Troukoors. Helena Hugo
toe en die vinkfoto’s vir oulaas onder ’n vergrootglas plaas, by wyse van spreke. Sy het die volledige artikel gisteraand by die huis weer deurgelees. Sy wil doodseker maak voor sy dit finaal stuur, want sy wil onder geen verpligting by die ongeskikte Pierre Hagen wees nie.
O, sy het ’n aaklige nagmerrie gehad, gedroom hy verander haar grafika tot die vinke soos valke lyk en die grafieke glad nie die resultate van haar twee jaar lange navorsing weerspieël nie. Dis nie die ergste nie. Aan die res van haar droom wil sy nie dink nie, ook nie aan die feit dat dit nie die eerste keer is nie. Al troos wat sy het, is dat sy iewers gelees het jou drome weerspieël die teenoorgestelde van wat jy begeer.
Nee, van haar lyf en van haar werk moet hy wegbly. Sy het hom nie nodig nie en sy wil hom nie ken nie. Al wat hy van haar hoef te weet, is dat sy sy pa liefhet en met hom gaan trou.
Sy wil nie sy ma se plek inneem nie. Die gedagte dat sy Paul se seuns se stiefma gaan word, is absurd. ’n Stiefma is ’n ma vir klein kindertjies, nie vir mans wat oud genoeg is om self ’n gesin te hê nie. Wat kinders betref: Paul het klaar gesê hy sien kans, maar sy wil eers haar navorsing voltooi en haar doktorstesis skryf. Daarna kan hulle dit oorweeg.
Sy het toe gistermiddag alles van haar wat Paul moontlik in die verleentheid kon stel, bymekaargemaak en ingepak. Daarna het hy haar huis toe gebring dat sy kan bad en mooi aantrek vir die Oude Libertas.
Hulle het ’n bottel volronde cabernet sauvignon by beesfilette bestel, en brandewynpoeding vir nagereg. Die bediening was soos gewoonlik puik en hulle was albei ten slotte in ’n goeie luim. Die restaurant was binne en buite volgepak met ’n Duitse toergroep en dit was heerlik om ’n slag anoniem te wees en nie te wonder hoe hulle die glimlagge van Paul se vriende en hul vroue moet vertolk nie. Hulle het likeur by die koffie bestel en handjies vasgehou en mekaar seker ’n honderd keer van hul liefde verseker.
Dit was ná tienuur toe Paul haar by haar meenthuis kom aflaai het en vurig van haar afskeid geneem het. Sy sou nie by hom kon oorslaap nie, want Saar, sy skoonmaakvrou, kom vanoggend vroeg in saam met haar dogter om die huis skoon te maak en Pierre se kamer te lug.
Pierre, wat soos ’n skim uit Paul se verlede al nader en nader sweef.
Paul sien so uit na sy seun se kuier dat Minette hom maar gisteraand toegelaat het om oor Pierre te praat. Tussen die liefdesverklarings deur moes sy hoor watter wakker seuntjie hy was. Slim op skool, sportief. Hy het WP-rugby gespeel voor die dae van die Stormers. Hy is dus nie meer ’n kuiken nie, word Desember dertig. In matriek het hy ’n landwye redenaarsbeker en ’n skaakkampioenskap gewen. Nege onderskeidings gekry, al was hy steeks om te leer.
“Hy was besig, hoor. Hy het in ’n orkessie gespeel en só goed gesing dat hulle ’n CD gesny het. Miskien moet ek dit vir jou speel?”
Sy het haar kop geskud, hoewel sy nuuskierig was. “Hy skaam hom seker teen dié tyd daaroor.”
“Nooit! Pierre het nie ’n skaam haar op sy kop nie.”
“Dan sal hy seker vir ons sing. Miskien op ons troue?”
Paul se oë het gerek. “Wil jy hê hy moet in die kerk sing?”
Minette het haar irritasie saam met die kersie op haar nagereg ingesluk. Dit het byna in haar keel bly vassit.
“Ons het Rouel vir die kerk gehuur, ons kan nie nou verander nie,” het sy Paul gepaai en gewonder hoekom hy nie haar sarkasme raakgehoor het nie.
“Miskien by die onthaal?”
Paul en sy Pierre kan albei vergeet, het sy besluit en net flou geglimlag.
“Snaaks dat hy nog nie gevang is nie,” het Paul gegrinnik. “Die meisies was versot op hom. Allerhande verskonings gemaak om by hom te kuier. Lynette was een van hulle, maar Francois het haar afgevry.”
Minette wou skree: Kry nou end, ek wil niks meer hoor nie! Maar sy het liewer nog ’n sluk van haar dessertwyn geneem – ’n koninklike muskadel.
