Tot die dood ons skei. Malene Breytenbach
arms om haar bene. “Dit was, maar ook nie – as jy verstaan wat ek bedoel.”
“Wil jy vir my sê jy is so heeltemal oor Reinhard dat jy hom kan sien sonder om iets te voel?” vra Liana skepties.
“Wel, ek vertel myself die ou vonk is nie meer daar nie, maar hy het tog ’n effek op my. Die ding is net … Hy het my destyds so ontsettend seergemaak en verneder dat dit my vreeslik lank gevat het om weer die lig te sien.”
“Arme sus. Dit was ’n swaar tyd in jou lewe. Ons was oortuig hy koop die huis langsaan en herbou dit vir ’n lewe saam met jou …”
“Toe trek hy met Monique daar in.” Kira glimlag wrang. “Op ons drumpel, ons voorstoep, sodat ek dit dag vir dag moes aanskou. Dít was vir my te swaar om te vergewe.”
Vergewe het sy naderhand, want sy kon nie met die bitterheid saamlewe en in ’n ou heks verander nie, maar vergeet kon sy nimmer as te nooit. Hy en Monique was verlief. So naby en opvallend. So in haar gesig.
“Toe nooi hy ons boonop na die swierige troue,” sug Liana. “Asof ons sou gaan.”
“Maar omtrent die hele Stellenbosch het gegaan. Daarom dat ek holderstebolder oorsee gegaan het en maande lank weggebly het. Dankie tog ek het sabbatsverlof gehad en kon na Leuven gaan. Daarna kon ek nog nie terugkom nie, toe swerf ek eers ’n stukkie. Ek moes net myself probeer regruk en nie soos ’n gees terugkeer nie.”
“En toe jy terugkom, was Monique al verwagtend.”
Kira skud haar lyf asof sy iets swaars van haar skouers probeer afkry. “Ja, dit was gou. Dit was seker lelik van my om haar te vermy en nie na haar ooievaarstee te gaan nie, maar ek kon net nie. Ek het haar gehaat – jy weet ek het. Dis lelik en onchristelik, maar daar was dae dat ek gedink het ek kan haar gaan vermoor. Ek het net nie die moed gehad nie.”
Liana druk haar arm. “Ja, jy is nou nie ’n Lady Macbeth nie. Ek moes toekyk hoe jy ly en kon jou eintlik nie help nie, behalwe om my ou skouer vir jou aan te bied.”
Kira kyk na haar suster en sien dat haar oë vol trane is. Dit laat haar eie oë vol trane word. Sy neem Liana se hand en druk dit tussen al twee hare.
“Die Vader alleen weet hoe ek daardeur sou gekom het sonder jou ondersteuning, Li-li,” sê sy skor. “Daar was dae dat selfmoord nie vir my so onmoontlik gelyk het nie. Maar as ek gedink het hoe ek jou treurend sou agterlaat, het ek besin.”
Liana huil nou openlik. Sy vee haar neus en oë af met ’n snesie wat sy uit die boks op Kira se bedkassie trek. “Was dit só erg?”
“Dit was. Ek het gesweer ek wil my nooit weer aan ’n man verbind nie. Reinhard het ’n letsel op my hart gelaat.”
Kira moet ook oë en neus afvee. “Al het ek Monique verafsku, sou ek haar darem nie regtig met iets in die hart kon steek nie.”
Liana sug sidderend. “Nee. Iemand anders het jou die guns bewys. Ekskuus! Dit was lelik en het net uitgeglip. Jy wil seker nie meer vir Reinhard hê nie.”
“Nee, veral nie nou nie.”
“Die hele buurt se vroue is vreesbevange,” verander Liana die onderwerp. “Rina van Niekerk is ’n senuweewrak, want sy sê die moord het amper in hulle agterplaas plaasgevind. Sy verbeel haar die moordenaar sal ons nou een vir een kom uithaal. Almal installeer net alarms, diefwering en trellidoors. My kontensie is dat die tuinier iets teen Monique gehad het. Dalk het sy hom te na gekom sonder dat Reinhard daarvan weet. Sy is in elk geval nie seksueel gemolesteer nie – thank God for small mercies. Dit sou vir Reinhard darem baie moeilik gewees het om te verteer.”
“Ja, dit sou. Ek sidder as ek daaraan dink. Ek kry nagmerries daarvan. As ek in die tuin loop, kyk ek omtrent oor my skouer asof iets in die bosse vir my loer.”
“Ek moet erken, ek kry ook die horries. Dit sal ’n verligting wees as die saak opgelos word. Daardie kaptein Lucille Wiid het die reputasie dat sy baie doeltreffend is. Sy maak opgang in haar beroep en is glo pas bevorder. ’n Regte leeuwyfie, noem haar kollegas haar – sy wil gedurig die mans wys van watter stoffasie sy gemaak is. As iemand die moord gaan oplos, sal dit sy wees, al kom daar hoër offisiere ook na die saak kyk.”
