Wilna Adriaanse-omnibus 1. Wilna Adriaanse
na haar.
“Hallo, ek is Georgie Walters. Ek kom vir ’n rukkie by julle woon.” Sy kyk om die beurt na die twee seuns en die meisie. “Wat is julle name?”
Na ’n lang stilte is dit die blondekopseuntjie wat vol selfvertroue laat oor: “My naam is Bertie en ek is ses jaar oud.”
Georgina kyk na die ander twee, maar hulle oë bly vasgenael op die wisselende beelde voor hulle.
“Sy naam is André. Hy is twaalf. En haar naam is Jean. Sy is tien.” Die blondekoppie se stem verstil onder die ander twee se vyandige blikke.
“Ek is bly om julle te ontmoet.” Georgina weet nie wat anders om te sê nie. Wat sy wil sê, is dat sy baie jammer is sy het haar deur geld laat verlei. Sy sien al minder vir die volgende twee maande kans, ongeag wat die vergoeding gaan wees. Toe niemand weer iets sê nie, draai sy om en moet mooi konsentreer om haar pad deur die kronkelgang van vertrekke na haar kamer te vind.
Die uitpakkery neem nie lank nie en toe sy die mooi wit-en-groen badkamer sien, begin sy haar klere van haar lyf af stroop. Sy hoop ’n stort sal haar beter laat voel. Sy laat loop die warm water oor haar kop, haar gesig, haar lyf en staan vir ’n lang oomblik so stil.
Georgina sit voor die spieël in haar kamer, besig om haar hare droog te vryf, toe die deur stadig oopgaan. Sy kyk verbaas hoe ’n wit koppie en klein gesiggie om die kosyn loer. Toe hy haar sien, koes hy weg, maar sy onthou gelukkig betyds sy naam en roep hom terug. Die blou ogies loer weer om die deur en sy beduie dat hy moet inkom.
“Het jy vir my kom kuier?”
“Waar kom jy vandaan?”
Georgina luister verbaas na die perfekte Afrikaans wat uit die mondjie kom.
“Kaapstad. Weet jy waar dit is?”
Hy knik. “Ek was al daar. Hoekom het jy ’n seunsnaam?”
“My naam is eintlik Georgina, maar my suster kon nie die lang naam sê toe ons klein was nie, en nou noem almal my sommer Georgie.”
“O.”
“Waar het jy so mooi Afrikaans leer praat?”
“By my pa. Ken jy my pa?”
Georgina knik. “Ek het hom vandag ontmoet.”
“Hou jy van hom?” Die blou oë kyk reguit na haar, terwyl hy homself op ’n stoel voor die venster tuismaak.
“Hy lyk baie … vriendelik.” Wat moet sy ook nou sê? Hoe sê jy vir ’n sesjarige dat jy dink sy pa is verwaand?
“Hoe lank kom bly jy hier?”
“Twee maande. Dan kry julle blykbaar weer ’n onderwyseres wat hier by julle kom woon.”
“Is jy nie ’n juffrou nie?”
Georgina skud haar kop laggend. “Nee, ek is nie ’n juffrou nie.”
“Het jy ’n werk?” Soos ’n prokureur in die hof, neem hy haar onder kruisverhoor. En sy ouderdom maak dat geen vraag te persoonlik vir hom is nie.
“Ek het nie ’n werk in ’n kantoor nie. Ek skilder en neem foto’s en teken prentjies.”
“Watse prentjies?”
Georgina staan op en haal haar sketsboek uit. Sy hou dit na hom uit en hy begin nuuskierig blaai. By elke skets huiwer hy ’n oomblik en toe hy die boek toemaak, kyk hy weer met die reguit blik na haar.
“Jy teken baie mooi. Sal jy van my ook ’n prentjie teken?”
“Ek sal as jy wil.” Sy eerlikheid gee vir Georgina die geleentheid om ook ’n vraag of wat te vra.
“Gaan julle nie skool nie?” Sy hou die klein figuurtjie dop en sien hoe die skouertjies regop trek.
“Ons gaan by die huis skool, sodat ons saam met my pa kan wees as hy op ’n ander plek moet gaan werk.”
“Gaan julle altyd saam?”
“As hy vir langer as drie dae moet weggaan, gaan ons saam. Dan gaan ons juffrou ook saam.”
