Liefde in fokus. Zoë Gouws
Hy ontmoet haar by die restaurant op die grondvloer van die toringgebou waarin die uitgewerskantore is. Sy is heel oulik en gemaklik, en baie entoesiasties oor die projek. Hy wonder of sy in ’n verhouding betrokke is – hy sien geen ring aan haar vinger nie. Sy skep die indruk dat sy professioneel is en gek oor haar werk. Dalk sal sy van die soort vriendskap hou wat hy kan bied.
Toe die rekening kom, maak hy hom gereed om te vra wanneer hy haar weer kan sien, maar sy sê skielik: “Haai, wag, ek moet weg wees. Kyk hoe laat is dit al. My ou kleintjie dink seker nou al ek het hom vergeet!”
“Jou ou kleintjie?” vra Faan flouerig.
“Kyk net!” borrel sy en pluk ’n foto uit haar beursie. “My ou kleintjie.”
Hy sien ’n fyngeboude seuntjie van seker so drie of vier met die grootste, sielvolste oë wat hy nog in ’n kindergesiggie gesien het. Die seuntjie se haartjies is nog korter geskeer as sy eie, en hy merk ’n lelike litteken aan die linkerkant van die kind se kop. Dit lê gryswit teen die kind se gitswart vel. Hy kyk vraend op na die redakteur.
“My ou kleintjie, Sipho. Hy’t al regtig swaar gehad in sy sewe jaartjies.”
“Sewe?” vra Faan verstom. “Hy lyk kwalik vier!”
“Sewe en in graad een,” bevestig sy. “Ek het hom nou al drie jaar in pleegsorg, en hy het omtrent verdubbel in lengte en breedte!”
Faan skud sy kop verstom. Nie soseer oor die kind nie, maar oor hierdie vrou wat ’n verwaarloosde en verrinneweerde kleintjie in pleegsorg geneem het en met soveel liefde oor hom praat asof hy haar eie klein geskenk van God is.
“Ek moet ook gaan,” sê hy skielik haastig. Hy is bang as hy langer in haar geselskap bly, oortree hy die allerbelangrike Reël Nommer Een en blaker iets oor Katrien uit. Dis ’n onderwerp wat hy met geen vrou bespreek nie. Wat kan dan nou ’n groter passiedoder wees as om te hoor ’n man het reeds ’n kind?
Tydens haar eerste week in die Kaap besef Xante dat die klere wat sy saamgebring het hopeloos onvanpas is. Haar Johannesburgse wollangbroeke en lamswoltruie is almal te warm vir die Kaapse winter. Selfs haar skoene voel te swaar en dik.
En alhoewel dit nog nie sedert haar aankoms gereën het nie, besef sy dat sy ten minste ’n sambreel moet gaan koop, indien dan nie ’n reënbaadjie ook nie. Die Kaap is immers in ’n winterreënvalstreek geleë, en volgens oom Jan reën dit deesdae die meeste in Augustus en vroeg-September, in plaas van in Junie en Julie, soos dit altyd was voor aardverwarming alles verkeerdom gedraai het.
“Oom Jan,” vra sy die eerste Woensdag nadat sy in die Kaap aangekom het, “waar koop ’n mens klere in hierdie plek?”
“Sjoe, nou vra jy my! Witness?” roep oom Jan in die gang af kombuis toe. “Where can Xante go shopping for clothes?”
“Start at Cavendish and then work your way down through Gardens to the Waterfront.”
Dis alles vir Xante net name, en sy voel omtrent oorweldig, maar dan onthou sy van die Garmin wat haar pa vir haar gegee het. Daarmee sal sy sekerlik al die plekke kan vind.
“Gits!” skrik sy skielik op. “Het my kar al hier aangekom uit Johannesburg uit? My pa het gesê hy’t gereël dat dit per trein hierheen kom – ek het totaal daarvan vergeet!”
“Staan by my ateljee. Ry vanoggend saam in, dan kry jy dit daar. En dan wys ek jou sommer waar jy van volgende week af gaan werk.”
“Okay, well, then start at the Waterfront and work your way backwards through Gardens to Cavendish!” roep Witness uit die kombuis.
“Verstaan jy dan Afrikaans, Witness?” roep Xante terug.
“Amongst several other languages, sweetie. Ek verstaan amper alles nou se dae – as julle hom gewoonweg praat. Dis net dat ek hom nie self so lekker kan praat nie. Ek klink vir myself net soos ’n mamparra as ek Afferkaans praat.”