Liana druk Kira se hand. “Ek gaan inkruip. Môre moet ek weer ’n streep diewe verhoor. Soms wonder ek of ek nie verder moet swot en ook ’n dosent moet probeer word nie. Studente sal my hopelik nie so hatig aangluur soos misdadigers alte dikwels doen nie. Dit gee my die creeps, hoor. Nag, sus, lekker slaap.”
“Dankie, jy ook, Li-li. En … dankie sommer vir als. Ek is bly ek het ’n suster soos jy.”
Toe Liana uit is, sit Kira lank en herkou aan hulle gesprek. Reinhard se lewe is ook onderstebo gekeer deur die moord. Hy is ’n gesiene man, gerespekteer, selfs beny vir sy sukses, en om sy vrou vermoor te hê, moet hom laat voel asof hy alle aansien verloor het. Dit sal altyd aan hom bly kleef, al gaan hy waar en doen hy wat. Mense sal na hom verwys as die vermoorde skoonheid se man. Hulle sal nie maklik vergeet nie.
Sou Monique se gees rusteloos wees, uit die wêreld van die lewendes geruk? Sy kon haar nie op die dood voorberei nie, nie vrede maak nie. Sou sy gewonder het of Kira haar nie doodwens nie?
Sidderend trek sy die duvet tot by haar keel, voordat sy die lig afskakel.
4
Reinhard loop om sy huis en gaan staan vir die hoeveelste keer op die agterste grasperk. Hier het sy gelê, dink hy, en kan hom die aaklige beeld van ’n bebloede Monique maar te goed voor die gees roep.
Die aand by die Trollips en Geert was heel lekker, en almal het moeite gedoen om sy aandag af te lei. Kira, steeds so mooi en sjarmant, het nie met die knippering van ’n ooglid te kenne gegee dat sy enigsins nog iets spesiaals vir hom voel nie. Hy weet hy het haar destyds bitter seergemaak en sy gewete pla hom steeds daaroor. Hy kan dink watter woede en vernedering in haar moes gekook het. Sy is egter sterk en trots en het haar pyn goed weggesteek.
Hy was dol oor haar, totdat Monique soos ’n son tussen die planete almal anders laat verdof het. Hulle was heel aan die begin dolgelukkig, totdat sy hom wreed ontnugter het. Kort duur die liefde, en lank duur die spyt. Hoe beter hy haar leer ken het, hoe meer het hy besef dat as jy verby die skoonheid kyk en die lus van die vlees vervaag, het sy nie naastenby die diepte en karakter wat Kira het nie.
Maar dit was te laat vir spyt. Hy moes vrede maak met sy keuse, al het dit al meer geskaaf. Rou geskaaf. En toe is Riaan ook nog daar. Om die kind se onthalwe het hy gesluk totdat dit in sy keel vasgesit en hom gewurg het.
’n Gekraak in die struike laat hom uit sy mymering opskrik. “Wie is daar?” roep hy, maar dis doodstil.
Hy besluit om ondersoek in te stel. Verbeel hy hom of vlug ’n skaduwee geruisloos weg? Binne die huis blaf en tjank die honde wat hy toegemaak het. Hy haas hom na die agterdeur. Die hele buurt hoor hulle nou en dis steurend. Maar enkele oggende tevore het niemand hulle kwansuis gehoor nie.
As iemand hier rondsluip, moet die polisie ondersoek kom instel. As hy die reg in eie hande neem, doen hy dalk net meer skade, want as hy iemand betrap, sal hy heel waarskynlik oorreageer.
Die speurder het hom dit op die hart gedruk dat hy haar enige tyd van die dag of nag kan skakel. Hy sluit oop, haal sy selfoon uit en roep die nommer op.
“Hallo, kaptein, Reinhard Brand hier. Jammer om jou op dié ongoddelike tyd te steur. Jy het seker geslaap.” Hy hoor haar gaap. “O, ek is jammer.”
“Praat maar, professor.” Die vaak stem is nou wakker.
“Ek kom van die Trollips af, hulle het my vir ete genooi. In die tuin het ek iets of iemand gewaar. Maar wie of wat dit was, het gou verdwyn.”
“Dis dalk daardie tuinier … Wag, ek kom onmiddellik, met polisieversterking. Ons sal daar soek.”
Sy lui af en hy loop na die voorhuis, waar hy deur die venster kyk terwyl die honde om hom maal. Ook maar goed Riaan is nie hier nie. Hy sug. Dis swaar om sonder sy kind te wees, maar hy moet