Wanneer 'n droom waar word. Ettie Bierman
het. Hy het gegrinnik en fluit-fluit weggestap, terwyl sy ontsteld by die faksmasjien bly staan het en soos ’n goedkoop flerrie gevoel het.
Hoekom het sy hom nie ’n taai klap gegee soos hy verdien het nie? Dan was sý in beheer. Dan sou dit nie ’n tweede keer gebeur het nie.
“Moenie hom te kras oordeel nie,” dring die nuusredakteur se stem tot haar deur. “Jy’s ’n mooi meisiekind, Carmia – jy weet dit seker self teen hierdie tyd. En mans bly maar mans, dit sal jy nog uitvind. Dis in hulle natuur om vir ’n verleidelike vroumens flikkers te gooi. Veral ’n blondine met so ’n wulpse lyfie.”
Is dit veronderstel om ’n kompliment te wees? Carmia verwerdig haar nie eens om te antwoord nie. Sy het nog nooit aan haarself as ’n blondine gedink nie, en sy wil ook nie. Haar hare is ligbruin en sy is g’n wulps nie, daarvoor is sy te maer. Op skool was sy ’n atleet en sy weet haar bene is nie te lelik nie. ’n Paar kêrels het al so gesê, maar sy het haar nie veel daaraan gesteur nie.
Nou opeens wonder sy of haar rompe nie miskien te kort is en te veel been wys nie. Of sit haar klere te styf, sodat dit ’n uitlokkende prentjie skep? Is dit wat met Arno du Plessis gebeur het haar eie skuld, omdat sy die man onbewustelik aanleiding gegee het? Dis ’n ontstellende gedagte. Sy is ’n selfstandige, loopbaangerigte vrou en “verleidelik” is nie die beeld wat sy wil uitdra nie.
Die nuusredakteur kyk op sy horlosie en stoot sy stoel agteruit. “Huistoegaantyd. Ek bêre jou brief in die laai. Slaap daaroor, meisie, dan praat ons môre weer.”
“Huis toe” was van kleins af vir Carmia ’n knus, verwelkomende towerwoord. Veral toe sy op ses jaar as graadeentjie al moes koshuis toe gaan in Windhoek. Sy kon net elke derde naweek huis toe gaan – plaas toe, na haar ma en pa toe. Dit het darem gehelp dat haar ousus in graad vyf daar was om na haar babasussie om te sien. Vita was beskermend en vol omgee. Borrelend en vrolik, gewild en altyd die middelpunt tussen ’n groep maats.
As kleinsus moes Carmia altyd kompeteer met netbal, swemlesse, balletklas en later, op hoërskool, met hordes kêrels. Daar was gedurig ’n aanloop van hulle, naweke én vakansies – saam plaas toe, Hardapdam toe, Etosha toe, oral. Vita was die wulpse blondine, die een met die Lyf – nie haar maer, teruggetrokke sussie wat altyd met haar neus in ’n boek gesit het nie.
Vita wou nie ná skool gaan studeer nie. Sy het modelwerk gedoen en lugwaardin geword. Carmia het ’n diploma in joernalistiek behaal, in Tsumeb by die interne mynkoerant gewerk, een of twee nerd-kêrels gehad, en haar pragtige suster haar opwindende bestaan beny. Haar naam beteken “lewe”, en Vita het dit toegepas: voluit gelewe en elke volgepakte oomblik daarvan voluit geniet.
Daar was haar stomende verhouding met ’n Italiaanse modebaas; die sepiester wat sy tydens ’n Mauritiusvlug aan boord gehad het; die befoeterde Boeingkaptein by Jakaranda-lugdiens, wat soos ’n filmster gelyk het. En toe Andy Hartwell, die ryk skaapboer van Australië … Hy het sy naam gestand gedoen en Vita haar plaasmeisie-oorsprong: sy het haar hart verloor op die uitgestrekte Aussie-outback vol wildeperde, merino’s en kangaroes. En op ’n robuuste, sonbruin ou in ’n velhoed en kakieklere …
Haar pa het probeer walgooi en haar ma het gehuil, maar niks kon Vita se liefde demp nie. Andy was die enigste man vir haar, al het hy aan die ander kant van die aardbol in die boendoe gewoon. Hy het alles wat hy gedoen het, gróót gedoen: vir die hele familie vliegkaartjies gekoop Brisbane toe, vir die bruilofsfees ’n kraal vol skape geslag en ’n week lange barbeque op sy plaas naby Toowoomba gehou.
Carmia het haar ousus opnuut beny. Sy was mal oor Saddleback Ranch, haar bekvelderswaer en Vita se reuse-drieverdiepinghuis.
Toe Carmia in haar woonstel kom, stap sy uit op die balkon. Dis sonder ’n seeuitsig en só beknop dat daar nie eens plek is vir ’n potplant nie. Sy beskou die afskilferende muur en plooi haar neus teen die dieseldampe van die vragmotors onder in die straat. My “huis”, dink sy wrang: ’n bedompige, onaantreklike eenslaapkamerplek wat nie daardie verwelkomende towerwoord werd is nie.