“En geniet jy dit om so baie rond te reis?”
Die mondjie plooi effens en ’n frons keep tussen die blou oë. “Dis orraait. Ek raak net partykeer moeg, maar dis beter as om lank alleen by die huis te bly.” En daarmee verskoon hy homself en laat ’n peinsende Georgina agter.
3
Betsy Connely kom roep haar later vir ete en toe Georgina in die eetkamer kom, is die kinders reeds besig om kos te skep. Nie een van hulle kyk op nie, en toe hulle klaar ingeskep het, verdwyn die ouer twee in die gang af.
“Waarheen gaan hulle?” Georgina kyk na Bertie wat homself by die tafel tuismaak.
“By die televisie eet.”
Georgina skep vir haar ook kos en gaan sit oorkant die blonde seuntjie. Hulle neem die eerste paar happe in stilte en dan kyk sy skuinsweg na hom.
“Waarom is André en Jean so kwaai?” Haar stem verraai niks van die ergerlikheid wat sy teenoor die ander twee voel nie.
“Hulle hou nie van die juffrouens wat altyd hier kom woon nie. Almal is altyd so kwaai, en hulle wil eintlik net met my pa gesels en kan nie wag dat ons saans gaan slaap nie.”
Georgina moet haastig die glimlag keer. Uit die mond van die suigeling. “Ek kan darem nie glo álmal is kwaai nie.”
“Voor my pa is hulle altyd vriendelik, maar as my pa nie met hulle wil trou nie, dan raak hulle sommer baie kwaai.”
“Wie vertel vir jou al hierdie dinge?” Sy kan nie meer haar glimlag keer nie.
“Niemand. Ons weet dit net. Hulle dink ons weet nie, maar ons hoor hulle oor die telefoon praat … en soms met mevrou Connely.” Hy gee weer ’n paar happe en laat dan met ’n ernstige gesiggie hoor: “Jy is baie mooi. Het jy nie ’n man nie?”
Sy begin vinnig gewoond raak aan sy reguit manier van praat en sy glimlag. “Nee, ek het nie ’n man nie. Ook nie kinders nie.”
Hy sit sy mes en vurk neer. “Wil jy my kamer sien?”
Sy knik. “Ek sal graag jou kamer wil sien.”
Hy loop voor haar uit na die ander kant van die reuse-woonstel.
Sy kyk verstom in die kamer rond, seker daarvan sy het per abuis in ’n groot speelgoedwinkel beland. “Genade, Bertie, is dit alles joune?”
Hy knik. “Ja, my pa het dit vir my gekoop en juffrou Martins … sy het graag winkels toe gegaan. En my pa het gesê sy kan vir ons koop wat ons wil hê.”
Georgina tel versigtig hier en daar een van die indrukwekkende speelgoed op.
Toe hy tevrede is dat sy alles gesien het, stap hulle na waar die ander twee voor die televisie sit. Die borde kos is halfgeëet op die koffietafel gelaat. Hulle het nie lank gesit nie, of mevrou Connely kom binne en tel die borde op. Op haar vraag of hulle genoeg gehad het, knik albei woordeloos.
Georgina hou hulle onderlangs dop. Dis drie pragtige kinders. Die oudste, André, is sy pa se ewebeeld met sy donker hare en rookgrys oë, en iets aan sy houding ook – dieselfde ongeërgdheid met die mense rondom hom. Jean is nie so donker soos haar broer nie, en haar oë is meer ’n groenbruin mengsel, maar sy het ook dieselfde selfversekerdheid en selfs op tienjarige ouderdom is sy ’n besonder mooi meisietjie. Die ma moes voorwaar mooi gewees het, want klein Bertie lyk, met sy blonde krulhaartjies en blou ogies, net soos ’n engeltjie. Weliswaar ’n engeltjie met ’n sterk wil, maar nog steeds ’n engeltjie. Sy kyk weer na André en betrap vir ’n oomblik sy donker oë op haar. Dan kyk hy vinnig weg.
Haar pogings om met hulle te gesels, loop elke keer dood en na ’n ruk gee Georgina moed op. Sy het nie vanaand die energie vir hierdie twee nie. Sy het eers ’n nag se slaap nodig … dan sal sy besluit