Liefde in fokus. Zoë Gouws
Liefde in fokus
Zoë Gouws
Satyn
Proloog
’n Jongerige man met kortgeskeerde donker hare parkeer sy donkerblou BMW in die parkeerarea agter sy ateljee in Breestraat, Kaapstad.
Hy klik die alarm aan en trek sy hand oor die motor se dak. Dis stowwerig, en dít in die middel van die winter in Kaapstad! Gaan dit dan nooit weer reën nie? Hy onthou die aanhoudende gesif van sy studentedae. Van net ná Paasnaweek af het dit gewoonlik weke lank fyn en stuiwend gereën.
Dit was die soort reën wat soos ’n wolkekombers oor die stad toegesak het en alles en almal ingeperk het, sodat mens later gevoel het jy gaan nooit weer daaraan ontsnap nie. Hy het later gevoel hy het nie ’n droë stukkie klere in sy kas oor nie. Sy skoene het begin muf. Die badkamer in die losieshuis waar hy geloseer het, was pikswart van die swamme teen die plafon. Dit het hom hoe lank gevat om dit afgeskrop te kry met Jik. Dis eers veel later dat hy geleer het daar is ’n spesiale swamdodende sproeisel wat jy in die Kaap te koop kry – sommer in gewone supermarkte.
En kyk nou: dis middel-Julie en die stadsraad dreig reeds met waterbeperkings vir die komende somermaande. Mens sou sweer jy is in die semiwoestyn van die binneland.
Hy veronderstel hy sal sy kar moet was. Maar karwas is nou nie een van sy passies in die lewe nie. Motors, as sulks, is ook nie eintlik nie. Hierdie kar van hom kom uit die vorige eeu – dis ’n 1999-model. Hy grinnik. Dis hopelik nou al oud genoeg dat niemand dit sal wil steel nie.
Hy wonder of hy ’n dak vir die parkeerarea moet ontwerp. Die seilafdakkies wat hy aanvanklik opgesit het, help nie regtig nie. Sal die ander huurders beswaar maak teen verhoogde huurgeld? Dalk, dalk nie. Wat hy vra, is billik in vergelyking met ander parkeerareas.
Toe hy so vyf jaar gelede ’n gebou hier in die middestad gesoek het, het hy spesifiek een met ’n parkeerarea gesoek. Parkering in Kaapstad is so skaars soos hoendertande, en hy wou nie iemand anders ryk maak deur elke maand ’n absurde bedrag vir parkering te betaal nie. Nou maak hy lekker sakgeld deur sy parkeerterrein aan ander kantoorhuurders in die area beskikbaar te stel.
Sy voel hoe die drukking in haar borskas opbou. Rustig, nou. Rustig.
Sy skuif regop in die bed. Dit vang haar dikwels so in die middel van die nag. Waar is haar handsak?
Die papiersakkie wat sy uit haar handsak opdiep, help.
Vlak inasem. Diep uitasem.
Vlak in. Diep uit.
Hoekom is dit so bleddie moeilik om uit te asem?
Haar longe het skynbaar ’n oneindige kapasiteit om lug in te asem, maar verdomp of sy dit weer kan uitasem!
Orraait, nou. Orraait. Rustig nou.
Dalk sal sy nou kan slaap.
Dis oor sy weer gedroom het. Sy haat die droom. Dis te na aan die werklikheid.
In die droom is sy in ’n nagklub. Sy word vasgevang deur die polsende ligte, die skreeuende kitare en die opruiende getrommel. Die diep bastromme se ritmiese doem-doem … ke-doem-doem … doem-doem … ke-doem-doem raak al hoe harder en vinniger; die ligte flits al hoe doller en skerper en in al meer kleure, en sy voel hoe sy begin tol en tol en tol tot die mense rondom haar soos linte ineenstrengel en styg en daal asof hulle op see is.
En bo-oor al die ander geraas skel die kitaar; bou die woedende kitaarklank op totdat dit op ’n oneindig hoë noot skreeu en skreeu en skreeu en dan skielik – te skielik – morsdoodstil is. Dis in daardie stilte dat sy ontdek sy kan nie asem kry nie. Elke keer.
~ 1 ~
Faan Viljoen draf die twee stelle trappe op na sy ateljee. Hy groet vir Rita, sy argitekstekenaar, en druk sy kantoordeur oop.
“Blou hemp, swart jeans?” vra Rita sonder om om te kyk na hom. Sy vra dit al vir ten minste vier en ’n half van die vyf jaar dat hulle saamwerk.
“Wit hemp met blou en pers strepies,” antwoord hy.