Dit was die grootste waagstuk wat sy al ooit aangepak het: om op Vita se aanbeveling haar bangigheid en haar werk op Tsumeb te los, haar vlerke te sprei en iets meer opwindend aan te pak.
“Moenie so op ’n hopie sit en vergaan nie,” het Vita geraas. “Los jou banggeit, sussie-ding, en dóén iets. Iets mals. Iets lekkers. Gaan bly by die see, of op ’n eiland, of bo-op ’n berg. Koop ’n skreeurooi sportmotor of ’n pers rok wat als wys – als van daardie lang bene van jou en nog ’n ietsie ekstra, ingeval ’n spierpaleis verbykom. Gaan pluk lemoene op ’n kibboets in Israel, gaan au pair in New York of doen aansoek vir daardie koerantjop in Durban. As jy by die myn aanbly, gaan jy in ’n groef beland en nooit weer daar uitkom nie. En eendag as jy in die ouetehuis op Gatsondereinde op die stoep sit en doilies hekel, gaan jy spyt wees oor die kanse wat jy verspeel het.”
Vita het nog ’n lang lys lawwe goed voorgestel om haar kleinsus wakker te skud en uit haar dop te laat kruip. Carmia het hulle almal oorweeg en die normaalste een gekies: die koerantjop. Dis darem by die see …
Maar sy kan nie eens die see sien, hoor óf ruik nie. Dis net afskilferende verf, toeters en dieseldampe. Die woonstelblok is in ’n nywerheidsbuurt, maar dis naby die kantoor en dis al wat sy kan bekostig, aangesien sy nie ’n motor ook nog kan bekostig nie. Haar ouers sukkel om op die plaas kop bo water te hou. Sy betaal haar studieskuld af, en die hemelhoë maandelikse paaiemente van die meubels wat sy vir die woonstel moes koop. SeeSter is ’n streekkoerant wat nie met Beeld of Rapport se sirkulasie kan kompeteer nie, en wat gewurg word deur die Natal Mercury en die Herald. Die personeel is min en die salaris minimaal.
En die werk sélf is ’n teleurstelling. Die eerste jaar by die koerant het sy advertensies gewerf en aflewerings gedoen. Die tweede jaar redigering – ander mense se spelfoute, barbarismes en anglisismes herskryf. Eers in haar derde jaar het sy met beriggewing begin, op die basiese, onderste trap. Sy het skolesport gedek – waarin sy nie rasend belanggestel het nie – munisipale vergaderings, weervoorspellings, begrafniskennisgewings en die briewekolom. Dit was vervelig en erger as die groef op Tsumeb. Erger as om in ’n sonkolletjie op die ouetehuis se stoep te sit en doilies hekel!
Eintlik moes ek vroeër al geskuif het, besef Carmia.
Sy moes nie toegelaat het dat bangheid haar weer inhaal nie; nie geluister het na Lukas Jordaan se mooi storietjies en beloftes van bevordering nie. Sy kan beter doen as ’n skiewie by ’n tweederangse koerantjie. Beter doen as om haarself te laat bevat en bevoel deur ’n seksbehepte chauvinis.
Sy stap deur kombuis toe en maak vir haar spaghetti vir aandete. Sy kyk die TV-nuus en die weervoorspelling, gaan bad en trek haar slaapklere aan. Dan uiteindelik is dit ná agt, met goedkoper selfoontariewe, en kan sy haar sus bel.
“Karretjies!” roep Vita verras uit. “Jou stem is so helder, dit klink of jy in die kamer langsaan is. Waar’s jy? Op Brisbane-lughawe? Kan ek jou kom haal?”
“Nee, ek sit in Durban,” keer Carmia koue water op haar entoesiasme om.
“Bel jy om te sê jy kom kuier?”
“Ek kan nie. Ek moet my verlof bêre vir ’n kennismaand en vir die sewe maer jare wat voorlê terwyl ek ander werk soek.”
Sy vertel hoofstuk twee van die Arno du Plessis-sage: die hysbakepisode wat die faksmasjienepisode opgevolg het; die nuusredakteur wat nie die appelkarretjie wil omkeer nie. Die sieldodende berigte en vergaderings, die mikroskopiese salaris en oortyd waarvoor sy nie vergoed word nie, die redigering en teemakery waarvoor sy ingespan en misbruik word.
Vita is verontwaardig. “Die dêssitse blikskottels! Asof jy openbare eiendom en ’n vloerlap is! Ek weet jy was nooit ekstaties nie, maar ek het nie geweet die jop is só horribaal nie. Jy moes lankal gewaai het! Pak op en kom werk vir Andy. Hy’s besig om brumbies in te breek. Jy’s mos lief vir perde, jy sal gou leer.”
“Ek kan my nie soos ’n cowboy op ’n wilde perd se rug sien nie.”
Vita giggel. “Nee, ek ook nie, susding. Wat jy ook al doen, moet net nie teruggaan Soutpan toe en jouself daar gaan