“Pierre het altyd gesê daar is net een vrou in sy lewe en dis sy ma. Noudat ek daaroor dink … Daar wás ’n ander een, Vania Rozenstrauch. Dat ek haar kon vergeet! ’n Petite brunet nes jy. Haar pa was keldermeester by Lanzerac, haar ma Duits-onderwyseres. Die Rozenstrauchs is terug Duitsland toe. Ek moet Pierre tog vra wat van Vania geword het. Nog wyn?”
“Liewer koffie,” het sy antwoord en haar kiestande gekners.
Paul het liggies aan haar wang geraak. “Tandpyn?”
“Nee, iets hards in die poeding, seker ’n stukkie neut.”
Sy het in haar poedingbakkie rondgekrap en die laaste krummels van haar nagereg bymekaargeskraap. Die groen jaloesie het haar aangeval – en dit oor ’n onbekende meisiekind met die anderste naam van Vania!
Minette parkeer haar rooi Mazdatjie onder ’n akkerboom langs die haarsalon en klim uit. Die karoppasser wat ’n ent weg met twee vriende gestaan en korswil het, kom groet om te wys dat hy op sy pos is. Sy is dankbaar dat hy daar is. Die dorp is nog besig om aan die gang te kom, maar teen die tyd dat sy by die haarkapper klaar is, sal die parkeerarea vol wees. Hy sal sorg dat hulle haar nie vasparkeer nie. ’n Saterdag is nie ’n goeie dag vir inkopies nie, maar sy was besig en sy wil môre op haar heel beste lyk. Dalk moet sy Somerset Mall toe ry.
Sy sal sterk wees, gesofistikeerd en ouer. Sy sal nie dat Pierre haar omkrap nie. Eers ontspan by die haarkapper, daarna ’n nuwe rok of twee gaan koop. Sy lyk altyd ouer in ’n rok. Sy sal hom koel en kalm behandel; sy sal haar nie ontstel nie.
Die eerste skok tref haar toe sy die salon se deur oopstoot.
Minette sien haar nie, maar weet van haar die oomblik toe sy haar handsak op die ontvangstoonbank neersit. Daardie stem – asof sy dit nie genoeg by die departement moet aanhoor nie!
Isadora Papastefanou. Dwarsoor die Helmut Lotti-CD wat op die agtergrond speel.
“Skattebol, jy sal my nie glo nie, maar dit was een van die beste seisoene van my lewe. Die bye het presies gedoen wat ek gesoek het én daar was genoeg vrugte oor om die stalletjie aan die gang te hou.”
Iemand sê iets wat Minette nie kan hoor nie. Die vroue sit meters uitmekaar en kuierpraat is nie veronderstel om moontlik te wees nie. Maar geen mens in die hele Suidelike Halfrond het so ’n stormsterk stem soos Isadora nie. Paul sê altyd sy sal vlieënde voëls uit die hemel laat val as sy lank genoeg buite staan en praat.
“Wat? Wat sê jy? Jy het nie gekry nie!” trompetter Isadora oor haardroërs se geskree en Helmut Lotti se “Fly me to the moon”.
“My skat, my spensrakke kreun. Maak ’n afspraak en kom kuier, ek gee dit vir jou teen kosprys … Maar die dêm goed is veronderstel om my te bel, watter tuisnywerheid is dit? Pardon? Wie? Skryf dit neer as jy dit nie hardop wil sê nie … O, ek sien wat jy bedoel.”
Minette haat dit om so selfbewus te wees, maar sy kan dit nie help nie. Sy weet sonder om te kyk dat die vrou wat met Isadora praat haar kop in die rigting van die ontvangstoonbank geknik het en dat Isadora haar oë rol soos sy altyd maak as sy haar mening woordeloos wil uitspreek.
Sy verdink Isadora van die meeste van die skinderstories oor haar en Paul. Eintlik is dit nie nodig om te twyfel nie, want almal in die dorp weet Isadora is ’n wandelende ensiklopedie. En dit geld nie net vyeperdebye en hul voortplantingsgewoontes nie, sy weet alles van almal en sy skroom nie om haar mening te lug nie. Boonop maak sy geen geheim van haar uitsprake nie. Sy sal dit van ’n seepkas op die meent uitbasuin en in die plaaslike koerantjie publiseer al grens dit aan laster.
Minette sal nooit die dag vergeet toe Isadora haar vir tee genooi het nie, in haar tuin op Vyeplasie bedien onder die hanepootprieel. Suikerbrood en heelgroenvyekonfyt versier met verglansde viooltjies en wolke muggies. Maar die muggies het eers later op die tafel toegesak, kompleet of hulle bestel is vir effek.
Minette se gedagtes word onderbreek. Kittie wat agter die toonbank moet wees, kom aangedraf, vol verskonings.
“Ons is vanoggend deurmekaar, Lilian het oorgeboek. Ek dink dis die baba