“En swart jeans.”
“Rita!”
“Swart jeans, dus. Sê net gou weer hoeveel paar daar in jou kas is, baas?”
“My klerekas het niks met jou uit te waai nie. Skei nou uit. Het jy al koffie gemaak?”
Hy sak op die swart leerstoel agter sy lessenaar neer en skakel in op sy e-pos.
“Huh-uh,” antwoord sy. “Ek was vanoggend lus vir tee.”
“Oukei, ek sal netnou kom maak,” sê hy en kyk hoe ’n hele rits e-posse aflaai.
Die eerste een wat aflaai, is van Liselle. Sy het ’n woeste sin vir humor en stuur gewoonlik vir hom die soort grappe aan wat hy nie op sy rekenaar wil stoor nie. Hy lag ten spyte van homself. Haal sy selfoon uit en bel haar nommer.
“As jy sulke e-posse kan stuur, kan jy seker ook van aangesig tot aangesig sulke grappe vertel,” sê hy. “Hierdie winter maak my lam – het jy lus vir ’n etetjie vanaand? Dan vertel jy my nog grappe om my op te beur.”
Hy glimlag toe sy dadelik ja sê. “Reg so, sien jou vanaand so seweuur se kant by die Waterfront. Ek sal vir ons by jou gunstelingrestaurant bespreek.”
Hy druk sy selfoon in sy hemp se bosak en leun oor sy rekenaar. Nóg ’n e-pos van sy sus in Nieu-Seeland! Die afgelope drie maande stuur sy letterlik elke week vir hom ’n e-pos.
Soos die voriges het hierdie een geen boodskap nie, net ’n foto aangeheg. Ook dié foto is van Katrien. Elkeen van die foto’s die afgelope maande is van Katrien laas Desember toe sy saam met sy sus en ouers op Kleinmond vakansie gehou het.
Hierdie een is geneem op die windverwaaide strand by Kleinmond. Hy herken die plek, al was hy nie self daar nie. Hy werk in Desember. Hy doen nie Kersfees nie. Nou al vir amper elf jaar nie.
Op die foto vang die somerson Katrien se vlasblonde hare presies van bo. Dit lyk kompleet of ’n stralekrans bokant haar kop sweef.
Sy lyk al hoe meer na haar ma … Of dan, soos haar ma doerie tyd gelyk het toe hy haar laas gesien het.
Xante Knobel knip haar veiligheidsgordel vas en luister verveeld na die lugwaardin se bevele oor wat om te doen in ’n noodsituasie. Sy het al soveel keer in haar lewe van Windhoek af Suid-Afrika toe gevlieg dat dit nie eens meer na vlieg voel nie.
Sy haal die tydskrif wat sy op die lughawe gekoop het uit en begin daarin rondblaai. Al is vlieg vir haar meer bekend as bus- of treinry, beteken dit nog nie sy hou daarvan nie. Sy sorg altyd dat sy verdiep is in ’n boek of tydskrif voor hulle opstyg. Dan kan sy haar verbeel sy sit sommer in ’n bus.
Als verloop glad met die vertrek, en Xante bestel witwyn toe die lugwaardin met haar trollie verbykom. Die botteltjie wyn word saam met ’n plastiekglasie voor haar neergeplak en dan volg ’n pakkie neute en ’n papierservetjie.
Sy het pas die pakkie neute opgeëet of die vliegtuig hop deur ’n lugknik. Haar hart spring tot in haar keel. Sy haat die lugknikke. Sy neem nog ’n slukkie wyn. Nog ’n lugknik laat die vliegtuig skommel asof dit ’n bus op ’n sinkplaatpad is. Miskien moes sy liewer nie die vliegtuig met ’n bus vergelyk het nie …
Sy sluk die laaste bietjie wyn in die plastiekglasie en skroef die halfvol botteltjie toe. Sy klap die skinkbord boontoe. Dan leun sy agteroor en maak haar oë toe.
Dit help nie. Sy maak weer haar oë oop en bekyk haar naels. Vir die eerste keer in maande is hulle netjies versorg. Maar sy het lus om hulle af te kou. Een vir een. Beginnende by die linkerhand en dan oor na die regterhand. Want sy is bang.
Ja, hierdie ellendige lugknikke maak haar benoud, maar dis wat in Kaapstad op haar wag wat haar bang maak. Sy is vir die eerste keer in haar grootmenslewe op pad Kaap toe.
Haar ouers het vanoggend daarop aangedring om haar lughawe toe te neem. Toe hulle groet, het haar pa ’n pakkie in haar hand gedruk.
Eers toe