“Klink verstommend goed vir my!” sê Xante.
“Kom, ons moet ry,” verklaar oom Jan, en sy draf eers gou kamer toe om haar kamerasak te gaan haal.
Toe hulle op die snelweg na Kaapstad draai, sê Xante: “Nou’s ek heeltemal gedisoriënteer. Waar lê Tafelberg van hier af?”
“Kyk, daar,” beduie oom Jan. “Jy sien van hier af die agterkant van Tafelberg en Duiwelspiek. Dit lyk heeltemal anders as van die lughawe af. En jy kan glad nie Leeukop van hier af sien nie.”
Xante probeer dié inligting verteer. Van ’n sekere hoek af kon sy al drie berge sien toe sy in die Kaap aangekom het. Nou kan sy net die agterkant van twee van die drie sien. Wat beteken dit?
“Kyk nou,” beveel oom Jan toe hulle om ’n draai op die snelweg gaan. “Kyk nou wat jy sien.”
En toe sien Xante al drie berge tegelyk: Tafelberg so plat soos ’n tafel, met Duiwelspiek na links en Leeukop na regs. En verder weg ’n knoppie wat oom Jan uitwys as Vlaeberg.
“Elke keer as ons beweeg, lyk als anders!” roep Xante uit.
“Presies,” beaam haar oom. “Weet jy dit dan nie reeds as fotograaf nie? Elke perspektief bring sy eie insig.”
Hieroor sal ek diep moet dink, besluit Xante toe haar oom by sy ateljee indraai.
Xante is regtig beïndruk met oom Jan se ateljee. Dis ’n veel groter opset as wat sy verwag het. Sy groep, Tripod, doen alles – van stilfoto’s neem tot die finale redigering van fotomateriaal vir die drukkers én die totale produksieproses van dokumentêre films.
Teen middagete draai haar kop van alles wat sy gesien het. “Jinne, oom Jan, ek het nooit besef dat oom –”
“Ja, toe nou,” waai hy haar dood. “Weg is jy, ek het werk om te doen. Gaan koop die winkels leeg.”
Xante neem die motorsleutels wat hy na haar uithou en stap na haar motor in die parkeerarea.
By die Waterfront aangekom, gaan soek sy eers lafenis by ’n restaurant wat oor die hawe uitkyk. Sy bestel slaai en ’n glas witwyn. Haar selfoon lui net toe sy die eerste sluk wyn vat.
“Shopping yet?” Dis Witness.
“Nee, ek het nou net by die Waterfront aangekom. Ek eet eers iets.”
“Okay, where are you? I’ll meet you there. I adore shopping, especially if it’s with someone else’s money.”
Xante verduidelik en druk dan die selfoon half verdwaas dood. Hoe gaan dít nou werk? wonder sy.
Maar teen die tyd dat sy en Witness die helfte van die klerewinkels in die Waterfront deurgewerk het, is sy meer as dankbaar dat hy haar so ongenooid vergesel. Sy weet: as sy alleen gekom het, het sy al binne die eerste uur moedeloos geraak. Die aanbod is eenvoudig te groot! Sy sou nie geweet het waar om te begin nie.
Met Witness se hulp het sy eerstens op ’n gemaklike styl besluit. Toe hy haar vra wat haar styl is, kon sy hom nie antwoord nie.
“Jinne, Witness, ek weet nie! Ek het nog nooit aan myself gedink in terme van ‘styl’ nie. Ek dra wat lekker voel aan my lyf.”
Soos ’n wafferse TV-stylghoeroe het Witness met ’n paar leidende vrae haar uiteindelik by die besef gebring dat sy op haar gemaklikste is in jeans en wit hemde.
“Fortunately you’ve got the build for it, so that’s what it will be. We’ll start with the jeans. You’ll need about three to four blue pairs, one white and one black. Good ones – not cheapies from the chain stores. And then we’ll shop for a dozen or so white shirts and then move on to shoes and some light jackets and a jersey or two. Yes?”
“En ’n sambreel. Ek wíl ’n sambreel hê. Ek het nog nooit in my lewe een besit nie, en noudat ek in die Kaap woon, wíl ek een hê.”
“Alright, darling, alright, we’ll get you an umbrella at Clicks, though you might find you won’t ever use it. Die weer hy is baie anders