gesien het terwyl hy die Franse wynstreke deurkruis het – van die koue Champagne-streek deur Alsace en Chablis, tot die Loire-vallei en Bordeaux, Languedoc en die Rhône. Byna agt jaar in Frankryk. Hy praat nou vlot Frans, hy ken hul wyne en wingerde, was maande in die Cognac-streek om te leer hoe versny hulle hul beroemde brandewyne. Enigiets om nie terug in sy eie vallei te wees nie.

      Noudat hy hier is, hou hy sy oë oop – nie net vir die afdraai nie.

      Sou sy pa weet? Hy soek haar.

      Sharise van Harte.

      Asof sy skielik sal verskyn, langs die pad op ’n wit perd of in haar groen Volkswagentjie met die geel blomme op die enjinkap, dalk te voet met linte in haar hare. Al wat hy weet is: sy is hier.

      Colette en Teresa het hom op hoogte gehou, al het sy ma nooit Sharise se naam genoem nie, en sy pa slegs die noodsaaklikste.

      “Hoe gaan dit met Sharise van Harte?” vra hy nou en skrik amper vir die uitdagende toon in sy stem.

      “Daardie meisiekind! Het jy nog nie van haar vergeet nie?”

      “Pa, ons het saam grootgeword.”

      “Vergeet van haar, sy’s getroud.”

      Maar Sharise is nie meer getroud nie, dit weet hy danksy sy susters. Noudat Suzette hom vir haarself toegeëien het, nou-dat Suzette moeite doen om sy ma te beïndruk, noudat Suzette permanent wil word, is Sharise nie meer getroud nie!

      As dit nie ’n geval van Murphy’s Law is nie, is dit ’n doodeenvoudige, maklike toets vir hom. Soek Sharise op, praat met haar, kyk of dinge nog dieselfde is tussen hulle. Maar hoe was dit? Beslis nie soos dinge tussen hom en Suzette nie!

      Jacques klou die stuurwiel vas. Dit was meer, dit was veel meer ...

      “Ek dag haar man is dood?”

      “Die


Скачать книгу